Deon Meyer

Ikarus


Скачать книгу

oorgang van slaap na wakker, en hier sit Alexa langs hom op die bed, haar gelaat so geweldig gespanne, so diep bekommerd.

      “Bennie,” sê sy, die enkele woord so swaar gelaai dat haar stem breek.

      Saam met die hoofpyn wat met elke hartklop deur sy skedel begin hamer, kom die bewussyn van gisteraand. Hy herroep die smaak van die Jack en die uitwerking daarvan, die verdowing, die euforie. Selfs nou, in sy droë, suur mond, laat dit die speeksel vloei. Hy onthou met ’n skielike vloed van verligting en vreugde dat hy rede het om te drink, ’n goeie, regverdigbare verskoning. Nee, nie ’n verskoning nie, hy hoef nie meer verskonings aan te bied nie, nooit weer nie. Hy kan verduidelik. Verklaar. Hy kan vir almal insig gee.

      Hy kan drink.

      “Alexa,” sê hy. Sy stem is hees.

      “Hoekom, Bennie?”

      Hy wil vir haar alles vertel. Die woorde versamel agter sy tong, maar hulle raak verstrengel in die dofheid van sy kop. “Om julle te beskerm,” is al wat hy uitkry.

      Hy kan aan die vrees op haar gesig sien dat sy nie verstaan nie. Hy kom stadig regop in die bed. Hy vat haar hand en sê: “Jy hoef nie bang te wees nie.”

      “Ek ís bang, Bennie. Ek is nie sterk genoeg nie. Dit het ek gisteraand besef. Ek het altyd gedink die dag dat jy my nodig het, sal ek daar kan wees vir jou. Soos jy daar was vir my, toe ek weer gedrink het. Maar ek kan nie, Bennie. Ek …” Die traan kom skielik uit haar oog, rol stadig oor haar wang.

      Griessel steek sy hand uit en vang dit met sy wysvinger. “Ek is nou sterk,” sê hy.

      “Dank Vader,” sê sy en omhels hom.

      “Ek wil hê jy moet verstaan,” sê hy. “Ek is nou sterk genoeg om te drink.”

      * * *

      Om 07:23 stap hy by Cupido se kantoor in. “Ek weet jy het my gat gered gisteraand,” sê hy.

      “Jissis, Benna …”

      “Dankie, Vaughn.”

      “Dis major Mbali se skuld,” sê Cupido. “Sy moes jou nooit gister na Vollie Vis toe gestuur het nie. Is jy okay? Het Alexa vir jou gebrief?”

      Hy skud sy kop. “Sy … Dit was ’n moeilike oggend.”

      “So jy weet niks van Ernst Richter nie?”

      “Nee.”

      “Jy’t seker vanmôre die posters teen die pale gesien?”

      “Nee.”

      Cupido kyk na sy horlosie en staan op. “Ons moet nou gaan report. Benna, we’ll have to wing it. Jy sê net jy was saam met my toe ons Richter se girlfriend gaan interview het. Haar naam is Cindy Senekal …”

      “Hoekom moet ek dit sê?”

      “Jy weet jy het gisteraand probeer om ’n ou in die Fireman’s te moer?”

      “Ek het nie.”

      “Dis nie wat hý sê nie. Jissis, Benna, hoe dronk was jy?”

      “Dronk genoeg …”

      Dan stap kaptein Frankie Fillander by die kantoor in en sê: “Ek hoor jy’t JOC gekry op die Ernst Richter case?”

      “Dis reg, uncle Frankie,” sê Cupido. “Nou sal julle ou ballies sien hoe die dinge eintlik moet werk.”

      “Heaven help us,” sê Fillander, die veteraan met die lang litteken van ’n meswond van sy oor tot by sy kroontjie. “Hei, Bennie.” En dan, toe hy die kneusmerk op Griessel se wang sien: “Wie’t jou bygekom?”

      “Dit was my skuld,” sê Cupido haastig. “Gisteraand in die kar val my phone, en ek en Benna buk so gelyk af om dit op te tel …”

      * * *

      Hulle sit in Mbali Kaleni se groot nuwe kantoor, die een wat aan wyle kolonel Zola Nyathi behoort het. Om die tafel is John Cloete, die skakeloffisier, Cupido, Griessel, Fillander, Mooiwillem Liebenberg en die klein, netjiese luitenant Vusumuzi “Vusi” Ndabeni.

      Griessel sukkel om te konsentreer.

      Here, sy lyf en sy kop is nie meer gewoond aan die drank nie, maar dit sal verander, hy weet. Weer drink-fiks raak.

      Kaleni sê hulle is almal aan die Richter-JOC toegeken, “because the brigadier regards this as the highest priority in the Directorate. He has had calls from our national, DPCI, and provincial commissioners this morning. The pressure is on. The PCSI and IMC have been notified, they are clearing the decks. Captain,” sê sy vir Cupido, “if there is anything you need, please tell me.”

      Griessel wonder wie de hel Ernst Richter was om al dié aandag te kry.

      “I’ll get to that in my report,” sê Cupido.

      Mbali vra vir John Cloete om die stand van sake te skets. Hy sê die Richter-moord is hoofberig, in elke koerant en op elke Suid-Afrikaanse nuuswebwerf, sonder uitsondering. Die radiostasies gons op alle fronte, van nuusbulletins tot inbelprogramme. “And on Twitter this thing is shaping up to be as big as Oscar. So please be diligent in your endeavours and in passing along information to me.”

      Cupido begin rapporteer. Hy gee hulle basiese agtergrond oor Richter en Alibi.co.za. Hy sê roof as motief kan uitgeskakel word, want die slagoffer se beursie was nog in sy kar en sy selfoon is by hom in die sand gevind.

      Toe Vaughn lieg oor hoe hy en Griessel gisteraand Stellenbosch toe is, begin Bennie se gedagtes dwaal. Het hy regtig gisteraand ’n ou probeer moer? Hy het in sy ses-en-veertig jaar op hierdie aarde nog nooit aggressief geraak as hy gedrink het nie. In die ou dae het dit hom los en lekker gemaak, die grapgat van Moord-en-Roof.

      Maar hy kan nie alles van gisteraand so mooi onthou nie.

      Hy fokus weer op Cupido, wat sê: “Bennie and I agree that the girlfriend is lying about the dagga. We’re not sure about the sex in the car. But we need toxicology on the body, and we need it quickly.”

      “I will do my best,” sê Mbali. Maar hulle weet toksikologie-toetsing is een van die Valke se grootste kopsere. Anders as molekulêre diagnose wat deur die SAPD se forensiese laboratorium gedoen word, val toksikologiese analise onder die Departement van Gesondheid, wat landwyd net oor drie laboratoriums beskik wat dit kan hanteer. ’n Verslag neem soms tot ses na twaalf maande om ’n speurder te bereik.

      “And we urgently need a post mortem. Richter went missing twenty-two days ago, but I saw the body last night, and I’m pretty sure he’s only been dead for about a week.”

      “Jissis,” sê kaptein Frank Fillander. En dan dadelik: “Sorry, major,” want Mbali duld nie sterk taal nie.

      “That’s the kind of thing we have to keep out of the media, please,” sê Cloete. “Don’t discuss it with anybody outside this group. They’ll go ballistic.”

      “Yes. That is an order,” sê Mbali.

      “Any torture marks on the body?” vra Vusi Ndabeni.

      “Nothing obvious, but I only saw the front side of the upper body. It is clear he was strangled with something.”

      “I’ll talk to Salt River,” sê Mbali. “You’ll get your post mortem report by tonight.” Met stille selfvertroue.

      “Okay, thanks,” sê Cupido. “There’s a hell of a lot of work to be done, so let’s get started. I’ve printed out all the articles on Richter that John sent me. If you could all read them, please.”

      Majoor Kaleni knik haar kop goedkeurend. Cupido moet konsentreer om hom nie te vererg nie. Het sy gedink hy is ’n pampoen?

      “Willem,” sê hy vir kaptein Liebenberg, “if you could do the interview with the mother, Bernadette Richter. Uncle Frankie, I’d like you and Vusi to get all the forensic stuff to the PCSI, and the cellphone records to Philip. We need a web.” Kaptein Philip van Wyk en sy