sy versigtig moet wees om die ouers tydens hierdie klas nie onder die inligting te begrawe nie, skop Mila altyd met ’n ysbreker af. Elke paartjie moet ’n voorwerp uit ’n mandjie haal en dan raai watter voordeel van borsvoeding hul voorwerp simboliseer. ’n Monopoly-noot simboliseer byvoorbeeld die geld wat borsvoeding spaar, en ’n pakkie snesies die beskerming wat dit teen allergieë bied. Die groepe geniet hierdie aktiwiteit altyd. Teen hierdie tyd ken almal mekaar en heers daar ’n gemoedelike luim.
Dis so ’n prettige klas dat die tyd vlieg. Almal skater toe Mila die storie vertel van die eerste keer wat sy met haar nuwe baba gaan inkopies doen het:
“Soos elke nuwe mamma was ek doodbang dat my borste in die openbaar sou lek. Net om dubbel seker te maak, het ek sommer twee borsdoekies aan elke kant ingestop. Dit het gevoel of my ergste nagmerrie waar word toe ’n ou tannie in die supermark na my toe kom en sê: ‘Verskoon my, maar jou melk lek.’ Ek het gewens die aarde sluk my in toe ek sien dat daar sommer so ’n streep melk op die vloer lê.”
Simpatieke en geskokte uitroepe klink uit die gehoor voor Mila op. ’n Paar vroue snak na hul asems. Sy bly ’n oomblik stil vir dramatiese effek.
“Natuurlik het my hande onwillekeurig na my borste gevlieg. Die ou tannie het my vreemd aangekyk. Toe het sy my ma met die baba gesien en twee en twee bymekaargesit. ‘Nie daardie melk nie, skat,’ het sy gesê, ‘die tweeliter in jou trollie!’ ”
Toe Mila vir die groep ’n kort DVD wys, besef sy dat dit buite begin reën het. Sy weet ’n mens behoort dankbaar te wees oor reën, en sy ís bly oor die lafenis, maar sy haat dit om snags in nat weer rond te ry. Wilgeklowers is nie gewoond daaraan om op gladde paaie te bestuur nie en ry dikwels heeltemal te vinnig. Erger nog: Al haar en Melissa se wasgoed hang buite op die draad!
Halftien hardloop ’n kletsnat Mila die trappies voor haar meenthuis op. Natuurlik was haar sambreel nie op sy gewone plek in die motor nie, daarvoor het Melissatjie gesorg! Sy het dit seker weer vir die een of ander speletjie “nodig gehad”, die stouterd! Skuldig en halfverlangend wonder Mila of haar dogtertjie al slaap. Woensdagaande het hulle ’n vaste reëling dat Melissa by haar ouma oorslaap omdat Mila se klas so laat eers klaarmaak. Tydens geboortes kom pas Heleen die kleintjie sommer by Mila se huis op, veral as Melissa reeds slaap wanneer Mila uitgeroep word. Hoewel Mila haar woelwater vanaand mis, is dit tog lekker om ’n bietjie op haar eie asem te skep. Sy het voorwaar ’n uitputtende vier-en-twintig uur agter die rug, en sien uit na ’n bad en ’n gesteelde tydjie met haar storieboek voor slaaptyd.
Gelukkig het Mila nog nie haar nat klere begin afskil toe Derek die tweede keer daardie dag haar voordeurklokkie lui nie. Hierdie keer wéét sy sommer wie op so ’n ongoddelike uur by haar kom aanklop. Sy kan nie gló die man kan die saak nie net uitlos nie! Vat hy dan nie nee vir ’n antwoord nie? Nog voordat sy kan oopmaak, is Mila klaar die hoenders in.
Daar is egter geen teken van die lastige man toe die deur oopswaai nie. Trouens, daar is geen teken van enig- iemand nie. Onder die afdakkie voor haar deur staan ’n wasgoedmandjie met haar en Melissa se klere: kurkdroog en netjies opgevou! Sprakeloos skud sy haar kop. Vir wat moes Derek die goed nou gaan staan en afhaal het? Dit sou beslis nie die eerste keer wees dat die spulletjie nat-reën nie. Sy wil wragtig nie in die skuld by hom wees nie, veral nie ná hul woordewisseling nie. Sy bloos effens toe sy besef dat hy haar fyn ondergoedjies met daardie vat-aan-my hande van hom opgevou het.
Suur raap sy die mandjie op en storm binnetoe. Sy voel deurmekaar, skuldig en skaamkwaad. Natuurlik besef sy dat sy vanoggend sy vriendelike aanbod heeltemal uit verband uit geruk het. En om hom van pedofilie te beskuldig was werklikwaar gemeen. Maar deksels, sy verpes sulke aantreklike mans wat haar in ’n stamelende skaap verander! Sulke mans … soos Stefan. En Derek hét geïnsinueer dat haar kind ongelukkig is, iets wat géén ma graag wil hoor nie, veral nie uit die mond van ’n bemoeisieke vreemdeling nie. Al is die kuiltjie in daardie vreemdeling se ken ook hoe bekoorlik … Nou moet die vervlakste man haar wraggies nog meer soos ’n feeks laat voel met sy vredeoffer. Sy het hom nie opgesom as iemand wat graag die minste is nie. Buitendien, watter uitgegroeide man is so kinderagtig om toktokkie te speel soos ’n skoolkind! Pleks hy die mandjie self vir haar kom gee het. Dan kon sy ten minste sien of sy haar vanoggend verbeel het en of hy regtig so asemrowend is …
Vererg klik Mila haar tong vir haar eie stuitigheid. Sy keer die skoon wasgoed driftig op die eetkamertafel uit. Heel laaste val twee sjokolades en ’n nota in netjiese lopende skrif uit.
Mila
Die Sweetie Pie is vir Melissa en die Bar-One vir jou. Hoop jou “25-hour day” eindig rustiger as wat dit begin het! Jammer dat ons buurmanskap op ’n verkeerde noot afgeskop het. Kan ons voor begin?
Soet drome
Derek
3
Hoewel Woensdagaand se reënbui die wêreld afgekoel het, is die verligting van korte duur. Donderdagoggend breek die dag helder oor Wilgekloof en is die versengende vroegsomer met mening terug. Ten spyte van die hitte hou Mila haar voordeur styf toe om ’n ontmoeting met haar buurman te vermy. Tot haar verligting kry sy maar min van hom te siene, al gun sy haarself so nou en dan ’n skelm kykie deur haar kamervenster wanneer sy die voordeur langsaan hoor oopgaan. Sy wasgoedmandjie sit sy Donderdagoggend op sy voorstoep terug, eers toe sy doodseker is dat hy reeds gery het. Binne-in is ’n roomysbak vol anysbeskuit. Nie dat so ’n arrogante man sulke smullekker tuisgebakte beskuit verdien nie, brom sy onderlangs toe sy haar voordeur agter haar toetrek. Bloot net omdat haar ma haar geleer het dat ’n goeie buurvrou nooit ’n houer leeg terugstuur nie …
Natuurlik kan Mila se geluk nie vir ewig hou nie. Vrydagmiddag loop sy en Melissa Derek op die trappies raak. Hy is klaarblyklik op pad terug van die kompleks se swembad af. Die krul in sy nat hare is meer gedefinieer as gewoonlik en ’n handdoek is argeloos om sy breë skouers gedrapeer. Spytig merk Mila op dat sy gespierde boarms en bruingebrande bolyf net so verdomp perfek soos die res van hom is.
Sy beantwoord sy vriendelike groet koel en kalm, maar tot haar ergernis is Melissa skoon uit haar vel van vreugde om Derek te sien. Sy omhels hom soos ’n langverlore vriend en plak selfs ’n klapsoen op sy wang.
“Oe, oom Derek,” giggel sy, “jou baard kielie!”
Derek vryf die dogtertjie se hare deurmekaar en loer onderlangs half ongemaklik na Mila. Duidelik is hy bekommerd oor haar reaksie op Melissa se kinderlik-liefdevolle begroeting, en Mila voel van voor af soos ’n simpel heks.
“Het jy geswem, oom Derek?” vra Melissa met ’n stemmetjie wat behoorlik blink van bewondering.
“Ek het, meisiekind. Kan jy al swem?”
“Jaaa, tannie Lizette van die swemlesse het my geleer! Sy laat ons ’n sterretjie in die water maak én soos ’n padda skop.”
“Dis slim van jou!” prys Derek goedkeurend. Hy kyk na Mila. “As meer ouers so proaktief soos jy is, sal daar nie soveel onnodige tragedies in swembaddens afspeel nie.”
“Verseker,” stem Mila saam. “Tussen swemlesse en karstoeltjies kan soveel lewetjies gered word.”
“Wanneer kan ek en Ouma weer vir jou kom kuier?” vra Melissa pront, ongeduldig met die grootmense se katvoetpraatjies.
“Melissa,” keer Mila. “Die oom is besig. Hy het nie tyd om met dogtertjies te kuier nie.” Verleë kyk sy op, reguit in die blou kykers vas.
“Dit kan sekerlik nie skade doen as sy sáám met jou ma vir my kom kuier nie, Mila?” waag Derek versigtig.
Mila sluk. Sy kan aan geen manier dink om met haar waardigheid intak uit hierdie situasie te ontsnap nie. Stem sy in tot ’n oor-en-weer-gekuiery, erken sy dat Derek reg en sy verkeerd was, erken sy dat haar kind behoefte aan ’n manlike rolmodel het … Tog is dit duidelik dat Melissa versot op die man is, heeltemal betower deur sy sjarme. Soos dosyne ander vroue seker al deur hom betower is, dink Mila sinies.
Dis Melissa se pleitende ogies wat Mila se hart laat verkrummel.
“Nou goed dan. Jy en