Nadia de Kock

Heildronk op 'n gypsyromp


Скачать книгу

      

      Heildronk op ’n gypsyromp

      Nadia de Kock

      Tafelberg

      My kinders, Mickey en Aidan Bradley,

      en

      my ouers, Ben en Koeks Geringer

      

skoen.tif

      My idee van die hemel het verander. Dis toe nié om heeldag op Heathrow te sit en kyk hoe die vliegtuie land nie. Dis ook nie die Frankfurt Book Fair of Gingerbread Lattés op ’n Europese winteroggend of selfs ’n bruisende Margarita-waterval op ’n warm dag nie.

      My Afrikaanse dosent, juffrou Van Schoor, se hemel was ’n vervoerband wat 24/7 Bockwurst en Knackwurst beskikbaar hou (hier by my is daar nie ’n wors in sig nie, net grondboontjies en aartappelskyfies). Ziggy se hemel is Murrayfield en Nuweland, Helga s’n ’n raadsaal vol ernstige sakemanne wat aan haar lippe hang en Audrey s’n (hopelik) aandklasse waar sy haar vaardighede as persoonlike assistent opskerp. Ek het gedink my hemel is Vianne Boeke, my uitgewery, wat ek twee jaar gelede begin het. Dalk is boeke steeds deel daarvan.

      Maar vir nóú is my hemel ’n Ierse pub langs ’n waterstroom met ’n knetterende vuurtjie in die vuurherd – presies waar ek my op hierdie Oujaarsaand bevind.

      Ons is dekades jonger as enige van die ander mense hier, maar ons het dieselfde plan as die locals, wat vanaand in hulle Sunday best uitgevat is: ons gaan die oujaar behoorlik vier. Ons gaan na tradisionele musiek luister, Guinness drink tot dit by ons ore uitkom en na lang stories luister. Dalk vertel ek nog myne ook.

      Dit reën al vandat ons in Ierland aangekom het. Ek het op pad hierheen regte Travellers gesien. Ons was by Slea Head en is nie deur die faeries ingedoen nie. En die beste van alles: ek was vanoggend vir die eerste keer in my lewe by ’n vuurtoring – en langs my sit my eie, persoonlike lighthouse keeper in sy splinternuwe Aran-trui.

      Die pad hemel toe was hel. Oukei, miskien nie die hele pad nie; eerder die laaste helfte van die jaar. En dalk ook nie heeltemal hel nie, alhoewel dit soms so gevoel het. Dit was beslis mál, en dat ek enigsins hier uitgekom het, en nie in ’n plek vir senuweelyers beland het nie, grens aan ’n wonderwerk. Maar hier is ek nou. In my Ierse hemel.

      Die musikante in die hoek begin hul instrumente instel en ’n ou man kom staan naby ons, sy rug na die vuur gekeer. Sy wange is rooi en sy oë blink donker wanneer hy na ons kyk.

      “This was a focking no-good year,” sê hy en trek vir hom ’n stoel nader.

      1

      6 Augustus. Vianne Boeke se kantoor (ook my erfhuis in Auckland Park, ’n katspoegie van die SABC af).

      “Waar was jy? Dis al nege-uur!”

      Audrey kyk van haar rekenaar af op.

      “Die hele wêreld soek jou.”

      “Ontbyt by Nuno’s. Ziggy werk oggendskof,” sê ek en sit my seilsak op die tafel langs die perkoleerder neer.

      “Het jy tyd vir kuier?” vra Audrey.

      “Ek werk al van vanoggend vieruur af, Audrey! En ek was honger. Hier’s al weer niks in hierdie huis nie.”

      Ek kry my notaboek van my lessenaar af.

      “Wie’t my gesoek?”

      “Hester. Daar is ’n probleem met die kos vir vanaand. Sy kry blykbaar nêrens salm nie en wil weet of sy dit met iets anders kan vervang.”

      “Ja, bel haar asseblief en sê dis fine. O, en dubbel check ook met Melville Liquor Stores vir die drank. Hulle móét dit voor drie-uur aflaai, sodat ons genoeg tyd het om dit uit te pak. En die witwyn moet yskoud wees; daar’s nie genoeg plek vir al die bottels nie. Laat hulle maar ’n skottel en ys saamstuur. Ons moet die goed net só pak dat die labels nie nat word, aftrek en in die water begin rondswem nie. Wie nog?”

      “Daai vrou van Beeld, ek het nou haar naam vergeet –”

      “Lelani?”

      “Ja, Lelani, het gebel en gesê sy bring vanaand ’n fotograaf saam.”

      “Uitstekend!” Ek is verheug dat Beeld ’n fotograaf gaan stuur. Dit beteken dat vanaand se bekendstelling moontlik die boekeblad sal haal. Groot nuus vir Diana en haar Heuningstroop en lekker bemarking vir Vianne Boeke.

      “Elaine se proewe het ook gekom.” Audrey beduie na die stelle proewe op haar tafel.

      “Dankie tog. Ons het net ’n paar dae, dan moet dit setter toe.”

      Ek sal Elaine se proewe met die korreksies op Audrey se stel moet versoen. Maar môre. Want vandag is daar net te veel goed wat nog voor die bekendstelling vanaand moet gebeur.

      “Jy wag altyd tot op die laaste minuut. My stel was lankal reg.”

      “Audrey, jy weet dis Elaine wat –”

      “My pak is klaar,” sê Audrey weer, staan op en gee vir my die twee stelle proewe aan voordat sy die perkoleerder aanskakel.

      Ek skakel my rekenaar aan.

      “Meksikaanse bone. Kobus het dit op sy laaste trip soontoe vir my gekoop,” sê Audrey terwyl sy die koffiebekers regsit, trots op haar prokureurseun wat gedurig oorsee kerjakker en vir sy ma geskenkies aandra. Sy gaan sit weer en begin in haar laai krap.

      “Iemand van KykNET het ook gebel. Ek kon nie die naam kry nie, maar die vrou het gesê sy sal weer bel.”

      KykNET? Dis woes opwindend. Hulle wil waarskynlik met een van my skrywers praat! Seker Diana, miskien Brando.

      “Het jy nie die vrou se besonderhede gekry nie?” vra ek.

      Ek is verheug. Dis die eerste keer dat een van Vianne se skrywers op televisie gaan wees!

      “Nee, dit het te vinnig op my afgekom.”

      Hemel. Hoeveel ander persoonlike assistente sê dít vir hul base en kom weg daarmee? Maar ek probeer kalm bly; Audrey is nie meer vandag se kind nie.

      “Jy moet jou notaboek áltyd langs die telefoon hou, Audrey. Dít, en ’n pen.”

      Die telefoon onderbreek my Personal Assistant Skills 101-lesing. Dis KykNET.

      “Mieke, ons wil ’n program oor een van jou skrywers maak.”

      “Dis baie goeie nuus!” sê ek. “Ons stel juis vanaand Diana Visser se Heuningstroop bekend –”

      “Nie Diana Visser nie; Amelia Joubert.”

      O, vrek. My hart gaan sit in my keel. Hulle kan nie met Amelia Joubert wil praat nie.

      “Sy is ’n absolute fenomeen!” babbel die vrou. “Almal wil bitter graag Pippa se skrywer ontmoet.”

      “E …” Ek kyk na Audrey wat ’n botteltjie naellak heftig skud, dit oopdraai en begin om die waatlemoenrooi met versigtige hale oor haar duimnael te verf.

      “Ons weet Amelia Joubert is publisiteitsku, maar ons dink die tyd is ryp dat sy na vore kom. Sy is eintlik openbare besit, jy weet?”

      Ek trek my hande deur my hare en staan op. Hier kom moeilikheid.

      “Amelia laat haar nie voorskryf nie –”

      “Ek is seker jy sal haar kan oortuig. As haar uitgewer?”

      Ek gaan sit weer en draai my rug op Audrey.

      “Ja … ek kan probeer. Maar sy is geregtig op ’n mate van privaatheid –”

      “Ek verstaan, en ek het respek daarvoor. Dit is tog nie asof die paparazzi haar jag nie …” Die vrou gee ’n vals laggie. “Dis nou nie asof ons in Hollywood is nie. Dit is belangrik dat die lesers, die kópers van haar boek, se behoeftes in ag geneem word, stem jy nie saam nie?”

      “Ja.