ICU het lankal ophou bestaan en koning Sobhuza het sy houvas op die chiefs verloor,” vertel Alfred hom. “Ek ken darem ook die geskiedenis, nie net jy nie.”
“Toe die Tweede Wêreldoorlog uitbreek, het die koning se lawyers die Governor General se toestemming gevra om sestien plase in die distrikte van Carolina, Ermelo en Piet Retief te koop, almal naby die grens van Swaziland,” sê Ngafane. “Daar was van die beste koninklike krale op dié grond, maar daar het niks van gekom nie.”
“Daardie grond is later by KaNgwane ingesluit.”
“Wat jy ook al sê of hulle dink of doen, ons sal veg tot ons al ons grond van die fokken settlers af teruggekry het. Ons sal sorg dat hulle onteien word. Annendale is ons s’n. Daar het bloed geloop. Ubabawethu – ons pa – is amper destyds afgegooi deur daardie wit man van Zimbabwe. Mugabe het hom uit Zimbabwe gegooi, toe wil hy ons kom afgooi van grond waar ons mense nog altyd gewoon het, oor hy ons pa van veediefstal verdink het. Hy, van alle mense, die inkommer en rassis, het nie die reg gehad om dit te doen nie. Sy mense was net amafikizolo – inkommers, settlers.”
Toe druk Ngafane met sy vinger op Alfred se seerplek.
“Jy werk nou onder die wit superintendent én sy is ’n vrou.”
Alfred bly maar liewer kalm. “Ja, almal dink sy is slim, want sy snuffel goed uit. Ek het al gedink sy is umThakathi – ’n heks. Maar sy behandel my darem met respek.”
“Jy hóú tog nie van haar nie?”
“Sy praat Swazi en sy werk saam met ons. Sy sit nie heeldag op haar gat en gee net orders nie. Ons het nie geweet sy praat Swazi nie, toe sê ek en Job Mahlangu vir mekaar ons sal maak of ons na haar luister, maar ons doen wat ons wil. Toe sê sy sy kla ons aan van regsverydeling. Jo! Mahlangu het hom amper natgemaak. Maar nou hou hy van haar.”
“Maar sy hou nie van jou nie, al praat sy reg met jou.”
“Nee, sy hou seker nie van my nie. Sy hou van Job Mahlangu, want hy laat haar lag. Sy gaan hom nog push. Ons stasiekommissaris, Jethro Mathebula, hou van haar. Hy en sy kom goed klaar; hy sê sy is nie ’n rassis soos baie ander wittes nie en hulle praat Swazi met mekaar.”
Ngafane snork net minagtend, asof hy dink almal is swak om van so ’n mens te hou. En om bereid te wees om onder ’n vrou te dien. Hy glo vroue moet hul plek ken. Hulle is daar om kos te kook en kinders te kry, nie mans se jobs te probeer doen nie. Hy dink hy’s so liberated, maar oor vroue is hy sowaar nie, dink Alfred.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.