behoort ons hulle werklik te bedank.”
Hy maak die vadoek los wat bo-op in die mandjie geknoop is en loer in. “Hmm, Shirley het weer haar ding gedoen,” sê hy goedkeurend.
Ebbie loer onder haar wimpers deur en sien hoe hy die netjies verpakte disse een na die ander uitpak.
“Gerookte salm op bruinbrood – een van my gunstelinge,” sê hy. “En dan is hier gesnyde biltong en rookwors. Ek hoop nie jy’s ’n vegetariër nie?”
Ebbie skud haar kop. Haar maag het skielik besef dat dit etenstyd is en sy is honger.
“Daar’s darem ’n Griekse slaai ook,” sê hy, “ingeval jy nie vir die ander kos lus is nie. Dis nou nie in dieselfde liga as gister se ete nie, maar hier is darem messe en vurke ook. My sekretaresse het seker gemaak dat ons nie die slaai met ons hande hoef te eet nie,” lag hy.
“Sy pak seker gereeld vir jou piekniekmandjies en weet teen hierdie tyd presies wat om in te sit en waarvan jy hou,” sê Ebbie bot.
Sy wonder hoe gereeld die arme sekretaresse vir hom ’n piekniekmandjie moet pak om saam met een of ander vrou êrens te gaan eet. Daagliks? Weekliks? Maandeliks? Dis seker ’n ou laai van meneer Ryk-en-Aantreklik om vrouens mee te beïndruk. En siestog, vir al wat sy weet, stort die sekretaresse stilletjies ’n paar trane terwyl sy die mandjie pak omdat sy ook beenaf op hom is en weet dat so ’n romantiese ete in die natuur haar nooit beskore sal wees nie.
“Kan ek vir jou ’n glasie wyn skink?” vra hy vriendelik. “Dis ’n baie ligte wyn – ideaal vir ’n piekniek.”
“Ek drink nog my sap,” sê sy moedwillig, alhoewel haar laaste suigslag ’n onmiskenbaar droë geluid opgelewer het. “Dis buitendien onnodig om ’n bottel net ter wille van my oop te maak.”
“Nes jy wil,” sê hy steeds vriendelik. Hy skink vir homself ’n glas mineraalwater en sit terug met die glas in sy hand.
“Ai, maar dis mooi hier,” sê hy weer waarderend. “Ek geniet veral die rustigheid.”
“Dit ís mooi,” gee sy styf toe.
Dit maak nie saak wat sy motief is nie, die man is so aangenaam dat sy nie ongeskik kan wees nie. Ter wille van hulle toekomstige werksverhouding sal sy nie kan aanhou om so onvriendelik te wees nie. Selfs in haar eie ore begin sy ’n bietjie soos ’n rissiepit klink.
“Vertel my van jouself, Ebbie?” vra hy.
“Daar is regtig niks aan my lewe wat jou sal interesseer nie,” sê sy, dadelik weer op die verdediging.
“Hoe weet jy wat my interesseer?” vra hy tergend.
“Dis juis die punt,” antwoord sy bytend. “Ons ken mekaar glad nie.”
“Dit gaan natuurlik binnekort verander,” antwoord hy steeds vriendelik, asof hy nie die kilheid in haar stem opgelet het nie. “Hoe het dit gekom dat jy in die huismark beland het?”
Ebbie wik eers voor sy praat. Dit kan seker nie kwaad doen om hom iets van haar werk te vertel nie, want dis seker van toepassing dat hy vra.
“Dit het heel toevallig gebeur. Tipiese storie: eers het ek nie geweet wat om ná matriek te doen nie, toe’s ek maar universiteit toe. Nadat ek graad gekry het, het ek steeds nie geweet wat ek wil doen nie. Toe begin ek vir ’n huisagent werk omdat ek geld wou verdien. Daar ontdek ek toe tot my verstomming dat ek die kontak met mense en hulle eienaardige obsessies oor eiendom geniet. En nou ja, jare later is dit nog steeds wat ek doen.”
“Watse obsessies het mense oor eiendom?”
“Ag, vir die een is ’n groot tuin die begin en einde. Dan kom iemand wat groot slaapkamers soek. Of as ’n huis nie ’n aparte opwasplek het nie, wil party kopers die horries kry. Deesdae gaan dit heel dikwels oor veiligheid – of daar ’n muur om die eiendom is, ’n alarmstelsel, kameras, dié tipe ding. En dan vra die voornemende koper gewoonlik of daar vorige inbrake was.”
“Ek hoor jy’s ’n baie goeie agent?”
“Jy weet mos waartoe ek in staat is? Jy het mos jou navorsing gedoen voordat jy besluit het dat ek die een moet wees om jou projek te bemark?”
Sy is klaar weer vies. Koot het tog gesê die man het spesifiek vir haar gevra omdat sy soveel sukses by Crystal Bay gehad het.
Hy hou skielik sy hand omhoog asof hy haar wil stilmaak. “Wat hoor ek?”
Sy draai haar kop skeef om te luister. “Dis definitief nie voëlsang nie.”
Teen dié tyd is die gedoef-doef van ’n motorradio en die harde geluide van ’n motor waarvan die knaldemper gebreek is, duidelik hoorbaar.
“Genade! Kyk hoe swaai die motor oor die pad! Die bestuurder moet óf nog leer hoe om op die pad te bly óf hy’s gedrink.”
“Ongeskikte mense. Die kêrel het sommer sy leë blikkie by die venster uitgegooi!” roep Ebbie verontwaardig uit. “Agge nee! Hulle parkeer sowaar reg langs ons.”
“Dis nou nonsens. Bly jy doodstil sit. Ek sal ’n bietjie gaan hoor of hulle nie verder weg wil parkeer nie. Met die lawaai wat hulle maak, kan ek myself nie hoor dink nie, wat nog die voëlsang geniet.”
“Moet jy regtig? Hulle lyk vir my nogal dronk en gevaarlik,” sê Ebbie verbouereerd.
“Wel, ek gaan nie in hierdie lawaai bly sit nie. ’n Beskonke skorriemorrie gaan my nie intimideer nie.”
Liam staan vinnig op en stap na die motor toe.
“Meneer,” sê hy vir die man wat pas uit die motor geklim het en daarteen aanleun om regop te bly, “sal julle nie asseblief ’n entjie verder aanry nie? Ons vind julle musiek nogal steurend. Ons wou eintlik na die voëls geluister het.”
Sy stem is vriendelik maar ferm, dink Ebbie waar sy op die kombers sit. Hy klink soos ’n redelike man met ’n redelike versoek.
“Sê jy ons lawaai? As jy nie van ons music hou nie, vat jý jou kar en ry ’n ent aan,” sê die man met ’n sleeptong.
“Ons was voor julle hier,” sê Liam paaiend. “Kyk, al ons goed is uitgepak. Daar’s baie ander koelteplekke verder met die pad langs waar julle kan stilhou.”
“Ek like jou attitude net niks,” sê die man hard.
Dan roep hy na sy maat, wat aan die ander kant uitgeklim het: “Hei, wat dink jy, Boytjie? Dink jy nie ook hierdie ou het attitude omdat hy in so ’n smart kar ry nie?”
“Ek dink hy het attitude, Sam,” sê Boytjie en kom staan langs sy maat.
“Die pan is ’n plek vir natuurliefhebbers,” probeer Liam nog ’n keer. “Julle pla ons én die voëls.”
“Natuurliefhebbers! Jy joke seker! Julle sit dan hier en suip.”
Van waar sy sit, kan Ebbie die rooi in Liam se nek sien opstoot. Dan is die man tog nie van klip gemaak nie, dink sy verbaas.
“Liam, kom ons ry,” sê sy haastig. Sy staan op en begin die goed vinnig in die mandjie terugpak.
Hy ignoreer haar heeltemal. “Dis die laaste keer wat ek julle gaan vra om te ry,” sê hy dreigend vir die twee baie jonger mans. “En slaap in hemelsnaam eers julle roes af. In julle huidige toestand is julle ’n gevaar op die pad!”
Boytjie en Sam kyk na mekaar en lag onderlangs. “Die laaste keer? En wat gaan jy dán doen, jy, mister met die smart kar en die mooi cherrie?” vra Sam met ’n grinnik.
“Hy wil hê ons moet move sodat hy sy cherrie kan tune, dink ek,” gooi Boytjie sy stuiwer in die armbeurs.
“Ma’ ek like daai sexy cherrietjie van hom ook. Dink jy nie hy moet haar met ons share nie?” wil Sam van Boytjie weet. “As hy die decent tipe was, sou hy sy drinks en die eats en die cherrie met ons geshare het. Ma’ nee, hy offer ons niks van die lekker goed nie.”
“Ebbie,