Ettie Bierman

Sonnet sonder woorde


Скачать книгу

      

      Sonnet sonder woorde

      Ettie Bierman

      Satyn

      1

      Die see is rof en Valdi is nie ’n goeie matroos nie. Haar bene voel soos rubber en haar maag maak nare draaie in haar keel. Sy moet hom kort-kort afsluk en is baie dankbaar toe die veerboot ná ’n pynlike ewigheid in Capri se hawe vasmeer.

      Haar niggie Fiela het min simpatie met haar wankelrige toestand. “Dis sielkundig. Sommer pure verbeelding. As jy só aangaan, maak selfs badwater se deining jou sommer seesiek. Of die geklots as jy tee in ’n koppie skink.”

      ’n Storm in ’n teekoppie? Valdi vind dit glad nie grappig nie. Haar vingers klem om die reling terwyl sy wag dat die dokwerkers die ankertoue vasmaak. Toe die hek oopgaan, is sy voor in die ry en eerste af met die loopplank tot op die kaai. Met haar paar rubberplakkies stewig op vaste moederaarde, ’n landbries in haar gesig en ’n paar diep asemteue, bedaar haar maag en gaan lê in ’n rustiger bondeltjie.

      “As dit kamma ’n mens se verbeelding is, hoekom word babas dan ook seesiek?” wil sy by Fiela weet. “Hulle weet nie eens hulle is op ’n skip nie. Ek was as klein dogtertjie nog erger. Ek kon nie eens in ’n kar ry of net na ’n mallemeule kýk nie, dan was ek so naar dat ek wou doodgaan.”

      Valdi wil-wil weer bleek om die kiewe word by die gedagte en haar niggie verander haastig die onderwerp.

      “Los nou die mallemeules en kyk liewer na hierdie paradysmooi eiland waarvoor jy ’n jaar lank jou sente tien keer omgedraai het.”

      Valdi kyk om haar na die piazzas, die romantiese sypaadjiekafees, die keiklipstegies en massas karmosyn bougainvilleas; sy rek haar nek agteroor en verstom haar aan die steil kranse en rotswande teen die berg op. Dit lyk of die huisies soos vuurhoutjiedosies teen die berg vasgegom is. Noudat haar ingewande hulle beskaafd gedra, kan sy selfs die blink turkooisblou baai waardeer.

      Egipte was die eerste afklimplek op hul maand lange oorsese toer. Aanskoulik en indrukwekkend, met die piramides, sfinkse en tempels, maar in skrille kontras met die Mediterreense eiland hier voor haar. Daar was nie blomme nie, nie eens vetplante of onkruid nie. Net sand. Vaalwit, vaalbruin, vaalgeel woestynsand. Volop palmbome, veral in die Nyl-delta, maar selfs húlle lyk anders as Capri s’n – donkerder en digter, met trosse dadels.

      “Oehoe! En kyk die mánne! Genoeg om jou van alle kwale te genees,” roep Fiela uit. “Almal lyk soos Romeinse gladiators – vuurwarm, passievolle lovers. Check daai een daar oorkant by die taxi, met die heupe en die halfmas ooglede. Hy loer kort-kort ons kant toe. Wat ’n hunk! Ek hoop die man het bybedoelings …”

      “Hy’t te veel jel aan sy hare, hy lyk olierig,” keer Valdi yswater op haar niggie se wensdenkery om. “Die taxi is ouliker. Hy lyk soos ’n duinebesie, net opgedollie met daai seildakkie en fraiings. Gaan staan daar naby dat ek ’n foto kan neem.”

      Fiela laat haar nie twee maal nooi nie. Haar Gucci-sandale kies sommer vanself koers oor die stegie.

      Romeo het die twee vroulike toeriste van die veerboot sien afklim, hulle waarderend beskou en hoopvol ingewag. Eintlik die blonde enetjie met die atletiese bene en kortgeknipte hare meer punte gegee, maar toe die groter, wulpser rooikop na sy kant toe mik, is hy heel geneë om sy arm om haar lyf te sit en vir ’n foto te poseer.

      “Americano?” wil hy weet.

      “Nie Americano nie. Africano,” korrigeer Fiela.

      Die rand is nie so sterk soos die Amerikaanse dollar nie, maar geld is geld en Romeo glimlag sjarmant, soos die bokserhond in die Toyota-advertensie.

      “Hotel?” vra hy, met sy arm steeds stewig om Fiela se middel. “I take you to hotel?”

      Fiela ken sewe Italiaanse woorde wat sy uit haar fraseboekie gememoriseer het en gebruik die nuttigste een. “Si!” willig sy entoesiasties in. Hierdie gejelde hunk kan haar na ’n bordello of Bapsfontein toe vat, sy sal nie kla nie.

      Valdi is meer versigtig en skepties oor die oormaat sjarmante tande, maar niks kan seker gebeur in die entjie na ’n hotel toe nie. Fiela het in elk geval klaar ingeklim, voor langs die bestuurder. Valdi laai haar rugsak in en gaan sit op die agtersitplek, haar skouersak met haar paspoort, dokumente en reistjeks op haar skoot. Fiela en die Italianer kuier land en sand, al kan hulle mekaar geen snars verstaan nie. Maar Valdi wil waarde hê vir al daardie sente wat sy moes omdraai om dié vakansie te kon bekostig.

      Sy kyk met groot oë rond en neem foto’s van alles wat interessant, anders en mooi is: ’n knoetserige olyfboom wat lyk of dit uit Julius Caesar se tyd dateer, ’n kroeserige, oorlaaide donkie wat teen die steiltes uit beur, lemoenboorde onder in ’n vallei en ’n antieke akwaduk waaroor kanferfoelie en trompetvormige purperwinde in ’n bloupers waterval groei. Dis so mooi, sy stoot haar donkerbril op tot oor haar voorkop om die kleureprag ongetint te aanskou.

      Al die olyfbome op die eiland is blykbaar horingoud, knoetserig en kwasterig, besef Valdi toe sy ’n derde bykans identiese foto neem. En die arme donkies almal oorlaai met kratte vol druiwe en olywe. Of nie? Misgis sy haar? Of … is dit dieselfde boom? Sy draai dwars op die sitplek om om te kyk. Sy kan sweer dis ook die einste donkie van netnou, vergesel van dieselfde ou man met die swart breërandhoed.

      “Fiela?” Sy aarsel.

      Haar niggie is ook besig om foto’s te neem met haar selfoon. Nie van die uitsig oor die baai of die lemoenboorde nie, maar van die taxidrywer se profiel.

      “Filandi!” roep Valdi dringend. Haar malkopniggie luister beter as mens haar gewigtige doopnaam gebruik.

      “Wat?” vra Fiela afgetrokke, terwyl sy ’n beter hoek vir nog ’n foto soek, een wat nie die stywe kokketielkuif wys nie.

      “Kan jy die taxi se meterlesing sien? Hoeveel lire skuld ons al?”

      Fiela leun nader. “Duisende … Maar die lire is so min werd. Ek dink ’n koppie koffie kos omtrent vyfhonderd.”

      “Dis nie die punt nie! Die vent is besig om ons te kul. Hy ry ekstra draaie om die koste op te jaag. Sê hy moet stilhou!”

      “Ek kan nie.”

      “Hoekom nie?” Valdi vervies haar vir haar niggie, wat manmal is en altyd net een ding in haar kop het. “Net omdat hy stywe jeans dra?”

      “Dit ook, ja. Maar ek weet nie wat ‘stilhou’ in Italiaans is nie. Al wat ek kan sê, is ‘presto’! En dit beteken ‘vinniger’! Haai, dis seker waar die Presto-drukkoker se naam vandaan kom – omdat hy taai vleis so vinnig sag kook.”

      Die drywer weet nie van drukkokers nie en verstaan ook nie Afrikaans nie. Maar hy tel die woord “presto” op en sit voet in die hoek.

      “Go slow!” roep Valdi uit. “Stop! Halt!” Sy pluk haar miniwoordeboek uit en soek naarstiglik tussen die bladsye. “Fermata!”

      “No stop!” weier die man en wys na die weelderige gebou langs die pad. “Thees hotel no good. Costa plenty.”

      Valdi wys na die meterlesing. “This táxi no good! Costa plenty too. Stop!”

      “I take you to cheep hotel. Cheep-cheep!” Die duine-besie klink soos ’n grassnyer op die punt om ’n gasket te blaas toe hy brullend teen die bult op presto en Valdi se teëstribbelings uitdoof.

      Fiela kyk benoud om na Valdi, die slim een, die planmaker. “Hy rook ons! Wat nou? Ons kan nie uitspring nie, ons sal ons nekke breek.”

      “Wát? Die enjin raas reg hier onder my, ek kan niks hoor nie.”

      In antwoord trek Fiela haar wysvinger oor haar keel en klou vir lewe en dood aan haar sitplek.

      Ná die soveelste klipkerkie en kroespelsdonkie kom die taxi in ’n stofwolk tot stilstand voor ’n platdakgebou met twee sipresbome weerskante. Aan die voorkant is ’n wye stoep en ’n vet man met ’n vuil voorskoot.

      “My cousin,” kondig die taxidrywer aan. “Giorgio make special price for pretty signorinas.”

      “Cheep-cheep,” tjirp die vet een soos ’n kanarie en staan nader