Helena Hugo

Troukoors


Скачать книгу

      “As ek afslag kan kry op die prys, wag ek met plesier.”

      Kittie sug. “Ek is regtig baie jammer.”

      Minette het klaar omgedraai op soek na ’n stoel in die portaaltjie waar twee ander vroue reeds sit en lees.

      “Jy kan nie dalk Maandag kom nie?”

      Nee, ek kan nie! En hierdie afspraak is betyds gemaak. Ek wag tien minute en nie ’n sekonde langer nie! Minette voel hoe die woorde haar versmoor, maar sy bly liefies.

      “Ongelukkig nie, Kittie. Ek het môre ’n belangrike afspraak.”

      Dis uit voor sy kan keer. Voor haar geestesoog sien sy die see en ’n jong man met ’n branderplank. Sy sal maar hoop Isadora het nie gehoor nie, want teen dié tyd weet sy dat Pierre op pad is en dat sy vlug môre arriveer. Paul sou haar gesê het. Hy praat alewig met haar en dis onvermydelik – hul kantore is al dertig jaar langs mekaar. Hulle gee klas by dieselfde departement, hou saam vergadering, bespreek studente se werk en vordering, besluit oor navorsing en beurse, ken mekaar te lank.

      Isadora hou nie van Minette nie en Minette weet dit. Sy het selfs op ’n stadium die onwetenskaplike gedagte vertroetel dat Isadora haar insekte gebruik om haar te verpes. Buiten die muggiewolk van die tee-oggend is daar alewig perdebye in Minette se kantoor, of miere of spinnekoppe. Groter diere ook – goed soos muise en vlermuise. Gelukkig is sy nie bang vir diere van enige grootte of vorm nie; dit raak net lastig om op die uitkyk te bly vir goeters wat kan steek en seermaak.

      “Ek wil jou nou nie seermaak nie, skattie,” het Isadora daardie dag met die deur in die huis geval.

      Die tee was nog nie geskink nie. Elkeen het met ’n koekbordjie met ’n skyfie suikerbrood en ’n glansende groenvy gesit. Minette het die vrugtemessie bekyk, die vurkie bewonder.

      “Dis seker erfstukke dié?” het sy gevra.

      “My grootouma het dit van Griekeland af saamgebring. Jy moenie jou met die ouderdom misgis nie, dis vlymskerp. Ek ken ’n baie bedrewe messlyper.” Isadora het haar kop agteroor gegooi en gelag dat Minette al haar goue stopsels kon sien.

      “Praat van slyp! Ek het ’n byltjie met jou te slyp. En soos ek gesê het: ek wil jou nie seermaak nie, maar ek wil eerlik wees. Met jou praat soos ’n ma met haar dogter. Het jy al hierdie saak met jou moeder bespreek?”

      Minette se groenvy was toe al netjies oopgesny en het in ’n waaiervorm op haar bordjie gepryk. Sy is nie lief vir vye nie, nie vir vars vye nie en ook nie vir konfytvye nie, veral nie vir groenvye nie. Maar dié Bolandse besigheid moes sy leer eet omdat Paul sy vingers kan afbyt vir ’n vy in enige vorm, veral vir groenvye. Isadora het altyd gesorg – en sorg steeds – dat daar ’n paar bottels op sy spensrak staan, selfs een of twee op sy boekrak by die dierkundedepartement.

      Isadora het haar vy in kwarte gesny en sonder verdere omhaal een in haar groot rooi mond geprop, haar lang moue teruggeskuif en oorgebuk om die teepot op te tel.

      “Ek het nie ’n ma nie,” het Minette sag gesê.

      Isadora het die teepot neergesit en met jammeroë na haar gekyk. “Ag, foei tog, my kind. En jou pa?”

      “Ek het ook nie ’n pa nie.”

      Isadora se hande het in die lug bokant die bord gehuiwer. Nogal mooi hande, met vingers vol ringe, armbande om haar gewrigte ook, sulke Griekse en Turkse goed met klokkies en hartjies wat aan kettinkies vas is.

      “Dit maak sin,” het sy eindelik gesê en haar hande saamgevou, elmboë op die tafel. “Jy soek ’n vaderfiguur.”

      Minette het dit verwag. Isadora is nie die eerste mens wat sulke sinspelings maak nie. Elke tweede mens het iets in daardie rigting te sê gehad.

      “Sê jy dit omdat Paul ouer as ek is?”

      “Maar skattebol, dink jy nie dis ’n drastiese onderbeklemtoning van die feite nie? Paul word vanjaar drie-en-sestig! Hoe oud is jy?”

      “Ek word vyf-en-twintig.”

      “Jy is veertig jaar jonger as hy! Hy kon jou oupa gewees het, newwermaaind jou pa!”

      Minette het haar koekbordjie weggeskuif. Sy sou nie daardie konfyt eet nie, al het sy dit in repies gesny. Sy wou nie verstik nie, ook nie naar word nie.

      “Ek is nie ’n kind nie, en hy is nie veertig jaar ouer as ek nie.”

      “Goed, jy is oud voor jou tyd, en die ouderdomsverskil is agt-, nege-en-dertig jaar – amper veertig. Ek neem aan jy weet hoe lyk ’n man van sestig sonder sy klere? Nie? Nou ja, jy sal binnekort sien waar al die grys hare sit en hoe hul boudjies inmekaarsak. Vra my – ek is oor vyftig en dis die liga waarin ek vry. Nie asof hulle juis so wonderlik meer perform nie, hulle dínk so. Maar skattie, jy met jou jong lyf, jy is so mooi! Waarvoor wil jy jou opoffer vir ’n grysaard? Toegegee, Paul is aantreklik en so well-preserved, hy lyk soms veertig. Maar hy ís nie, dis die kwessie! Hy is op pad sewentig toe. Wil jy oor tien jaar in ’n ouetehuis tussen die gryskoppe sit en TV kyk, of berge klim saam met ’n jong lover?”

      Minette het haar servet opgevou en dit op die bordjie met sy aaklige gifgroen inhoud neergesit. Duisende muggies het uit die prieel losgekom en al om haar kop gesing-suis; haar mond was kurkdroog. Sy kon opspring en weghardloop, maar Paul het haar afgelaai en sou eers oor ’n uur weer hier aankom om haar op te laai.

      Nee, sy wil nie tussen gryskoppe sit en TV kyk nie, sy en Paul het baie berge om uit te klim. Maar dit het skielik onmoontlik gelyk. Sy het ’n snaakse geluidjie gemaak.

      “Wat sê jy?”

      “Ek het dit nie van jou verwag nie.”

      Waar sy die moed vandaan gehaal het, weet sy nie, maar dit was die regte antwoord: Isadora is so eksentriek; sy het gehoop Isadora verstaan dat liefde soms onkonvensioneel kan wees. Sy is tog bekend daarvoor dat sy met jonger mans uitgaan.

      “Ek weet wat jy dink, my skattebol. Ja, ek hou van jong geselskap. Maar laat ek jou ’n geheim vertel: ek spring nie in die bed met ’n kind wat veertig jaar jonger as ek is nie. Ek trou ook nie met een nie. Nee, dankie, sê die gansie. Wil jy tee hê?”

      “Asseblief.”

      Isadora het weer die teepot gelig. “Of neem jy jou melk eerste?”

      Minette het haar kop geskud. Daar was ’n lastige knop in haar keel. “Swart en flou.”

      Isadora het die beker met water onder die teenet uitgewikkel. “Waar kom die muggies vandaan?”

      “Ek soek nie ’n pa nie,” het Minette gesê. “Paul is vir my sexy en manlik.”

      “Vandag, skattie, maar oor drie jaar … Vra my: my man is oorlede op vyf-en-sestig en hy was ’n tennisspeler. Die laaste jare net op een plek gestaan en slaan as die bal dalk in sy rigting trek. Wat ek vir jou wil sê is: Dink goed na, dink vooruit. Was julle al in die bed?”

      Die laaste vraag het ’n ekstra knypie sout in haar wonde gevryf, maar Minette het kopgehou. “Ek praat nie uit ons slaapkamer nie,” het sy sedig gesê.

      “So gedag.” Isadora het ’n homp room op haar tee geskep. “Dus glinster Paul se oë in antisipasie, nie van versadiging nie.”

      “Sal jy nie graag wil weet nie?” het Minette nogeens gewaag.

      “Jy dink ek is jaloers, nè?”

      Minette het ’n klomp muggies weggewaai. Daar was een in haar tee. Lastig, nes Isadora se gekyf. Die vrou ís jaloers. Minette se selfvertroue het drupsgewys teruggekom. Sy het haar ken uitgestoot en haar oorwinning oor Isadora bevestig.

      “Maak nie saak nie. Ek en Paul trou die dertigste Mei.”

      Ek en Paul trou die dertigste Mei …

      Die vooruitsig vul haar vanoggend nie met jubelasies nie, skaars met afwagting en opwinding. Maar wel met ’n vasberadenheid wat grens aan opstandigheid.

      Sy