C. Johan Bakkes

Openbaring


Скачать книгу

het koffie sy ontstaan in Ethiopië gehad. Ek het nie die korrektheid van die stelling gegoogle nie (ek skryf in my kroeg en my rekenaar is bo in my kantoor). Dis in elk geval nie belangrik nie. Die Ethiopiërs het wel ’n fassinerende koffieseremonie – en dis ’n móét vir elke besoeker, hoe toeristies dit ook al is om so ’n sitting deur te werk.

      Dit werk soos volg:

      Die gasvrou is tradisioneel geklee en sy sit op ’n lae stoeltjie.

      Op die vloer word gras gegooi.

      Groen koffiebone word in ’n pannetjie oor gloeiende kole in ’n stofie gerooster.

      Wierook word gebrand.

      Die geroosterde bone word net so in die pannetjie vir goedkeurende inadem van die geur aan elke voornemende drinker voorgehou.

      In ’n vysel word die bone tot pulp vermolm.

      Dan word die koffie met water opgekook – bitter sterk.

      En elkeen moet ten minste drie koppies drink, anders neem die gasvrou aanstoot.

      Maar dis nie waaroor die tweede moment gaan nie. In die noordooste van Afrika, tot in Jemen, is die algemene tydverdryf nie TV-kyk, ’n selfoonploeter of PlayStationspeletjies nie, maar die rustige kou van khat (of chat of miraa, soos genoem in Kenia).

      Khat is ’n ligte natuurlike dwelmstimulant. Die blare van die plant word gekou en is amper soos kakaoblare. Khat is ’n immergroen struik wat tot sowat twee meter hoog groei en verbou word bokant eenduisend-vyfhonderd meter bo seespieël. Volgens gerugte maak dit jou rustig tot op ’n punt. Dis blykbaar ook verslawend. Die Westerse wêreld is in twee verdeel of dit nou verban moet word of nie. In Ethiopië kou almal dit, veral in die agtermiddag. En vir die res van die dag kan jy dan niks met Ethiopië uitrig nie …

      Enige reisiger na Ethiopië, ongeag of hy ’n Dopper, Gatjieponder of Stoepsitter is, en hom/haar nie blootstel aan ’n khatsessie nie, is bloot ’n bang toeris!

      Kom ek verduidelik: Die khatseremonie is, soos die koffie-seremonie, eintlik maar net ’n sosiale ding. Dit gaan oor ’n klompie mense wat bymekaarkom, ’n paar blare gryp, dit in hulle kieste verpulp en met mekaar praat.

      Miskien is dit nie só eenvoudig nie. Ek haal vriend Kalie se dagjoernaal aan:

      Kry so ’n proppie blare en bêre hom hier in jou kies. So nou en dan rol jy hom rond om die sap uit te kry. As die kosbare sap so min of meer op is, dan kry jy ’n peanut wat jy saam met die blare kou en afsluk. In die afwesigheid van ’n peanut werk ’n slukkie Pepsi of ’n bietjie tafelsout net so goed.

      ’n Bier of alkohol werk teen khat, so los maar. ’n Khatsessie word nie afgerammel nie.

      Kalie sê die fisiologiese werking van die gekouery kan in vier fases verdeel word:

      Die euforiese fase: Optimisme en opgewondenheid is die tekens – ook die verdwyning van inhibisies.

      Die planne- en “groter” droomfase. Intellektuele aktiwiteit vermeerder, verbeeldingsvlugte vier hoogty.

      ’n Fase van nostalgie.

      Dan die depressiefase …

      En ons kou soos beeste. Twee wynboere, ’n professor en ’n militêr-gespesialiseerde oogarts iewers uit Suid-Afrika.

      Ons het die eerste fase gemis bloot omdat ons is wie ons is. Ons is optimisties en opgewonde. Die inhibisies sal egter altyd bly, want dis in ons ingedonner.

      Die tweede fase word ’n realiteit. Ons glo ons is intellektuele, superskerp reuse. Ons beplan massiewe plase met hektare vol khat bo-op Piketberg se berg. Uitvoerlyne en pakstore. Terselfdertyd maak ons ooghospitale en klinieke in Ethiopië oop.

      En toe raak ons tranerig en vertel hoeveel ons vir mekaar en veral vir die mense by die huis beteken en nostalgies sing ons Prophet se “Houtkruis”.

      Die depressiewe gedeelte het ons gemis, want toe’s ons monde droog en Steyntjie besef ons het ’n bier nodig …

      Middeljare

      Middle age is when you finally get your head together and your body starts falling apart.

      – Caryn Leschen

      Ek word wakker in die luukse kamer van Hotel Alfa in Izmailowo. Kalie is skoonveld. Sy bed is opgemaak. Teen R1 200 per nag kan die personeel dit sekerlik doen? Of het hy ooit in die ding geslaap? Watter laatnag-tot-nou-gekuier het ek misgeloop? Ek’s ietwat verward. As ek en hy ’n hotel­kamer deel, het ons net een reël en dit is jy gebruik die toilet in die hotel se foyer. Miskien is dit waar hy is – maar hoekom het hy sy bed opgemaak? Ek strompel badkamer toe vir ’n gesigwas en helderheid. En wragtig, daar lê my vriend op ’n klomp handdoeke langs die bad.

      “Wat maak jy hier? Te veel gekuier gisteraand?”

      “Nee, jou bleddie gesnork het ná dertig jaar eenvoudig net te veel vir my geword.”

      En ek besef die ouderdom is ’n lelike ding. Hy knaag selfs aan jou toleransie.

      Ons vlieg nou-nou Nowosibirsk toe. Nowosibirsk (wat beteken “Nuwe Siberië”) is die grootste stad in Siberië, en was dit nie vir die Trans-Siberiese treinroete nie, het die plek nie bestaansreg gehad nie. Dis eintlik Rusland se De Aar. Daarom nie ’n plek wat die gewone toeris graag besoek nie. Ons gaan bloot daarheen om by vriend en toergids Sergei Goerkin aan te haak en klere wat teen minus 40 grade Celsius bestand is, aan te skaf vir die verdere reis die koue in.

      Nowosibirsk was ook ons afspringplek vyf jaar gelede met die staptog die Altaigebergtes in. Om oor Sergei te vertel moet ek iets oor my ervaring van die algemene Rus as mens vertel.

      Op die oog af is die Rus emosieloos en stug. Hy stel nie daarin belang om sy emosies met ’n vreemdeling te deel nie. Ek glo dis bloot omdat die gewone Rus deur die geskiedenis heen net swaar gehad het. Hy vertrou niemand nie, nie eens homself nie. Sou hy verkeerd trap, of iemand dink so, dan word hy na Siberië gedeporteer om nooit weer gesien of van gehoor te word nie.

      Die Rus wil nie betrokke raak nie en weier om Engels te praat (ek ook, so ek verstaan dit). Dit het ek op ’n vorige reis eerstehands ervaar, in ’n Moskou-stasiewag­kamer, waar ek radeloos op ’n duisend Russe geskreeu het of daar tog nie iemand is wat Engels kan praat nie. Ek moes dringend ’n treinkaartjie koop. Almal buiten ’n Ier het net bly afkyk en my gille geïgnoreer. Die Ier kon Engels praat, maar nie Russies nie … (Hierdie verhaal verskyn in my bundel Norrevøk.)

      En dan suip die Russiese mans meer as visse. Dis ook te verstane, gegewe die meeste se uitsiglose bestaan en die ysige winters. Alkoholverbruik in Rusland is van die hoogste ter wêreld. Moet sê, ek dink die Suid-Afrikaners gee hulle goeie kompetisie. Wikipedia sê my dat daar in 2009 ’n halfmiljoen Russiese sterftes was as gevolg van die vog. In 1860 was wodka (“wó-dka” uitgespreek), die nasionale sap, die bron van veertig persent van die staatskoffers. Om “te gebruik” is ’n inherente deel van die Russiese sosiale samesyn. So het ek al Russe vroegmôre op pad kantoor toe gesien, gebaadjie-en-gedas, aktetas in die een hand en ’n oop bier in die ander …

      Maar as jy daai Rus se vertroue gewen het, ’n paar wodkas saam verorber het, saam met hom swaargekry het, dan omarm hy jou. Dis so erg dat jy eintlik bang word. Hulle versmoor jou met hulle gasvryheid. So het ’n massiewe Russiese sokkerondersteuner op die Trans-Siberiese trein na Wladiwostok (hulle span uit Moskou sou daar gaan speel) besluit hy hou van my. Vir twee dae het hy my vol wodka en kaviaar gestop. Hy kon nie Engels praat nie en my Russies was beperk tot “piwa” (bier) en “na zdorowje!” (gesondheid!). Maar ’n lewenslange vriendskap is gesmee. Alhoewel ek nou nog die sokkerspan se serp het, weet ek nie wat die uitslag van daardie wedstryd in Wladiwo­stok was nie!

      Terug na Sergei Goerkin. Hy is die eienaar van ’n toermaatskappy in Nowosibirsk. Kalie het hom via die internet opgespoor