C. Johan Bakkes

Openbaring


Скачать книгу

om te sê het niemand my nog ooit geantwoord nie.

      Nou, op ’n Arabiese lughawe is daar ’n verdere probleem. Alkohol!

      Ja, want “geen goeie storie het begin met iemand wat slaai eet nie”, lees ek op Facebook raak. En dit is so. Ek wil nou nie weer die een of ander resensent, wat oor ’n vorige boek gesê het “maar die skrywer drink darem baie”, skietgoed gee nie, maar ’n koue bier op sy tyd maak vir my sin. Hulle sê mos bier is ’n homeopatiese geneesmiddel teen depressie. En ’n lang vlug is depressief op sy beste.

      So waar kry jy ’n bier in Doebai se kilometer op kilometer lughawe? By instaphek nommer C23. Irish Pub, noem hulle die plek, en wragtig, jy mag daar binne rook. ’n Bier kos ’n honderd rand.

      Maar dit is nie wat die plek besonders maak nie. Dis die paaie wat daar kruis gedurende die paar ure se oorstaan. Die nie-roker en nie-gebruiker sal hierdie stukkie lewensreis misloop.

      In daai kroeg vergader hulle – meestal eks-soldate, uitgespoeg deur ons huidige Suid-Afrikaanse regering se onbevoegdheid om na sy eie mense te kyk. Hulle is op pad weg of op pad terug van bestemmings wat nie op die gewone reisiger se lysie verskyn nie. Plekke soos Afganistan, Kosovo, Iran, Irak of Somalië. Diepseeduik-konstruksie in die Karasee. Sendingwerkers in Kazakstan. Skoolgee in Jemen.

      Terwyl ons vier makkers wag vir ons aansluitingsvlug Moskou toe, bly ek oraal gefikseerd. Ek rook, drink, eet, praat en luister na medereisigers in transito.

      – M.C.A. Seyffret: Literêre terme en teorieë (2013)

      Vliegvoos

      All great adventures have moments that are really crap.

      – Ellen Potter

      Vliegvoos? Ek dink dit is ’n konsep wat net uitgedink is vir ’n toerende Blou Bul-rugbyspan (vir die rekord: my bloed is blouer as blou). Want wragtig, as daai Noord-Transvalers van ’n vliegtuig afklim, dan verwelk die Barberton daisy en hulle speel die kakste rugby ooit.

      Vliegvoos is hulle sielkundige verskoning vir swak reisigers wees.

      Dis laatmiddag-vroegaand toe die vliegtuig sy wiele op Addis Abeba se Bole Internasionale Lughawe uitkatrol. Ons was tien en ’n half ure in die lug.

      Om aan te land in die vreemde kou tog so ietwat aan jou senuwees. Is jou visum in orde? Die twee liter rum wat in ’n Coca-Cola-bottel uitgegooi is – sal doeane dit laat deurglip, saam met die verseëlde literbottel Ierse whiskey wat jy ten duurste by Doeanevry aangeskaf het? Het alle ingeboekte staptoerusting Addis bereik of lê dit iewers in ’n bagasie-opeisstoortjie in Mogadisjoe? Waar slaap jy vanaand, en hoe kom jy daar?

      My gedagtes flenter terug na ’n afklim te Katmandoe, Nepal se lughawe waar Dok van der Merwe se volledige klim­toerusting (crampons en yspik inkluis) iewers in Karatsji, Pakistan opgeëindig het – en ons wou die Himalaja gaan klim. Of toe ek en Ferdi op die snikhete Abidjan-lughawe aangekom het, die humiditeit wat ten helle skree, met geen idee waar ons daardie aand tussen sesmiljoen mense gaan slaap nie.

      Kalie, rekenaargeletterd, het hierdie reis so foutloos moontlik uit Suid-Afrika probeer reël. Ek moet hier vinnig verwys na Retha Fabricius, ons eie persoonlike reisagent, wat ongeag ons uiteraard vreemde reisbehoeftes alles binne ’n normale verwysingveld probeer intimmer. Sy’s van onskatbare waarde.

      Volgens Kalie se langafstandreëlings hoop ons dat daar anderkant Doeane iemand sal wees met ’n plakkaat. Iemand wat ons onder sy/haar vlerk sal versôre. Maar met Afrika en die gewone mens se onbevoegde geploeter in die agterkop bly ons maar skepties oor dit wat wag.

      Die humiditeit ten noorde van die ewenaar is hoog, maar die ergste van alles is dat Addis tweeduisend-tweehonderd meter bo seespieël lê – ons ouens, wat pas van suurstofryke seevlak af kom, sukkel asemloos deur Immigrasie, Doeane en Aksyns. Bole-lughawe is georganiseerd, dinge vlot en jou wrintie, daar’s ’n verwelkomingskomitee. ’n Bordjie waarop staan Mr Kalie. Robel Petros, vennoot van Ethio-Fauna Safaris, en ’n statige ouer man genaamd Brook Kassa verwelkom ons laggend. Eerste gewaarwording – die Ethiopiër is anders as die Afrikaan wat ek ken.

      “Welcome from Ethio-Fauna Safaris, we don’t receive a lot of tourists from South Africa. Hope you enjoy your stay,” kom dit van Robel.

      En ek besef, o shit, hierdie ouens ken nie Suid-Afrikaners nie!

      Daar is niks so bar soos ’n Suid-Afrikaanse “paying client” nie. Hy glo mos as hy betaal het, behoort die wêreld én sy inwoners aan hom. Glo my, ’n Suid-Afrikaanse toeris is erger as ’n luidkeelse Amerikaner, ’n streng georganiseerde Duitser, ’n sandaal-en-sokkie-draende Neder­lander, ’n stront-onder-die-neus Engelsman of ’n dronk Meksikaan. Veral in Afrika. Ek het dit menigmale iewers in die vreemde gesien en ligweg skaam gekry oor my eie mense se eiegeregtigheid. Die enigste toeris wat erger is, is ’n “when-we”-Rhodesiër. En moenie fout maak nie, ek ken my huidige reisgenote. As dinge nie werk soos hulle dink dit moet nie, gaan hulle hul se moere op ’n stok steek (Paul uitgesluit).

      Die “Fauna”-gedeelte van die Safari-besigheid se naam laat my glimlag. As kinders was ons skytbang vir die twee ousies genaamd Fauna en Flora. Selfs banger as vir Antjie Somers. Ná ’n kreefvangs met sewe rugbytruie en ’n kan soetwyn as enigste pantser teen die Weskus se koue water, het my pa altyd gesê: “As Fauna en Flora ons nou vang, dan sit ons turf.” “Turf” was vir ons soos die hel.

      Die verkeer is woelig en druk wanneer Brook Kassa ons en ons pot-en-kombers met ’n Land Cruiser na die Gion-hotel aan die rand van sentrale Addis Abeba neem.

      Daar is nie tyd vir vliegvoos voel nie. Ons vergader onmiddellik in die voorportaal van die hotel en bestel elk ’n Bati-bier. Miskien kan ek later oor Ethiopiese bier uitwei. Want wragtig, hulle bier is deur die bank prima. My konsep van wisselkoers, die duur of die goedkoop, is gekoppel aan ’n land se bierprys, en as die goed nog lekker op die palet is, dan styg die gegewe land se bruto binnelandse produk vir my.

      Die Bati vloei soos nektar by my keelgat af.

      Vliegvoos? Addis Abeba is vir ons net ’n logistieke en administratiewe oorstaan. Môreoggend vieruur vertrek ons per vliegtuig dieper Ethiopië in. Ons reël betalings, verdere roetes en die staptog na Ras Dasjen in die Simienberge.

      “What about the Danakil?” kom dit ná die derde Bati-bier. (Hier moet ek weer enige resensent wat wil kerm oor die inname van bier of sterker drank op my reise se klagte in die kiem smoor – dis realiteit.)

      “We hoped you’d forgotten about that – nobody, not even the Habesha, normal Ethiopians, want to go there. The Afar will kill you.”

      “But that is why we want to go!”

      “Okay, we can’t promise you your life, and the only person who is prepared to take you there is Brook Kassa. He will meet you in two weeks’ time at Axum for your safari.”

      En ek kyk met nuwe oë na dié netjiese, besadigde man.

      “Okay, hope you enjoy your trip.” En soos Pilatus van ouds staan Robel Petros op, was sy hande in onskuld, stap uit en stuur daarmee die vier halsstarrige Suid-Afrikaners, saam met Brook Kassa, in hulle se moere in …

      Ek weet nie of dit vuisvoos-, vliegvoos- of Bati-voosheid is nie, maar ek’t skaars my kop neergelê of ek word wreed wakker gemaak deur iemand wat ’n stomende koppie Ethiopiese koffie by die kamer indra.

      En dan terug lughawe toe. Ek is grinterig en óp. Skielik