Fanie Viljoen

Donker Web


Скачать книгу

nou, net bietjie meer as ’n jaar later, gaan ek ook Maties toe. Plank kan nie wag dat ek opdaag nie. Hy is vanjaar tweedejaar; ek eerstejaar, maar vir ’n ou soos Plank sal dit nie saak maak nie.

      Verby Hanover na Beaufort-Wes strek die pad byna eindeloos deur die landskap.

      Plank het al drie selfoonboodskappe gestuur, maar ek sien hom eers môre. Vanaand gaan ek slaapplek in Beaufort-Wes soek. Nege en ’n half ure op die pad is nie grappies as jy sleg geslaap het nie.

      Ek knak nog ’n blikkie Coke oop en sluk dit gulsig.

      Terwyl ek ry, doem nog ’n beeld uit die verlede voor my op: my pa in die beskuldigdebank van die Hooggeregshof in Pretoria. Netjies in ’n pak klere en ’n das. Omring deur sy regspan. Dok Pienaar is ook daar, met sy span prokureurs.

      Verbete veg hulle teen die hoofaanklagte van moord en terrorisme.

      Dan, in ’n oomblik toe my aandag van die sirkus af wegdwaal, vang my oog iemand in die publieke galery. Swart skouerlengte hare. Donkerraambril. Streng mond.

      ’n Joernalis? Daar is baie van hulle in die hof, maar hulle sit en tweet die verrigtinge aan ’n honger Twitter-gehoor.

      Die vrou in swart pas op ’n manier nie in die prentjie nie. Net die een dag sien ek haar daar sit en nooit weer nie, maar sy bly my by. Vandag steeds.

      Ek dink nog aan haar toe ek later Beaufort-Wes binnery.

      By ’n gastehuis in die dorp boek ek in en gaan soek dan iets om te eet.

      Die dorp wemel van die vragmotors wat op pad Kaap toe is, of terug Noorde toe. Prostitute hang rond by die truck stops om die drywers gelukkig te hou en dalk ’n paar bucks te verdien. Van hulle is kinders. Tien jaar oud, skat ek die jongste een wat saam met ’n ouer man rondloop. Die donker web van armoede.

      <h3>Welkom in Matieland</h3>

      Ek ken jou van iewers,” sê ’n vrou die volgende oggend aan die ontbyttafel. Een van die B&B se gaste. ’n Tannie met ’n pruilbekkie en nuuskierige oë. “Jy was mos in Huisgenoot en in die koerante?” Sy sit haar messegoed neer. Fronsend takseer sy my.

      Ek skuif die flentergat lapblommetjie op die tafel voor my weg en vat haastig ’n paar happe ontbyt. Jogurt en muesli. Sluk dit af met vrugtesap. Uit die kombuis dryf die tergende geur van bacon en eiers. Crappy Afrikaanse musiek speel oor ’n luidspreker in die plafon. Gelukkig is dit sag. Sulke bokkie-sokkie-tjol gee my slegte spysvertering.

      “Dis jóú pa wat daardie mense doodgemaak het,” karring die vrou by die ander tafel verder. “Butcher, Baker, watsegoed. Ook maar goed hulle het hom gevang. Vandag kom mense mos weg met sulke dinge. Veral as hulle geld het.”

      Ek byt op my tande. Hou net jou bek, Greg.

      “Koop hulleself uit alles terwyl onskuldige mense dood is. Dóód.” Steeds haal sy haar bemoeisieke oë nie van my af nie. “Ja, dit ís jy.”

      “Tannie ken my nie,” sê ek meteens hard en staan op. Die stoel skuif weg oor die houtvloer. Kantel om. Die geluid dreun deur die eetkamer. Ek tel die stoel op. Stamp dit harder as nodig terug op sy pote.

      “Maar die koerant—”

      “Die koerant se gat.”

      Haar oë rek, maar ek gee nie om nie. Ek stap na die deur.

      “Dis nie nodig om ongeskik te wees nie. Ek vra jou maar net ’n vraag.”

      “Moenie!”

      Haar blik volg my. Ek is uit by die deur, en af in die gang. “Gaan jy daardie ander ou ook vastrek? Die Baker?” roep sy agter my aan.

      Ek antwoord nie. My bloed kook. Dit voel of iemand anders nou vir my dink. In die kamer skraap ek my goed bymekaar, bondel dit in die toksak. Ek is byna by die deur uit toe ek my selfoon se kragdraad onthou. Vinnig draai ek terug, pluk dit uit die muur en stop dit sommer in ’n kantsakkie. Dan gaan handig ek die sleutel by die toonbank in en laat spat. Daar lê nog so vier na vyf ure se ry voor. Dit hang net af hoe befoeterd ek is.

      Die musiek pomp in die kar. Verby Leeu-Gamka, Laingsburg, Matjiesfontein. Ure later vou die Hexrivierberge om my. Fynbos net waar jy kyk. In die winter lê die sneeu wit hier op die Buffelshoek- en Milnerpieke.

      Uiteindelik verskyn die bordjie na Stellenbosch langs die pad. Dis waar ek afdraai op die Adam Tas-pad. Nog berge in die verte: Stellenbosch-berg, Papegaaiberg, Jonkershoek, Groot-Drakenstein – ek kom maar net nie weg van die drake nie.

      Dis seker die een ding wat standvastig is in my lewe: berge. Hulle bly net waar hulle is. Verander skaars. Lê en kyk en wag. Sien alles raak. Jou woede, jou hartseer, jou verlange. En hopelik in Stellenbosch, jou vrede. Dis wat ek nodig het.

      Ek maak die venster oop, sit die aircon af en stuur die kar verby wynlandgoedere, asem die vars lug in. Voor my lê die Eikestad, my nuwe blyplek vir ten minste die volgende drie jaar. Die paaie is besig. Baie mense op straat. By Birdstraat draai ek af en kies koers verby Die Braak na Van Riebeeckstraat, waar talle ouer huise gerestoureer en in gastehuise omskep is. Die ou eikebome se takke hang oor die pad, ’n tydelike verligting teen die hitte. Langs die pad blink ’n rustige stroom water in die klip-leivoor. Met Van Riebeeckstraat ry ek op na die studio apartment wat ek op die internet gevind het. Nog gastehuise en studentewoonstelle flits verby.

      Dan sien ek dit: netjies, wit mure, prime property, onlangs gerestoureer, parkering aan die agterkant.

      Dis waar ek stilhou. Ek grawe in die paneelkissie vir die sleutel wat die eiendomsagent vir my gekoerier het, haak dit aan my karsleutel. Dis dodelik warm toe ek uit die kar klim. Ek maak sommer dadelik ’n plan om my swembroek te soek en later ’n duik te gaan vang in die kompleks se swembad.

      Drie meisies kom verbygestap toe ek my laptopsak oor my skouer slinger en ’n boks uit die kattebak haal. Hulle lag in my rigting, een van hulle draai later om en kyk na my.

      “Is jy ook eerstejaar?” vra die een met die donkerbruin hare wat in ’n wolkerige bondel agter haar kop vasgemaak is. Los T-hemp en skinny jeans.

      “Jip.”

      “Watter nommer?”

      “Watter nommer wat?”

      “Waar trek jy in, ou? Jissie.”

      “Nommer sewe.”

      “Cool. Ek is by vyf. Chloe. Chloe Adams. En die’s my vriendinne. Kiana en Lizmari.”

      Ek knik.

      “En jy? Het jy ’n naam, of dink jou ma-hulle nog vir jou een uit?”

      “Greg.”

      “Greg wie?”

      “Greg Maak-nie-saak-nie.”

      “Is jy altyd so weird, hè?” vra Chloe. Sy frommel haar neus en haal haar sonbril af.

      Ek antwoord nie.

      Kiana en Lizmari lag. “Jy pla die ou. Kan jy nie sien nie?” vra Kiana.

      “Ek is maar net ’n goeie buurvrou,” sê Chloe. Sy trek haar gesig onskuldig. “Shame. Hy kom dalk van die plaas af.”

      “Ek kom nie van ’n plaas af nie,” kap ek terug.

      “Hoor jy, Chloe? Hy kom nie van die plaas af nie, los hom nou,” sê Lizmari en trek Chloe aan haar arm weg.

      “Het jy ’n meisie, Greg Maak-nie-saak-nie?” vra Chloe ongesteurd.

      “Nee.”

      “Oukei, dan sal ek jou meisie wees,” roep sy van die kompleks se hek af. Haar vriendinne lag en stoot haar sypaadjie toe. “Kom drink koffie.”

      “Nee, dankie.”

      “Ag, wassit met jou? Kom net.”

      “Nee.”

      Ek draai om en loop die gebou binne. Groet die ou by sekuriteit. “New