Fanie Viljoen

Donker Web


Скачать книгу

die standbeeld van doktor Danie Craven en sy hond, Bliksem, na die Sportwetenskap-gebou.

      ’n Paar studente drentel geselsend in die gang voor lesingsaal A rond. Ek knik in hulle rigting, maar behou my afstand. Hulle het teen hierdie tyd al almal van my pa uitgevind. Vandat ek hier is, kry ek gereeld ’n sydelingse kyk of vang ’n dubbelsinnige opmerking wat ek weet vir my ore bedoel is.

      Terwyl ek eenkant wag, kry ek weer my selfoon en google dokter Rian Trollip se naam. ’n Hele paar trefslae kom op. Net ’n vinnige blaai deur die opskrifte slaan my met ’n yster tussen die oë.

      Ek maak nogtans een van die koerantberigte oop.

      Dokter gevang met kinderpornografie.

      My bloed word yskoud en ’n aardige gevoel trek langs my ruggraat af.

      Oor en oor spring my oë na die opskrif voordat ek verder lees. Die dokter het in die hof verskyn nadat polisie op sy praktyk toegeslaan en op talle pornografiese foto’s en video’s van kinders afgekom het. Dokter Trollip het onskuldig gepleit.

      Nog ’n berig bevestig die dokter se hofverskyning.

      Nou weet ek waarom John destyds daardie creepy gevoel gekry het. Dit was nie die dooiemensreuk aan die dokter se hande nie. John het instinktief iets aangevoel oor die ou se geaardheid. Die blink ballie se donker kant.

      Die lesinglokaal se blou deure swaai oop. Ek hoor die ander studente klas toe beweeg, maar ek vluglees gou nog ’n berig: Dokter Trollip se vrou dagvaar hom vir ’n egskeiding.

      Nog ’n berig: Dokter Rian Trollip is dood in ’n gemeenskaplike sel aangetref. Hy het homself met ’n geskeurde kombers gehang. ’n Foto van die kombers op die sementvloer laat my ril. In ’n verdere berig staan familielede by dokter Trollip se graf. Sy broer voor, met ’n sonbril en sambreel. Somber, soos die vrou langs hom. My pa is ook daar. Dok Pienaar agter hom.

      Dit neem ’n oomblik vir die inligting om in te sink, dan kyk ek na die datum. Dit het alles in my matriekjaar gebeur. Die tyd van Project Nursery Rhyme.

      Kon dokter Rian Trollip dan ook die Baker gewees het? wonder ek toe ek die klas binnestap. Soek ek dalk na ’n dooie man?

      <h8>Donker patrone</h8>

      Daardie aand kom Chloe en haar vriendinne raserig die trappe op. Dit klink my daar is twee ouens ook by hulle. “Oor tien jaar gaan jy jou baba soos ’n puzzle kan bou,” sê een.

      “Nie oor tien jaar nie. Nou al,” sê een van die ouens.

      “Wat? Ek kan nie eens ’n pizza bou nie.”

      “En die weirdste ding van alles – as jy jou baba op die good old-fashioned manier wil maak, gaan mense sê jy mishandel kinders, want jy kon gekeer het dat hulle siek word.”

      “Ag, tjol, man!” Chloe lag dat dit in die gang eggo.

      “Kyk maar.”

      Ek luister vies na hulle deurmekaar gebabbel. Dit sterf uit toe hulle die deur toetrek. Aangesien my konsentrasie nou tog onderbreek is, sit ek my boek neer. Ek staan op. Stap na my balkon. Maak my oë toe en laat die vars aandlug om my vou. Al die gepraat oor kinders … In my agterkop speel die koerantberigte wat ek vanoggend gelees het weer. Dit dwing my rekenaar toe. Ek gaan lees weer oor dokter Trollip se dood, en soos ’n spinnekop wat sy web verder span, begin ek na berigte oor mevrou Trollip, die dokter se vrou, soek.

      Daar is nie veel nie. Net iets oor die egskeiding, ’n twis met haar swaer oor die boedel, en êrens ’n klein beriggie oor die een of ander fondsinsameling ten bate van borskanker. My oë steek vas by die selfoonnommer in die kankerberig. Die kontakpersoon vir die fondsinsameling.

      Ek gryp my selfoon.

      My duim tik die nommer, bel dit. Die selfoon lui ’n paar keer aan die ander kant, dan antwoord ’n stemboodskap. Ek luister na die vrou se helder stem, maar laat nie ’n boodskap nie; druk die oproep net dood.

      Ingedagte sit ek vooroor, tik met die selfoon teen my ken en wonder of ek weer moet bel. Sal sy dalk kan help? Sal dit onsensitief wees om haar oor haar man uit te vra? Sy verbintenis met PlusUltraMed. Sy band met Dok en my pa. Sy dood?

      Omtrent ’n uur later, terwyl ek op die balkon sit, boeke om my gestrooi, kom die oproep.

      “Hallo, dis mevrou Trollip.”

      “Mevrou Trollip?” Ek het die nommer herken, maar nie gedink sy sou terugbel nie. Ek bel niemand terug tensy ek weet wie hulle is nie. Daardie les het joernaliste my tydens my pa se verhoor geleer.

      “Jy het my gebel? Kan ek help?”

      Haar tong sleep effens. Is sy dronk?

      “Dis … dis Greg Owen. My pa is Chris Owen.”

      “Die mediamagnaat?”

      “J-ja,” antwoord ek hakkelend. “Ek het gewonder of tannie … of u my kan help. Ek soek na inligting.” Flippit, ek moes ’n ander strategie bedink het, nie dadelik so met die deur in die huis geval het nie. Het die social engineering-aanval van destyds my dan niks geleer nie? Jy word vir ’n oomblik iemand anders. Jy kan lieg en bedrieg. Jou teiken manipuleer om inligting uit hulle te kry.

      “Waar’s jy?” vra sy.

      “In Stellenbosch. Ek … um … werk hier.”

      “By ’n koerant?”

      “Nee.”

      “Watse ‘inligting’ soek jy?” Sy is beslis dronk, weet ek nou. Haar tong trek lui aan die woorde.

      “Ek is op soek na inligting oor iemand wat kennis het van farmakologie. Dalk ’n dokter. ’n Chemikus. Iemand wat my pa geken het.”

      “Bedoel jy my oorlede man?”

      “Ja, dalk.”

      Ek hoor hoe sy nog ’n drankie skink. Haar selfoon is seker op luidspreker. “Hy was ’n duiwel wat met kinders gelol het.”

      Ek blaas my asem hard uit. “Dis wat die koerantargiewe sê. Maar is dit moontlik dat hy ook … dat hy ook by ander goed betrokke was?”

      Dit neem ’n ruk voor sy antwoord. Ek wonder naderhand of sy nog daar is. “Mevrou Trollip?”

      “Ander goed … soos wát?” vra sy na ’n ruk.

      “Project Nursery Rhyme?” Diep asem. Vasberade. “Ek is op soek na die Baker.”

      Dadelik gaan die lyn dood. Ek kyk verbaas na my selfoon. “Oukei, dit het nie goed afgeloop nie,” sê ek vir myself en probeer weer bel, maar sy antwoord nie. Weer en weer bel ek. Dan blok sy my nommer.

      Is dit omdat sy iets weet? Beslis ja, maar ek gaan nie meer by haar uitvind nie.

      In die loop van die week kontak ek die een persoon ná die ander wat vir mevrou Trollip of haar oorlede man ken. Ek werk op die name onder aan foto’s, maatskappye wat dalk besigheid met hulle gedoen het.

      Bykans niemand wil help nie, maar soms kry ek tog iemand wat my na iemand anders verwys, en húlle verwys my weer na nog ’n ander persoon.

      Ten spyte van al my pogings eindig al my navrae in ’n doodloopstraat.

      Dit voel naderhand of ek in ’n werklike donker patroon beland het. Baie van die groot webblaaie het sulke goed: donker patrone of ’n kokkerotmotel wat jou deur slinkse webbladontwerp pootjie om byvoorbeeld jou registrasie te kanselleer. Amazon is een van die maatskappye wat dit gebruik. Om jou rekening by hulle toe te maak, sal jy soek van een webblad na ’n ander na ’n ander, van een hyperlink na ’n ander en weer ’n ander, en selfs dan, wanneer jy uiteindelik die opsie Delete account kry, moet jy eers met ’n agent ’n aanlyn gesprek voer en sal hulle jou rekening van hulle kant af sluit. Ander webblaaie sal die font se kleur ligter maak sodat jy nie die skakels raaksien wat hulle wil hê jy nie moet gebruik nie. Uiteindelik smyt die donker patrone jou in ’n kuberdoolhof van skakels waaruit jy moeilik sal kom totdat jy uiteindelik