Helena Hugo

Narkose vir die hart


Скачать книгу

oom!”

      Jandré en Daleina spring gelyk op. Hy kry die biltong en sy die paaseiers. “Mooi deel, julle. Naand, Saranie.”

      “Lyk sy nie vir jou te moederlik nie?” sê Madeleine toe sy die baba se kombersie by Saranie aanvat.

      Gerhard grinnik en bloos sy bruingebrande gesig bloedrooi. Sy krullerige hare is netjies teen sy kop vasgejel en hy dra ’n byderwetse T-hemp en nuwe jeans.

      Saranie groet met ’n kopknik en kyk by hom verby na Harry Potter en sy spanmaats wat ’n oomblik gelede nog met hul besemstokke oor die nuwe plasmaskerm geflits het, maar wat nou gevries wag vir die kinders om eers Gerhard se biltong en paaseiers te deel.

      Kan Madeleine en Kleinjan en die res van haar familie nie verstaan dat sy nie in Gerhard de Lange belangstel nie? dink Saranie vies. Maak nie saak dat hy lief is vir kinders en die distrik se biltong-koning is nie. Én dat sy nuwe kliphuis op Sandheuwel die grootste kaggel in die land het nie – perfek vir haar wat wintertyd altyd na die Vrystaat se mieliestronkvure verlang.

      Goed, sy verlang nog soms na hul samesyn, dié dat sy hierdie Paasnaweek kom kuier het. Om haar familie weer te sien en vir die troue – nié om in haar matriekliefde en sy gesin vas te loop nie. Ook nie om Gerhard de Lange te plesier nie, al het hy intussen ’n man geword. Genade, hy is vyf jaar jonger as sy.

      Johannie gooi sy bottel neer en begin skree en op en af spring omdat hy nie ’n paaseier kry nie. Saranie tel hom op haar skoot, troos hom ferm: “Hou op met huil, dan gee tannie Saar vir jou haar paaseier.”

      “Jy kan mos sien sy begeer haar eie krosie,” kom dit taktloos van Madeleine. “ ’n Vrou is nou eenmaal ’n vrou, geleerdheid of nie.”

      Saranie merk uit die hoek van haar oog hoe Gerhard nog rooier word. Madeleine kan nie subtiel wees nie, al wil sy.

      Die arme man, wat maak hy hier? Is hy geboelie of afgepers, of is hy opreg op soek na ’n vrou vir sy kliphuis? Nie dat sy nooit ’n boervrou wou wees nie. Maar sy kan beslis nie nou meer nie, al verwag haar broers dat sy moet terugkom plaas toe.

      Dis nie dat sy Arbeidskroon wil afskryf nie. Dis haar geboorteplek. Sy het die grond lief. Maar sy het dit lankal ontgroei, terwyl hulle – die res van haar familie – hier staan asof hulle penwortels het. Soos bome in ’n bos. As een omval, is daar reeds ’n ander aan die groei en verskeie aan die opkom – ’n uitgebreide familie rondom ’n kerngesin van wie sy die laatlam is, die baba wat haar ma se dood veroorsaak het, die kind wat manalleen deur haar pa grootgemaak is tot Jan, haar oudste broer, en sy vrou Alet by hom oorgeneem het. Tot in die derde geslag – Madeleine is Jan se seun Kleinjan se vrou.

      Kleinjan is maar twee jaar ouer as Saranie en reeds pa van vyf. Noudat Jan en Alet se jongste seun, Louis, die naweek getroud is, moet Saranie mos dringend ook ’n man kry. Een wat deur die hele Du Plessis-familie goedgekeur is: Gerhard de Lange.

      Hy hou ’n kardoes biltong na haar toe uit.

      “Dankie,” sê sy en neem dit.

      Sy het ’n worshondjie by die huis wat gek is na biltong. Dalk kan sy ’n paar stukkies in haar baadjiesak steek om vir hom saam te neem en die irritasie van Gerhard se gekuier die moeite werd te maak.

      Hy hurk voor haar en skil Johannie se paaseier af. Hy het groot dik vingers met swart hare op sy handrug en kneukels. Bruin boerehande soos haar oorlede pa daarvan sou gehou het en soos haar broers en hul vroue vir haar verkies. Maar nie sy nie. Sy weet wat sy wil hê, as sy ooit eendag besluit om haar matriekliefde finaal te begrawe en te vergeet.

      As sy haar oë toemaak, sien sy die skraal gepunte vingers van die chirurg wat sy in die geheim soveel bewonder dat sy bang is sy word flou as hy haar vra wat die pasiënt op die operasietafel se bloeddruk is.

      Johannie het hom intussen met sy lot versoen. Hy lê teen haar, sy knietjies opgetrek, en knibbel aan die paaseier. Sy vryf oor die sagte winterslap van sy langbroek, sy vet ronde voetjies en sywurmtoontjies. Kinders is darem oulik as hulle rustig en tevrede is.

      Harry Potter is weer aan die gang. Gerhard trek vir hom ’n stoel nader. Hy skraap sy keel skoon. “Woon jy regtig so lekker in die stad?”

      “Ek’s al vyftien jaar in Pretoria.”

      “So lank?”

      Ja, so lank, en nou kan jy sommer uitwerk dat ek gans te oud is vir jou. Hy dink dit ook, want sy kan aan sy gesigsuitdrukking sien hy maak optelsomme.

      “Ek was vyf jaar op Stellenbosch en vyf jaar op die wildplaas naby Trompsburg. Ek’t teruggekom Sandheuwel toe om my pa met die boerdery te help. Helfte van die grond is nou myne.”

      “Jy’s gelukkig.”

      “Ja, en jy?”

      “Ek het my werk.”

      “Te grênd vir die plaas?”

      “Nee.”

      “Sjuut! Julle raas!” skree een van die voor-op-die-wa-kinders.

      “Wil jy buite gaan stap?” vra Gerhard.

      Saranie beduie met haar oë na Johannie op haar skoot.

      “Netnou?”

      Sy knik en dink: sy is nie te grênd vir die plaas nie. Feit is, sy was nooit ’n regte plaaskind nie. Sy was net op ’n stadium een meisie tussen ses mans, en haar pa en haar broers was so bang sy kom iets oor dat hulle haar grootgemaak het asof sy in ’n glaskas hoort. Sy was die bleek Du Plessis-dogtertjie, altyd met ’n hoed op en ’n truitjie aan, altyd sokkies en skoene aan. In en om die huis, skaars verder as die stoep en die groentetuin, haar pa se prinsessie. Dis nie ’n wonder sy het haar vlerke gesprei toe sy die kans kry nie.

      “Naand, Gerhard! Hoe gaan dit, man?”

      Jan, Saranie se oudste broer, kom in. Hy dra een van sy kleinkinders op sy nek en moet buk om by die deur in te kom. Die kleintjie hang vooroor soos ’n jokkie op ’n perd se rug, armpies stewig om Jan se nek.

      Gerhard spring op en steek sy hand uit. “Naand, oom Jan.”

      Gerhard is nie ’n onaardige man nie, dink Saranie. Donker krulhare, ’n goeie profiel en breë skouers, al spog hy met ’n ontluikende bierpens – iets wat die seningrige Jan al die jare met afkeer bejeën het, maar wat deesdae blykbaar nie meer op sy lys van foute staan nie.

      Die Sondagaand strek lank en donker voor Saranie uit. Sy wens sy het ’n verskoning uitgedink en vanoggend net ná kerk gery. Goeie Vrydag en gister se familietroue is immers agter die rug, maar nou is dit môre Gesinsdag, en Gerhard se ouers is see toe vir die naweek. Hy het alleen agtergebly en moet toe noodwendig deel word van die Du Plessis-familiefees.

      “Hoe gaan dit? Wat hoor jy van jou pa-hulle?” vra Jan.

      “Ma het vanmiddag gebel, hulle rus lekker.”

      “Jy nie spyt omdat jy nie saamgegaan het nie?”

      “Nee, oom, hoe sal ek dan?” Gerhard kyk vlugtig na Saranie. “Hier is darem geselskap.”

      “Jy moet haar ompraat om Maandagmiddag later te ry. Sy werk eers Dinsdagoggend, en Pretoria is nie so ver nie.”

      “Maak so, oom.”

      Ja-nee, dink Saranie, dis die soort planne wat vir my beraam word. Maar ek het die laaste sê, ek is lankal oor een-en-twintig.

      “Sal julle daarvan hou om vroegoggend narkose te kry by ’n narkotiseur wat die vorige dag driehonderd kilometer gery het?” vra sy toe hulle na haar draai.

      Jan en Gerhard kyk vir mekaar en frons. “Hoe sal ons weet?” vra Jan.

      “Presies, daarom is dit mý verantwoordelikheid. Ek werk nie tensy ek uitgerus is nie, en ons gaan besig wees ná die langnaweek.”

      Jan vat vir hom ’n hand vol biltong. “Ek’t jou gesê sy’s deeglik,” sê hy vir Gerhard.

      “Sy moet my sê waar’s