Fanie Viljoen

Donker Web


Скачать книгу

Gym en Coetzenburg-swembad terug na my woonstel. Musiek van Imagine Dragons in my ore. Daar hang vanmiddag ’n brandreuk in die lug. Daar is seker weer ’n vuur iewers in die berg. Dit kan dae neem voordat dit geblus word.

      By die woonstelingang keer die sekuriteitsman my voor.

      “Meneer Owen, ek het iets vir jou. ’n Pakkie.”

      Ek haal die pods uit my ore en wag dat hy die pakkie onder die toonbank uithaal. Voordat hy dit gee, moet ek eers sy afleweringsregister teken.

      “Dankie!” sê ek.

      Hy knik, kyk dan of ek sy blaai reg ingevul het.

      Met die pakkie onder my arm draf ek die trappe op na my woonstel. Sluit dit met een hand oop. Dis onaards warm binne. Gelukkig is die plek skoon. Doortjie was vanoggend hier. Sy het iewers ’n blom gekry en in ’n glas op die kombuistoonbank gesit.

      Ek stuur gou vir haar ’n boodskap om dankie te sê, dan stel ek die aircon lekker koud.

      Net toe is daar ’n klop aan die deur. Plank. Hy smyt sy rugsak in die kombuis neer.

      “Manne, manne, waar’s die drank en wat’s die planne? Ek het ’n flippen rowwe dag gehad.”

      “Kyk in die yskas, daar is nog ’n sixpack,” sê ek, pluk my hemp oor my kop en slinger dit na die lessenaar se stoel. Plank kry die bier. Knak dit oop en drink. “Wat pla jou?” vra ek.

      “Meisies. Maties. En my maag.” Hy lig sy hemp op. “Kyk hoe lyk die ding. Ek kry ’n flippen boepens, Greg.”

      “Lyk vir my na ’n bierpens. Dis omdat jy nie meer rugby speel of gym nie.”

      Plank rol sy maag soos ’n belly dancer s’n, vat ’n sluk bier en sug.

      “Ek dog die ding tussen jou en Lisa is toe uitgesorteer?”

      “Dit was.”

      “Maar?”

      “Toe sien sy netnou my Tinder profile. En nou is ek weer in die dog box.”

      “Hoekom is jy nog op Tinder? Dude?”

      “Ek gaan nie my profile toemaak nie. Sê nou net –”

      “Sê nou net niks. Is jy van jou rocker af? Jy het dan nou net vir Lisa teruggekry.”

      “Hei, ek dog jy is aan my kant, Greg!”

      “Watter deel van dating apps verstaan jy nie?”

      “Dis nie asof ek daarop boer nie. Jis, ou, en weet jy hoeveel keer is ek al deur ’n mooi lyf op daardie app gereject?”

      “Ek wonder hoekom?”

      Plank gaan staan op die balkon. “My lewe suck!” skree hy straat se kant toe.

      “Kry vir jou ’n shrink!” antwoord iemand iewers van ’n ander woonstel af.

      “Sal nie help nie!” skree Plank terug.

      Ek skud my kop, sit my laptop aan en begin net aanteken toe Plank weer inkom.

      “Het jy geweet iemand hou jou plek dop?”

      “Waarvan praat jy, Plank?”

      “Kom kyk.” Hy trek my op uit die stoel. “Die ou staan daar onder in die straat.”

      Ek volg Plank terug balkon toe, net betyds om die man te sien: ’n ou met ’n swart motorfiets. ’n Ewe swart baadjie oor sy Levi’s-T-hemp. Jeans. Die valhelm is steeds op sy kop. Ek kan nie uitmaak hoe hy lyk deur die verdonkerde gesigskerm nie. ’n Laaste keer kyk hy op na my, dan skakel hy die enjin aan en ry.

      “Weird, nè?” vra Plank.

      “Hy het seker maar net gestop om iemand te bel of die pad te soek.”

      “Terwyl hy na jou woonstel kyk?”

      “Plank, dis niks nie, oukei?” hou ek vol, maar klink nie te seker van myself nie.

      “Whatever.” Plank stap weer in, val op die bed neer. Die koerierboks langs hom wip amper vloer toe. “Wat’s dié?”

      Ek vat die boks en skud dit. “O ja, dis vandag afgelewer. Ek weet self nie.”

      “Nou maar kyk, magtig. Of moet ek dit doen?”

      “Jy los my stuff.”

      In die kombuislaai kry ek ’n skerp groentemes. Dit glip deur die bruin kleefband aan die bokant van die boks.

      “So? Wassit?”

      “Ek kyk mos nou, Plank. Wees nou net ’n bietjie rustig vir my.”

      Kopskuddend vou ek die boks se flappe oop. Steek my hand in en vat eerste ’n koevert raak. Daar is niks buite-op geskryf nie. My vinger glip onder die koevert se flap in, skeur dit oop en haal die brief uit.

      Miskien sal dit jou help om die Baker op te spoor.

      Ek lees eers self die getikte boodskap. Dan gryp Plank die brief.

      “Die Baker?” vra hy toe hy klaar gelees het. Fronsend sit hy regop. Ek kan sien die wiele in sy kop draai teen ’n verwoede spoed. “Is jy weer besig met daardie Nursery Rhyme stuff?”

      Ek knik stadig. Ek het hom nog nie daarvan vertel nie. “My pa sit in die tronk en die Baker loop los buite rond. Die polisie kon hom nie kry nie. Maar ek gaan.”

      “Jý, Greg Owen, is getoor in die kop. Het jy nog nie genoeg gehad nie?”

      “Wat reg is, is reg.”

      “En as hy jou kom vrekmaak, is dit dan steeds reg?” Plank spring van die bed af op. Hy gooi die res van die bier met een sluk in sy keel af en loer dan versigtig verby die gordyn na buite. “Flippit, ou, dan was ek reg oor daardie dude in die straat. Dis surveillance.”

      “Jy oordryf.”

      “Tja?”

      “Tja!” Ek lag. “Moenie oor my worry nie. Ek sal versigtig wees.”

      “Sê elke ou wat al mafia-style vrekgemaak is.”

      Ek trek net my gesig, dan steek ek my hand weer in die koerierboks, nuuskierig om te sien wat nog daarin is.

      Nog ’n koevert. Ek haal die ding uit en skeur dit oop.

      Plank hou my met groot oë dop.

      My vingers kry die ding daarbinne beet. Dit voel grof, bros. Ek trek dit uit. Dis ’n notaboek. Bruin omslag, geelwit blaaie.

      “ ’n Ou boekie,” sê Plank teleurgesteld. “Dit lyk of die ding uit die oorlog kom.” Hy wil dit oopmaak.

      “Nee, wag, jy werk te rof daarmee,” keer ek. “Dit lyk of die boek in ’n brand was.” Ek wys na die swart rand en die geskroeide blaaie. Stadig maak ek dit oop. Van die bladsye is uitgeskeur of heeltemal verbrand. Tog kan jy hier en daar iets uitmaak. Formules. Enkele van die bladsye het nommers op. Kriptiese notas.

      ’n Vae diagram:

      En op die laaste bladsy ’n enkele woord: Valkyrie.

      <h11>Valkyrie</h11>

      Ek kan nie slaap nie. Die vreemde boek, waar dit vandaan kom en wat dit beteken hou my wakker, daarom glip ek uit die bed en gaan staan buite op die balkon. In die verte glim die geel-oranje van die brandende berg in die donker. As dit nie so erg was nie, sou ’n mens kon sê dis betowerend mooi.

      ’n Hele ruk staan en kyk ek na die gloed, totdat ek uit die hoek van my oog iets in die straat sien beweeg. ’n Mens? Dalk net ’n rondloperhond? Of my verbeelding? Want toe ek weer sien, is dit stil en lê Van Riebeeckstraat onversteurd in die donker.

      Terug in die woonstel gaan sit ek by die rekenaar, teken aan en maak Firefox oop. Valkyrie, tik ek in die soekenjin.