sy smal gesig afgeëts.
Hy skud sy kop beslis. “Te gevaarlik. Van wat Ivan ons van sy fancy dakwoonstel in Sandton vertel het, lyk dit nie of hy ’n gebrek aan geld het nie. Die Pion was die enigste uitweg.” Hy vat ’n groot sluk whisky en trek ’n gesig toe hy dit afsluk.
Brian frons só erg dat sy gesiggie soos ’n rosyntjie lyk.
“Dit wil sê as die Pion sy opdrag uitvoer,” kla hy. “Die man is klaar betaal. Ons weet nie waar hy bly nie en ken nie eers sy regte naam nie. Hy kan maklik besluit om die geld te vat en sy gat aan die job af te vee.”
Claus sug. “Die kontakman het my verseker hy’s betroubaar. Hy’t gesê die Pion het ’n reputasie wat hy nie sal wil bedonner nie. Baie mense en instansies gebruik hom gereeld. Hy’t blykbaar die afgelope paar jaar oral in Afrika jobs gedoen en hy word ook gereeld in Europa gekontrakteer.”
Hy slaan die whisky met een teug weg. Die ys rinkel in die glas soos hy dit skud. “As die bleddie man net sy neus uit ons sake gehou het, het ons nie nodig gehad om die Pion te betrek nie. Maar die vent het begin snuffel op plekke waar hy nie veronderstel was om te krap nie.”
Brian staar swyend voor hom uit, blaas net in sy beker en loer onderlangs na Macy, wat met haar bene wyd oop sit.
Sy kyk op van haar tydskrif. “Ek dink julle het overreact, darling.”
“Bepaal jou by jou girlie magazine!” sê Claus.
Wat de fok weet sy? dink hy vererg. Hulle het al ses maande gelede by hul Afrika-muile gehoor daar’s ’n Suid-Afrikaner wat in die bedryf rondsnuffel. Dit het hom aanvanklik nie ontstel nie. Die Chinese en Indiërs doen op ’n baie groter skaal besigheid in Afrika en die man was heel waarskynlik op die spoor van een van hulle sindikate. Maar om veilig te speel, het hy Ivan opdrag gegee om alles oor die man uit te vind.
Ná hy ’n paar keer in Afrika ingevaar het om hom dop te hou, was Ivan se bevinding dat dié meneer beslis besig is om te krap waar hulle nie wil hê dit moet jeuk nie. Maar hy hou sy kaarte styf teen sy bors – nie een van sy navrae dui daarop dat hy Prins Pharmaceuticals in die visier het nie.
Twaalf dae gelede duik die man toe in Parow by Claus-hulle se drukkery op waar die boksies en etikette gedoen word. Kwansuis met ’n bestelling vir drukwerk, maar met die versoek om bietjie deur die drukkery te loop om die gehalte van die masjiene te beoordeel.
Gelukkig het Claus vir Calla by die drukkery op so iets bedag gemaak. Calla het die man se versoek geweier en Claus dadelik gebel. Dit het ’n geskarrel by Prins Pharmaceuticals veroorsaak. Nes Claus was Brian in ’n toestand, en selfs Ivan was bleek om die kiewe.
Maar dit was eers met die oproep twee dae later dat hulle aakligste vermoedens bevestig is: die man is agter hulle bloed aan. Hy wou kwansuis ’n onderhoud oor die farmaseutiese bedryf kom doen. Claus moes vinnig lieg en sê hy’t sake in die buiteland om af te handel, maar hy’s bereid om die man oor twee weke by Prins Pharmaceuticals se hoofkantoor in Montague Gardens te sien.
Hulle het ’n noodvergadering gehou. Ivan wou self die job doen, maar Claus het vasgeskop. Te gevaarlik. As die polisie die moord na Ivan terugspoor, bring dit Prins Pharmaceuticals direk in gedrang.
Toe noem Macy terloops iets wat uitkoms bied: ’n kennis uit haar vroeë paaldansdae ken iemand wat dié soort jobs doen. ’n Professional hit man. En so het hulle via dié kennis ’n ooreenkoms met die Pion gesluit.
Claus ril toe hy aan die vorige aand se ontmoeting dink en lag verleë. “Ek was nog nooit in my lewe so nervous nie.”
Macy glimlag spottend. “Ou banggat!”
“Jy sou bietjies-bietjies gepiepie het as jy daai donner se oë gesien het,” verweer hy hom. “Scary verby. En dit in ’n vuil en spooky parkade iewers aan die gatkant van Kuilsrivier. Dit was soos ’n script uit ’n horror movie.”
Hy kom steunend orent en stap kroeg toe. Nog ’n whisky kan net help om sy senuwees te kalmeer.
Die volgende paar dae gaan hel wees. Hy sal eers weer kan ontspan as hy weet die Pion het die job suksesvol afgehandel.
3
Die Pion lê uitgestrek op ’n handdoek langs Seepunt se openbare swembad. Hy trek ingedagte aan sy grys borshare terwyl hy ’n deuntjie neurie. Dan sit hy regop, trek sy seningrige bene op en omklem dit met sy arms. Die son raak nou geniepsig.
Hy oordink sy dag tot dusver. Hy het vanoggend laat geslaap en toe eers sy uur lange meditasiesessie afgehandel. ’n Stewige ontbyt van spek, wors en saggekookte eiers het gevolg, afgesluk met ’n groot glas vars lemoensap.
Soos gewoonlik het hy baie tyd aan sy ablusies bestee. Hy het homself eers in ’n koue en daarna ’n warm bad water gedompel. Toe aangetrek: swart sweetpak en donkergrys hardloopskoene. Hy verkies eintlik snyerspakke in konserwatiewe kleure en somber dasse, maar vandag is ’n werksdag.
Daarna het hy ’n tydjie ingeruim om aandag te gee aan Buskruit, sy swart labrador. Dié wou met die frisbee speel en het dit heeltyd voor hom kom neersit. Dit was nogal snaaks en het die Pion laat glimlag – ’n handeling waaraan hy hom gewoonlik nie skuldig maak nie.
Dit het hom ’n halfuur geneem om sy rugsak te pak: ’n hand vol kabelbinders, ’n rol nylontou, kleefband, skêr, flits, handskoene, skroewedraaier, knipmes, Heckler & Koch, ’n stel lopers en ’n pion.
Die Pion het lank getob oor die keuse van ’n pion. Oplaas besluit op ’n handgekerfde houtstuk wat volgens sy navorsing in die vroeë twintigste eeu in Liechtenstein gemaak is. Hy het die skaakstel agt jaar gelede in Madrid by ’n straatmark gekoop.
Hy het sy handdoek en swembroek gevat, die rugsak saam met ’n groter, leë een in die kattebak van sy motor gesit en Rondebosch toe gery. Daar het hy eers die huis op ’n afstand bespied, later uitgeklim en in die straat af gedraf. Digte struike op die sypaadjie het sy uitsig op die huis belemmer, maar hy was verlig oor die afwesigheid van ’n veiligheidsmuur. Dit sou sy taak soveel makliker maak.
Hy het om die blok gedraf om ’n geskikte plek te soek om vanaand te parkeer. Tevrede dat hy die terrein ken, het hy Seepunt toe gery en hier by die swembad kom afkoel.
Hy sal sommer aandete by een van die restaurante in die omgewing nuttig, besluit hy, en die kos afwerk deur ’n draai op die promenade te stap voordat hy Rondebosch toe ry.
Die Pion het geen rede om senuweeagtig te wees nie. Trouens, hy was lanklaas so ontspanne. Dit sal immers nommer vyftien wees – en dit in slegs ’n dekade.
* * *
Alles wat deesdae op kantoor gebeur, herinner Kassie aan die verdomde oproep.
Soos vanoggend. Kolonel Daniels het hulle byeen geroep en gebrief oor luitenant Daan Nolte, en Kassie het opnuut gewonder of dit nie nóg ’n teken is dat hy ernstig oor die oproep moet besin nie.
Daan was vier maande gelede in ’n skietery met motorkapers betrokke. Sy speurderkollega van die afgelope klompie jare, sersant Robbie August, is ’n paar meter van hom af doodgeskiet. Kopskoot. Die kapers het boonop weggekom.
Kassie kon sien dié ding het Daan sleg geruk. Posttraumatiese stres. Maar ondanks Kassie se raad dat hy hom by die polisiekliniek inboek, het Daan halsstarrig geweier.
“Help nie,” het hy gesê. “Ek kan net dertien dae in die kliniek bly, dan is my siekverlof vir die jaar uitgeput. Ek sal maar so aankarring. Het ook nie nou geld om ’n privaat sielkundige te gaan sien nie.”
Maar onbehandelde posttraumatiese stres het die manier om te sneeubal. Nou is Daan hééltemal in sy moer in. Geskors uit die Diens vir ’n onbepaalde tyd nadat hy gister sy pistool in ’n winkelsentrum uitgepluk en sonder waarskuwing ’n man gepot het. Daan was oortuig dis een van die kapers, maar ’n ondersoek het gewys die dooie man was onskuldig, ’n assistent by ’n klerewinkel en pa van twee jong seuns.
“Daan het die plot verloor, trigger happy geraak,” het Daniels die tragiese gebeure opgesom.
Nou