oppak en boonop voorsiening moet maak vir honger mae vir wie weet hoe lank nie. Ten minste weet sy hoe om Louw van die oponthoud te laat vergeet. “Ek het vir julle ’n baksel beskuit, ingelegde vrugte en ’n paar pampoene saamgebring. Jan sal dit môre bring.”
Louw se gesig verhelder. “Ag, dankie, nig Betta. Truia bak lekker brood in ’n miershoop, maar daardie oond deug nie vir uitdroog nie. Dalk kan Jan die goedjies sommer nou met die perdewaentjie bring, want ons moet vir Daniël Erasmus gaan spreek.”
“Waaroor nogal?” frons Jan.
“Daniël voel ons kan die trek nie sonder regulasies aanpak nie. En daar moet ampsdraers gekies word.”
“Maar jy’s mos die kommandant, Louw. My akkoord is met jóú om julle die pad deur die Dors te wys. Verder moet elke man sy eie mense in toom hou en bestraf.”
“Daniël sê sy mense het hom nog voor hulle by die Pienaarsrivier weg is as kommandant verkies en hy het die meeste mense met hom saamgebring. Daarom behoort hy die trekleier te wees.”
“Wie dink die man is hy dat hy hom so aanmatig?”
“Hy’s Van Straat Erasmus se neef. Nou ja, jy sal seker nie weet nie, want jy is mos meer in die jagveld as by die huis. Van Straat was ons waarnemende president voor Burgers verkies is. Daniël self het glo naby Paul Kruger geboer en ken hom persoonlik.”
“En dit gee hom die reg om ons te hiet en gebied?”
“Dit klink vir my of hy meer skoolgeleerdheid as ek en jy het, Jan. Ons het al klaar so ’n bietjie gesels oor die regulasies waaronder ons sal trek. Nou moet die kommissie gekies word om dit op skrif te stel,” sê Louw baie vernaam.
Betta weet ná sewe en twintig jaar saam met Jan dat hy hom gaan vererg. “Wat van nog ’n dronkie koffie met beskuit?” bied sy aan om sy aandag af te trek.
Maar dit stuit Jan nie. “Loop sê jy vir Erasmus al die kennis wat ons nodig het om deur die Dors te kom is in hierdie kop van my. Ek weet waar elke put en pan is en wanneer jy waar kan loop infoeter. Ek was al op hoeveel jagtogte die Dors in. Die eerste in ’52 tot by Ngami. In ’65 was ek en die groot olifantjagter Hendrik van Zyl tot by die Okavango. As Erasmus dink hy kan met boekkennis die Dors tem, God behoede almal wat saam met hom trek.”
“Nou kom sê dit self vir hom,” paai Louw.
Betta glimlag. Dis nou een ding van Louw. Hy het die statuur van ’n reus. Met sy ruie baard en fors bou lyk hy nou wel na ’n leeumannetjie, maar ’n bakleier is hy gewis nie.
Louw se kalmte laat Jan afkoel. “Vandag moet ek eers die kinders se velskoene versool. Dis ’n lang pad wat ’n touleier te voet moet aflê. Ons kan môre praat.”
Louw glimlag verlig. “Tot môre dan. So tienuur by Erasmus se laer.”
2
Junie 1876, Greyling-staning
Die vuurvonke spat soos verskietende sterre toe Tiaan ’n stomp op die vuur gooi. Gelukkig beland geen kooltjies op Motshoare wat teenaan die vuur slaap nie. Tiaan wikkel hom weer in sy velkombers toe om sy wagbeurt by die perdekraal om te sit.
“Gesoute perde is meer werd as goud in die wêreld waarheen ons trek,” het oom Jan hom die eerste dag ingelig. “Dis jou werk om hulle te versorg en snags saam met Motshoare op te pas. Ek voer jou vir die leeus as hulle leeukos word.”
Hy sit verskrik regop toe hy wel ver weg leeus hoor brul. Die brul van mannetjies wat die prooi in die rigting van die wyfies laat vlug, het hy al gehoor toe hy jare terug saam met sy pa op sy eerste jagtog was.
Snags wanneer hy sy warm bed mis, skel hy homself oor sy impulsiwiteit wat hom op hierdie trek gebring het. Maar daardie dag toe hy hoor van Damaraland, was hy skielik weer tien jaar oud en sy pa beloof: “Volgende jaar gaan ons twee Damaraland toe om hierdie voël te soek.” Die reisiger wou nie die prent van ’n troupant met rondepuntstertvere aan sy pa verkoop nie. Om saam met oom Jan-hulle Damaraland toe te gaan was die kans om sy pa se droom uit te leef, want ’n jaar ná die reisiger se besoek is sy pa dood. Hy het sy bes gedoen om sy pa se doodswens, om mooi na sy ma te kyk, uit te voer. Maar ’n ma het meer nodig as ’n lastige seunskind wat aan haar voorskootpante klou. Dit het hy op die harde manier geleer toe hy ’n stiefpa kry. Die plaas moet ’n man hê om kos op die tafel te sit.
Toe Motshoare onder sy velkombers uitpeul, skrop Tiaan vir hom ’n holte in die sand en rol hom in sy velkombers toe. Dit voel of hy skaars geslaap het toe oom Jan se stem hom uit sy droom ruk.
“Opskud, kêrel, die watervate moet vol kom voor ons by Erasmus rapporteer,” jaag oom Jan hom aan.
Tiaan gryp skoon klere uit die bondel wat hy as kopkussing gebruik. Hy wonder wat hy gesondig het dat oom Jan van gister af in so ’n slegte bui is. Elke taak wat hy kry, doen hy so vinnig en goed as moontlik uit vrees dat oom Jan hom sal terugstuur. Miskien het hy gister te lank met Elisabet gesels, maar dis nie sy skuld nie, dis sy wat hom kort-kort kom pla. Hy het al gesien hoe tant Betta vir hulle gluur.
Terwyl Motshoare die vate volmaak, stroop Tiaan sy klere af en plons die yskoue water in.
Toe hy opkom om asem te skep wys Motshoare vir hom vinger. “Die oubaas hy gaat jou gat warm looi.”
Tiaan kom haastig uit die water en droog hom bibberend met sy vuil hemp af voor hy skoon aantrek. “Mag mens dan nie eens was nie?” wil hy klappertand weet.
“Die drinkwater jy mors hom vuil. Jy moet stroomaf.”
“Jy sal nie vir hom sê nie, nè?”
“Motshoare hy verkla nie Boerkeeners nie.”
“Hoekom is oom Jan kwaad vir my?” wonder Tiaan hardop.
“Die oubaas hy is maar so. As ons jag, die oubaas hy’s mak hond. Twee dae by die huis hy word leeu wat baklei soek.”
Oom Jan wag al netjies uitgevat toe hulle met die watervate by die staning kom. Hy gryp die leisels by Tiaan. “Laai vinnig af. Dis klaar skuins voor nege.” Toe Tiaan vir Motshoare wil help om die vate weg te rol skel hy: “Klim! Wie dink jy moet tant Truia se goed oppas terwyl ek trekreëls moet uitpluis? En jy beter fyn dophou, want ek vertrou die spul glad nie. Toe ek November hier verby is, het ’n olifanttand van my wa af verdwyn.”
Tiaan lig sy hoed vir tant Betta toe sy vir hulle totsiens waai.
Oom Jan frons. “En die koeilekkuif wat jy vanmôre het?”
“Motshoare het gesê ek mag stroomaf swem. Ek het my kam vergeet, toe vee ek dit sommer met die hand plat,” plooi Tiaan die waarheid.
“Eerder jy as ek in die yskoue water. Maar het jy darem al ’n vreemde voël hier gesien?”
“Net ’n blou visvanger, Oom. Ek dink dis dieselfde blou as die langsterttroupant wat ek soek,” wei Tiaan uit om oom Jan van die swemmery te laat vergeet.
“Vir daardie troupant sal jy lank moet wag, soos vir alles in die lewe wat die moeite werd is.”
Die laer is by die drif tussen die samevloeiing van die Marico- en Krokodilrivier.
Oom Jan fluit verbaas. “Die man weet mos niks van die veld nie. Dis ’n muskietnes hier in die somer en in ’n goeie reënjaar oorstroom albei riviere hulle walle en word die kom een groot modderpoel.”
Oom Jan vra by die eerste wa na Daniël Erasmus.
“Die rooi wa,” beduie die vrou. “Dis hy wat daar voor die tent doenig is.”
’n Oom geklee in ’n swart knielengtebaadjie en broek is besig om sy swart skoen te poets terwyl sy voet op ’n veldstoeltjie rus. Hy lyk soos ’n dominee. Sy baard is in die middel verdeel en in netjiese punte gedraai. Hy hoor hulle skynbaar nie aankom nie, want hy skop die stoeltjie onderstebo toe oom Jan groet.
“Goeiemôre, neef Erasmus. Jan Greyling. Bly te kenne.”
“So jy’s Kreling die