Fanie Viljoen

Donker Web


Скачать книгу

geëet, Greg?” vra sy en stap by my verby kombuis toe. “Gee ons ’n kans om te gesels,” hoor ek haar vir André fluister. Hy soen haar op die wang. Sy hand raak aan die kurwe van haar rug. My ma! “Kom saam, Greg.”

      Ek volg haar met die gang af verby die donker eetkamer. In die kombuis brand ’n lig. Op ’n ander aand sou dit verwelkomend voel. Nie nou nie.

      In die deur gaan staan ek. Herinneringe van my kinderdae om hierdie kombuistafel spoel skielik na my toe terug. Sjokolademelk met papierstrooitjies drink. Plaatkoekies verorber – John het voorgestel hulle moet soos spoke lyk, kompleet met rosyntjie-oë. Hier het ek en hy ook skelm vetkryt geëet. Enige laaitie sou daaraan wou proe met name soos Jazzberry Jam en Atomic Tangerine. By dié tafel het ons – ek, hy, Ma en soms Pa – stories vertel. Gelag en gesels. Toe ons nog ’n sorgelose gesin was. Hoe kalwe die tyd nie weg aan ’n mens se geluk nie!

      My ma haal bakke kos uit die yskas. Woordeloos skep sy vir my in: lamsboud, gebraaide aartappels, soetpatats. Alles waarvan sy weet ek hou, soos my ouma dit gemaak het. Terwyl my ma die bord kos in die mikrogolf warm maak, kry sy ook wynglase. Twee. ’n Bottel rooiwyn uit my pa se versameling in die wynkelder. Sy hou dit na my toe uit om oop te maak en te skink.

      Die atmosfeer is so gelaai dat woorde onnodig is.

      Onder die warm lig wat oor die kombuistafel gloei, gaan sit ek. My wysvinger soek die plek op waar John eenkeer ’n sterretjie met ’n passerpunt uitgekrap het. Dit sit steeds daar in die tafelblad. My ma bring die kos en messegoed en kom sit oorkant my. Eet, wys haar oë voordat sy ’n sluk wyn neem.

      Lusteloos neem ek ’n paar happe, sit dan die mes en vurk neer en lig my oë na my ma.

      “Vertel my wat gaan aan,” sê ek sag.

      “Ek was alleen.” Sy neem nog ’n sluk wyn.

      “Toe kry Ma vir hom?”

      “Ja.”

      “Wie is hy?”

      “André Symington. ’n Chemiese ingenieur.”

      Toe nou nie ’n makelaar of advokaat nie. Een van my wenkbroue lig. “Hoe lank ken Ma hom?”

      Sy tik met haar vinger teen die wynglas, neem langer om die vraag te beantwoord as wat ’n mens sou verwag.

      “Lank,” sê sy uiteindelik.

      “Lánk, lank?”

      Sy knik.

      Die kos word dik in my mond. Ek sukkel om dit af te sluk. “Julle slaap saam? Gaan dit ook al lank aan?”

      My ma kyk weg.

      “Ma? Praat met my.”

      Haar skouers sak toe sy uitasem. “Daar is meer geheime in hierdie gesin as waarvan jy weet, Greg.”

      Vrydagoggend is ek vroeg uit die bed. Ek weet nie of André nog in die huis is nie. Hy is dalk al weg ná gisteraand se ongemaklike ontmoeting.

      Daar is meer geheime in hierdie gesin as waarvan jy weet, Greg. My ma se woorde spook steeds by my toe ek in een van ons motors by die hek uitry. By McDonald’s kry ek ’n paar hamburgers, dan navigeer ek met Google Maps na my bestemming. Ek wil my gedagtes agtermekaar kry, want die oggend wat voorlê maak ’n knoop in my maag.

      Soos ’n pro gly ek deur Pretoria se verkeer. Uiteindelik doem my bestemming voor my op: die Kgosi Mampuru II-gevangenis. Mense noem dit baiekeer nog Pretoria Sentraal.

      Waar my pa en Dok is. In die onderwêreld van die nommerbendes.

      Dis net ná nege toe ek in die parkeerarea stilhou. Ek sluit my selfoon en beursie in die kattebak toe. Met my ID-kaart en ’n papiersak vol hamburgers stap ek hek toe. Hoe nader ek kom, hoe gewigtiger voel die hol kol op my maag. Spanning bewe in elke sel van my lyf. Selfs my asemhaling voel swak. Uit ritme.

      Daar is nie juis mense nie. Weeksdae is net vir besoekers aan maksimumsekuriteit. Die gevreesde C-Max.

      Ek meld aan by die ontvangstoonbank. Die wag vra my ID en my pa se tronknommer. Dan teken hy my besoek op die rekenaar aan. My pa is ’n A-gevangene wat in totaal net twee ure per maand besoek mag kry, ’n halfuur op ’n slag.

      Uiteindelik stap ek deur ’n draaihek en ’n metaalverklikker na ’n bussie toe. Ek klim in en gaan sit oorkant ’n vrou wat trane droogdruk en by die vuil venster uitstaar. Ek volg haar oë na die skrikwekkende geboue en besef dan soos met vorige besoeke: hierdie is ’n plek waar hoop en wanhoop aan mekaar vasgeketting is.

      Die bussie neem ons dieper die tronkterrein binne. Die spanning word ’n web wat versmorend om my span.

      In ’n skemerdonker vertrek moet ek my skoene uittrek en word ek deeglik deursoek, dan uit by ’n deur na die C-Max-tronk. Hier is nog ’n voetgangerdeur binne-in ’n voertuigdeur vir die vangwaens. In ’n kantoor aan die ander kant los ek die hamburgers. Dit gaan nou so bevoel, bevat en gebreek word dat daar bykans niks anders as krummels sal oorbly nie, maar dis die gedagte wat tel. Eers later sal die wagte dit vir my pa gee.

      Weer moet ek my ID uithaal. My besonderhede word in ’n reuseboek opgeteken voordat ek uitstap na ’n grasperk met twaalf besoekershokkies links en twaalf regs. Steeds nouer word die web en my bors krimp verder ineen. Ek gaan sit by hokkie nommer vyf wat die wagte vir my aangewys het. Die metaalsitplek voel koud onder my.

      My oog vang een van die wagte s’n. Skielik besef ek dis mense soos hy wat die publiek teen my pá moet beskerm. Dis mense soos daardie wag wat ook vir mý teen my pa moet beskerm. Dis ’n ontnugterende gedagte.

      Uiteindelik hoor ek ’n deur sluit. ’n Traliehek oopsluit. Dan kom my pa die besoekershokkie binne. Sy oranje oorpak, oortrek met die woord “Corrections” in swart sirkels, hang sakkerig aan hom. Sy rug, wat altyd so regop was, nou meer geboë. Sy hare is gryser. Sy vel vaal. Daar is ’n effense knak van die knie in sy gang.

      Hy kom sit, maar die hokkie is so klein dat hy skuins moet draai. Van agter die glas kyk hy na my. Sy oë is soos ’n vertrek waaruit iemand weggeloop het. Hy byt sy lip vas. Knik sy kop effens.

      “Hallo, Pa,” groet ek deur die buis by die toonbank.

      “Greg, hoe gaan dit?” Sy stem is swak, asof dit nie syne is nie.

      “Goed, seker. En Pa? Wat is fout met Pa se knie?”

      Hy kyk verby my en ek weet dadelik hy gaan nie antwoord nie.

      “Jy lyk goed,” sê my pa uiteindelik toe hy sy kop terugdraai.

      “Dis die gym en die studentelewe.”

      Die gesprek is stram. Ongemaklik skuif ek op die harde sitplek rond.

      “Hoe is die lewe in die Kaap?”

      “Lekker.”

      “Het jy weer ’n meisie?”

      Ek antwoord nie.

      “Die studies?” vra hy.

      “Baie werk, maar ek cope.”

      Die gesprek val vas. Verwyderd van mekaar, maar nie net omdat daar glas tussen ons is nie. Versigtig. Bang. Byna soos vreemdelinge. Weer lyk sy oë vir my vakant, meer grys as vroeër jare se blou. Is dit van hartseer? My eens magtige pa? Dalk is dit die vernedering of die verlies, of dalk kom die hartseer van die dinge wat hy in die tronk moet deurmaak.

      Die buis waardeur ons moet praat, maak die gesprek nog meer onnatuurlik. “En Pa? Cope Pa nog hierbinne?”

      “Wat dink jy? Dink jy dis maklik?”

      “Dis nie wat ek bedoel het nie.”

      “Vasgevang in ’n klein sel, die kleur van kots?” sis my pa. “Net een klein venstertjie bo teen die muur. Geen plafon nie, net ystertralies waaroor wagte dag en nag loop en op jou afkyk. Geen privaatheid vir niks nie. Die reuk van lywe heeldag in jou neus. Luidsprekers wat sokker en breindodende musiek uitblêr. Nie ’n oomblik van donnerse stilte nie. Iemand wat skree. Deure en traliehekke