Gevange!
Ton sukkel om asem te haal.
Iets druk teen sy gesig: dit is koud en slymerig, en dit ruik nie lekker nie.
Hy raak ook bewus van ’n pyn tussen sy skouerblaaie. Hy probeer beweeg, maar sy hande is styf agter sy rug vasgebind.
Langsamerhand raak sy gedagtes weer helder. Hy raak bewus daarvan dat die vloer onder sy linkeroor vibreer met die diep klank van ’n kragtige enjin. En ja, die wêreld beweeg stadig op en af, effens heen en weer.
“Ek is in ’n boot,” dink hy, “en styf vasgebind, met my gesig vasgedruk teen ’n dooie vis.”
’n Mens kan verstaan dat dit nie ’n gedagte is wat hom veel vreugde verskaf nie!
Die herinneringe aan die vorige aand sak stadig terug in sy seer kop. Daar was die man wat hom aangeval het in die Seerower se Baard, en net daarna het iets teen sy agterkop ontplof.
“Skarminkels!” brom hy teen die dooie vis. Hulle het hom van agter af bekruip. Maar wie is “hulle”? Onrus roer in hom: hy wil-wil hom verbeel dat hy die eerste aanvaller herken het net voor hy met die bottel gemoker is. Hy weet vir wie daardie vent werk, en dit laat hom nog meer ongemaklik voel.
Hy kyk rond in die donker en kom agter dat iemand gaaf genoeg was om ’n ou sak oor sy kop te gooi. Hy kan bykans niks sien nie. Woede stroom soos koue ys deur sy are. Wie weet hoe laat is dit al? Die kinders moet ontbyt kry! Professor Sabatina sukkel om te konsentreer sonder koffie, en sy is gewoonlik heeltemal te besig om eens daaraan te dink om vir haarself te maak.
Ton bekommer hom dikwels oor sy werkgewer. Sy neem haar werk heeltemal te ernstig op. Hy kan verstaan dat dit belangrik is om die aarde se klimaat dop te hou, maar mens moenie vergeet om so nou en dan die alledaagse sonskyn te geniet nie.
En op MonPetit-eiland skyn die son bykans elke dag!
Hy probeer sy hande loswikkel, maar dit is onmoontlik. Die toue sny net dieper om sy polse.
“Dink!” raas hy met homself.
Hy draai sy kop weg van die onwelriekende vis. Iets skerps vang die punt van sy linkeroor en haak dit geniepsig. Hy voel ’n druppel bloed afbiggel deur die stoppelbaard op sy wang.
Baie, baie versigtig verken hy die skerp voorwerp met die punt van sy tong.
Net soos hy gedink het!
Sy kussing is ’n yslike swaardvis, en die lang saagbek van die gedierte strek gevaarlik uit net onder sy linkerwang.
Versigtig rangskik Ton sy groot lyf tot sy arms teenaan die skerp swaardbek van die vis is. Dan begin hy sy hande versigtig op en af beweeg.
Hy het al baie dinge in sy lewe gedoen, en dit is nie die eerste keer dat hy ongewone metodes gebruik om uit moeilike situasies te ontsnap nie.
Maar hy het sowaar nog nooit tevore ’n vis se hulp nodig gehad nie!
’n Belangrike vergadering
Baie ver weg van waar Ton sukkel om homself te bevry – so ver weg dat dit omtrent heeltemal aan die ander kant van die aarde is – is Uranus Draak besig om ’n vergadering van baie belangrike mense toe te spreek.
Hulle sit om ’n reusagtige slanghout-konferensietafel. Die rooibruin blad het ’n fyn grein en is so blink gepoleer dat die natuurlike swart vlekke in die hout lyk soos skaduwees op ’n spieël. Die blad weerkaats die stadsprofiel van New York wat buite die dakhoogte vensters van die groot vertrek sigbaar is.
Die gesigte van die mense om die tafel reflekteer ook in die tafelblad. Dit is die direksie van GROEN: daardie internasionale agentskap wat wetenskaplikes en staatsmanne saamsnoer in ’n poging om ons planeet te bewaar. Elke persoon om hierdie konferensietafel is invloedryk op sy eie gebied: oseanografie, meteorologie, astrologie, hidrodinamika, molekulêre genetika, biochemie, astrofisika, die hele kaboedel. Almal lyk doodernstig en luister aandagtig na wat die beroemde wetenskaplike te sê het.
“… en julle kan dus self die gevolgtrekking maak, here en dame,” – hy maak ’n vae gebaar in die rigting van doktor Migdol, die enigste vrou teenwoordig – “dat die admiraal ’n probleem geword het. ’n Gevaarlike probleem! Ek vrees dat die huidige staat van sy molekules sy brein nadelig beïnvloed. Mens kan ook verstaan hoe moeilik dit vir hom moet wees om so permanent van sy familie af weg te wees, vasgehok in daardie ruimtestasie. Al hierdie emosionele faktore, tesame met die vreemde molekulêre toestand waarin hy hom bevind sedert sy ongeluk …”
Die skerp adamsappel in doktor Draak se seningrige keel ry soos ’n hysbak op en af. Hy knipper die lang rooi wimpers van sy ysbleek oë.
Hy bly ’n rukkie stil om die effek van sy klaarblyklik oorweldigende emosies eers by sy luisteraars te laat insink. Dit is welbekend dat Uranus Draak en Abraham Atoom van kindsbeen af vriende was. Dit sal hom nie help as hulle vermoed dat hy, Uranus Draak, sommer goedsmoeds aanbeveel dat hulle ’n besluit neem om vir eens en vir altyd van admiraal Atoom ontslae te raak nie.
Doktor Migdol is die enigste een wat twyfel aan hierdie stukkie toneelspel. Sy ken Uranus Draak te goed: sy weet dat hierdie man net aan een ding dink, en dit is die belangrikheid van sy eie werk.
Sy verstaan dit goed. Sy is self ’n vooraanstaande wetenskaplike en sy weet dat dit ’n roeping is wat alle fynere emosies gou kan verteer. Sy stryk die lapelle van haar streng grys pak reg en druk aan haar bolla om seker te maak dat haar vaal hare steeds stewig vasgevang is in die greep van sewe bruin haarnaalde. Haar uiloë beskou Uranus van agter haar horingraambrilletjie. Die raam se boonste buitehoeke is gepunt en draai na bo – dit gee aan haar die voorkoms van ’n geslepe kat.
Uranus sluk weer ’n paar keer. Dan gooi hy sy lang arms ter hemele in ’n dramatiese gebaar.
“Ons mag hom nie verwyt nie! Ek smeek julle om met deernis aan hom te dink, en hom te onthou as die man wat hy voorheen was. Daardie groot, bebaarde liefhebber van die see, wat sy lewe daaraan gewy het om ons oseane te beskerm. Daardie wonderlike wetenskaplike brein …” Hier hou doktor Draak weer ’n oomblik op praat en kyk slu na die gesigte om die tafel, “daardie goeie wetenskaplike brein waarop ek dikwels staatgemaak het vir hulp met die minder ingewikkelde en geniale aspekte van my werk …” Hy wag totdat hy ’n paar koppe instemmend sien knik. Hy ignoreer die stram blik van doktor Migdol. Dan gaan hy weer voort.
“Die admiraal is nou geestelik versteurd. Dit gebeur dalk makliker met briljante mense …” Uranus Draak se bleekblou vel verdonker in ’n blos van onwillekeurige skaamte. Iewers agter die man se woorde, in sy onderbewussyn dalk, iewers is daar nog ’n skerfie insig in sy eie gekheid wat hom nou diep laat bloos soos net rooikopmense kan.
Niemand let dit op nie. Soos gewoonlik betower die boheemse wetenskaplike sy gehoor. Sy woorde, sy reputasie, die bottelgroen fluweelbaadjie en die dun rooi baard wat van sy ken af druip in twee lang, dun vlegseltjies – die hele verpakking van die man is fassinerend en bedwelmend.
“Dit is alles die admiraal se skuld! Dit was hy!” bulder doktor Draak skielik en slaan met sy bleek hand dramaties op die slanghout.
Dan bring hy weer sy emosies onder beheer.
“Ons mag hom nie blameer nie. Ek smeek julle om hom genadig te wees en hom jammer te kry, soos ek, en om te verstaan dat hy dit nie kan help dat sy gedrag so onredelik geraak het nie. Ja, hy het sy sinne kwytgeraak! En dit is gevaarlik vir ons.”
Hy druk met sy palms op die blink tafelblad en leun vorentoe sodat sy bleekgroen kykers nader kan kom aan sy gehoor. Hy kyk hulle een vir een deur, en soos ’n Mexikaanse golf begin die koppe om die tafel een vir een te knik. Selfs doktor Migdol kan haarself nie keer om ook ’n stramme hoofbuiging te maak nie.
Uranus Draak