Meubelstuk? Of ’n ruilding? Iets wat hulle in ruil kan aanbied elke keer as hulle ’n gemors aanvang.”
“Honou, meisiekind,” keer Malie en kom staan agter haar. Sy woel Candy se vlegsel los en begin stadig, ritmies haar vingers deur die hare kam sodat dit binne oomblikke in krullerige wanorde om Candy se skouers hang.
“Moenie dinge sê waaroor jy later spyt gaan wees nie,” paai sy terwyl haar geoefende vingers die stremming uit Candy se kop en nek masseer. “Dis mos darem nie so erg nie, of hoe?”
“Nie so erg nie?” spoeg Candy byna. “Natuurlik is dit so erg! Dis mý lewe wat eenkant toe geskuif moet word terwyl hulle s’n …”
Meteens tref die omvang van die hele knoeiery haar soos ’n vragtrein uit die duisternis. Sy snak na asem, maar die tranevloed kom of sy dit nou wil hê of nie. Sy vlieg om, druk haar gesig in die sagte omvang van Malie se middel en begin snakkend huil.
“Hoe kan hulle, antie Maal, hoe kán hulle? Ek is nie een van die rokke in my ma se winkels nie.”
Hoe lank sy so gesit het in die enigste moederlike arms wat sy ooit geken het, weet sy nie, maar eindelik bedaar haar snikke en sy kyk op. “Jammer,” prewel sy.
Sy sien hoe Malie haar eie wange afdroog en dan die borsel optel, beduie dat sy moet terugdraai.
“Wat ek wou sê,” begin Malie met ’n snuif en stadige hale die opstandige krullebos tem, “jy kry tog ook iets uit die deal. Eintlik kry jy baie meer as hulle, want nou hoef jy nie langer op universiteit te bly nie. Dalk is dié jou kans, dalk gaan jy uitvind wat jy regtig wil doen met jou lewe. En,” sy glimlag half pleitend, half verskonend, “dis baie mooi daar. Ek is seker jy sal lekker kuier.”
Candy knik. Ja, sy weet. Sy het gekry wat sy wou hê, maar darem …
Malie is maar altyd die een wat sal kom met die pleidooi vir redelikheid. Sy en Sandra het saam grootgeword op die plaas waar Sandra en Nico ontmoet het net voor die einde van haar matriekjaar. Toe hy moes teruggaan universiteit toe wou sy glo nie agterbly nie, en hulle is getroud kort ná haar laaste vraestel. Malie het later gekom om te help met die versorging van die wittebroodsbaba wat blykbaar nog te vroeg gebore is ook.
Die jong Sandra het eers gaan werk om haar man deur die laaste jaar van sy mediese studie te help, en daarna het sy self ’n paar grade versamel. Toe het sy eers een boetiek, toe nog een en ’n klompie jare later nog een oopgemaak. Uiteindelik het sy haar eie maatskappy wat haute couture invoer op die been gebring.
“Antie Maal, waarom wou my ouma en oupa van die Kaap my nie hê nie? Weet jy?”
“Wie sê hulle wou nie?”
“Hulle het nooit enige poging aangewend om my te leer ken nie. En dit help nie ek vra vir Ma nie.”
Die hande wat haar kleintyd gebad, haar seerplekke beter gedokter, haar rokke se some ingesit en menige aand die dogtertjie wat na haar ouers verlang aan die slaap gesus het, vou liefderik om Candy se kop. Sy lig Candy se gesig agteroor sodat hulle mekaar in die oë kan kyk. “Hoekom gaan jy nie plaas toe en vra dit vir jou ouma nie? Gaan kyk self of dit so is soos jy dit uitmaak.”
“Ek wil nie gaan nie! Ek sal nie gaan nie!”
“Hoekom nie?”
“Wat moet ek daar gaan doen?”
“Meisiekind, toe jy kleiner was, wou jy so graag plaas toe gaan. Hier is mos nou jou kans. Gebruik dit en gaan ontmoet jou familie. Dalk wag daar vir jou ’n verrassing.”
“Watse verrassing?”
“Dalk is dinge anders as wat jy dink. Maar hoe sal jy weet as jy nie gaan kyk nie?”
“Vir wat is dit so ingewikkeld?” Candy sug, wetend sy gaan nie ’n antwoord kry nie. Malie bewaar ook maar die stilte. Soos sy heel waarskynlik aangesê is, maar dit maak nie minder seer nie.
Candy vee oor haar oë. “Het jý ooit teruggegaan?”
“Nee.”
“Hoekom nie? Wat van jou mense?”
“Jy weet my ma is in Nelspruit, maar ek het nog ’n niggie op die plaas.”
“Nou hoekom het jy nooit weer gaan kuier nie? Ek begryp dit plein eenvoudig nie. Waarom is daar soveel geheime oor hierdie gesin en daai dekselse plek?”
“G’n geheime hier nie. Ek het net nie gedink dis belangrik nie. Die lewe wat ek hier gebou het, is vol en goed.”
“Wat? Wat is nie belangrik nie?”
“Ek het na jou ma-hulle toe gekom omdat ek nie langer daar wou bly nie. Is maar al.”
“Antie Maal! Hóékom wou jy nie langer daar bly nie?”
“Ag, kind, dis lank terug se dinge. Maar as jy dan móét weet: die man wat gesê het hy wil met my trou, het toe in ’n ander vrou se bed loop klim. En ’n bok verander nie sy streke nie. As hy dit voor die troue gedoen het, sou hy na die tyd ook.”
“En toe?”
“Toe niks.”
“Jy’t nie weer teruggegaan nie, want hy is nog daar, nie waar nie?”
“Hy’s nog daar,” sug Malie. “Ek het darem vergewe, maar dit het so lank gevat dat teruggaan op die ou end nie meer belangrik was nie. Ek sê mos my lewe is hier.”
“Wou jy dan nie ’n man en kinders hê nie?”
Malie lag. “ ’n Man mis ek nou nie juis nie, en verder het ek vir jou. Glo my, jy’s meer as ’n handvol. Ek bejammer die man wat jou eendag trou. Hy vat sommer vir homself twee arms vol moeilikheid.”
“Ek is g’n moeilik nie,” mor Candy sonder om werklik aandag te gee aan haar eie woorde.
Sal sy tog maar gaan? Sal sy self gaan kyk? Wie is reg? Haar ma wat feitlik die bestaan van haar enigste familie al die jare geïgnoreer het, of antie Maal wat glo dinge is anders as wat Candy haar dit al die jare voorgestel het?
2
“Asseblief, Ma, moenie.” Candy trek-trek aan die kombersie oor haar bene en gryns teen die pyn in haar enkel toe sy die linkervoet op die bankie voor haar probeer beweeg. “Ek erken ruiterlik: Ma was reg en ek was verkeerd. Sean was toe nie te vertrou nie, maar dis nie nodig om iets daarvan te maak nie.”
Sy skuif haar meer gemaklik in die diep stoel voor die TV waar ’n held in CSI Miami in diep, oorversadigde kleur besig is op rekenaars wat seker nog net moet leer om te skiet, dan kan hulle alles doen. “Behalwe vir my enkel het ek niks verder oorgekom nie.”
Sandra se frons verdiep net en sy skakel geïrriteerd die klank af. “Behalwe vir jou enkel? Wat wou jy nog meer gehad het, Nicandra? Jou been? Jou hele lyf? Wat my betref, is dit genoeg rede om die man te gaan aankla. Hy was nog altyd ’n skobbejak. As dit nie was vir jou gegil nie, wie weet wat verder sou gebeur het?”
Candy sug sidderend. Eintlik is dit waar. Sy hét soos ’n maer vark geskreeu en ’n man en sy seun wat onder in die straat verbygestap het, het haar te hulp gesnel. Sean vir wie sy probeer vlug het, is toe teen ’n allemintige spoed die teenoorgestelde rigting in.
“Maar nou het daar niks gebeur nie, Ma. Buitendien, watter bewys het ek dat hy …”
Sy weet nie hoe verder nie. Hoe vertel mens in elk geval vir die vrou wat jou ma is, maar met wie jy nog nooit ’n geheim gedeel of ’n intieme gesprek gehad het nie, dat net die herinnering aan die man se hande oor jou lyf die koue sweet op jou laat uitslaan? Dis nou nie wat sy in gedagte gehad het met Sean van naderby leer ken nie.
“Los dit nou,” sê sy kortaf. “Die enkel is erg genoeg. Ek het nie lus vir nog onaangenaamheid nie.”
Dis natuurlik afgesien van die feit dat sy nie ure lank onder die stort kan gaan staan om daardie gevoel van haar lyf af te was nie. En dat sy die vreemde sal moet in op een been en twee aluminiumstokke.
Die