Nadia de Kock

Heildronk op 'n gypsyromp


Скачать книгу

      “Reft at Rantana. Yes?”

      “Right.”

      “Light? Not reft?”

      “No, no! Left … reft!”

      Mense praat oor die Chinese oorname en die hemel help ons.

      “Please turn left at Lantana.”

      “You say light?”

      “I meant left. You were right … er … correct when you said that you must turn reft at Rantana. I mean, Lantana.”

      “Solly, you are making confusion?”

      Nee, hel. Ek haal diep asem en begin weer. Uiteindelik het ons ons lefts en refts van ons rights en lights uitgesorteer en het ek die pad Northcliff toe en terug Westdene toe mooi uitgelê.

      Maar dan tref iets my. Iets kleins, wat GPS genoem word. Vervoermaatskappye het tog sekerlik en definitief GPS?

      “I assume you have GPS?” vra ek Die Vraag.

      “No,” lag die vrou, “no GPS. We know Joburg velly well.”

      Die hemel help Vianne vandag.

      Ready (Leady) Transports!!! ry sommer nou dadelik, want hulle moet vieruur terug wees in Germiston. Ek sit die foon versigtig op sy mikkie neer. ’n Gevoel van angs pak my beet. Ek staan op.

      “Ek gaan gou Woolies toe,” sê ek vir Audrey. “Ek het Lindt-sjokolade nodig, nie Fizzers nie. Wil jy ook hê?”

      Voordat sy kan antwoord, lui die voorhek se interkom. Dis ’n mal dag.

      “Ek sal gaan oopmaak,” sê Audrey, duidelik verlig om weg te kom van die rekenaar. “Borsel solank jou hare.”

      “Ek het al!” protesteer ek (ek is redelik sensitief oor hierdie bos rooi krulle van my. Billy dink dis glorious – hy het een aand, ná ongeveer tweehonderd Margarita’s by Nuno’s, so gesê. Ek stem glad nie met hom saam nie).

      Twee minute later marsjeer Audrey die kantoor binne met ’n platinumblonde girl kort op haar hakke. Laasgenoemde het ’n swart power suit en wit bloes (wat mens net as “sober” kan beskryf) aan, aktetas in die hand.

      “Helga Fraundorfer,” sê Audrey en maak haar oë groot.

      Wat? Ek herken Helga amper nie. Sou haar op straat onderstebo geloop het. Sy lyk baie anders as toe ek haar twee weke gelede vinnig vir koffie in Cresta ontmoet het. Toe was sy in jeans en tekkies. En ek sweer haar hare was donkerder. En dit was los. Ek het ook nie besef sy is so lank nie. Sy lyk soos ek my voorstel ’n vroulike Viking sou gelyk het. Formidabel, om die minste daarvan te sê. Ek staan op om my nuwe huismaat te groet.

      “Ek kan nog steeds nie glo jy het ’n uitgewery nie!” sê Helga. “Dis tog te quaint. Ek moet jou sê, ek weet nie waar kry mense tyd om fiksie te lees nie.”

      “Ja?”

      Ek loer vinnig na Audrey. Dié se wenkbroue is gelig.

      “Ek kry skaars tyd vir al die besigheidsboeke wat ek moet deurwerk.”

      Sy sit haar aktetas op my lessenaar neer en knip dit oop.

      “Helga, miskien moet jy ’n paar van ons boeke lees. Ek dink jy sal baie van Pippa doen dit in tagtig dae hou,” sê Audrey.

      “Pippa wát?”

      “Pippa doen dit in tagtig dae,” sê Audrey stadiger. “Fiksie is goed vir ’n mens.”

      “Ek dink fiksie is ’n mors van tyd. In elk geval, Mieke,” sê Helga en haal ’n lêer uit haar tas, “ek het jou kontrak geteken. Ek het net ’n paar aanbevelings ter verbetering. Wil jy gou daarna kyk?”

      “Ek sal later, as jy nie omgee nie, ek het nog baie dinge –”

      Die telefoon red my amper van Helga, maar Audrey spring my voor.

      “Yes, just turn left at the first traffic light,” sê Audrey. “No, left!”

      “Soos ek gesê het, ek glo nie ek gaan tyd hê vir kook nie,” gaan Helga aan, “maar ek is bereid om na enige skedule wat jy opgestel het te kyk en dit te bespreek.”

      Ek kyk vinnig na Helga voordat ek terugkyk na Audrey, wat nou ’n rooi kleur op haar wange het. Sy is nog steeds besig om van links en regs te verduidelik.

      “Dankie, Helga.” Ek steek my hand na Audrey uit. “Gee vir my,” beduie ek, maar sy lig haar hand; sy het dinge onder beheer. Wanneer sy die foon neersit, sê sy: “Hulle is amper in Beyers Naudé. Ek gaan rook.”

      Shame, Audrey wou netnou al gaan rook, maar dinge is te dol.

      “Kom ek gaan wys jou gou jou kamer,” sê ek vir Helga en staan op. “Ek het duplikaatsleutels laat maak; sal dit sommer nou vir jou gee.”

      “Dankie.”

      “Ek stel vanaand ’n nuwe boek hier onder in Westdene bekend. Wou jy gekom het? Dis fiksie,” voeg ek vinnig by.

      Sy moet darem weet waarvoor sy haar inlaat.

      “Nee dankie, Mieke. Ek het baie dinge wat ek so vinnig moontlik moet afhandel. Ek wil ook kyk of ek vanaand klaar ingetrek kan kry.”

      Wanneer ek haar kamerdeur oopmaak, vra Helga: “Bly jy alleen hier?”

      “Ja.”

      Dis tegnies nie heeltemal waar nie. Ziggy kom slaap soms hier wanneer dit te lawaaierig raak by haar woonstel bokant Nuno’s. En dit gebeur deesdae meer gereeld.

      “My vriendin, Ziggy, slaap soms oor. Maar nie te veel nie.”

      “Dis goed jy sê my. Ek moet weet wat die dinamika van die huis is.”

      Ek is in die garage, besig om driehonderd eksemplare van Heuningstroop vir vanaand af te tel toe Audrey my vanuit die studeerkamer roep.

      “Mieke! Kom gou hier!”

      Sy klink benoud. Ek los die boeke net daar en drafstap studeerkamer toe.

      Audrey staan agter haar lessenaar met die telefoon in haar hand.

      “Father Kieran O’Connor,” sê sy met groot oë.

      Wie is Father O’Connor? Dalk nog iemand wat oor Diana se “smerige” boeke wil kla? Ek vat die foon, nie baie lus om oor Diana se aandeel in die morele verval van die volk (oukei, eintlik van die forty-plus-vroue wat haar boeke lees) te debatteer nie.

      “Miss le Roux,” sê die man met ’n mooi Ierse aksent, “Father O’Connor from the St James parish here. I want to thank you sincerely for the remarkable gift you’ve sent us.”

      Watse geskenk?

      “I beg your pardon, Father?”

      “The couch. It’s lovely, and we have just the spot for it.”

      Wat de duiwel gaan aan?

      “Couch?”

      “Be assured that it is very much appreciated. Quite unexpec-ted, as all gifts should be.”

      Ready (Leady) Transports, kliek ek en slaan in ’n koue sweet uit.

      “And we could certainly use it here at the church. We take care of a lot of needy people and could use a couch. My child, it is the likes of you that make my heart glad. And you sound so young! The young ones, still making homes for themselves yet finding it in their hearts to give to the poor, is a beautiful thing.”

      Ek sal die bank moet gaan haal. Diana gaan ’n oorval kry.

      “Bless your dear heart,” sê Father O’Connor.

      Vrek. Hier het my nou gebless en ek sal die bank móét terugeis. Dis nie goed nie. As ek en die Vader Boeddhiste was, was daar nou baie karma (myne) om af te werk.

      “Er, Father …”

      “Yes,