C. Johan Bakkes

Openbaring


Скачать книгу

      

      OPENBARING

      ’n reisjoernaal

      (nié die evangelie nie)

      volgens ☞

      C. JOHANNES BAKKES

      Queillerie

      Skryf is vir my ’n proses waardeur ek myself aan myself probeer verduidelik.

      – die skrywer

      Once you have travelled, the voyage never ends … The mind can never break off from the journey.

      – Pat Conroy

      Heil die Leser

      In Openbaring 3:15-16 staan daar: Ek ken jou werke, dat jy nie koud is en ook nie warm nie. Was jy tog maar koud of warm! Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug.

      ’n Paar jaar gelede skryf ek:

      Ek het ’n sekere leefwyse gekies. Sou dit vir die “normale” mens redelik hedonisties lyk, dan is dit nou maar so.

      Ek’t kanker gehad, ek’t emfiseem (en my are is verstop – nuwe toevoeging), maar ek het so gelewe omdat ek wou. Ek is nie ’n “tweede kans” gegun nie – dit wat my oorgekom het, was deel van een leeftyd. Ek gaan net normaal aan totdat die hekke finaal toeklap. So gaan ek nie nou my lewenstyl verander om “langer te lewe” nie; ek het mos voluit gelewe tot nou – hoekom dan nie tot die einde nie?

      As ek dit nou weer lees, vier jaar “down the drain”, dan dink ek: Hel, dis egosentries! Dit daar gelaat, want ongeag die voorafgaande was ek nie getrou aan myself nie. O ja, ek het nog steeds die horisonne in geloop, plekke en dinge beleef wat min mense oorkom, ervarings gehad buite die normale verwysing … maar ek’t opgehou om dit te deel. Te deel met dié wat weens omstandighede dit nie self kan ervaar nie. Ek het opgehou vertel – vier jaar gelede. Ek het dertien maande lank opgehou rook en wragtig ook vier maande lank opgehou drink, maar die grootste verraad was dat ek willens en wetens opgehou skryf het.

      Maar nou, omdat jy lou is … sal Ek jou uit my mond spuug.

      En daarom, met ’n ysige glas Kaapse wit en my pyp boepens gestop met Leonard Dingler se Boxer-tabak, skryf ek vanaand weer – al is dit net vir myself.

      En ’n kortverhaal word ’n ellelange boek …

      Om te onthou, is die skriba van die siel, het Aristoteles gesê.

      DIE REISGENOTE

      Johan Bakkes

      Rekenmeester/Professor

      Paarl • Gebore 1956 • Getroud • 2 kinders

      Kalie Kirsten

      Wyn- en vrugteboer

      Stellenbosch • Gebore 1958 • Getroud • 3 kinders

      Roland Berry

      Oogspesialis

      Paarl • Gebore 1958 • Getroud • 3 kinders

      Fellies Kirsten

      Wynboer

      Wellington • Gebore 1962 • Getroud • 2 kinders

      Paul Andrag

      Wyn- en bessieboer

      Stellenbosch • Gebore 1958 • Getroud • 3 kinders

      Philip Diedericks

      Rekenmeester

      Die wêreld oor (tans Australië) • Gebore 1973 • Ongetroud • ?

      The Road of Bones

      Thrown into a driving snowstorm

      My eyes fill with darkness (…)

      Before me, foul Kolymá (…)

      Ride, ride, ride on the road of bones

      Die, die, die on the road of bones

      Desolation does surround me

      Permafrost is my cold bed

      I’m a zombie of the Gulag

      Dying slowly and living dead

      Forty degrees below the redline

      The purga blizzards howl

      – Ignitor, “Road of Bones”

      Ek begin die konsep “kajuitkoors” verstaan. Ons is sewe, vasgekluister in ’n voortsnellende bussie wat gemaklik vir ses sou wees. Die voordeel is dat sewe liggame se hitte beter is as ses s’n. Aleksander Motorin, die Wille Rus, ruk sy AK47 binne die karretjie oop om vir ons te wys hoeveel patrone daar in die magasyn is. Vir wat? Jy kan tog nie koue wegskiet nie. Buite is dit minus 40 grade Celsius. Ons is teen alle beterwete in op pad na die koudste plek op aarde. Daar waar mense ’n leefwyse probeer uitkerf. Vir wat? Omdat ons nie lou is nie …

      Die aandurf van die ekstreme sit nie in enige ou se broek nie en die keuse van reisgenote word uiters belangrik. In die skemerlig van die kajuit loer ek onderlangs na my medereisigers.

      My boesemvriend Kalie sit so middelskuins oorkant my. Ons paaie loop al agt-en-twintig jaar saam. Ons reis nie sonder mekaar nie – al snork ek. Ek sal hom met my lewe beskerm, en hy vir my. Maar fok, sy bootse wat heeltyd in hierdie beknopte ruimte teen my lieste skop, begin my irriteer …

      Langs my sit Aleksander. Hy is die enigste Rus wat bereid was om as gids ons die barre, woeste doodsakker van die Kolima, Stalin se Pad van Gebeendere, in te vat; en dít in die dikste Siberiese winter. Met sy massiewe beroeps-draadhokvegterlyf vat hy ’n sluk wodka, sommerso uit die bottel uit, en span sy Tokarev-pistool …

      Roland Berry koes terwyl Aleksander die pistool rond­swaai en vir ons iets in Russies probeer verduidelik. Sy Engels bestaan uit “da” en “njet”. Roland sit ingekrimp – nie as gevolg van koue nie, maar weens die min ruimte aan ons kant van die bank. Hy is eksmilitaris en -beroepsoldaat, en die laaste ou wat ’n Tokarev in sy gesig geswaai het, lê iewers in ’n vlak graf in Vamboland. Die ideale reisgenoot.

      Langs Kalie aan die oorkant sit sy broer, Fellies. Hy het sy eie tierlantyntjies, maar saam met Fellies sal ek deur vuur stap. Iets omtrent sy manier van reis gryp my aan. Dis asof daar ’n passie vir die bisarre bestaan … en hy’s nie bang nie. En dan rook hy ook (tans glo hy hy’t opgehou …).

      Voor in die bestuurskajuit speel die een of ander Russiese “schlagermusiek” herhaaldelik. Dis sulke polsende luistermusiek en ek dink die kunstenaar is Anna Cavia wat “Desire” in Russies sing. Vir die vierde keer. ’n Sluk van Sasja (verkleiningsvorm vir Aleksander) se wodka maak dit draagliker. Of so vermoed ek.

      Aan die hulpbestuurderskant sit Sergei Goerkin. Alpinis van die ou Sowjetunie. Ons ken hom goed. Vyf jaar gelede het sy jong gidse ons die Altaigebergtes van Wes-Siberië uit gelei. Ons wou voel hoe voel minus 20 grade Celsius bo vierduisend meter. Hy’t nog ouer geword. Annapoerna en