sou sterwe. Strydgodinne. Die onheilspellende wesens het donker toorkuns gebruik om seker te maak hul keuses word deurgevoer. In Afrikaans noem mens hulle glo Walkures, sien ek nou. Volgens die gedig “The Saga of the Volsungs” is om ’n Valkyrie … Walkure te sien, soos om na ’n vlam te staar. ’n Ander Noorse gedig, “Darraðarljóð”, beskryf hulle meer grafies: twaalf Walkures wat voor weefstoele sit en die tragiese lot van krygsmanne verweef met derms as weefdraad, afgekapte koppe as gewigte, en pyle en swaarde as weefkamme.
Die gedagte maak my opeens naar en ek spring van die rekenaar af op. My kop draai na die boekie voor my bed.
Met watter siek goed was die Baker besig?
Donderdag se klasse sleep traag verby. Die moegheid haal my in. Dain sien dit seker ook. “Gisteraand te min geslaap en te veel geleer?” vra hy toe hy saam met my na die Lettere en Sosiale Wetenskappe-gebou stap.
“Sê maar so,” antwoord ek ontwykend. Hy lyk na ’n cool ou, maar hy hoef nie te weet nie.
Toe ons voor die gebou kom, haal Dain iets uit sy sak. Sy wenkbroue skiet geheimsinnig op. “Vat hierdie, dit sal help,” sê hy en druk ’n klein wit pilletjie in my hande.
“Wat is dit?”
“Pophuispille.”
“Ek doen nie drugs nie.”
“Dis Ritalin, man. Almal doen dit. The breakfast of champions.” Hy vou my vuis om die pil toe. “Hou dit dan maar net. Vir in case, jy weet? As jy nog wil hê …” Hy knipoog.
Ek druk die pil in my broeksak. Daar is nie ’n manier waarop ek dit sal drink nie.
Uiteindelik is die laaste klas vir die week verby. Ek stap van daar af Maties Gym toe vir ’n vinnige sessie. Dis môre Goeie Vrydag. Vanaand vlieg ek vir die langnaweek Johannesburg toe. My vlug is klaar bespreek. Daar is iets wat ek môre moet doen. ’n Ding wat reeds swaar op my gemoed lê.
Die sessie in die gym hou langer aan as wat ek beplan het. Super sets wat die sweet van my laat aftap en die goedvoelhormone deur my are laat bruis. Wie het dan pille nodig?
In die aantrekkamer vang ek ’n koue stort en gaan trek aan. Op pad uit kry ek ’n smoothie by die Workout Café en stap daarmee buitentoe. Die son verblind my vir ’n oomblik, maar dan sien ek weer die motorfietsryer. Hy sit wydsbeen op sy motorfiets in die parkeerterrein. Kyk in my rigting.
Toe hy my sien, skakel hy die enjin aan. Verskuil agter die helm se donker gesigskerm, weet ek sy blik volg my toe ek verby die Coetzenburg-swembad stap, af deur die laning bome.
’n Hele ent verder kyk ek om. Die ou en sy motorfiets is weg.
Ek pak ’n klein tassie vir die langnaweek. Net die nodigste en ’n paar boeke wat moet saamgaan. Met die swottery is nie eens naweke my eie nie. Daar is ’n naderende toets waarvoor ek nou al moet leer.
Vir ’n oomblik oorweeg ek dit om Kaapstad-lughawe toe te Uber, maar dan besluit ek om eerder met my eie kar te gaan en hom vir die naweek op die lughawe te los.
Die verkeer uit Stellenbosch is ’n nagmerrie, maar op die snelweg gaan dit beter. Uiteindelik kom die lughawe in sig. Ek verminder spoed om die parkeergarage te kry. Die plek is gepak, en die naaste parkeerplek is myle ver van die loopweg na die lughawegebou. Terwyl ek my tas agter my aansleep, kyk ek vinnig op my selfoon hoe laat dit is. Ek is darem betyds. My tas vat ek saam as handbagasie. Ek het klaar via die internet ingeboek en moet net deur die sekuriteitshekke kom.
Die vlug is met ’n halfuur vertraag, sien ek op die monitor toe ek uiteindelik by my vlughek kom. Dit kon seker erger gewees het, troos ek myself. Terwyl ek sitplek tussen die spul moeë besigheidsmense soek, vang my oog een van die restaurante. Vanmiddag se gym smoothie is al vergete, daarom stap ek verby die sitarea en gaan kry ’n hoenderwrap en bottel water. ’n Onbekende vrou wil nog met my praatjies maak oor my pa, maar ek ignoreer haar soos ’n stopstraat, en speel eerder ’n game op my tablet saam met ’n woelige outjie wat lastig raak langs sy ouma. Sy gesig straal.
“Have you ever hacked a computer, Msizi?” vra ek sag.
Hy knik.
“Me too,” fluister ek vertroulik en knipoog.
Sy oë rek. Ek lag, vryf sy kop.
Later, toe die son oor Kaapstad sak, sink ek slapend weg in my sitplek, besigheidsklas Johannesburg toe.
“Ladies and gentlemen, we are approaching OR Tambo Airport. Please ensure that your tray tables are stored, that your seats are in the upright position, and that your seatbelts are securely fastened.” Die lugwaardin se stem maak my wakker. Ek kyk by die venster uit en sien die Goudstad se miljoene liggies in die verte flikker.
Die landing verloop sonder voorval en toe die vliegtuig se deure later oopmaak, lig ek my tas uit die oorhoofse kompartement en stap met die loopgang af na die aankomssaal. Met die Uber wat buite die lughawegebou vir my wag, skiet ek Sandhurst toe.
Ek en die bestuurder maak traag praatjies oor die weer, maar vermy die sensitiewe gesprek oor politiek in Suid-Afrika. Nie dat ek daarin belangstel nie. Die spul korrupte clowns wat ons parlement vol sit en buzzwords soos “The Fourth Industrial Revolution” rondgooi terwyl hulle selfone en Twitter accounts kamtig gereeld gehack word, verteenwoordig nie vir mý of mense van my generasie nie.
Dis al laat toe ek uiteindelik voor ons huis stop. Ek tip die bestuurder met die Uber-app en kry my tas. Uit my broeksak grawe ek my huissleutels, druk die afstandbeheer en stap met die oprit huis toe.
Daar brand lig in my ma-hulle se kamer, ook op die stoep. Dis waar ek uiteindelik my tas neersit, die deur oopsluit en die skok van my lewe kry.
<h12>Die plek van hoop en wanhoop</h12>
Greg?” vra die man wat voor my in die huis se deur staan. Hy het net ’n slaapbroek aan. Die lig in die portaal glim oor sy teruggetrekte skouers en sy deurmekaar gryswordende hare. Hy lyk soos iemand wat ’n aandelemakelaar kan wees. Of dalk ’n advokaat wat al meer sake gewen as verloor het. Nogtans lê die skrik in sy bruin oë.
Stomgeslaan kyk ek hom aan. Hy gee ’n tree terug, hou die deur oop sodat ek kan inkom. Ek sleep my tas oor die drempel die portaal binne, waar ek die man beter kan sien. Hy is seker my pa se ouderdom.
En die slaapbroek? Kaal voete, kaal bolyf?
“Wie is jy?” vra ek met ’n sweem van ongeskiktheid in my stem.
“André.” Sy hand skiet uit om my te groet. Ek ignoreer dit.
“Waar’s my ma?”
Hy lyk skielik verleë, kyk op na die trappe. “Nog in die kamer.”
“Wat de hel gaan hier aan?” Ek pluk my tas weg dat dit oor die vloer skuif.
“Het jou ma jou nie gesê nie?”
“Wat gesê?”
“Van … ons?”
“Óns?” Dis ’n ontnugterende woord. Ek vou effens vooroor. “Ek dink ek gaan siek word.”
André sit sy hand op my skouer. ’n Bom ontplof in my kop. Ek skud sy hand gewelddadig af.
“Los my uit!”
“Wie is dit, André?” kom my ma se stem bo van die trappe af. Stadig kom ek regop. Dan ontmoet ons oë. “Greg, ek het jou nie verwag nie.”
“Dít kan ek blerriewil sien, Ma.” Ek wys met my plat hand na André.
“Jy het André ontmoet?” vra sy nou senuweeagtig.
“Ja, en ek het meer van hom gesien as wat ek graag sou wou.” Ek draai weer na hom toe. “Waar’s jou klere?”
“Ek dink ons moet praat,” ontwyk hy my vraag.
My ma kom ook nou met die trappe af. Sy het ’n japon aan. Slaapklere onder die japon, sien ek.
Ek moet my woorde