dat hulle haar ondersoekend aankyk.
“Gaan jy by ons aansluit, dokter O’Neill?” vra die pediater vriendelik.
Hy lyk vir haar vaderlik, of soos iemand se vriendelike oom. As hy die kollega is met wie sy moet saamwerk, kan dit net aangenaam wees, dink sy.
“Ek … e … moet nog besluit,” antwoord sy, maar op daardie oomblik weet sy dat sy klaar besluit het.
“Hierdie werksomstandighede is onverbeterlik,” sê suster Martie de Koker vriendelik. “Ons almal werk baie lekker hier.”
“Kom, ons gaan wys jou die laboratorium en dan ontmoet jy daardie personeel,” stel Jens Krause voor. “Jy sal baie van hulle dienste gebruik maak.”
Soos Lucinda verwag het, is die laboratorium baie goed ingerig, en drie mense is daar besig.
“Dokter Dawid Botha, ons patoloog, dokter Susan Cilliers en Selma Potgieter,” stel dokter Jens haar voor. “Mense, hierdie is dokter Lucinda O’Neill, wat hopelik binnekort by ons gaan aansluit.”
Almal is vriendelik en weer voel Lucinda asof haar aanstelling sommer as voldonge aanvaar word. Dis amper asof dit ’n verpligting op haar plaas om hierheen te kom.
Nadat sy die mooi kliniek gesien het, die vriendelike personeel oral ontmoet het en die pragtige kothuis in ’n tuin tussen hoë akkerbome gesien het, besef Lucinda dat sy op die plek verlief geraak het. Op die plek, die mense en klein Nanette met haar beertjie.
Die twee dokters Krause sien haar weg.
“Die pos is joune as jy dit wil hê,” glimlag Jens toe hy totsiens sê.
“Absoluut,” stem sy vrou saam.
Lucinda se hart word sommer warm. Dat sy so ’n wonderlike geleentheid op ’n skinkbord aangebied word, is amper te goed om waar te wees.
“Ek sal julle môre op die laatste laat weet,” belowe sy.
Maar sy is reeds besig om te dink hoe sy haar direkteur in die gesig gaan kyk en hom die slegte nuus meedeel. Hy het haar nog altyd ondersteun en in haar geglo, maar dalk het die tyd aangebreek om aan te beweeg.
Lucinda kom saam met haar trek by die kothuis aan en sy is dankbaar dat sy hier tot ruste kan kom en dat die swaar afskeid van Tygerberg verby is. Met besitterstrots kyk sy na die tuin waarin die bome en rankplante oortrek is van lentebloeisels. By die voordeur groei jasmyn oor ’n prieel en dit ruik soet en heerlik.
’n Vrou met ’n besem in die hand en ’n voorskoot aan kom by die voordeur uit.
“Welkom, dokter, ek is Anna Mowies. Dokter Marita het my gekry om dokter te help met huis skoonmaak, kos kook en alles. Is dit reg so?”
“Hallo, Anna. Ja, ek is baie bly jy is hier. Die Krauses dink ook aan alles, lyk dit my.”
“Hulle is goeie mense, dokter. Ek en my familie werk al hier vandat die kliniek oopgemaak het. Ek, my suster Saar, my man Desmond, wat ’n assistent in die kliniek is, en my twee seuns Steven en Shawn, wat die general jobs doen. Dokter Jens noem hulle nutsmanne, want hulle is nuttig. Die movers kan maar indra, alles is silwerskoon binne.”
“Baie dankie.”
Lucinda loop voor en sien dis werklik skoon en al die mure is nuut geverf. Die wit van die kothuis met sy grasdak lyk so mooi, eg Kaaps-Hollands.
“Dis wonderlik,” komplimenteer Lucinda. “Ek gaan vir die mense sê hulle kan maar begin indra. Ek wil die huis reg hê voordat ek oor twee dae by die kliniek inval.”
Dis nog vroegoggend toe Lucinda se selfoon haar wakker lui. Sy moet haar eers oriënteer en besef dan sy is in haar kamer in die kothuis. Vinnig gryp sy die selfoon van die bedkassie af.
“Môre, Lucinda,” hoor sy Jens Krause se stem. “Is jy ingetrek en gevestig?”
“Ek is, dankie, behalwe vir ’n paar dinge wat nog gedoen moet word. Dis so mooi hier, en Anna Mowies is ’n wonderlike hulp.”
Amper vra sy waarom hy so vroeg skakel, maar sy wag dat hy haar self sê.
“Jong, ons het ietwat van ’n krisis en daarom is ek verplig om jou lastig te val.”
“Watter krisis, dokter Krause?”
“Ons het ’n oproep ontvang van Werner Huber, die grootbaas van Huber Construction, wat besig is om ’n pad en brûe in Noord-Zambië te bou.”
“O, ek weet van die maatskappy. Hulle het groot projekte hier in die Kaap ook. Wat wou hy hê?”
“Sy kind het malaria in Zambië opgedoen en hulle bring hom per helikopter hierheen. Ons het ’n helipad, terloops, en dikwels kom krisisgevalle per helikopter hier aan. Die ding is, hulle arriveer vanmiddag, Ras Wannenburg is baie besig en Sarah van Wyk is gister al weg oorsee vir vakansie. Kan ek jou tog vra om ons te kom bystaan?”
“Met plesier. Ek sal binnekort daar wees, dokter Krause.”
“Ag, dankie, Lucinda – ek gaan jou maar so noem, en jy kan gerus vir my en Marita ook op die voornaam noem. Ek sal jou skakel sodra hulle aankom.”
“Goed … e … Jens, al voel dit vreemd om my voormalige dosent sommer op sy voornaam te noem.”
Hy lag. “Raak maar gewoond daaraan. Dis net verwarrend om twee dokters Krause op hulle titel en van te noem.”
Wel, hier spring ek aan die diep kant in, dink sy toe hy aflui. Maar gelukkig het sy al voorheen met malariapasiënte gewerk.
Sy spring op en gaan stort. Vandag moet Anna maar op haar eie netjies maak, want sy gaan eers bietjie navorsing doen sodat sy alles op die punte van haar vingers het as die kind hier aankom.
Aan krisisse is sy gewoond, maar sy hoop die kind is nie ellendig nie. Duisende mense sterf elke jaar in Afrika aan malaria. Daar is verskillende soorte, en sommige is weerstandig teen die beskikbare medikasie.
2
Lucinda hoor al die gedreun van die helikopter toe sy haar wit jas oor haar hemp en romp aantrek, die stetoskoop in haar sak druk en haar mediese tas gryp.
“Anna, ek gaan kliniek toe, hoor!” roep sy.
Anna kom uit die kombuis en vee haar hande met ’n vadoek af. “Sterkte, dokter. Jirretjie tog, ek hoop die seun is nie aan die doodgaan nie.”
“Nie as ons dit kan keer nie.”
Op ’n drafstap haas Lucinda haar na die kliniek, waar dit lyk asof almal in die kinderafdeling rondhardloop en gereedmaak vir die ontvangs van die malariapasiënt. Sy sit haar tas in die voorportaal neer en volg die mense na die helipad, waar Jens en Marita en ’n horde mense reeds staan en wag.
Die helikopter sweef nader en hang in die lug sodat die reuse rotore die bome en gras en almal se klere en hare woes laat waai. Op die kant lees Lucinda Huber Construction Africa. Sy gaan nader, al waai haar hare oor haar gesig en wapper haar jas om haar asof sy in ’n tornado is. Die helikopter lyk vir haar soos ’n reuse muskiet.
Marita neem haar arm en skree iets, beduie na die helikopter, maar Lucinda kan nie hoor nie.
“Wat?” roep sy.
“Die pa het saamgekom.”
Almal storm nader toe die loods en drie mans uitklim en Lucinda kyk hoe hulle die figuur op die draagbaar uithaal en op die kliniek se trollie sit. Dis maar ’n kleinerige mensie, dink sy vervaard.
Toe sien sy die lang, donker man raak wat langs die pasiënt bly terwyl die personeel om die draagbaar maal. Hy draai om en groet vir Jens en Marita, sy hare deurmekaar gewaai deur die wind van die rotore, wat al stadiger draai totdat hulle gaan staan. Die dreunende enjin word afgeskakel.
Lucinda kry die eienaardigste gewaarwording. Die man is beslis aantreklik, lank en met breë skouers, donker hare en oë en met ’n soel vel, maar sy gesig is stroef van bekommernis. Sy voel simpatie vir hom, maar dis nie al nie.