wag kom maak hom stil. Dreig om hom terug te vat.
My pa knik.
“En die kos?” vra ek.
“Heerlike Franse cuisine. Met ’n glas rooiwyn.”
Die wag frons.
Eintlik weet ek van die kos, ek probeer net die gesprek aan die gang hou. My ma het my al vertel: Ontbyt is waterige pap met ’n lepel suiker in jou sel, nie eens in ’n eetsaal nie, want dis waar die opstande begin. En jy’s mos in C-Max. Middagete en aandete kry jy twee-uur die middag saam in jou roomysbak. Wéér daai pap. En opgekookte beesvleis of hoenderreste – jy moenie eens verbaas wees as jy ’n hanekam daarin kry nie. En kool. Áltyd kool, en ’n katkop – ’n homp brood – wat jou moet hou tot die volgende dag.
“So, ja, Greg. Jou pa cope. Is jy nou tevrede? Jy’t jou plig gedoen. Jou pa in die tronk besoek. Is daar nog iets waarmee ek jou kan help?”
“Pa, asseblief,” keer ek. “Dis … dis vir my ook moeilik.”
Hy snorklag. “Jý moet vir mý vertel van moeilik, ou seuna.”
Ek haal diep asem, kyk oor my skouer na die enkele ander besoekers en wonder hoe dit vir hulle voel om hier te wees.
Weer raak dit stil tussen ons. Was dit wys om hierheen te kom? My pa is nie meer my pa nie. Hy praat van die vieslike gespuis van die mensdom, maar is dit nie hoekom hy hier is nie? Só dink ek versigtig, want dit voel soos verdere verraad.
“Hoe gaan dit met jou ma?” vra hy ná ’n ruk toe sy emosies bedaar.
Nog ’n moeilike kwessie. Daarvan kan ek hom ook nie vertel nie. My ma was reg toe sy gepraat het van ons familie se geheime.
“Ma’s oukei.”
“Sy kom kuier nie vir my nie, jy weet? Was nog net twee keer hier. Sy sê dit ontstel haar.” Hy herkou aan die woorde. “Wat moet ek sê? Ek kan haar nie dwing nie.” Hy vloek saggies.
“Sorry, Pa.”
“Sorry se gat! Dis jy wat my hier gesit het.”
“Dit was nie ek nie. Ek het nie daardie mense—”
Die vurige blits in sy oë stop my voordat ek kan klaarmaak. “Ek sal vir jou donder,” sis hy deur sy tande sodat die bewaarders nie hoor nie. “Jy’t ons familie se goeie naam deur die modder gesleep.”
Die muur van haat wat op my afkom, laat my opspring. Ek begin wegloop. Blind van woede.
“Greg!” roep my pa agter my aan. Ek maak of ek nie hoor nie. “Greg! Ek is jammer. Oukei?”
Die woorde stuit my in my spore. Stadig draai ek terug.
“Kom sit, seun.”
Ek oorweeg dit. Binne tien minute kan ek buite hierdie mure wees. Vry. Op pad terug huis toe, en hy sal niks aan my kan doen nie.
Maar die skuldgevoel skeur my uitmekaar. Ek weet nie meer wat om te dink nie. Loop. Bly. Loop. Bly.
Dit wás ek wat my pa hier laat beland het.
Daarom draai ek terug en gaan sit weer by hom. Vir ’n hele ruk hang daar ’n onaangename stilte tussen ons. Pa druk sy hand teen die glas. Sy palm word wit. Hy dink seker ek moet dit ook doen, soos in die flieks. Maar dié is nie ’n fliek nie. Dis ons lewens. Uiteindelik trek hy sy hand terug, en laat dit moeg op die klein sementblad voor hom val. Ek staar na sy hande en besef opeens hoe hulle ook verander het. Die netjies gemanikuurde naels lyk nou grof en vuilerig. Die vel losser, met are wat vertak oor die melkbleek bokant.
“Ek wil vir Pa help,” sê ek ná ’n ruk.
“Ja?”
“Die polisie kon nog nie die Baker opspoor nie. Hy moet ook hier kom sit. Dis nie fair dat hy buite los loop nie.”
“Los die Baker uit.”
“Maar Pa?”
“Hoor wat ek vir jou sê, Greg.”
“Wie is dit?”
“Dis nie belangrik nie.”
“Dit is vir my. Ek wil probeer opmaak vir wat ek aan Pa gedoen het.”
“Ek waarsku jou, Greg. Los dit.”
My pa se stem maak ’n ysere draai. Dodelike erns op sy gesig.
“Ek gaan dit nie los nie, Pa. Ek het klaar begin. Pa kan my help.”
“Ek. Help. Jou. Nie.”
“Pa!”
Dan is besoektyd verby. Die wagte kom haal my pa.
“Sê my,” probeer ek vir oulaas. “Is die ou dood? Soek ek na ’n dooie man?”
Hy antwoord nie.
“En Valkyrie? Weet Pa iets daarvan?”
Ek sien die skrik in sy oë. “Ek het jou gewaarsku, Greg. Moenie. Asseblief.”
Dis al wat ek uit hom kry. Toe hy opstaan, sukkel sy knie weer. Hy moet ’n rukkie bly staan totdat die pyn weggaan. Ek probeer die prentjie van my pa wat in my geheue geëts is, vir die soveelste keer verander; wonder selfs of hy nog soos my pa ruik. Nee, seker nie. Sweet en goedkoop seep. Dis seker wat ek sou ruik as ek ’n kans gehad het om hom teen my vas te druk.
Terwyl ek my geestelik losmaak uit die omhelsing, wonder ek weer of ek hom van Ma en André moet vertel. Maar dan los ek dit.
“Cheers, Pa,” sê ek sag. “Kyk mooi na Pa-self.”
My gedagtes is ’n warboel van emosies toe ek omdraai en wegstap. Meteens is dit asof iets vir my sê om op te kyk. Ek doen dit, en kyk in ’n bekende gesig vas, ook agter glas in ’n besoekershokkie.
Dok Pienaar. Lawson Kollege se oudskoolhoof. Die man wat saam met my pa aangekla is. Ook daarin het ek ’n aandeel gehad.
Dok – die moordenaar, die konkelaar, die knoeier. Steeds kaalkop, maar maerder as toe ek hom laas in die hof gesien het. Hy gluur my aan met soveel haat dat ’n ysige rilling in my lyf afsink.
Ek vlug uit die besoekersarea om van hom af weg te kom. Eers buite die tronk kan ek vrylik asemhaal. Dankbaar sluit ek die kar oop om weg te kom, steeds vasbeslote om die Baker op te spoor.
<h13>Gebroke</h13>
Daar staan ’n rooi motor in die skuiwende skadu’s van die bome voor ons huis toe ek later die middag daar aankom. Besoekers trek gewoonlik in, daarom is ek dadelik op my hoede. In my agterkop eggo die donker stem wat alle Suid-Afrikaners ken: Wees versigtig, dis dalk hijackers.
Ek besluit om dinge eers uit te kyk. Terwyl ek verbyry, tuur ek by die rooi kar se vensters in. Dadelik herken ek die insittende, maar my binneste knoop steeds. Uiteindelik hou ek in die oprit voor die veiligheidshek stil. Klim uit.
Nog ’n uitdaging, asof die tronkbesoek nie erg genoeg was nie.
Die rooi motor se deur gaan oop en Nicole klim uit. Haar hare is nie so goed versorg soos altyd nie. Geen grimering nie. ’n Skadu van moegheid onder haar oë. In haar liggaamshouding is daar ook ’n verandering, asof iets binne haar geknak het.
Sy lyk verlig om my te sien. Terwyl ek nader stap, maak sy die agterdeur oop, buk, en haal ’n bondeltjie komberse uit.
Dan is die stories wat ek gehoor het, waar. Nicole het ’n baba gehad.
Met die lyfie in die waai van haar arm, staan sy by die kardeur en sluk teen die trane.
Ek druk my hande in my sakke. “Hei, Nicole.”
“Greg,” groet sy.
“Ek het nie geweet jy kom nie.”
“Surprise!” roep sy gemaak ligsinnig, maar dit lyk eerder of sy wil huil. ’n Hele ruk staan ons so voor mekaar, ten volle bewus