Fanie Viljoen

Donker Web


Скачать книгу

      Ek is baie jammer, Plank,” sê ek sag. Die skuld vreet my op waar ons die Saterdagmiddag in die Neelsie sit. Op die grootskermtelevisie is daar ’n heruitsending van ’n rugbywedstryd. Hier en daar sit studente op hulle laptops en werk.

      Plank peusel lusteloos aan sy hamburger. “Lisa het my nog nie weer gebel nie. Sy antwoord ook nie my boodskappe nie.”

      “Ek het alles vir jou opgemors.”

      Hy sug.

      “Ek voel soos ’n hond. Genuine, Plank.” Ek sit my burger neer. Nou is ek ook nie eens meer honger nie. “Jy’t gesê die fairy tale wat ek myself vertel, gaan my realiteit word. Jy’t nou self gesien, dit ís al my realiteit. Lyk my ek gaan nooit van my pa ontsnap nie. Dis daai ding van die sondes van die vaders, of so iets.” Die gedagte spook al van gisteraand af by my. Toe ek by die huis kom ná die episode, kon ek nie eens die laaste klomp leerwerk in my kop kry nie.

      Ek weet wie jy is, Greg. Jy bly weg van my meisiekind af. Het ons mekaar?

      Die man se woorde het deur my kop bly maal. Voor hom was daar vanjaar daardie vrou by die gastehuis, die dronk ou by die straatfees. Dis maar net ’n paar van die mense wat reguit daarmee uitkom, wat wys hoe hulle ons gesin verafsku. Wat nog van die klomp wat my in stilte oordeel vir my pa se misdaad, of dié wat agter hul hande of op sosiale media grappe maak.

      Ek vat ’n sluk koeldrank, dwing my aandag terug na Plank toe. “ ‘Die goed wat jy inpak, is die goed wat jy met jou saamdra,’ sê my ma. Sy is reg. Dis die dinge waarvan jy nie kan ontsnap nie, selfs al trek jy ’n duisend kilometer weg van jou huis af.” Ek weet nie of Plank nog enigsins luister nie. Dit voel of ek met myself praat. Hy sit net daar oorkant my. Roer nie. “Ek is nie my pa nie, maar ek dra die label.”

      Plank kyk skielik op asof hy verstaan. “So is dit met ons almal,” sê hy. “Hoekom dink jy is ek in Wilgenhof?”

      “Want jou pa was daar?” vat ek ’n raaiskoot.

      “Jip. En nou is ek daar, want ek moet mý label gaan haal.”

      “Ons word klone van ons pa’s,” herhaal ek ingedagte die woorde van daardie ou uit die verlede. Flippit tog, hoekom sleep ek sy skadu so met my saam?

      Plank haal diep asem. “Kyk, man, hier is die truth bomb: Jy het sonder dat jy dit weet, jou pa se skelmstreke expose. Nou weet die hele blerrie wêreld dit. Maar so flippen what? Kan jy dit verander? Nee. Kan jy jou pa uit die tronk kry? Nee.”

      “Daar is ’n kans dat die appèl mag slaag—”

      “Dude, is jy gerook, hè?” keer Plank. “Dit gaan nie gebeur nie. Vergeet daarvan. Sorry, maar jou pa gaan sit. Wat kan jy daaraan doen? Jy is op Maties. Jy het jou eie lewe. Flippenwil leef dit.”

      Ek weet Plank is reg. Ek sal niemand anders so met my laat praat nie, maar ek weet jy kan altyd op hom vertrou om jou ’n reality check te gee, sonder bybedoelings, sonder dat hy jou wil seermaak.

      “Jy is ’n beter mens as ek, Plank,” sê ek skuldig.

      “Nee, ek is nie.”

      “Glo my hierdie keer. As iemand mý verhouding so spectacularly laat bom het, sou ek nie nog voor hom sit en vir hom advies gee nie. Hoe gaan ek dit ooit aan jou opmaak?”

      Plank kry ’n effense glimlag. Dis skaars daar, maar ’n flikkering van die ou Plank skemer deur. “Kom ons sê maar net jy skuld my een.”

      Sorry, maar jou pa gaan sit. Wat kan jy daaraan doen?

      Later, op pad na my woonstel, dink ek daaraan. Ís daar nie tog iets wat ek daaraan kan doen nie?

      Dalk net een ding. Die vrou in die gastehuis en die student by Vensters het dalk reeds die saadjie in my geplant.

      Terwyl ek koponderstebo deur Stellenbosch se strate stap, neem die besluit vorm aan: ek kan sorg dat die Baker aan die pen ry. Hy is immers net so skuldig aan die terrorisme en moord met die dodelike virus. Die polisie kon hom nog nie opspoor nie. My pa en Dok weier om sy identiteit bekend te maak.

      Maar as ék weet wie hy is … Ás ek kan uitvind …

      Dit sal soos ’n boetedoening wees, sodat my pa nie vir die res van sy lewe in die tronk bly sit terwyl ’n ou wat net so skuldig is, wegkom nie.

      Later, onder die stort, begin vorm die idee in my kop. Soos ’n fyn web se eerste draadjie wat gespan word. Alle spinnewebbe begin met daardie eerste silwer draad. Oënskynlik onskadelik.

      Ek draai die stortkrane toe. Vinnig droog ek af – nie heeltemal nie, want die effense klamheid op my vel is ’n lafenis teen die hitte.

      In my kamer stel ek die aircon kouer, kry ’n bier uit die yskas en skuif dan voor die laptop in. Vou die skerm oop.

      Meteens kry ek ’n gevoel van déjà vu. Ek was al hier; besig met hierdie goed.

      Rub a dub dub,

      Three men in a tub;

      And who do you think they be?

      The butcher, the baker,

      The candlestick-maker;

      Turn ’em out, knaves all three!

      Die rympie van Project Nursery Rhyme. Die Butcher – Dok Pienaar: Lawson-skoolhoof. Die Candlestick-maker – my pa, Chris Owen: magtige media-baas.

      Maar die Baker … Die een wat weggekom het. Wie is hy? Waar is hy? Wat doen hy nou? Wat het hy om te verloor? Hoe hou hy my pa-hulle stil?

      Dis wat ek gaan uitvind.

      <h7>Tydmasjien</h7>

      Wat weet jy van die Baker? tik ek in ’n nota op my selfoon.

      Hy is deel van Project Nursery Rhyme se onheilige drie-eenheid.

      Hy het die virus gemaak wat hulle in griepinentings versprei het – dus moet hy kennis dra van farmakologie, siektes, virologie.

      Naastenby my pa se ouderdom?

      Manlik?

      Buiten vir ’n paar e-posse waarin sy skuilnaam gemeld is in die info wat ek destyds gekry het, was daar geen persoonlike besonderhede nie. Sy e-posadres was ook net ’n tydelike fiktiewe adres.

      Hy het soos ’n groot speld verdwyn.

      Beslis intelligent.

      Ek kyk na my lysie, lees dit weer deur. Die slotsom: Ek weet nie veel nie.

      Hoe en waar begin ’n mens soek na ’n onbekende figuur uit die onderwêreld? Dalk met ’n paar gewone Google-soektogte. Eers Netwerk24 se koerantberigte. Ek lees alle berigte oor my pa, en konsentreer op dié wat verskyn het voor die nuus van sy betrokkenheid by Project Nursery Rhyme gebreek het. Ek kyk na foto’s. Dalk is daar iemand iewers langs hom op ’n groepfoto wat betrokke is by farmakologie of die mediese wêreld.

      Ná Netwerk24 soek ek verder op ander nuuswebblaaie: News24, Daily Maverick, Times LIVE, al die koerante in die Turret Media-groep wat aan my pa behoort.

      Dis waar ek uiteindelik ’n enkele foto van my pa saam met ’n dokter opspoor. Hulle was betrokke by ’n gemeenskapsprojek wat kliniekdienste aan behoeftige mense lewer. Dit was skynbaar vir ’n goeie doel, maar ek laat my nie daardeur verblind nie.

      Ek vergroot die foto op die skerm. Dokter Rian Trollip. ’n Man met ’n oop glimlag. Ligte hare. Sagte oë.

      Lank sit ek en kyk na die foto. Is dit die beeld van ’n monster?

      Ek staan op om nog ’n bier te kry, maar terwyl ek by die oop yskas staan, roep iets my terug na dokter Trollip se foto. ’n Vae herinnering wil-wil in my oopvou. Daar is tog iets bekends aan hom. Diep soek ek in die files en folders in my kop. Dan weet ek: die dokter was al by ons huis. Hy en sy vrou. Daar was ander mense ook. My pa het graag uitgehang en my ma moes bontstaan met caterers en ’n partytjie-koördineerder. Die huis was vol lig, lewe, musiek. Die dokter en