Susanna M Lingua

Susanna M Lingua-keur 15


Скачать книгу

koeksisters in mevrou Nel se kafee te nuttig.”

      Die ou dokter en sy vrou lag so lekker dat selfs Ouma ook moet glimlag. “So, ek sit hier vir jou en wag en al die tyd sit jy doodluiters by mevrou Nel en koffie drink …”

      “Hoekom het Oumatjie dan vir my gesit en wag?”

      “Vir die groente, natuurlik.”

      “Nee, Oumatjie het nie die groente nodig gehad nie, want sien, ek het eers seker gemaak hoeveel groente Ouma nog in die kombuis het voordat ek mark toe is.”

      “Wel, laat ek jou dit vertel, meisiekind, dit sal die laaste keer wees dat jy vir my iets gaan koop.”

      Dan staan Rista op, plaas haar arms liefderik om Ouma se nek en vra kinderlik onskuldig: “Is Oumatjie nou kwaad vir haar stoute dogter?”

      “Ek moes nou eintlik vir jou kwaad gewees het, jou klein vabond,” voeg Ouma haar bestraffend, maar tog glimlaggend toe.

      “Wel, as Oumatjie dan nie meer vir my kwaad is nie, gaan ek gou eers my rose in die motor haal. Julle sal my mos verskoon, nè?”

      Maar voordat een kan antwoord, is Rista by die deur uit en op pad na haar motor.

      “Jy het ’n liewe ou dogtertjie, Ouma,” kom dit opreg van die ou dokter toe Rista se voetstappe wegsterf.

      “O, Pappie, sê nou net sy was ons s’n!”

      “Dan was jy natuurlik die trotsste moeder suid van die ewenaar, my ou vroutjie.”

      “O, ek sou nie net trots gewees het nie … Ek sou haar so verwen het. Sy sou alles gekry het wat haar ou hartjie …”

      “Ja, maar dan sou sy nie vandag so ’n liewe geaardheid gehad het nie, vroutjie. Ook maar goed dat sy nie joune is nie,” val ou dokter Myburgh sy gade laggend in die rede.

      Dan maak Rista weer haar verskyning met die pragtige bos rose in haar hand. “Is dit nie mooi nie?” glimlag sy vir die drie ouer mense op die rusbank onderwyl sy die blomme na hulle uithou.

      “Pragtig, my kind,” kom dit van mevrou Myburgh wat ook ’n liefhebber van rose is.

      “Dit is seker vir jou kamer,” raai ou dokter Myburgh.

      “Reg geraai, dokter. Hulle gaan op my kleedtafel pryk.”

      Onderwyl Rista in die kombuis die rose in ’n geslypte glasbak staan en rangskik, neurie sy sag. Dit is ’n werkie waarvan sy vreeslik baie hou. Sy streel eers liggies met haar hand oor die fluweelsagte blare voordat sy die laaste roos liggies tussen sy maats indruk.

      ’n Oomblik bewonder sy die sagte kleure voor haar in die bak voordat sy dit na haar kamer neem.

      Deur haar kamervenster merk sy dat byna al die loseerders by die tennisbane vergader het. Sy bespeur die fors gestalte van die jong dokter ook in die groep. Sy sien dat hy nog in gewone drag geklee is.

      Weggesak in ’n gemaklike leunstoel, sit Rista met ’n boeiende roman op die voorstoep in die sonnetjie en bak. Sy word so meegevoer en leef haar so in met die heldin in die boek dat sy nie eens die groep tennisspelers sien toe hulle by haar verbystap na hulle kamers nie.

      Etlike minute lank staan Chris haar met gemengde gevoelens op ’n afstand en betrag. Waar sy met haar een been onder haar ingevou sit, lyk sy vir hom die onskuld self. Ja, haar uiterlike lyk bepaald onskuldig, maar wee haar innerlike wreedheid. Snaaks, maar wat sy Pieter aangedoen het ten spyt, kan hy tog nie sy oë van haar afhou nie. Dis of haar uitsonderlike skoonheid ’n mens soos ’n magneet aantrek, jou boei en jou totaal teen jou wil gevange hou, staan Chris en dink. Hy besluit om nader te stap en haar te groet.

      Toe sy skaduwee oor die boek val, kyk Rista langsaam op. Dan ontmoet haar donker oë die blouste oë wat sy nog ooit aanskou het. Etlike sekondes lank hou hulle oë mekaar gevange. Dan laat sy hare stadig sak.

      Hoflik buig Chris vooroor en reik haar die hand voordat sy opstaan. “Steur ek jou, Rista?” vra hy vriendelik toe hy skuins voor haar op ’n stoel gaan sit.

      “Glad nie, dokter, sit maar gerus. Ek was juis van plan om my lesery te staak.”

      “Waar was jy vanoggend met ons tuiskoms?”

      “Wel, ek moes vir Ouma gaan groente koop op die mark.”

      “En het dit jou toe so lank geneem net om ’n bietjie groente te koop?”

      “Hoe weet jy hoe lank ek weg was, dokter?” glimlag sy geamuseerd.

      “Ek het gesien hoe laat jy teruggekeer het. Waarom probeer jy ons vermy, Rista?”

      “Ek probeer julle nie vermy nie, dokter.”

      “O ja, jy doen dit. Waarom het jy dan vanoggend so vroeg gaan groente koop wanneer jy dit net sowel ’n uur later kon gaan koop het?”

      “Wel, dit was nie juis bedoel om jou en jou ouers te vermy nie. Ek hou net nie van ’n gedrang nie en ek het geweet dat die koms van die Myburgh-gesin ’n hele opgewondenheid gaan afgee. Daarom het ek ’n paar minute langer vertoef as wat nodig was – om die atmosfeer ’n kans te gee om weer normaal te word.”

      “So, dan hou die nooientjie nie van ’n gedrang nie! Wel, ek ook nie. Maar wat dan van jou een en twintigste verjaardagpartytjie volgende Saterdag? Sal dit dan nie ook ’n gedrang afgee nie?”

      “As jy maar net weet hoe teen my sin ek daardie partytjie gaan bywoon. Maar ek moet dit doen net om Oumatjie nie teleur te stel nie,” glimlag sy flou terwyl haar oë in die verte bly.

      Beslis oë waarin ’n mens baie drome verlore sien lê, soos Pieter hulle beskryf het, dink Chris en weer vra hy: “Het jy planne om vanaand uit te gaan?”

      “Wel, dit hang af of my vriendin nog daardie Afrikaanse rolprent wil gaan sien. Ek het haar reeds gister belowe dat ek haar vanaand sal …”

      “Jou vriend of vriendin?” val hy haar weer eens sag in die rede met ’n tikkie jaloesie in sy stem.

      “Ek het gesê my vriendín, dokter.”

      “Hoe sal jy weet of jou vriendin nog vanaand daardie rolprent wil gaan sien, Rista?”

      “Sy sal my later bel.”

      “Wel, ek hoop sy bel nie.”

      “Ek is bevrees jou hoop gaan verydel word, dokter. Sy sal my bel. Ons het gister so afgespreek.”

      “Sal jy dan môreaand tuis wees om vir ons ’n bietjie musiek te maak?”

      “Jy vergeet dat dit môre Sondag is, dokter, en dat ek môreaand kerk toe gaan.”

      “Nou wat van oormôreaand?”

      “Dan is dit kooroefening en moet ek weer die orrel speel.”

      “Maar sal daar ooit een aand wees wat jy sal tuis wees? Wat van Dinsdagaand?”

      “Ook nie, dan moet ek na mevrou Coetzee toe gaan. Ons wil ’n naaldwerkklas organiseer.”

      “En Woensdagaand?”

      “Wel, dan moet ek weer ’n debat bywoon.”

      “En Donderdagaand?”

      “Donderdagaand is daar weer ’n Jong Dames Dinamiek-vergadering.”

      “En Vrydagaand? Seker weer iets anders, nè?”

      “Ja, dan moet ek Oumatjie help met die voorbereidings vir Saterdagaand se doenigheid.”

      “Ek het so kon dink,” merk hy duidelik teleurgesteld op. Hy het so gehoop om haar vanaand al te hoor speel, aangesien Pieter hom vertel het van haar talentvolle klavier- en orrelspel.

      Dan hoor hy die telefoon in die ontvangskamer lui. Hy weet dat dit Rista se vriendin is wat bel.

      Na ’n oomblikkie maak sy moeder haar verskyning in die deur en ontbied Rista na die telefoon. Dan neem sy Rista se sitplek in en sê duidelik verheug: “Ag,