een van die diepste mynskagte in die wêreld. Net so salig en naby aan die hemel as wat dit hier bo is, net so vol onheil en donkerte is die skag met al haar vlakke en tonnels wat afstrek tot in die doderyk. Hulle sê heel onder in die myn lê lyke tien diep opgestapel. Onwettige mynwerkers wat in die gitswart tonnels verdwaal en dan misgetrap het … of bloot vermoor is in faksiegevegte, territoriale dispute en wie weet wat nog. Piet ril by die gedagte, en probeer hom troos dat dit alles net daardie Doc Ndlovu se praatjies is.
Die gedagte aan Doc laat hom langnek rondkyk. Waar is die Kulturama se sekuriteitshoof vanaand? G’n teken van hom nie, maar hier langs hom is Boytjie ywerig besig om iets op sy tablet te tik.
“Hoeveel bodies het ge-ge-antwoord vir va-vanaand?” vra Piet.
“So twee-vyftig, kol’nel. Die who’s who van die dorp. Dis nogal heelwat, maar ek skat dis oor die fees se nuwe invalshoek.”
Piet beleef vir die soveelste keer vandag ’n flits van vertwyfeling. Daardie donnerse engele. Dit was wel sy idee, nadat Justus hom die daguerreotipe gewys het, dat die fokus van die feesopvoering vanjaar engele moet wees. Stel jou fokken voor, engele wat oor die bloedbad sweef! Maar hoe kon hy ooit dink dat dit eenvoudig sou wees? Dis nie maklik om ’n engel in die hande te kry nie, dit weet hy vandag bleddie goed. Die petaljes met die oudisies vir die engelrolle, hoe verkwiklik ook al, het amper veroorsaak dat hy die opvoering laat vaar – as dit nie was vir Justus wat by hom gepleit om nie handdoek in te gooi nie. As direkteur is die fees se toekoms immers in sy hande.
4
“Wat,” het Piet voor die oudisies vir Boytjie gevra, “is die b-b-belangrikste ding wat ’n engel nie moet hê nie?”
“’n Kort humeur?”
“Nee, B-Boytjie. Nee!”
“Wat dan, kol’nel?”
Hy het geweet Boytjie was met opset besig om hom die botoon te laat voer, maar hy het saamgespeel. “Hoogtevrees, my d-d-draadsitter-vriend, hoogtevrees,” het hy gekraai.
“Juis, kol’nel, juis.”
“Dus, al die hoopvolle engele sonder hoogt-t-tevrees kan oud-d-disies de-doen, of hoe?”
Dit is egter waar die hoop min of meer geëindig het, want ten spyte van Boytjie Dames se beste pogings, kon hulle nie geskikte kandidate kry om die engelrolle te vul nie. Noudat hy vanaand daaraan terugdink, is Piet bly daardie mislukte oefening is verby. Hy kan nie glo dat hulle so moes sukkel nie. Hoe God aan sy engele kom, is ’n saak waaroor lank gedink kan word, maar die fok weet, dis vandag moeilik om goeie hulp te kry.
Dis asof Boytjie sy gedagtes lees, want uit die bloute sê hy: “Die ergste was die Oosthuizen-susters. Kan u nog onthou, kol’nel? Hulle was nie bang vir die kabels en die hoogte nie, maar jissem, daai lyfies … Ek weet darem nie.”
Piet wil nie eens aan die susters dink nie. Toe die een – Poppie of Pippie, hy kan nie onthou nie – nie die rol kry nie, het sy gedreig om van die mense by haar pa se skrootwerf te kry om hom te kom regsien. Ook net in fokken Welkom.
“Jirre, hulle was te d-dik vir engele. Hulle k-kon die twee amper nie opge-opgehys kry nie. Die een, wat was haar naam nou weer … P-P-Popp-pie?”
“Dit was Pippie, kol’nel.”
“Daai v-v-vlerkies op haar rug het haar eerder soos ’n v-vlieg laat lyk.”
Boytjie grynslag en Piet moet dié keer ’n lagtraan onder sy Oakleys wegvee. Hy sit die sonbril in sy sak. Die aand lyk nie meer so onheilspellend nie.
Hy moet toegee, daar het laas jaar plek-plek ietsie op die fees skeefgeloop, en dit is sulke kleinigheidjies wat die verslaggewer Douglas Fortuin gemelk het in drie van die poniekoerantjie Goldfields Trumpet se Vrydaguitgawes. Van die opskrifte bly hom steeds by en sy moermeter begin weer toere optel.
Een wat hom veral dwars in die krop gesteek het, was Theme park play: ‘Blood River’ massacred. Fortuin was ewe skielik ’n teaterkritikus. Daar was beslis iemand by die koerant wat hom voorgesê het. Goed soos: “Blood River: The Reconciliation” admirably demonstrates that the pen is mightier than the sword. The scriptwriter has blood on his hands. Donnerse Kimberley-gigolo. Die Sunday Times het heelwat meer insig getoon en die show as “representative” en “replete with forgiveness” beskryf. Justus het gedreig om terug te gaan KwaZulu-Natal toe. As direkteur moes Piet mooipraat om gekneusde ego’s te salwe.
Fortuin weet dit nog nie, maar daar is vanjaar ’n scoop aan die kom wat internasionaal opslae gaan maak. Hy gaan virfokkenseker die laaste joernalis wees wat daarvan hoor.
5
Dit het Piet ’n ruk gevat om toe te gee dat dit Boytjie was wat met die oplossing vir die hoofengel vorendag gekom het. Almal dink mos Boytjie is die brein agter alles hier by die Kulturama, maar dit is gewoon kak. Hy, Piet Moolman, is ’n man vir die oomblik. Hy kán, wanneer dit saak maak, die ingrypende besluite neem en die groot insigte hê.
Soos met die engele. Justus se vonds het die rou materiaal verskaf, maar die klemverandering in die Versoeningsfees se boodskap na die engele was uit en uit sy skuif.
Dit was nou wel Boytjie wat, ná vele pogings en oudisies om kandidate uit die plaaslike gemeenskap te werf, voorgestel het dat hulle na hul eie personeel kyk. Piet was gediend hiermee, maar het gemaan dat alles binne die raamwerk van die Kulturama se begroting, mandaat en kapasiteit moet plaasvind. Dit was beslis die soort ding wat ’n oudit aan die gang kon sit.
Piet was reeds tevrede met die keuses vir engele twee en drie. Twee meisies – Lizzy Prelinsky, die dogter van ’n Poolse Boerejood van Bultfontein, en die wulpse en veelsydige Vlindra van der Merwe, wie se pa ’n ryk boer van Hoopstad is – het uitgestaan in die proeflopies. Hy moes sy oorredingsvermoë inspan om Vlindra ingesluit te kry. Rooipiet het die komitee se voorbehoud oor engele wat te lank is, afgemaak as “verdagmakery teen ons hemelbesem-susters”. Klein Lizzy is pragtig, maar is geneig tot onvoorspelbare floutes en Piet hoop nie dat dit ’n probleem gaan afgee tydens die swewery nie.
Die fokop was egter dat die rol van die hoofengel nog vakant was. Dit het vir Piet ’n moerse kopseer geword, want die hele vertoning kan platval as hulle nie iemand kry nie.
En toe kom Boytjie met die oplossing – en nie waar nie: by die krip in die personeeltoilet. Hulle het langs mekaar daar gestaan. Piet het pas met ’n skok besef sy duimnaels is tot in die lewe afgekou, en hy het jaloers uit die hoek van sy oog gekyk na die sterk straal links van hom wat boog tot amper bo teen die urinaal se handelsnaam.
En toe sê Boytjie, terwyl hy afskud: “Kol’nel, hoekom hoor ons nie by die mense van DIS of hulle vir ons ’n engel het nie? So iemand kan ander take gedurende die jaar verrig. Navorsing of so iets.”
“Jy b-b-bedoel Yssel se plek. Is dit wat hulle d-dit noem? D-DIS?” Piet het vir oulaas ’n straaltjie uitgepers. Die ander man was toe al by ’n wasbak doenig.
“Dit staan vir Darwin Intelligence Systems.”
“Ja, natuurlik, ek weet. Los d-dit b-by my.” Hy het haastig na sy kantoor afgesit; gehoop sy baadjie bedek die piskolletjies bo teen sy broek. Dit was nou wel nie sy idee nie, maar as direkteur moes hy die knoop deurhak.
Hy was nog nie eens by die kantoordeur nie, toe roep hy: “Saar, kry vir my vir Yssel van DIS op die lyn.”
Saartjie Spaarwater is Piet se administratiewe assistent, maar sy help ook vir Jan Bezuidenhout in die finansafdeling. Tot Piet se verbasing het hy eendag by Saar gehoor dat die personeel Jan die bynaam “Zombie” gegee het, nie net vanweë sy lang, bleek gelaat nie, maar veral omdat hy, wanneer iemand by hom aanklop vir oortydbetaling of ander kleinkasuitgawes, bloot apaties deur die persoon kyk asof hy of sy nie daar is nie. Toe hy Boytjie daarvan vertel, was sy reaksie dat hy dink Jan ly aan Cotard se delusie, wat de fok dit ook al mag beteken.
Trouens, Saar het heelwat aktiwiteite by die Kulturama aan die gang; Piet vermoed die meeste het niks met haar posbeskrywing te doen nie.
“Is