Fanie Viljoen

Donker Web


Скачать книгу

section>

      

      Tafelberg

      Vir die matrieks wat nog ’n storie uit die onderwêreld gevra het

      Here is the world. Beautiful and terrible things will happen. Don’t be afraid.

      – Frederick Buechner

      In the face of pain there are no heroes.

      – George Orwell, 1984

      Beware that, when fighting monsters, you yourself do not become a monster … for when you gaze long into the abyss, the abyss gazes also into you.

      – Friedrich Nietzsche

      <html>

      <body>

      <h><b>Reboot</b></h>

      <p>Die ontkoppeling van alle toestelaandrywers, toemaak van alle programme en herbegin van ’n rekenaar se bedryfsisteem. Dit kan gedoen word vir normale rekenaargebruik of om ’n probleem te help oplos.</p>

      </body>

      </html>

      Hy stap in die donker gang af. Dis soos daardie aand toe hy sy pa in die studeerkamer gekry het. Voor sy oë sien hy steeds sy pa se groot lyf half oor die lessenaar gebuig toe die deur oopgaan. Hy sien die geel koevert. Sien die 9 mm-pistool.

      Sy pa vou dit toe in ’n lap en sit dit weg in die laai.

      “Jy moet nie vir jou ma vertel nie. Oukei? Dis ons geheim,” sê sy pa. Sy gesig is natgehuil. “Gaan slaap nou.”

      Binne hom weerklink sy pa se stem toe hy nog daar staan om sin te probeer maak van wat hy gesien het. Hy het nie eens geweet daar is ’n pistool in die huis nie. Wat maak sy pa met een?

      Uiteindelik draai hy om, stap kamer toe met sy pa se woorde wat hom volg. “Nag. Lekker slaap …”

      Sy pa sê sy naam, maar hy hoor dit nie. Dis asof die donker dit opraap en in die voue van sy kleed verberg. Nou weet die donker van hom en sal dit hom roep. Hom op sy naam noem asof hy aan die donker behoort.

      Sy regte naam, nie net ’n eggo daarvan nie.

      “Xander, is dit jy?” vra ’n stem nou in die studeerkamer. Dis ses maande nadat hy sy pa die aand daar met die pistool gekry het. Toe was hy elf. Nou twaalf. Hy het verlede maand verjaar.

      “Ja, Pa?”

      “Kom binne, jong.”

      Xander druk die deurhandvatsel af. Die metaal is steeds koud. Die deur wat hy oopstoot ruik steeds na politoer, nes daardie vorige keer.

      “Alles oukei?” vra sy pa. Hy sit in ’n diep leerstoel by die kaggel. Oral om hom lê papiere gestrooi. In sy hande, ’n Montblanc-pen en ’n oopgeslane boek. Xander se oog gly oor die groot boekrak, sien dadelik die plek waar die boek uitgetrek is. Dit laat ’n swart gat tussen die groen boekrûe.

      “Daar is iemand by die deur vir Pa,” sê hy toe hy sy kop terugdraai.

      “Het jou ma hulle laat inkom?”

      Xander haal sy skouers op.

      “Weet jy wie dit is?”

      “Twee ooms.” Hy weet nie veel meer nie. Sy pa se werk bring soms mense huis toe. Meestal in pakke klere. Kraakwit hemde. Dasse. Hierdie mans was anders aangetrek. Sommer net jeans en swart T-hemde wat om hulle boarms span.

      Sy pa sit die pen neer en maak die boek tydsaam toe. Frons. “Ek verwag nie mense nie. Ek is nogal besig, Xander.”

      “Die een oom het gesê dit is dringend.”

      “Het hy nie sy naam gegee nie?”

      Xander dink ’n bietjie. “Nee, maar hy het gesê Tok het hom gestuur. Dis ’n snaakse naam.”

      “Dok?”

      “Ja!”

      Sy pa staan op uit die stoel, skielik haastig, asof hy nou eers besef wat aangaan. Sy hand bewe toe hy aan sy seun raak. “Xander, gaan soek ’n plek waar jy kan wegkruip. Jy kom nie uit totdat ek jou roep nie. Gou! Maak gou!”

      Iewers in die huis gil ’n vrou.

      Dit ruk binne Xander. Stamp sy asem uit sy bors. “Pa, wat gaan aan? Was dit Ma?”

      Sy pa is by hom. Gryp sy skouers vas. “Ek is lief vir jou, Xander. Onthou dit. Altyd. Maak nie saak wat gebeur nie.” Vinnig soen sy pa hom op die voorkop. Daar is ’n skrikwekkende dringendheid aan die soen, aan sy woorde. “Dink slim, oukei, seun? Gaan nou, kruip weg. Dadelik! Gaan net. Gaan!”

      Dis meteens asof die donker se kleed om hom vou. Asof dit stywer om hom trek, en hoe meer hy probeer uitwerk wat aangaan, hoe stywer knel die houvas. Steeds kom sy asem in kort, hortende teue en skeur die vrees deur sy lyf.

      Dok.

      Dit het iets daarmee te doen.

      “Regter Gericke …” hoor hy die besoeker sê.

      Xander kyk oor sy skouer toe hy met die gang afhardloop. Hy sien die mans se skaduwees oor die muur in die portaal skuif.

      Dis soos monsters wat die huis binnegekom het.

      Die angs wel steeds hoër in hom op. Pols deur sy brein. Sy mond droog.

      “Naand, kan ek julle help?” vra sy pa uit die voorportaal, waar die lig sag gloei. Sy stem is gespanne, dof, asof hy uit ’n bodemlose diepte praat.

      Dan hoor Xander die vuishou, sien in die rukkende skaduwee teen die muur hoe sy pa inmekaarsak.

      Dis hoe vrees voel: Vuur blits deur jou lyf, elke senuwee ruk wakker, adrenalien gooi jou gedagtes in snelrat, jou oë sper oop, jou asemhaling hou op en jou borsholte pers saam. En jy hoor dit – jou eie hart. Klop. Klop. Klop.

      <html>

      <body>

      <h><b>Recovery drive</b></h>

      <p>Enige media, soos byvoorbeeld ’n geheuestokkie, wat ’n rugsteun bevat van die oorspronklike fabrieksopstelling van ’n rekenaar. Dit word gebruik om ’n bedryfsisteem te herstel ná ’n rekenaarstaking of die korrupsie of skrapping van data.</p>

      </body>

      </html>

      <h1>Skree</h1>

      Greg Owen is oorlede. ’n Span duikers het sy liggaam gister uit die Canale Grande in Venesië gehaal.

      Dis wat die koerante in die Turret Media-groep oor my berig.

      Greg Owen is dood.

      Kan dit waar wees, ná alles wat gebeur het? Miskien is daar meer aan die storie.

      Ja, ek was in Venesië, waar die hoofkanaal soos ’n reuseslang deur die stad kronkel, en ja, iemand is uit die donker water gehaal. Maar ander mense was saam met my daar. Ons was vyf.

      Een van hulle is dood.

      Hierdie is ons storie.

      Dis hoe dit begin.

      Ons huis in Sandhurst het ’n skemeragtige plek geword, meestal sonder klank, buiten vir ’n selfoon wat af en toe lui, die geluid van ’n motor in die straat, ’n sjef wat kosmaak in die kombuis, of wanneer ek doelbewus musiek hard aansit om die stilte te verdryf.

      Kom jy die huis binne, stap jy met die gang af of sit jy in die sonkamer, is daar altyd hierdie swaar gevoel wat binne jou lê, soos ’n opgekrulde slang.

      So het dit begin voel die aand toe ons by die huis arriveer nadat ek teen die middel van matriek weg is by Lawson Kollege, nou al ’n jaar en ’n half gelede. So iets. Ook tyd het ’n ander betekenis gekry in hierdie somberte. Dae het soms verbygegaan terwyl jy afgestomp daardeur worstel, net om aan die einde van so ’n dag in die hof of waar ook al te wonder hoe jy daardeur