Wilbur Smith

Witwatersrand


Скачать книгу

jy hom gesien? Het jy daardie horings gesien?”

      “So naby die huis en ons het nooit geweet hy is hier nie.”

      Hulle spring regop terwyl hulle aan mekaar stamp. Tinker wat deur hulle opgewondenheid aangesteek word, hardloop blaf-blaf in ’n kring om hulle. Ná die eerste paar oomblikke van verwarring kry Sean beheer deur eenvoudig harder as sy teenstanders te raas.

      “Ek wed jou hy kruip elke dag hier in die kloof weg. Ek wed jou hy slaap elke dag daar en kom net snags uit. Kom ons gaan kyk.”

      Sean loop voor teen die helling af.

      Op die rand van die bos in ’n klein grotjie van plantegroei, donker en koel, met ’n tapyt van dooie blare, kry hulle die ram se lêplek. Die grond is vol spore en in die dooie blare kan ’n mens sien waar hy geslaap het. ’n Paar los hare met grys puntjies lê op die blarebed. Sean buk en tel een op.

      “Hoe gaan ons hom in die hande kry?”

      “Ons kan ’n gat grawe en skerp stokke daarin steek,” stel Garrick gretig voor.

      “Wie gaan die gat grawe, jy?” vra Sean.

      “Jy kan help.”

      “Dit sal ’n baie diep gat moet wees,” sê Sean vol twyfel. Die twee seuns is ’n ruk stil terwyl hulle die hoeveelheid werk oorweeg wat nodig sal wees om so ’n wip te stel. Dan praat nie een weer daaroor nie.

      “Ons kan die ander ouens in die dorp kry om te help, dan kan ons hom met kieries hier kom uitboender,” sê Sean.

      “Hoeveel keer het ons nie al met hulle gaan jag nie? Dis seker nou al ’n paar honderd keer en ons het nog nie eens ’n vervlakste duiker gevang nie – laat staan ’n bosbok.” Garrick steek ’n oomblik vas en gaan dan voort: “Buitendien, onthou jy nog hoe die inkonka met Frans van Essen gewerk het, hè? Toe die bok hom klaar met die horings bewerk het, moes hulle al sy derms terugdruk deur die gat in sy maag!”

      “Is jy bang?” vra Sean.

      “Nie ek nie,” antwoord Garrick verontwaardig en voeg haastig by: “Gits, dis byna donker. Ons moet hol.”

      Hulle laat vat in die kloof af.

      2

      In die donker kamer lê Sean en tuur na die grys opening van die venster. Buite in die naglug sit ’n skyfie van die maan. Sean kan nie slaap nie; sy gedagtes dwaal al om daardie bosbok. Hy hoor sy ouers voor hul kamerdeur verbyloop. Sy stiefma sê iets en sy pa lag: Waite Courtney se lag laat ’n mens aan veraf donder dink.

      Toe hy sy ouers se deur hoor toegaan, sit hy regop in sy bed. “Garry!” Geen antwoord nie.

      “Garry!” roep hy weer. Hy tel ’n skoen op en gooi dit. Hy hoor ’n kreun.

      “Garry!”

      “Wat wil jy hê?” Garrick se stem klink vaak en vies. “Ek het net lê en dink. Môre is Vrydag.”

      “Nou ja?”

      “Ma en Pa sal dorp toe gaan. Hulle sal die hele dag weg wees. Ons kan die haelgeweer vat en daai ou inkonka gaan voorlê.”

      Garrick se bed kraak hard van ontsteltenis.

      “Jy’s gek!” Garrick kan nie die vrees uit sy stem hou nie.

      “Pa sal ons vermoor as hy ons met daardie haelgeweer betrap.”

      Maar terwyl hy dit sê, besef hy klaar dat hy ’n sterker argument sal moet kry as hy sy broer van plan wil laat verander. Sean het so ver moontlik straf probeer misloop, maar ’n kans om ’n bosbokram te skiet was alles werd wat sy pa se regterarm kon gee. Garrick lê gespanne in sy bed; hy soek na woorde.

      “Buitendien hou Pa sy patrone altyd toegesluit.”

      Dis ’n goeie poging, maar Sean het ’n antwoord.

      “Ek weet waar twee patrone is wat hy vergeet het. Hulle lê in die groot blompot in die eetkamer. Hulle is al langer as ’n maand daar.”

      Die koue sweet slaan op Garrick uit. Hy voel al klaar hoe die sambok se voorslag om sy boude krul en hoe sy pa die houe tel: agt, nege, tien …

      “Asseblief, Sean, kom ons dink aan iets anders.”

      In die ander hoek wikkel Sean hom behaaglik tussen sy kussings in. Hy het klaar besluit.

      3

      Waite Courtney help sy vrou op die voorste sitplek van die verewaentjie op. Hy tik haar liefderyk op die arm en stap dan om na die drywer se sitplek. Voor steek hy vas om die perde ’n oomblik te streel en sy hoed op sy kaalkop te sit. Hy is ’n groot man en die waentjie se vere gee mee as hy opklim. Dan tel hy die leisels op, kyk om, en terwyl sy oë oor sy groot haakneus lag, sê hy aan die tweeling wat op die stoep staan: “Ek sal dit as ’n groot eer beskou as julle twee here dit kan regkry om die paar uur wat ek en julle ma weg is, uit die moeilikheid te bly.”

      “Ja, Pa,” kom dit onderdanig van albei tegelyk.

      “Sean, as jy weer die drang voel om in die groot bloekomboom te klim, stry daarteen, kêrel, stry daarteen.”

      “Goed, Pa.”

      “Garrick, geen verdere proefnemings met die maak van buskruit nie. Reg?”

      “Ja, Pa.”

      “En moenie so vervlaks onskuldig lyk nie. Dit maak my éérs bang!”

      Waite raak met die sweep aan die blink, ronde kruise voor hom en die verewaentjie trek weg op die pad na Ladyburg.

      “Hy het nie gesê dat ons nie die haelgeweer mag vat nie,” fluister Sean vroom. “Gaan kyk jy nou of al die bediendes uit die pad is. As hulle ons sien, sal hulle weer ’n hele herrie opskop. Daarna kom jy om na die slaapkamervenster, ek sal dit vir jou aangee.”

      Die hele ent na die berg loop Sean en Garrick en stry. Sean dra die haelgeweer oor sy skouer en hy klem die kolf met albei hande styf vas.

      “Dit was mos my plan, nè?” vra hy.

      “Maar ek het die inkonka eerste gesien,” stribbel Garrick teë. Garrick is weer waaghalsig. Met elke tree wat hulle verder van die huis loop, verminder sy vrees dat hulle gestraf kan word.

      “Dit maak nie saak nie,” lig Sean hom in. “Ek het aan die plan gedink om die haelgeweer te gebruik, daarom moet ek skiet.”

      “Hoekom moet jy altyd al die lekker goed doen?” vra Garrick. Die vraag laat Sean beledig voel.

      “Toe jy die valk se nes daar by die rivier gekry het, het ek jou laat opklim, het ek nie? Toe jy die duikerlam gekry het, het ek jou dit laat kosgee. Nie waar nie?”

      “Dis reg, ja. En nou het ek die inkonka eerste gesien, hoekom wil jy my nie laat skiet nie?”

      Sean skuld hom ’n antwoord, maar sy greep op die kolf van die geweer word net harder en vaster. Om hierdie argument te wen sal Garrick die geweer by hom moet afneem. Garrick weet dit en hy raak dikbek. Sean gaan staan tussen die bome aan die voet van die steilte en kyk oor sy skouer na sy broer.

      “Gaan jy help, of moet ek dit alleen doen?”

      Garrick kyk grond toe en skop na ’n takkie. Hy snuif waterig; in die oggend is sy hooikoors maar altyd lastig.

      “En toe?” vra Sean.

      “Wat moet ek doen?”

      “Bly hier en tel stadig tot by duisend. Ek gaan met ’n wye draai hier op tot waar die inkonka gister geloop het. Wanneer jy klaar getel het, moet jy in die kloof opkom. So halfpad na boontoe moet jy begin skree. Die inkonka sal net soos gister uitspring. Reg so?”

      Garrick knik teësinnig.

      “Het jy Tinker se ketting gebring?”

      Garrick trek die ketting uit sy sak en toe die hond dit sien, gee hy pad. Sean vang hom