nie en jy weet dit goed. Hulle het my so lekker deurmekaar gemaak met hulle slim improvisasies dat ek nie weet waar ek is nie.”
Frank glimlag bemoedigend. “Dan beter ek my lugreëling gaan opsoek sodat jy jou woorde kan terugkry.” Hy draai om en stap weg.
Nie ’n woord van dank omdat ek my woorde ken nie, dink Colette wrewelrig.
’n Ent verder gaan Frank staan. “Lyk of dit beter gaan met die manne,” sê hy tevrede.
Lafaard, besluit Colette en maak of sy hom nie gehoor het nie, haar blik op haar dialoog wat sy netjies onderstreep het en wat sy vanoggend nog so goed geken het.
Emile is Arnold Penrose en sy is Mia Barlow. Janeen speel Santi, ’n oulike nuwe kantoorassistent.
Dit lyk of Arnold ’n ogie op Santi het, wat nie kan wag vir die dag wanneer hy haar soen nie. Santi is te nuut om te weet wat al jare lank tussen Arnold en Mia broei. Onskuldig vertel sy vir Mia dat sy verlief is, dat sy ’n man vir Kersfees wil hê, een soos Arnold Penrose – maak nie saak dat hy ’n mediamiljoenêr is en sy ’n beginner in die bedryf nie, haar ma het gesê sy moet hoog mik. As sy nie hoog gemik het nie, het sy in elk geval nie die werk by Penrose-publikasies gekry nie. Sy mik na die sterre, nie die blinkers wat aan die Kersboom hang nie.
Santi is Mia se volgende mededinger, soos Janeen wel Colette s’n kan word. Maar Colette bekommer haar nie. Sy het al talle potensiële sterretjies hier sien kom en gaan. Soms omdat hulle moeg word vir elke dag se roetine, soms omdat hulle dit nie kan regkry om die kykers aan hulle kant te skaar nie. Die geheim is die nabyskoot, oë wat diep in die hart kan sien, ’n ononderbroke liefdesverhouding met die kamera – so het Vera Colette geleer.
Sy verdiep haar ernstig in die toneel op die bladsy voor haar. Sy voel dit, sy ís Mia Barlow.
MIA: (ASOF SY MET ’N KIND PRAAT) KERSFEES GAAN MENEER PENROSE FRANSCHHOEK TOE, DIE FAMILIE HET ’N WYNPLAAS IN DIE VALLEI. AS JY WIL HÊ HY MOET JOU SAAMNEEM, SAL JY MOET MIK VIR DIE KAAP, VERGEET VAN DIE STERRE.
Colette maak die teks toe, mompel die woorde by haarself, beklemtoon MENÉÉR sodat die nuwe meisie op kantoor presies sal weet waar sy staan. Tegniek en gevoel is twee karperde wat die wa trek. Een gedagtestroom behoort aan Mia, een aan Colette en nou dink sy vir twee mense. As Janeen ooit eendag met die koffie kom, kan hulle die toneel saam deurgaan, flits dit deur haar kop. Sy wend haar weer tot die teks.
SANTI: (VERRAS) FRANSCHHOEK, SÊ JY? EK HET ’N TANTE WAT ’N GASTEHUIS DAAR BEDRYF, ’N DUUR, DEFTIGE PLEK. HAAR NAAM IS DANIELLA DU PREEZ.
(MIA VERBLEEK MERKBAAR.)
So staan dit in die teks. Colette kry die gevoel: sy asem stadig uit, sper haar oë. Dit maak haar nie juis bleker as wat sy is nie, maar dit het die verlangde effek. Bedekte skok, dis wat die skrywer en regisseur soek, dis wat die kamera moet vasvang. Sy dink aan die situasie, die storielyn wat die hoofskrywer nou weer aangepak het.
Daniella du Preez van Franschhoek is die vrou wat drie jaar gelede ’n verhouding met Mia se pa aangeknoop het. Dit was Kersfees toe hy aangekondig het dat hy verlief is op ’n ander vrou. Kersfees het van toe af ’n slegte betekenis in Mia-hulle se huis. Haar ma ly steeds aan depressie. Sy is ’n kunstenares, onstabiel en afhanklik van senuweepille. Dis waarom Mia nie graag Franschhoek toe gaan vir Kersfees nie, en dalk een van die redes waarom Arnold deesdae so vreemd optree. Haar ma is die vorige week weer in die kliniek opgeneem en Mia weet nog nie waar haar ontsteltenis vandaan kom nie. Haar ma het haar nodig en sy is die laaste tyd onseker van Arnold. Hy dra te veel geskenke aan, bestee te min tyd saam met haar. Daar is iets wat hom pla, Mia weet net nie wat nie.
Colette het ook nie ’n idee wat dit is nie, sy twyfel of die skrywers en draaiboekredakteurs weet waarheen die hoofskrywer op pad is.
“Hulle het gaan duik.” Janeen verskyn langs Colette, in elke hand ’n beker stomende ekstrasterk koffie. Sy sit dit op die smeedystertafeltjie neer.
“Frank het my gesê,” sê Colette. “Dankie vir die koffie.”
“Swart,” maak Janeen verskoning. “Vandag se melk het nog nie gekom nie. Molly is winkel toe.”
“Dis oukei, thanks.” Colette hou nie van poeiermelk nie en Janeen weet dit. Sy is baie soos haar karakter in die sepie – probeer byhou met almal se smake en doene en late.
“Sorry ek’t so gedraai, maar Benny het die boontjies gespill, toe was ek eers skottelgoed en spits my ore …”
Janeen trek vir haar ’n stoel nader. Emile en Steven is aan die kom. Gelukkig sal hulle nie kan hoor wat sy sê nie, want hulle sing opera uit volle bors. Steven is ’n produk van die operaskool, sigaret en al. Hy het ’n goeie stem, maar hy onthou nog net drie van sy eksamen-arias, wat hy oor en oor herhaal en waarmee hy Emile blykbaar eindeloos inspireer. Colette herken hierdie een, al verloor hulle die woorde ná die eerste paar frases.
“Per me ora fatale!” bulder Emile van die noot af.
“Oh, fatal hour impending!” vertaal Steven en sy suiwer bariton dra hulle oor die hond se rug.
Janeen rol haar oë, buk oor na Colette en fluister: “Dit was vir ’n TV-program, hulle het toestemming gehad.”
“Maar hierdie tonele word nog steeds eerste geskeduleer?”
“Op voorwaarde dat hulle hulle woorde leer. Dit was vir reklame.”
“Hoe weet Benny?”
“Hy was saam.”
“Waarheen nogal?”
“Grotte, Sudwala, dink ek.”
“Seker ’n vet tjek gekry.”
“Benny wil nie sê hoeveel nie. Lucky, hè? Mans is mos die enigstes wat die guts het om in ’n gat af te spring.”
Colette kners op haar tande. Nie dat sy in ’n gat wil afspring nie! Maar dis waar, die mans kry die afgelope tyd meer geleenthede as die vroue, en dis nie regverdig nie.
“Ek gaan kla,” kondig sy aan. “Ek gaan ernstig beswaar aanteken.”
“Is jy seker?” Janeen se oë rek.
Emile en Steven sing dat die byle huil.
“Ek gee nie om as hulle geld maak nie, ons doen dit almal, maar nie ten koste van die res van die cast nie.”
Die aria kom met ’n swierige noot tot ’n einde.
“Rest assured, girls. Ons is woordvas!” kondig Emile aan.
“Hoekom sing julle dan Oh, fatal hour?” snip Janeen.
“Dis ’n lekker tune, en Steven leer my.” Emile sleep ’n stoel nader.
“Soos katte in die maanlig,” brom Colette.
Emile maak hom tuis reg voor haar. Sy kan die tergende krul van sy mondhoeke sien al kyk sy nie op nie. “Ons is katterig, of hoe?” vra hy.
Sy ken daardie klank in sy stem. Sy het al weer die deur oopgemaak vir sy woordspelings en sy het nie lus daarvoor nie.
Steven lig die koffiebekers en vergelyk hulle. “Ek deps die een met die melk.”
“Poeiermelk,” waarsku Janeen.
“Maak nie saak nie.” Hy vat ’n sluk en proes. “Wil jy my met bitterheid vergiftig?”
“Vat dit en gooi jou eie suiker in!” Janeen spring op. “Ek maak vir my ander sonder jou spoeg.”
“Drie suikers vir my, min melk!” roep Emile agterna.
“Bring nog suiker!” Steven koes toe Janeen omkyk, lippies opmekaar gepers. “Swak diens in die hotel,” brom hy en loop haar agterna, koffiebeker in die hand.
“Kansvatter,” grinnik Emile.
Colette maak of hy nie bestaan nie. Sy blaai na die volgende toneel in haar teks en lees, of probéér lees. Emile kyk vir haar. Sy voel dit en