Fanie Viljoen

Donker Web


Скачать книгу

lippe. “Sy vra vrae oor jou,” sê Plank.

      “Watse vrae?”

      “Of ek jou ken.”

      “Is dit al?”

      “Sy wil weet waar jy bly.”

      “Ek hoop nie jy het haar gesê nie. Dis seker weer ’n flippen joernalis. Of iemand wat ’n boek wil skryf.”

      Ek kyk weer, maar skielik is sy weg. Die gedagte aan haar bly my by toe ek die middag woonstel toe stap om reg te maak vir die aand se opvoering. Iets aan die vrou was bekend. Waar het ek haar vantevore gesien? Dit sal aan my bly knaag totdat ek die antwoord kry.

      Vrydagaand bewe Stellenbosch van die energie. Liggies hang aan bome. Daar is driehoekige vlaggies op die sypaadjies gespan. Sommige strate is afgesper, want die organiseerders verwag vyf-en-twintigduisend mense by vanjaar se Vensters.

      Ek het nie besef die storie is so groot nie.

      In Victoriastraat is ’n straatfees met stalletjies. Elders dans studente langarm op die klein sirkels by padkruisings. ’n Ou met ’n weird broek en ’n trekklavier stap by my verby; sy musiek volg hom vrolik tot waar hy stop om vir mense ’n liedjie te speel.

      Ek kry vir Plank by sy koshuis. Ons eet en drink en lag. Hy stel my aan ’n paar van sy pelle voor. Ek kan nie hulle name onthou nie. Dis ook nie regtig belangrik nie. Iewers in die harwar van mense loop ons vir Chloe-hulle raak. Sy is op haar stukke met ’n groot rooi afro-pruik op haar kop. Toe ek weer sien, soen sy een van die meisies. Ek lag en wys vir Plank. Sy mond val oop en ek moet net keer of hy neem ’n foto.

      In die loop van die aand verloor ek vir Plank tussen die mense. Ek probeer hom bel, maar hy antwoord nie sy selfoon nie. In ’n onbewaakte oomblik wonder ek wat John van hierdie straatpartytjie sou dink. Die gedagte stuur ’n glimlag na my mondhoeke.

      Ek sou mal wees daaroor, hoor ek ’n verbeelde stem sê.

      “Ek weet jy sou, bru. Ek weet jy sou.” Ek lig ’n glasie op hom. “Cheers, John. Mis jou, nè?” Meteens kry ek ’n knop in my keel. Verdiep in my gedagtes stap ek verby Metademia se straatverhoog. Ligte tol oor die mense, oor die eerstejaars wat hul beste passies uithaal. Musiek stamp in my bors, maar dis asof elke tree wat ek na ons groep se verhoog gee, my verder wegvat van die feestelikheid.

      Uiteindelik staan ek tussen die mense wat wag dat ons optrede moet begin. Van die HK-lede en eerstejaars maal al agter die verhoog rond. Ek moet ook daar wees, maar iets hou my terug. Ná al die geoefen en moeite kan ek myself nie so ver kry om by hulle aan te sluit nie.

      Grootoog staan ek daar en wonder wat met my aangaan. Wat is dit, Greg?

      Om my gaan dit mal. Die energie vibreer hoër. Mens klap hande. Fluit. Die musiek pols. Ligte gloei oor die verhoog. Ek besef ek moet op die verhoog kom. Maar ek kan nie. Ek kan nie deel van die groep wees nie. Ek kan nie gaan sing en dans en laf wees nie. Dis nie meer wie ek is nie. En as ek myself die afgelope twee dae probeer wysmaak het dat ek my aan sulke kinderagtige goed kan oorgee, het ek vir myself gelieg.

      Die gedagte skok deur my.

      Ek staan net daar. Bewegingloos in die massa, totdat iemand aan my stamp en sy bier oor my hemp uitstort. “Kyk wat jy doen, ou!” kap ek na hom.

      Die eerstejaar het ’n geel helm met vlaggies op sy kop en dra ’n groen tutu oor sy jeans. Dit lyk of hy nie eens registreer nie. Sy oë bly egter vas op my. ’n Frons verskyn op sy voorkop asof ’n benewelde gedagte aanmeld. “Jy … jy is daardie ou. Jy’t jou pa in die tronk gesit.”

      “Ag, jy’s gesuip, man,” antwoord ek vinnig en probeer my hemp droogwring.

      Hy frons. “Nee, is true,” hou die ou vol. “Ek sal jou enige plek herken. My ex het ’n crush op jou gehad – al daardie foto’s in Huisgenoot en op die internet.”

      Ek onderdruk ’n vloek. “Jy’t totally die verkeerde ou beet.”

      Hy lag. Skud sy kop. “Watse flippen loser gee sy pa weg?”

      Skielik is dit asof ’n woede in my opborrel. Voor ek besef wat ek doen, stamp ek hom van my af weg. Dalk te hard. Hy land op die grond voor ’n meisie se voete, maar hy is skynbaar te dronk om om te gee. Glimlag net tartend. “So, my bru, gaan jy die koekieman ook vang?”

      Hy bedoel die Baker, weet ek dadelik, maar ek wys dit nie.

      “Wat het jy gerook, koekieman?” vra die meisie. Sy trek die ou op. Hy sukkel lomp op sy voete. Gelukkig skuif sy aandag van my na haar toe.

      Van die ander mense staan ook skielik verder van my af weg. Want ek is die Candlestick-maker se seun. Die loser wat sy pa verraai het.

      Ek is Greg Owen.

      En ek is alleen tussen al hierdie mense.

      Ek het verander in daardie outsider wat my destyds die onderwêreld in getrek het.

      <h5>Die man met Google in sy kop</h5>

      My klasse begin die Maandag ná die O-week. Die meeste van hulle is in die Sportwetenskapgebou aan die voet van die Stellenbosch-berg. Party van die lang gange herinner ’n bietjie aan ’n hospitaal. Buiten lesinglokale, is daar ’n sportfisiologie-laboratorium, biokinetikasentrum, bewegingslaboratorium, anatomie-laboratorium, twee swembaddens en meer in die gebou.

      Sport can create hope where once there was only despair, lees ’n aanhaling van Nelson Mandela teen een van die mure by die studentesitkamer – ’n plek wat my herinner aan Huis Da Vinci se Hangout. Hier kan jy koffie drink of iets eet, rekenaars gebruik of fotostate maak.

      Sportwetenskap is nou nie juis wat my pa vir my as studierigting sou kies nie. Dok Pienaar seker ook nie. In sy Lawson-openingstoespraak het hy mos elke jaar die kollege-stigter se droom aan ons voorgehou. “Thomas Lawson het ’n droom gehad: om ’n teelaarde te skep waarin die sakeleiers van die toekoms gekweek kan word.”

      Maar stuff Thomas Lawson en Dok Pienaar.

      My pa sou ook eerder wou hê ek moet die een of ander besigheidsrigting invaar, maar dis nie vir my nie. Hierdie is my besluit.

      Daar is verskillende rigtings binne Sportwetenskap waaruit jy kan kies. Ek vat die een met sielkunde. Dit sluit ook verpligte modules in, onder andere fisiologie, inligtingsvaardighede en sosiologie.

      Hiervoor het jy ’n toring voorgeskrewe boeke nodig. Hoe ek al daai goed in my kop gaan kry, is nog ’n raaisel, maar voor my het ander studente dit reggekry, so ek sal ook. Hoop ek.

      Op die studenteportaal op die internet is my toets- en eksamenrooster ook alreeds gelaai.

      In die eerste paar weke van klasdraf tref die kultuurskok van die studentelewe my. Nie alleen is daar massas leerwerk nie, die manier waarop die dosente toetsvrae stel, is uit ’n ander wêreld. Tussen die swottings moet ek ook sorg vir kos, vuil klere by die wassery gaan afgee en optel – dis asof die klere kleintjies kry. Wat doen ek? Trek ek regtig soveel aan? Ek moet boonop kophou en reminders op my selfoon stel om te onthou om simpel goed soos toiletpapier te koop, of te sorg dat daar krag op die voorafbetaalde elektrisiteitsmeter is.

      Gelukkig kom maak iemand twee keer per week my woonstel skoon. As ek dít ook nog moes doen, sou ek crack.

      Teen die einde van Februarie het Chloe my al seker tien keer genooi om te kom koffie drink of uit te gaan vir ’n jol.

      “Nee, jammer, ek leer,” is my verskoning elke keer. Sy glo my nie. Ek weet dit. Maar kyk in my oë, Chloe: lyk dit of ek worry?

      Ek kry haar af en toe in die woonstelgang wanneer sy met ’n nat skildery sukkel of die een of ander kunsprojek in Stellenbosch se strate probeer afsleep.

      Sy het ook al gevra waar ek die aand met Vensters was. Sy hoef nie te weet nie.

      Maar sy weet iets. Daarvan is ek seker. Iemand moes haar al van my pa vertel het. En dis ook oukei.

      Sportervaring is die praktiese deel van my kursus. Swem, atletiek en sokker