Anzil Kulsen

Reënboogmelodie


Скачать книгу

nie.

      “Sal jy asseblief hoor wat sy wil hê.” Dianè wil nie nou met haar buurvrou praat nie.

      “Sy wil nie ’n afspraak maak nie. Sy soek jou.”

      Dianè sug en en vat die foon by Lara.

      “Dianè McClean?”

      “Haai, hartjie. Ek wonder sommer hoe dit met jou gaan. Ek het heelnaweek so baie aan jou gedink. Onthou tog, as jy hulp met daai bulle nodig het, kan jy hulle enige tyd by my kom los.”

      “Dankie, Mevrou, maar dis nie nodig nie.” So goedig soos sy klink, so aanstellerig is hierdie buurvrou van haar. Dring daarop aan dat sy net as Mevrou aangespreek word.

      “Ek het julle glad nie buite gesien die naweek nie, is almal oukei? Seuns van joune se ouderdom kan nie so binnenshuis gehou word nie. Ek sien jy het hulle darem Sondag kerk toe gevat, maar die stilsittery kan ook maar vir sulke kinders frustrerend wees. Daai twee gaan vir jou ore aansit as hulle nie van al hulle energie ontslae raak nie. Veral die oudste een wat ek so baie hoor skree; ek sal hom vir jou onder hande neem as jy wil. Ek het jare se ervaring in laerskoolonderwys, veral met kinders wat spesiale aandag nodig het. Jy moet net praat, ek sal hom vir jou vasvat as jy hulp soek.”

      Dianè haal stadig asem en tel tot tien in haar kop. Hoeveel van Robert se harde woorde het mevrou Nieuwoudt Saterdagaand gehoor?

      “Ek is oukei, regtig, Mevrou. Ek waardeer die oproep, maar moet nou gaan. My volgende afspraak wag vir my.” Dianè voel hoe haar polsslag toeneem en kners op haar tande toe die dowwe pyn langs haar slape begin klop. Enkele woorde wat die nuuskierige ou vrou genoem het, steek by haar vas. Hoeveel keer moes sy dit nie al aanhoor nie? “Sulke kinders” en “spesiale aandag …”

      “Is julle dan baie besig vandag?” Die vrou gee net nie bes nie. “Het mense nog sowaar geld vir sulke onnodige goed wat hulle vir hulleself kan doen?”

      “Ja, Mevrou, vroue het dit broodnodig om hulleself soms te bederf. Ek moet nou gaan, ek … kom ons gesels rustig wanneer ek tuis is.” Sy byt dadelik haar onderlip, die Vader weet sy is moeg vir baklei. Vir konflik.

      Haar gesig is vuurwarm. Sy het haar dosis gehad van mense wat dink hulle weet hoe sy haar kinders moet opvoed. Dis een van die redes hoekom sy meestal die kerk vermy, Robert se pa inkluis. Almal is skielik kundiges wanneer dit by Johan kom. Dis net sy wat onnosel bly, wat nie weet hoe om haar eie kind te hanteer nie. Sy en die dokter wat haar gedurig probeer oortuig Johan is spesiaal.

      Sy moet vlug. Sy storm agtertoe waar hulle ’n klein kombuis ingerig het. Ketel, yskas en mikrogolfoond. In die yskas kry sy net melk, jogurt en Lara se pak toebroodjies. Sy gryp eers Lara se broodjies, bedink haarself. Haal diep asem en sit dit terug op die rak. Sy is nie nou honger nie. Sy hoef nie te eet nie. Sy hoor die deur na die salon oopgaan en weer toeklap. Haal diep asem, tower haar mooiste glimlag op en gaan terug na die sjampoe-afdeling van die salon.

      “Môre, tannie Wiese, Tannie is net betyds,” groet Lara se vrolike stem. “Kom sommer dadelik wasbak toe. Kleur ons vandag?” Tannie Wiese is Diane se gunstelingkliënt, die naaste wat sy het aan ’n vriendin.

      “Nee wat, net sny en blaas. Hallo, Dianè,” groet tannie Wiese met ’n hartlike glimlag. “Jou hare lyk mooi, die kort, ligte styl pas jou elegante gesig perfek.”

      Dianè glimlag en knik dankbaar. Hoe goed doen die kompliment nie haar gemoed nie!

      “Maak jy vir ons ’n lekker espresso, asseblief, Lara. Ek sal tannie Wiese vandag sjampoe.” Sy sien hoe Lara haar verbaas aankyk. Dianè haat dit om te sjampoe, dit herinner haar te veel aan haar sukkeljare toe sy haarself nog moes bewys en gedink het haar droom om haar eie salon te besit sal nooit waar word nie. Sy het Lara geleer om net so goed te sjampoe, met ’n kopmassering en al. En soms, as die kliënt moet wag vir ’n kleurbehandeling, voeg sy ’n voetmassering by.

      “Goed. As jy so sê,” stem Lara nietemin in.

      “Dankie.” Dis beter om nou besig te bly. Anders storm sy dalk uit en gaan kry vir haar ’n Coke, slaptjips en sjokolade by die kafee oorkant die pad. En dit sal die laaste strooi wees.

      “Luister Dianè-lief, my seunskind is in die dorp vir besigheid. Klink of hy vir ’n paar maande hier gaan bly.”

      “O, ek het nog nie Tannie se seun ontmoet nie,” reageer Dianè afgetrokke terwyl sy die tannie se kop sagkens masseer. Dit laat sommer die spanning uit haar eie lyf vloei. Vandag kan sy nie soos ’n klompie jare gelede haar hart teenoor tannie Wiese uitstort nie. Sy is nie meer ’n jong, naïewe meisiekind nie; sy het intussen grootgeword.

      “Ja. Mooi seun van my, maar hy voer mos ’n anderster bestaan, so ’n afgesonderde lewe, kompleet soos een wat wegvlug vir die gejaagdheid van die lewe. Ai, man.”

      Dianè glimlag. Tannie Wiese sal nooit te koop loop met al haar geld nie. Al kan sy eintlik uit die duurste boetieks aantrek as sy wil, verkies sy die eenvoud van haar eenvoudige grys bob en beskeie broekpakkies.

      “Hy dra sy hare in ’n vreeslike boskasie. Sien omtrent nooit die binnekant van ’n salon nie. Ek het vir hom gesê ek sal hoor of jy kans sien vir hom. Om sy hare bietjie by te kom, jy weet?”

      Dianè knik. Sy is tannie Wiese soveel verskuldig, sy sien selfs vir haar verslonste seun kans, as dit moet.

      “Ek sny soms mans se hare, Tannie. Die meeste van hulle verkies mos maar ’n manshaarkapper, maar hy is welkom om by my ’n afspraak te maak.”

      “Dankie tog dat jy kans sien! Kom ons kyk in daai boek van jou voordat ek loop en maak sommer die datum en tyd vas. Anders kry ek hom nooit hier nie. Hy hoef mos nie so te lyk nie. En dit oor ’n meisiemens. Weet jy, darem.”

      Sy knik. Ja nee, sy weet.

      “Ek wou lankal al ’n ouma gewees het; my ou man het ook so uitgesien na kleingoed, maar ai, die Grant van my wil net nie dinge op die normale manier doen nie. Hy sal so goed wees met kleintjies, en die vroutjie wat hom nou so rondfoeter, sal self nie ’n slegte ma wees nie. Maar ai, ek weet tog nie.”

      Dianè glimlag ingedagte. Dis die eerste keer dat sy tannie Wiese so oor haar seun hoor praat. Die tannie is al diep in die sestigs, maar haar lewe wentel om haar sakebelange. Sy besit meer eiendom as enigiemand wat Dianè ken.

      “Ai, Tannie, ’n ma kan net bid. Dis maar ’n storie om die regte een te kry.”

      “Praat jy! Dis nie of daar ’n tekort aan aanbod is nie. Maar ek dink soms die seunskind van my het ’n dwarsklap weg, hy raak op die verkeerdes verlief. Ek hoor die vrou van hom is nou weer op pad … haar familie is haar alles en het haar mos nodiger as haar man.”

      Sy praat skielik ’n bietjie sagter. “Ek dink dis sy wat hom in so ’n hippie-bestaan laat beland het – loop kaalvoet en skilder en speel kitaar, en so. Kop-in-die-wolke soort mens, sing baie mooi. Of sy dié keer vir goed weg is, weet ek nie. Grant praat mos nie met my oor haar nie; ek moet mos by ander mense hoor. Maar ek is bekommerd. Kyk nou hoe het my Grant homself laat gaan. Lang, slordige hare en ongeskeerde baard en alles …”

      Dianè loer na waar Lara by die kombuisafskorting uitkom met die skinkbord waarop drie espressobekers netjies gerangskik is. Lara sal dalk oor hierdie seun van tannie Wiese opgewonde kan raak.

      “En Grant? Sing hy ook?” vra sy en knipoog vir Lara oor die tannie se kop.

      “Soos ’n engel, my kind. Hy kan ook elke denkbare instrument onder die son bespeel. So talentvol.”

      Lara maak nog steeds asof sy niks hoor nie, al Dianè se oogknippery ten spyt. Sy plaas die skinkbord op die tafeltjie voor die kliënte en wag dat hulle hulself help.

      “Hm, dankie Lara. Hoor jy? Tannie Wiese se seun kom sy hare by ons sny. En hy kan goed sing, iets wat julle twee in gemeen het.”

      Dianè glimlag toe sy die uitdrukking op Lara se gesig sien. Sy wonder wanneer laas het sy behoorlik gelag. Tannie Wiese en Lara is net wat sy vandag nodig het.

      “Ek hoor, maar ek stel