nou begin giggel nie,” sê hy en sluk sy glimlag, “maar dit was nogal snaaks. Elk geval. Hou jy net vir Diana kalm.”
Ek hou op lag. Dis nie snaaks nie. Diana gaan woedend wees. Ek moet kalm bly en beheer neem.
“Ek sal vir Diana van die bank sê.”
“Hier’s sy nou,” sê Billy. Hy glimlag weer. “Ek dink nie mense gaan vir die bank kyk nie. Jy’t niks om oor bekommerd te wees nie.”
Ek kyk om.
“Holy smoke.”
Diana het pas by die deur ingekom, ’n halfuur te vroeg. Sy het ’n donkerrooi korset, pers skouerlengte Latex-handskoene en ’n lang swart kantromp aan, haar lang hare is raafswart gekleur en sy lyk soos ’n kruis tussen Madonna in ’n stoute luim en ’n opgewekte Cher. ’n Jong ou met ’n borselkop kom agter haar ingestap.
Ek staan op en stap so vinnig as ek kan na die voordeur toe.
“Hallo, Diana,” sê ek en soen haar op elke wang.
“Mieke, kan ek jou aan my metgesel voorstel?”
Diana draai na die jong ou en kyk hom met ’n mengsel van trots en wellus aan.
“Dis Richard, een van my studente … nágraads.”
“Aangename kennis,” sê ek en probeer stralend glimlag. “En is jy reg vir jou ontmoeting met die media?” vra ek vir Diana.
“Natúúrlik, my skat. Wie gaan hier wees?”
“Beeld en De Kat. Moontlik ook iemand van Boeke-Insig. Maar die persverklaring gaan môre na al die ander koerante.”
“Dis wonderlik! Dis vir my fantasties om die masker uiteindelik af te haal, om myself te wees.”
Diana glimlag vir die nagraadse student.
Ek maak keel skoon en staal myself.
“Diana, ek is verskriklik jammer, maar daar was vanmiddag ’n moe … ’n groot deurmekaarspul met die aflewering van die bank en Billy moes dit toe op die ou end gaan haal het.”
Diana se wenkbroue skiet omhoog. Sy kyk verby my, na agter in die saal, waar die bank staan.
“Die poot het afgebreek, maar ek belowe ek sal dit net môre na ’n skrynwerker toe vat. Billy ken een wat –”
“Die bank lyk vir my okay,” sê Diana en begin soontoe stap; ek en Richard inderhaas agterna.
“Ja, dit sal hou. Ons het dit op ’n baksteen gesit, mens sal niks sien nie, want die val steek dit weg –”
Diana gaan staan.
“My tweede man het dit vir my met sy eie twee hande gemaak.” Sy lyk gewond.
“Ek is regtig, regtig jammer,” paai ek, “maar ons sal dit laat regmaak. Dit sal so goed as nuut wees.”
“Dis wel so, maar ek sal wéét dat dit nie is nie.”
Diana staan die bank en betrag. Dis effens laer aan die regterkant, sien ek nou.
“Ek is teleurgesteld, om die minste te sê.”
Diana lyk asof sy die nuus van die bank besonder moeilik vind om te hanteer.
Ek voel sleg oor die bank, maar begin nou angstig voel.
“Solank jy vanaand aan die linkerkant sit sal dit fine wees.”
Richard moet aan die regterkant sit, hy is ligter as Diana, maar dít kan ek nie sê nie.
“Jy sal moet op en af om mense te groet, dit sal veiliger …
e … beter wees as Richard aan die kant met die gebreekte poot sit.”
Diana se wange vlam terwyl sy styf gaan sit.
“Dit is baie ongemaklik.”
“Ek is jammer,” sê ek en vat Richard aan die elmboog. “Kom sit jy hier.”
Ek hou my asem op wanneer hy versigtig gaan sit, maar die bank hou. Hulle sal moet stilsit, anders is hier vanaand ’n spektakel.
“Kan ek vir julle wyn gaan haal?”
“Asseblief,” sê Diana koud. “Merlot vir ons al twee.”
Die kerk raak al lekker vol en die meeste mense drom by die wyntafel saam. Lelani van Beeld is ook daar.
“Bly jy kon dit maak, Lelani. Welkom.”
“Dankie.”
Lelani beduie na Diana toe.
“Is dit nou Shakira Steyn?” vra sy.
“Jip. Professor Diana Visser van Wits se statistiekdepartement.”
Ek glimlag en begin Diana en Richard se wyn skink.
“Ek neem aan statistiek is regtig vervelig.”
Lelani glimlag ook.
“Dit lyk so. Wanneer stuur jy die mediaverklaring uit?”
“Dis reeds gedoen, net voordat ek hierheen gekom het.”
“Dankie, ek sal op die uitkyk daarvoor wees.” Lelani trek haar oë op skrefies. “Nou moet ek nog net agter die kap van die byl kom wat Amelia betref.”
Dis te erg. Wat gaan met Lelani aan? Sy klink eerder na ’n ondersoekende joernalis as ’n boekeredakteur.
“Amelia is ’n tough cookie,” sê ek. “As sy besluit sy is ’n kluisenaar, gaan dit maar moeilik wees om haar anders te oortuig.”
“Los dit maar vir my,” sê Lelani en vat haar glas. “Sien jou bietjie later.”
“Ja, sien jou.”
Ek sien nou eers hoe styf my hand die wynbottel se nek vasvat. Ek hoop nie sy het dit opgemerk nie.
“Hallo, Mieke.”
Dis die rokerige stem van Gerrit Vollenhoven wat agter my opklink. Ek sit die wynbottel neer en kyk na hom.
“Hallo, Gerrit. Welkom.”
Hy tel ’n bottel wyn op, kyk na die etiket en gooi vir homself in.
“Nice bekendstelling. Nice kos en dekor ook. Jou werk?”
“Hoofsaaklik Audrey, my PA, se werk. Ek sal jou kompliment oordra.”
Audrey en haar vriendinne, Lulu en Margie, hét goed gedoen. Hulle het goue materiaal vir next to nothing by die Oriental Plaza opgetel. Dis waar die tafeldoek vandaan kom. Rodin se The Kiss is ook hulle werk. Hulle het iewers ’n vorm gekry, dit in gips gegiet en toe goud geverf. Dit het beter gekom as wat ek gedink het dit sou. Hulle het selfs vir die musiek gesorg en oral roosblare gestrooi. (Ek dink die musiek was Lulu se werk. Sy lyk vir my asof sy ondervinding van sensuele musiek het. Audrey sou waarskynlik Strauss-walse gespeel het.) Ek weet nie waar Audrey-hulle die tyd gekry het nie, maar ek is regtig baie beïndruk met hulle. Ek sal ’n ophef daarvan in my toespraak maak en hulle spesiaal bedank.
Gerrit lig sy glas na my: “Welgedaan.”
“Dankie.”
Hy is katvriendelik. Ek dink hy probeer my sag maak, maar ek is hom een voor. Ek weet wat sy speletjie is.
“Verskoon my, Gerrit. Ek wil net gou vir Diana en Richard hulle wyn vat.”
Dis reg, laat hy maar hier by die wyntafel staan. Verkieslik alleen en so ver moontlik van my skrywers af.
Diana lyk effens afgekoel, sien ek toe ek by haar en Richard kom. Daar staan twee vroue by haar en gesels, elkeen met ’n Heuningstroop in die hand.
“Dis my uitgewer,” sê Diana vriendelik. “Mieke, dis Richard se susters.”
“Welkom,” sê ek en loer vinnig na die bank. Alles lyk oukei.
“Dit