p>
Dors
Marinda van Zyl
Tafelberg
Vir Tian van Taak
Dorskaart 1876-1880
Hoofkarakters se gesinne in 1876
1
Junie 1876, Greyling-staning naby sameloop van die Marico- en Krokodilrivier
“Kraa, kraa,” lawaai die swartkraai in die haakbos digby die waens.
Dit voel vir Betta Greyling asof die swart kraalogies haar oral volg. Ontstig soek sy ’n klip om die voël te verwilder, maar daar is net sand en blare van die doringbosse wat reeds uitgekap is. Die seuns het gister net genoeg bosse onder die withaakboom uitgekap vir takkrale en só ’n oopte geskep vir die vier waens. Om haar lê ongerepte Bosveld. Iewers wes is die Maricorivier, het Jan gesê.
“Voertsek, voertsek,” probeer sy die kraai met swaaiende arms verwilder, maar hy sit sy sit asof hy die bos gekoop het.
“Nou lyk jý soos ’n reusekraai wat probeer vlieg,” terg Jan. “Los die voël, hy kom aas seker vir ’n stukkie biltong.”
“Jy vergeet al weer ons ma’s het gesê ’n swartkraai bring onheil. Die ding moet weg hier.”
“Ai, my vrou, jy weet tog dit was bogstories van twee susters wat enigiets sou sê om ons twee uitmekaar te hou. Nie een van hulle voorspooksels het ooit waar geword nie.”
“Almiskie, die voël pla my. Maak tog ’n plan.”
“Ek gaan gou ’n draai maak by die anders stanings,” het Jan soos gewoonlik ’n verskoning gereed.
Betta glimlag verlig toe hy die kraai met sy hoed verwilder voor hy tussen die bosse verdwyn. Sy vee die sweet van haar voorkop. Bedags is dit nog somer al is dit reeds Juniemaand. Sy skreef haar oë teen die rooi stof wat dwarrel terwyl Bêrend die grond gelykmaak by die kookskerm.
“Waar loop Elisabet en Janetta rond?” wonder sy hardop.
“Ousus-hulle is bossies toe,” antwoord Bêrend.
Betta ril. Dis nog iets waaraan sy nie gedink het toe sy besluit het om saam met Jan op hierdie tog te kom nie. Sy sal daaraan en aan die sand en stof gewoond moet raak, want dit gaan nog dae en baie vate water neem voor die grond vasgetrap is. Kla daaroor kan sy nie, maar in haar hart verkwalik sy tog vir Jan oor sy nou hier in die wildernis is. Toe hy verlede jaar op Louw du Plessis se aandrang saam met die Alberts-trek was om die beste pad Damaraland toe te vind, het hy haar die pad hel toe en terug laat loop. Daardie vrees toe hy nie, soos met elke ander jagtog, teen September terug was nie en toe November aanbreek, die doodsangs dat sy die pad vorentoe alleen sou moes loop, wil sy nooit weer ervaar nie.
In Februarie, terwyl sy een aand knus met hom lepelgelê het, het hy terloops gesê: “Ek moet volgende maand weer vort om vir Louw du Plessis-hulle deur die Dors tot by Ngami te vat.”
Sy wou vir hom sê: Ek het jou kinders alleen in die wêreld gebring en grootgemaak terwyl jy in die jagveld was; die familie se spot dat jy net huis toe kom om kinders te maak met ’n glimlag verduur, maar ek gaan waaragtig nie weer ’n kind alleen begrawe nie.
Maar sy kon nie die woorde uitkry nie. Net die huil oor jare se eensaamheid en die slap liggaam van ’n seuntjie wat sy nie lewend kon bid nie. Toe Jan beloof om grond in Damaraland, op die jagveld se voorstoep, te kry het sy oorhaastig ingestem.
Sy hoor Jan se hartlike lag by een van die ander gesinne wat saam met hulle uit Pretoria vertrek het. Hy het aan elke gesin ’n boom toegesê sodat hulle nie onder mekaar se voete is nie. Hier in die veld is hy ’n ander mens. Die rusteloosheid wat hom sy pypsteel laat stukkend kou het toe die voorbereidings vir die trek te lank na sy sin geduur het, is weg.
Elisabet en Janetta klets vrolik toe hulle uit die bosse kom. Dit was tog ’n goeie besluit om saam te trek, glimlag Betta, want nou het sy vir Piet ook weer onder haar vlerk. Toe hy uit Rustenburg laat weet het hy gaan ook trek, want die boerdery saam met sy skoonpa werk nie uit nie, het sy haar voorgeneem om haar skoondogter met ope arms te ontvang. Dis nie dat sy iets teen Janetta gehad het nie, maar sy moes tog haar seun waarsku teen die sotheid om met ’n kind vyf jaar jonger as hy te trou. Wat weet ’n dogter van vyftien van huishou en die behoeftes van ’n man? Toe wip hy hom en gaan trek by die skoonouers in.
Tiaan Roets kom met die perdewa vol watervate aangejaag en skop nog stof op. “Skuus Tante moes so lank wag. Dis ’n hele ent Maricorivier toe.” Hy en Motshoare laai twee vate af voor hy weer die perde leisels gee om die ander vate by hulle eienaars te besorg.
“Jy sal nog water moet bring!” roep Betta agter hom aan. “Die grond by die kookplek moet nat kom.”
Met die leisels in een hand lig Tiaan sy hoed sodat sy rooiblonde hare in die son vlam. ’n Week gelede het sy die jongman nie geken nie, nou voel hy al soos ’n eie kind. Die mengsel van vrees en wanhoop in sy ma se oë bly haar by, asook die haas waarmee sy Tiaan se klere gaan pak het toe Jan instem om hom as kneg in diens te neem. Wat moet in ’n ma se gemoed omgaan as sy nie haar kind teen sy stiefpa kan beskerm nie?
Soos al die ander gesinne langs die pad het Tiaan se mense by die suiping nuuskierig kom verneem waarheen die trek op pad was. Die uitdrukking op Jan se gesig toe Tiaan sê hy wil saam Damaraland toe agter ’n voël aan, laat Betta nou weer glimlag.
“Wat! Wat vir ’n voël jaag ’n man die wildernis in?” het hy gevra en oopmond vir die antwoord gewag.
“’n Troupant met ronde stertvere, Oom. ’n Oom wat uit Damaraland gekom het, het vir ons die prent gewys. Ek het hom al probeer teken, maar kan nie al die kleure onthou nie.”
Toe dreig die stiefpa om hom daar en dan ’n loesing te gee.
Dit was die magteloosheid in die ma se oë wat Betta laat praat het. “Jan, jy’t gister gesê jy kort nog hande by die vee.”
Jan het geknik, die pa geïgnoreer en die ma se toestemming gevra om haar seun saam te vat as kneg. Eers later, toe sy vir Elisabet met Tiaan hoor skerts, wou sy haarself skop oor sy vergeet het van haar groen koring op die land.
’n Ruiter uit die noorde trek Betta se aandag. Sy herken Louw du Plessis dadelik al het sy hom bykans twee jaar laas met nagmaal in Pretoria gesien. Dit lyk asof die perd enige oomblik onder sy groot lyf gaan swik. Uit gewoonte is sy breërandhoed afgetrek tot teen sy ruie wenkbroue. Maar goeie maniere vereis dat hy dit moet lig toe hy groet en Betta kyk vinnig weg om nie te gril vir die letsels oor sy pankop nie. Sy kan haar indink hoe sy ma gehuil het terwyl sy die kopvel moes vaswerk nadat ’n leeu hom kleintyd beetgekry het.
“Bêrend, kom groet die oom voor jy jou pa gaan roep,” roep Betta.
Louw lyk ontevrede terwyl hy die kampplek bekyk. “Julle doen erg moeite met ’n oornagplek.”
“Jy’s vroeg op my spoor,” red Jan vir Betta van ’n antwoord. “Die plan was om teen môre by jou uit te kom. Die plek moet eers leefbaar kom vir die vroumense.”
“Maar jy weet tog ons laer is langs die Krokodil. ’n Volle uur te perd hiervandaan.”
Betta beloer die twee mans onderlangs terwyl sy koffie skink. Alhoewel Jan ’n paar jaar ouer as Louw is, lyk hy met sy seningtaai lyf heelwat jonger. Iets aan Louw se houding pla haar. Sy onthou hom as ’n vrolike platjie wie se blou oë kon skitter van die pret as hy iemand ’n streep getrek het. Nou vroetel hy senuweeagtig met sy stompievingers in sy blonde baard terwyl hy wag op Jan se antwoord.
“Met die spul vee wat julle het, is dit seker nou kaalgevreet teen die Krokodil en my diere moet vet wees vir die trekpad. Is julle reg om in die pad te val?”
“Ja, opperhoof Khama het al in Desember vir my toestemming gegee om deur sy land te trek en in Maart laat weet Haakdoringpan is vol, maar toe was al die mense mos nog nie hier nie.”
“Ek’s