Fiela hoor nie. “Hy lyk eerder soos ’n skilder. Nou click ek: Dit was ’n skétsboek wat hy voor hom gehad het, nie ’n skryfblok nie.”
’n Skilder … Dis asof ’n vuishou Valdi tussen die oë tref. Die woord dien as ’n sneller om haar geheue te laat inskop en die skok laat adrenalien deur haar are pomp. Haar oë begin reg fokus en die ergste wollerigheid verdwyn uit haar brein. Haar mond raak droog terwyl sy weer na die gebukkende gestalte kyk.
Nou weet sy …
Ná nege jaar is hy ouer en die donkerbril maak boonop die helfte van sy gesig toe. Sy lyf is forser as destyds en sy hare heelwat langer, maar hoe op aarde kon sy die heuningkleur en sonstrepies vergeet het, daardie hoekige, hardkoppige kakebeen en die vorm van sy hande nie onmiddellik herken het nie? Dit alles het haar soveel wroeging, soveel trane en slapelose nagte besorg, dit behoort in haar geheue ingegraveer te wees.
2
“ ’n Skilder …” mymer Fiela. “Dis só romanties. Ek moet vir hom naak poseer en hom dan agterna –”
Sy kry nie kans om haar sin te voltooi nie.
“Fiela, hou op, dadelik! Bly stil!” roep Valdi uit en swaai haar hande wild heen en weer asof sy ’n perdeby verwilder. “Moenie ’n enkele woord verder sê nie!”
Haar niggie gaap haar verstom aan. “Genade, wat gaan met jou aan? Is dit daai stamp teen die kop?”
“Moet niks weer praat van kaal poseer en sulke goed nie!”
“Hoekom nie? Omdat jy ’n oppierak-kloosterkoek geword het?”
Valdi wil haar niggie verwurg. “Natuurlik nie!” antwoord sy hard en voeg met nadruk by: “Ek het volop kêrels. Hordes, met wie ek uitgaan en oor wie ek ernstig is. Ek moet net besluit vir watter een ek die liefste is.”
Fiela lyk skepties. Dis nie die indruk wat sy die laaste paar jaar gekry het nie. Hordes manne wat belangstel, ja, wat hul flikkers gooi en haar petite niggie se telefoon warm bel. Maar nie een wat ’n tweede afspraak oorleef en tot kêrelstatus vorder nie. Beslis nie een oor wie Valdi ernstige gevoelens het of wat sy as troumateriaal oorweeg nie.
Op hoërskool was daar in ’n stadium een. “Dié een,” het Valdi met sterre in haar oë aangekondig. Die een vir wie sy haar lewe lank gewag het, die kêrel van haar drome met wie sy eendag gaan trou. Toe het iets gebeur. Sleg skeefgeloop. Fiela weet nie wat dit was nie. Valdi was stil en terughoudend, asof in skok. Sy het maande lank soos ’n gees met rooigehuilde oë rondgedwaal, volgehou sy sal nooit weer iemand soos hy ontmoet nie, dis vir ewig verby tussen hulle. Hy is uit haar lewe uit. Dood en begrawe. Sy sal hom nooit vergewe nie en wil hom nooit weer sien nie.
Maar dit was jare gelede. Teen hierdie tyd het Valdi hom seker lankal vergeet, afgeskryf as skoolgeld …
Die droogheid in haar mond het nou na Valdi se keel versprei en dis asof dieselfde vuishou van netnou haar op die krop van die maag tref. Sy het haar nie misgis nie. Dit is hy … Hý, in lewende lywe, hier reg voor haar oë, groter en nog aantrekliker as die beeld wat sy soveel jare diep in haar binneste gedra het. Die speelse seunsagtigheid is weg en die rankerige agttienjarige lyf het verander, soliede massa bygekry, en ’n aura van volwasse viriliteit. Op vyftien het haar hart tjoklits gepomp wanneer hy naby kom. Maar sy het ook ouer geword, meer ervare en wêreldwys. Sy sal nie toelaat dat hy weer dieselfde uitwerking op haar het nie, dat sy soos ’n tiener op die wysie van ’n popliedjie dans as hy die kitaar slaan nie. Toelaat dat hy weer haar hart breek en oor haar loop nie.
Valdi kyk om na waar hul bagasie eenkant in ’n ry gepak is en hul weldoener besig is om ’n stapel lire uit sy broeksak te haal. Sy kan maar net hoop sy aandag was by die taxi-drywer sodat hy nie kon hoor wat Fiela alles kwytgeraak het nie. ’n Sexy agterstewe wat ’n trein op ’n grondpad sal laat afdraai … hom as ’n soewenier huis toe vat en saam met hom onder swart satynlakens inklim … Valdi sidder. Dis erg genoeg dat Fiela naak wil poseer – genadiglik het sy betyds gekeer voor haar orige niggie in detail kon uitwei oor wat sy alles agterna met hom wil aanvang. Valdi kruip sommer uit skaamte onder die tafel in, as hier maar ’n tafel was! Duard moenie dink hulle is steeds twee onervare bakvissies wat in sy skoot gaan val as hy net sy vingers klap nie.
“Hoekom moet ek skielik met stomheid geslaan wees?” herhaal Fiela. “Vir wat mag ek dit nie erken as die pragtige mansmens my revolusies in die rooi in jaag nie?”
Hierdie vakansie waarna Valdi so lank uitgesien het, is besig om in ’n ramp te ontaard. Plaas dat sy en Fiela sommer net Mauritius toe gegaan het. Of Margate, of Wildtuin toe. Dit sou soveel rustiger gewees het, met minder komplikasies.
Sy het geweet Duard is oorsee, al ’n paar jaar: eers by die Sorbonne in Parys, toe Italië, toe êrens op ’n eiland … Sy het gehoop daarná Siberië of Ysland – iewers ver vasgesneeu, van waar hy nooit weer sal terugkom nie. Hoekom – van alle plekke in die wye wêreld – is hy vervlaks hiér? Juis nóú, dieselfde tyd as hulle, om van nuuts af met sy groot voete dwarsoor haar hart te loop en die stukkies in die modder plat te trap?
Tipies van Duard om alles in haar lewe te breek, te verongeluk en te versuur. En agterna fluit-fluit weg te stap – min gepla. Van haar te vergeet en ’n ander nooi aan te skaf. Dis wat haar toentertyd die meeste gegrief het – daardie ander nooi. Glo ook ’n kunsstudent gewees, volgens Valdi se ma. ’n Deeltydse model. Ouer, meer Duard se portuur … Asof sý nie goed genoeg was nie, of om te wys hy’s nie verleë nie, hy kan beter doen. Valdi hoop sy het netnou genoeg gepraat dat hy ook van háár hordes kêrels kennis geneem het, sodat hy nie dink sy sit op ’n hopie op die rak en stof vergader nie.
Valdi besef Fiela het haar ’n vraag gevra. Sy sluk aan die stuk sinkplaat in haar keel en haal diep asem. Dit help egter nie om haar te kalmeer nie. “Omdat hy kan verstaan wat jy sê,” antwoord sy.
Fiela se mond hang oop. “Huh?”
“Hy verstaan Afrikaans.”
“Hoe weet jy?”
“Want ek ken hom.” Haar stem raak bitter. “Ken hom ongelukkig goed. Té goed …”
Het hy haar ook herken? Sy lyk nog baie dieselfde as nege jaar gelede. Op vyftien was sy ’n pikkie met kort blonde krulhare. Op vier-en-twintig is sy steeds klein gebou, met bottergeel hare wat wild in alle rigtings oorvat as sy dit nie kortgeknip in toom hou nie. Ook haar wipneus het nie langer gegroei nie.
Al wat groter geword het, is haar oë en borste. Haar oë is nou eintlik te groot vir haar gesig. Sy het gehoop hulle word mettertyd blouer. Blouselblou, soos syne. Maar hulle het groenerig geword, soos die oë van die aaklige kat wat hul kleintydse bure se kuikens opgevreet het.
“Nee, dit lyk soos druiwe en avokado’s,” het Duard destyds getroos. “Sappige groenvye, Peppermint Crisp en cream soda. Als wat lekker is. So lekker, ek wil jou opeet, happie vir happie verorber …” Hy het haar op sy skoot getel en in haar nek gesoen. Toe na haar mond gesoek en haar oor saggies gebyt, hongerig gesoen om te demonstreer wat hy bedoel …
Duard het altyd geweet hoe om haar beter te laat voel. Selfs as sy ’n wiskundetoets gedop het of ’n tenniswedstryd verloor het. Sy arms om haar, ’n warm druk en ’n soen het meer gehelp as ure se swot aan meetkundestellings of om handrughoue te oefen teen ’n muur. Duard was perfek: lank en gespierd, slim en talentvol. En háár kêrel … Uit al die meisies in die skool het hy háár gekies. Sy was so gevlei, so verlief, sy sou vir hom in ’n kuil vol krokodille gespring het – énigiets gedoen het wat hy vra.
Tot daardie nagmerrie-aand, ná afloop van die matriekafskeid, toe hulle twaalfuur die nag gaan swem het en sy uitgevind het haar perfekte kêrel is ’n slapperd. ’n Ruggraatlose jellievis. Toe hy haar so gruwelik en onvergeeflik in die steek gelaat het, soos ’n lafaard die pad gevat het en al die blaam op haar gelê het, haar alleen gelos het in die ongure gemors wat hý veroorsaak het …
“Waar ken jy hom vandaan?” wil Fiela weet.
Valdi wíl hom nie ken nie. “Van skooltyd