“Ons het tog alles met mekaar gedeel.” Ilizabith hoor die seer in Saramma se stem. “Ek besef dit was ’n deurmekaar tyd met die oorname en alles, maar nogtans.”
“Goed,” neem Elspeth klaarblyklik weer ’n besluit. “Ons sal nou en dan by julle kom inloer en kyk hoe dit gaan.”
Elspeth is baie besluiterig, som Ilizabith haar op.
“Ons kan nie drie kinders aan hulle eie genade oorlaat nie.” Elspeth sê dit asof sy Saramma teregwys omdat sy so verbaas lyk. “Ons moet ’n oog oor hulle hou.”
’n Oog oor hulle hou? Hoekom? Hulle verstaan tog dat Khaled vir Daesh werk? Die vroue lyk soos Siriërs; hulle velkleur is ligter en hulle aksent is anders. Hulle woon seker al jare hier in Rakka. Hulle haat Daesh tog sekerlik? Tensy hulle wil aansluit? Dalk is dit hoekom hulle wil vriende maak?
Leila begin huil – haar honger huil. Die laaste ding wat Ilizabith wil doen, is om voor die vroue te borsvoed. Dit sal die dekmantel van menswaardigheid wat sy nou gekry het, weer afpluk.
“Die baba is wakker,” sê Elspeth toe Ilizabith nie dadelik beweeg nie. “Jy moet haar seker versorg. Ons sal op pad wees.” Sy praat met deernis en beduie met haar kop na Mohammed. “Ek sien jy het jou hande vol.”
Ilizabith knik ongemaklik.
“Wanneer kan ons weer kom?” vra die vrou.
Ilizabith twyfel ’n oomblik en kyk na Mohammed. Hy voer weer oorlog met sy terroristespeelgoed in die woonkamer. Hy is ’n nuusdraer. As Khaled moet uitvind … Tensy die vroue by ISIS wil aansluit, dan sal hy nie nee sê nie.
Elspeth volg haar blik na Mohammed. “Neem hy ook ’n middagslapie ná ete?”
Ilizabith knik.
“Dan sal ons volgende keer ná die zuhr-gebed ’n draai kom maak. So in die middel van die dag. Reg so?”
Afgespreek.
“Goed. Seënwense vir jou, my kind. Mag God by ons almal wees.” Daarmee sit hulle weer die sluiers voor hul gesigte en sy laat hulle by die agterdeur uitglip na buite.
Ongelooflik. Watter vroue sal dit waag? Ilizabith drafstap om Leila te gaan optel.
Elspeth en Saramma kom weer en hulle bring ’n boek met skoon wit papier, ’n pen en ’n potlood saam. Hierdie keer klop hulle aan die agterdeur. Dis veiliger so.
“Die papier is sodat ons met mekaar kan kommunikeer.” Elspeth oorhandig dit aan haar.
Papier! Ilizabith wil-wil glimlag. Sy streel oor die skoon oop bladsye. Hoe fantasties! Sy sal dit moet wegsteek, maar dis iets om op te teken, iets anders as woestynsand waar die wind in elk geval jou sketse uitvee.
“Wanneer ons jou iets vra, kan jy dalk vir ons die antwoord skryf.” Saramma maak seker sy verstaan.
Ilizabith gee skaars aandag. Sy is nie van plan om enigiets te skryf nie. Is daar dalk iewers ’n skerpmaker en uitveër? Sy sal soek. Sy sal eerste vir Leila teken, wanneer sy oorgelewer aan die slaap lê. Hoe lank begeer sy nou al om dit op papier vas te vang! Dit is die mooiste prentjie in die wêreld.
“Hoe gaan dit met Leila?” Elspeth laat haar dink aan haar moederlike taalonderwyseres op skool. “Voel sy beter, het die medisyne gewerk?”
Ilizabith knik.
“En Mohammed?”
Sy knak haar kop sywaarts om te beduie dat hy slaap en druk haar voorvinger teen haar lippe.
Hulle drink weer tee, maar Ilizabith se aandag is nie by die gesprek nie. Gelukkig is die susters self haastig. Hulle is skaars by die deur uit, toe gaan sit sy en begin teken.
Daesh laat geen vorm van kuns toe nie. In Rakka self was daar dus groot veranderinge aan die onderwysstelsel. Meisieskole is toegemaak. Vakke soos filosofie, kuns, musiek, geskiedenis en letterkunde is geskrap en die kurrikulum is verander na studies oor sharia-wette en Daesh se leerstellings oor godsdiens.
Kuns! Hoe leeg moet jou skoollewe nie wees as jy nooit die plesier ken van potlood op papier en ’n prent wat voor jou oë vorm aanneem nie? Die vreugde om kleure versigtig in te skakeer. Sy het daardie plesier laas op skool in Egipte beleef. Kuns was haar gunstelingvak. Nou is hulle almal in dieselfde bootjie, sy en die mense van Rakka.
Haar hande bewe liggies toe sy die kontoere van die skets op die papier visualiseer. Dit is haar stil rebellie hierdie, haar opstand teen die sisteem. Voor haar oë kies die lyne hulle eie pad, stadig en versigtig. Haar vingers is dom, onfiks ná soveel jaar sonder oefening. Dit lyk nie reg nie! Sy wil nie papier mors nie. Sy blaai gefrustreerd om en begin weer. Teken en teken, teken totdat dit voel of ’n deel van haar siel na haar toe terugkyk vanaf die papier. Teken totdat sy, soos uit ’n waas, ’n kind hoor huil.
Hulle word wakker ná die middagslapie. Sy registreer dit stadig, kyk verstom na die sketse. Party is skrikwekkende beelde van die afgelope drie jaar, ander pragtige kindergesigte. Sy kyk daarna asof sy ’n buitestander is. Is dit sowaar wat in haar siel aangaan? Ja, moet tog wees.
Sy gaan versteek die boek onder haar matras voordat sy na Mohammed se kamer toe loop, teleurgesteld dat hy wakker is. Sy sien reeds uit daarna dat hulle weer moet gaan slaap. Vanaand sal sy verder skets, mits Khaled nie intussen terugkom nie.
Sy kan nie genoeg kry nie. Sy skets tot in die vroeë oggendure en dwing haarself later om die potlood neer te sit. Die bladsye raak te vinnig vol. Sy blaai terug, werk detail in die sketse in. Sy het gelukkig ’n skerpmaker, uitveër en nog potlode tussen die vorige eienaars se besittings gevind.
Waar gaan sy nog papier kry? Sy sal môre begin soek wanneer dit lig is. Sy droom die nag hoe sy teken.
Pascale
BEIROET, LIBANON. NOVEMBER 2014
Pascale kom vervaard aan, net-net betyds voor die diens begin en word deel van die los gemaal soos die gemeentelede na binne stroom.
“Bonjour, Pascale.”
Emile! Sy struikel oor die trappies en hy gryp haar elmboog om haar regop te hou.
“O, skuus! Dankie … Haai, Emile,” stamel sy. Flip, hoekom het sy die snooze-knoppie van haar wekker oor en oor gedruk vanoggend? Nou kon sy haar weer nie behoorlik grimeer nie! Sy word rooi tot in haar haarwortels.
Emile glimlag net skeefweg en stap gemaklik verder na binne.
Hoekom kan sy nie meer grasieus wees nie? Sy verander in ’n jellierige pappery nes Emile naby kom – sý, wat gewoonlik manlike belangstellendes se attensies kan aflag. Ruk jou reg, Pascale Nassar. Jy het ruggraat.
Die gemeente hou hulle dienste in ’n ou ondergrondse bomskuiling wat dateer uit die jare lange stryd tussen Libanon en sy bure Sirië en Israel. Plastiekstoele staan styf teenmekaar gepak in die middelslagsaal, en omdat daar nie vensters in die skuiling is nie, kan dit bedompig raak. Op die klein verhogie staan musikante en instrumente gereed vir lofprysing. ’n Houtkruis met lappe gedrapeer is die enigste versiering. Twee elektroniese skerms vertoon die liedere se woorde sodat die gemeente kan saam sing.
Yana, haar man en drie kinders staan heel voor. Hulle loof die Here uit volle bors, met arms hoog gelig. Pascale moet eers die knop in haar keel afsluk voordat sy verder kan sing. Sy hou Emmanuel sommer nog ’n bietjie stywer vas. Hy wriemel los en pyl reguit op Ashraf af waar hy saam met die musiekspan kitaar speel. Pascale drafstap agterna en vang Emmanuel net betyds voor hy op die verhoog klim. Sy het al haar dae om hom weer by hulle sitplek te kry. Gemeentelede glimlag simpatiek.
Huis. Emmanuel is reeds geliefd, al is hulle gesin nog nie lank deel van die gemeente nie. Sy pas vir Emmanuel op omdat sy vir Saleh ’n blaaskans wil gee. Verlig gaan gee Pascale hom later af by die vrywilligers wat die kinderkerk behartig. Nou kan sy darem ook na die preek luister. Ashraf kom sit langs Saleh en sy steek haar hand in syne toe pastoor Youssef begin praat. Sal Emile ook eendag so langs haar kom sit? Hy neem egter ’n sitplek in die voorste ry in en sy donker hare is al wat