Fanie Viljoen

Donker Web


Скачать книгу

      Op ’n oggend voor ’n klastoets drentel een van die ouens wat saam met my swot, nader. Swart kortbroek, Sportwetenskap-hemp, tekkies en ’n keps op die kop. Hy plak hom op die stoel langs my in die lesinglokaal neer. Stamp liggies met sy elmboog teen myne. “Jy is darem ’n emmer vol sonskyn, is jy nie?”

      “Skies?”

      “Jy weet waarvan ek praat. Jy sit mos elke dag hier agter in die klas. Moerse smile op jou gesig.”

      Ek kan sien hy spot goediglik, maar ek antwoord nie, want ek probeer uitwerk hoekom hy hier is. Ja, ek weet hy is ’n klasmaat, maar nogtans.

      “Dain February,” sê die ou. Hy stamp sy vuis teen myne. “At your service.”

      “Greg Owen,” groet ek, steeds agterdogtig.

      “Ek weet. Almal weet.”

      “En?”

      “En, dit maak nie vir my saak nie. Jy is een van ons.”

      Ek glimlag weer. “Jip.”

      Later die middag, ná ’n tawwe oefensessie, kry ek vir my ’n Powerade en iets om te eet by die Workout Café in die gym. Terwyl ek wag, kyk ek hoe die ouens buite in die swembad oefen. Afrigters loop heen en weer voor die venster verby. Fluitjies om die nek. Hoede op die kop teen die skerp son.

      “Owen!” sê ’n diep stem skielik langs my. ’n Koue skrik stuur deur my lyf.

      Die man pluk ’n stoel uit. Plak hom by die tafel neer sonder dat ek hom nooi. Lisa se pa. Wat de hel maak hy hier?

      “Wat drink ons?” vra hy.

      Fronsend wys ek na die energiedrankie.

      “Pis? Nee, jir, dan wag ek tot by die huis.” Hy draai skuins in die stoel.

      “Kan ek oom help?”

      “Wat? Nee! Natuurlik nie. En my naam is Dirk. Dirk Schutte. Nie ‘oom’ nie.”

      “Hoe het oom geweet ek is hier?” Ek gaan hom nie Dirk noem nie.

      “My vrou het gesê ek moet jou kom soek. Dit was nie moeilik om jou te kry nie. ’n Mannetjie soos jy. Mense ken jou.”

      “Mense dínk dalk hulle ken my,” sê ek effens hardegat.

      Oom Dirk leun terug in die stoel. Hy vryf stadig oor sy grys baard. Haal sy oë nie ’n oomblik van my af nie. Som my op, besef ek. Nes inspekteur Cele en sersant Botha my twee jaar gelede ondervra het. Ek hoor nou nog hul stemme en kry soms nagmerries daarvan.

      “Jy is toe wie ek gedink het jy is, Owen. Ek het verder oor jou gaan oplees. Jou … rekords.”

      Ek sluk, vee my hande aan my broek af. Sien dat hy dit opmerk en vou vinnig my arms voor my bors. Ook dít beteken seker vir hom iets, want hy kantel sy kop effens.

      “Is oom in die polisie?”

      “Ek vra die vragies hier, boetie. Goed so?” Sy kalm stem stuur ’n rilling langs my rug af. Ek neem aan ek het hom reg opgesom.

      “Vertel my van die hacker-goed waarmee jy deurmekaar geraak het.”

      “Ek het met die polisie saamgewerk, ek hoef nie weer— ”

      “Vertel my!” Hard. Van die ander studente kyk om na ons tafel.

      Ek maak keelskoon. “Dis nie omdat ek regtig wou nie, oom.”

      “Moenie vir my lieg nie.”

      Ek wil opstaan. Hy gryp my arm vas, druk my terug. “Iemand het my geleer. Sommer net vir die pret. Dit was ’n uitdaging. Ek wou kyk of ek dit kon regkry. Toe ruk alles handuit.”

      “Hoe so?”

      “Dinge het te ver gegaan. Ek moes net nooit daarmee begin het nie.”

      “Soos dwelms.”

      “Ek doen nie drugs nie.”

      “Ek het nie gesê jy doen drugs nie. Konsentreer.”

      “Oom?”

      Hy ignoreer my vraag, my onnoselheid. “Die hacking – doen jy dit nog?”

      Ek wring my hande senuweeagtig inmekaar.

      “Mmm.” Sy oë vernou. “Ek sal dit vat as ’n ja.”

      “Ek is jammer oor al die goed wat destyds gebeur het. Dis net …”

      “Sometimes shit happens.” Die oom lag vir sy eie grappie, dan word hy skielik weer ernstig. Sy stem sagter. Vaderlik? “Nadat my vrou my aangepraat het, het ek gaan nadink. Wat ek aan jou gedoen het, daar voor die galery, was nie fair nie. Dit was seker maar ’n skokreaksie om my dogter te beskerm. Dis hoe pa’s is. Die meeste pa’s. Hulle beskerm hulle kinders.” Hy laat die woorde in die lug hang. “Dis hoekom ek jou kom soek het, om jou te sê: Ek het ’n fout gemaak. Sorry. Ek het nie die reg om jou te judge op grond van jou pa se streke nie. En al loop sy bloed in jou are, verdien jy ’n regverdige kans. Jou pel ook. Plank. Watse naam is dít in elk geval? Donner tog! Ek hoop nie daar is eendag kinders nie. Wat maak ek met ’n klomp klein Plankies? Bou ’n pophuis?” Sy bors roggel toe hy lag. “Sê maar vir daai mannetjie hy kan weer by Lisa kom kuier. Ek sal met haar gesels, maar— ”

      “Dankie, oom— ”

      “Ek praat nog, Greg! – maar as jy of Plank my wys julle is twee klein etters, sal alle hel losbars. Reg so?”

      Ek knik.

      “Praat met my, Greg.”

      “Reg, oom.”

      Hy knik. Dit lyk asof hy nog ’n rukkie dink. “Daardie hacking-goed waarmee jy besig was – los dit.”

      “Ek sal, oom.”

      “Jy weet nie waarmee jy speel nie. Selfs hier in ons ou dorpie is daar onderduimse dinge aan die gang. Kyk net wat het uitgekom oor Markus Jooste en die ander menere. Die Stellenbosse Boys. Ga! Hulle is maar enkele scaly karakters.”

      Ek knik, al weet ek nie van wie hy praat nie.

      “Daar is goed in hierdie wêreld wat donkerder is as donker. Vieslike mense wat vieslike goed aanvang.” Hy vryf weer oor sy baard. “Ek het dinge gesien wat jou asem sal wegslaan, Greg. Ja, ek was in die polisie. Nie meer nie. Ek is geboard. Ongeskik vir diens. Te veel stres. Dis wat daardie werk aan jou doen. Dit maak van jou ’n ander mens. Iemand wie jy nie wil wees nie.”

      Ek het ook ’n ander mens geword, dink ek, maar ek sê dit nie.

      “Ek is jammer, oom.”

      “Dis niks om oor sorry te wees nie.” Hy blaas sy asem nadenkend uit. Dis soos ’n drukklep wat spanning laat ontsnap. “Ek het daardie job gekies. Dit het my amper doodgemaak, maar ek is nie spyt oor ’n enkele oomblik daarvan nie.”

      “Ek is bly oom is nou oukei.”

      Hy kantel sy kop. Frons. “Dis nie wat ek gesê het nie.” ’n Ruk lank bly hy stil. Dit lyk of hy tranerig word. Ek weet nie of ek iets moet sê nie. Versteen sit ek daar, te bang om te roer. My kop spin. Wat het nou net hier gebeur?

      “Is jy seker hier is nie bier nie?” vra oom Dirk dan skielik hard.

      “Nee, oom.”

      Hy sug. “Toemaar, anderdag vat ek jou op ’n ordentlike date.” En hy lag weer roggelend uit sy maag uit.

      <h10>Koerier</h10>

      Plank se stemboodskap kom die volgende dag toe ek uit my laaste klas vir die dag stap. “Hei, dankie! Lisa het my gebel. Ek hoor oom Dirk het met jou gepraat. Hoop nie dit was te erg nie. Daardie oom is kwaai! Wat is die ding van die plankies en die pophuis?”

      “Kom ons sê maar net daardie oom gaan jou knaters aftrap as jy hulle wil gebruik,” antwoord ek.

      “Lucky me.”