het ek nie, ek hou self nie soveel daarvan nie, ek drink liewer tee. Suiker?”
Sy skink die tee en gaan sit op die lae stoel naaste aan die tafeltjie. Carmen sit op die ander stoel en ek op die poef.
“So,” open Gerda die gesprek op wat ek aanvaar ’n terapeuties deurdagte wyse is.
“Ja,” sê Carmen.
“Hier is ons dan nou, nè?”
“Ja. Dit kan jy weer sê.”
Ek moet sê Carmen pas haar baie goed aan by die vlak van die gesprek. Ek nie. Ek doen my bes om nie te bot voor te kom nie, maar ek is steeds bang dit staan op my gesig geskryf dat Gerda in haar moer kan vlieg. Maar Gerda was ooglopend al dikwels in hierdie bootjie en is nie in die minste onder die indruk van my skaars bedekte minagting nie. Sy bly irriterend gaaf.
“Is dit nie vir jou moeilik om nou by ’n psigoterapeut te sit en praat oor ’n siekte waaraan jy miskien kan doodgaan nie? Dit voorsien ’n mens tog nie, nè, as jy in die fleur van jou lewe is?”
Bliksem! Waar val jy uit? Gerda weet presies watter knoppies sy moet druk. Ek kyk verskrik na Carmen. En so wragtig, daar kom die trane weer. Ek gryp haar hand vas en begin dit streel. Ek het in die paar weke dat Carmen kanker het, haar hand meer gestreel as in die voorafgaande sewe jaar. Gerda sê niks. Ek kyk na Carmen se hand in myne. Ek voel nie te gemaklik nie. Dit voel asof ek eksamen moet skryf oor of dit vir my erg genoeg is dat my vrou kanker het en miskien kan doodgaan. Ek wil sosiaal korrekte huilgedrag openbaar, maar kry dit nie reg nie. Ek buig oor na Carmen en voel die psigoterapeut se oë op my rug. Sy het sekerlik klaar haar oordeel gevel: Hy het haar nie lief nie, want hy stort g’n traan nie.
“Jy moet dit tog laat uitkom, Carmen,” sê Gerda ná ’n ruk.
Carmen vertel dat ons die laaste weke van die hemel in die hel beland het. Dat alles goed was, dat dit vir ons drie so lekker saam was, dat ons gelukkig was, en dat dit eensklaps, kaboem, verby is.
“Die hele dag gaan daar nie ’n minuut verby dat ek nie daaraan dink nie,” sê sy aan Gerda.
Dit is nuus vir my, maar vanselfsprekend laat ek Gerda dit nie agterkom nie. Vir my gaan daar ure verby sonder dat dit in my kop spook. Die grootste deel van die dag, van die oomblik dat ek soggens by Merk in Uitvoering instap, dink ek nie daaraan nie. Ek dag dat dit vir Carmen dieselfde was. Vat nou maar gister. Dit het tog vir my na ’n aand gelyk soos dié wat ons voor die kanker gehad het. Luna in die bed, “maak jy tee?”, Carmen uitgestrek op die rusbank met Elle, ek voor die televisie, alles dooddollies. Goed, ek vermy krampagtig elke netelige onderwerp en vra net vrae wat geen emosionele risiko inhou nie. “ ’n Stroopwafel of ’n sny koek, skat?” “Is jy lus vir ’n glasie mineraalwater of ’n wyntjie?” “Kyk ons na The Sopranos of die film op Canal Plus?”
“Is daar iets wat jy die afgelope dae gedoen het wat jy agtergekom het wel vir jou kalmte bring?” vra Gerda.
Carmen dink na.
“As jy met Luna speel, of haar bad miskien?” probeer ek, in ’n verwoede poging om myself teenoor Gerda te herposisioneer, van die-man-wat-g’n-traan-vir-sy-vrou-stort-nie tot die konstruktief meelewende liefdevolle lewensmaat.
“Nee.” Carmen skud haar kop fanaties. “Dan dink ek noodwendig daaraan dat ek die liewe ding nooit sal sien grootword nie.”
Die boks tissues op Gerda se tafeltjie werk oortyd. Doos, hoe kon ek nou so ’n stommiteit kwytraak. My tone krul om van skaamte. Terug in jou hok, Steyn.
“Hoewel, nou dat ek daaraan dink: Toe ek laas naweek ’n bietjie tuinwerk gedoen het, het ek wel ’n bietjie rustiger geword,” sê Carmen.
Nou is dit weer Gerda se beurt om Carmen in trane te laat uitbars. Met die verskil dat Gerda dit opsetlik doen; ek uit pure lompheid.
“Maar dan dink jy seker: As ek maar die plantjie volgende jaar kan sien opkom …”
Nee, my fok! Carmen se sluise gaan nou heeltemal oop. Gerda sê wat ons nie eens durf dink nie: Miskien is Carmen oor ’n jaar al nie meer met ons nie. Deur vir die chemo ja te sê, het ons hierdie rampscenario gevolstruispolitiek.
Nou is dit my beurt, en Gerda klim kaalvuis in.
“En jy, Steyn, wees nou eerlik. Dink jy nie: Dit het ék nie verdien nie?”
Skok.
Wat Carmen, Frenk, Maud, Thomas en Anne nie kon regkry nie, kry Gerda reg met die eerste opmerking wat sy regstreeks aan my rig. Gerda slaan die spyker op die gevoelige snaar.[12] Ek het dit aan niemand vertel nie, ek laat niemand dit merk nie, maar dit is waar: Ek voel die kanker het my net so hard soos vir Carmen getref. Ek voel deur die ore gewerk.
Ek laat sak my kop, knik en voel my oë vogtig word. Shit. Waarom nou, met Gerda se heel eerste aanval op my gemoed? As ek, fok weet, netnou maar ’n paar trane kon uitdruk, toe dit nog tegnies gesproke voordelig was. Toe ek Gerda kon laat sien hoe lief ek Carmen het. Waarom val ek nou uitmekaar, noudat Gerda in mý gevoelens staan en vroetel, waarom ly ek bleddiewil nou eers aan huil-inkontinensie? Ek sweer Gerda dink ek is ’n egoïstiese poephol wat voorgee dat hy soveel vir sy vrou omgee, maar hier op heter daad betrap word waar hy die ongeskrewe erekode oortree van die partners van kankerpasiënte: Jy mag jouself nie bejammer nie. Met ’n hangende kop en ’n tissue wat ek by Carmen gekry het in die hand, huil ek snot en trane.
“Voel jy skuldig omdat jy dink dat dit jou ook erg tref?” vra Gerda.
“Ja … wel ’n bietjie …” snik ek erg verleë. Ek het al weke die stemmetjie wat my in my kop bly treiter, bly vertel dat dit glad nie tel dat ek saamlees aan daai Simonton se kak boeke nie, saamgaan na al die doktersbesoeke en die twee chemo-behandelings wat Carmen tot dusver gehad het nie. Die laaste keer was ek die enigste partner. Die vrou met die flenterdun hare was dié keer nie daar nie – vakansie? genees? opgegee? dood? – en haar man dus ook nie. En die jongeling het weer sy Great Gatsby-pet opgehad, maar sy meisie was weer nie by hom nie. Dit is asof al die dinge wat ek reg doen, nie opweeg teen my onverminderde, onreine behoefte aan hedonisme nie, aan jolyt. Soos ’n pedofiel wat jare lank daarin slaag om hom te beteuel, maar tog as gevolg van sy vuige gedagtes oor kinders bly skuldig voel.
“Moenie, Steyn. Vir jou is dit miskien veel erger as vir my,” kom Carmen skielik tussenbeide.
Dit duur ’n ruk voordat ek agterkom wat sy sê. Ek kyk haar verbaas aan.
“Ja,” gaan Carmen voort, “jy is gesond, jy het nie hiervoor gevra nie en nou sit jy met ’n vrou wat die hele dag sit en tjank en kwaad is en …” – sy sluk en wag ’n rukkie – “… binnekort kaalkop is.”
Ek sien sy bedoel dit. Namens my dink sy dis baie erg. Namens my.
Dit moet nou net nie nog maller gaan nie. Ná twee weke van kanker is ons psigo-emo-relasionele status soos volg:
Vrou met kanker het ’n skuldkompleks oor wat sy haar man aandoen.
Man van vrou met kanker het ’n skuldkompleks omdat hy dink hy is te selfbejammerend.
En dan tjank ons maar weer so ’n bietjie lekker, ons tweetjies saam, ons arms om mekaar geslaan.
“Dis als reg,” sê Gerda.
Sy sê ons sal volgende keer voortgaan met Simonton se meditasie-oefeninge. “Ek dink dis goed vir jou. Deur die oefeninge leer jy om jou geestelik teen die kanker in te stel.”
Carmen knik asof sy dink dis die normaalste ding ter wêreld.
“Dit word met behulp van visualiseringstegnieke gedoen,” vervolg Gerda.
Ek hou wyslik my mond.
“Maar dit help ook om lekker rustig te word.”
“Ja, dit lyk my so,” sê Carmen en knik.
Ek knik ook. Al dink ek nie Carmen was regtig rustig toe sy daardie boek van Simonton deur die sitkamer gesmyt het nie.
“Wanneer ons die oefeninge doen,