Bambi en die boef
Anita du Preez
Satyn
1
Bambi is nog nie eens behoorlik by die hek in nie, toe weet sy dat sy ’n oordeelsfout gemaak het. Sy oorweeg dit ernstig om in haar spore om te draai. Hier gaan sy nie vandag alleen regkom nie.
Wat sy nodig het, is ’n man. Nie noodwendig ’n spesiale tipe man nie. Enige man sou die ding kon doen. Solank hy homself net min of meer soos ’n klerehanger kan gedra. Die probleem is, hier is geen enkele losloperman in sig nie.
Sy was nog nooit tevore by die J&B Met nie, sy het vanoggend soort van per ongeluk hier beland, en dit is baie duidelik dat elke vrou iemand het om aan te hang. Blykbaar bloot om haar uitrusting mooi af te wys, as Bambi die spulletjie so kyk. De laaste halfkaal bimbo wat hier op die gemanikuurde gras rondpronk, is besig om presies dít te doen.
Daar is omtrent vir jou ’n spul spektakels op stilettos hier te sien, dink Bambi terwyl sy onderlangs rondloer. G’n wonder hulle het iets nodig om te keer dat hulle omval nie.
Sy trek vinnig haar maag in, pluk haar skouers agteroor en voel of haar blonde hare nog die toets slaag. Die goed dreig alewig om in alle windrigtings te kurktrekker totdat sy lyk asof sy met ’n venynige eierklitser deurmekaar geraak het, maar vandag het die haarkapper hulle getem met allerhande haarstrykysters en goeters. Vandag swaai daar ’n sygladde blonde gordyn onder haar breërandhoed uit, al teen haar rug af. Vandag wou sy darem op haar beste lyk. Dit is op slot van sake nie aldag dat ’n mens die geleentheid kry om lekker op te tof vir ’n geleentheid soos dié nie.
Nee kyk, hier ís pragtige, opreggeteelde langbeenresiesperde, dink Bambi, maar aan tweebeenmerries is hier definitief ook geen tekort nie. En hulle is hier vir ’n aparte wedren van hul eie, soos dit vir haar lyk. Die een probeer harder as die ander om haar metgesel oor die gladde gras te sleep tot vlak voor die joernaliste se kameras verby – kamstig per toeval.
Sy sal nooit daal tot sulke truuks nie, dink sy selfvoldaan terwyl sy met “ekskuus tog, ekskuus tog,” by almal verbyskuur. Hoewel sy moet erken dat sy beslis ook nie hier is vir die perde nie. Om die waarheid te sê, as dit nie vir Margaret en Harold se maagaandoening was nie, sou sy seker nooit by ’n perderesies van enige aard uitgekom het nie. Dis nie asof sy al ooit ’n vreeslike ding vir perdewedrenne gehad het nie.
Nee, sy is hier vir die vet eerste prys vir die besgeklede paartjie – ’n vakansie vir twee na Mauritius. Maar sy doen dit darem om ’n baie edele, onbaatsugtige rede, troos sy haarself. Sy is hier om die prys namens haar siek vriendin in te palm. Dis tog iets heel anders as om vir eie gewin hier rond te pronk, of hoe? Siestog, die arme Margaret en Harold het oorgehaal gesit vir die geleentheid toe hul planne op die nippertjie in die wiele gery is deur ’n maagvirus of ’n ding. En Margaret het só mooi gevra dat sy wat Bambi is in haar plek moet kom. Hoe kon sy weier?
Die probleem lê by die vervlakste “paartjie”-storie. Dit is nie asof Bambi nie geweet het dat die wenners in pare moes wees nie. Sy is darem nie heeltemal onnosel nie. Dit is hoekom sy gister dinge met Bertus gereël het. Bertus was die gerieflikste keuse, want sy het geweet hy woon in elk geval elke jaar die Met by, sy het net nog nooit saamgekom nie. En toe gaan staan en drop hy haar op die laaste oomblik. Bid jou aan!
En dit nadat hy so in sy skik was oor die idee dat sy uiteindelik wou saamkom. Die vermetelheid. Is hy dan nie veronderstel om mal te wees oor haar nie? Is sy nie veronderstel om op hom te kan staatmaak nie? En is hulle nie op ’n nieamptelike manier al jare lank soort van saam nie? Nee, so iets gebeur eenvoudig nie met Bambi le Roux nie. Veral nie aan die hand van iemand soos ou Bertus nie. Maar nou ja, hy het kamstig ’n geldige rede. ’n Familiedrama of iets.
Tot Bambi se grootste ergernis was nie een van haar alternatiewe manne beskikbaar nie. Dit is al rede hoekom sy toe maar op haar eie gekom het. Sy het gedink sy sal sommer hier rondkyk vir ’n tydelike man om aan te klou. Dit sou nie te moeilik wees nie. Nie vir iemand soos sy nie. Maar sy het nie verwag dat almal, elke enkele mens, hier netjies opgepaar sou wees soos iets uit die ark nie. Hier is nie eens ’n halwe ekstra man te siene nie. Kon sy tog nie maar vandag gelukkig gewees het nie? Sy wil hom tog net vir ’n rukkie gebruik, as bykomstigheid. Soos ’n handsak wat jy op sig neem en terugvat as jy dit nie wil hou nie.
Bambi sug. Daar’s net een genade: Sy sal haar sjarme volstoom moet oopdraai. Sy kan tog nie druipstert huis toe gaan en vir haar vriende gaan sê sy het niks gewen nie! Nie met hierdie manjifieke rok van Margaret aan haar lyf nie. Sy sal haar moet roer, want daar word reeds oor die luidsprekers gespekuleer oor watter paartjie die prys gaan verower. Eerstens moet sy eenvoudig ’n man naderhark, en dan sal sy haarself en genoemde man onder die beoordelaars se aandag moet kry sonder om haar naam krater te maak.
Boonop sal die skepsel se klere darem haar gewaad moet komplementeer. Die beste sal wees as sy iemand vind in ’n min of meer neutrale pak, besluit sy. Anders sal dinge lol met haar flambojante chiffon-skepping in elke denkbare skakering van lila tot dieppurper. Margaret het absoluut aangedring sy moet dit dra. En dan’s daar nog die breë donkergeel satyndrapeersel om die middel. Om van die yslike goudgeel verehoed en die goue spykerhaksandale nie eens te praat nie. Margaret doen ’n ding nie half nie. Sy is nie verniet hoofontwerpster vir ’n string eksklusiewe klerewinkels nie. Maar ai, kon sy maar self haar skepping kom dra het!
“Ag, gaan jy, Bambi. Ons kan nie die kaartjie mors nie,” het Margaret gister bleek-bleek geneul, so tussendeur haar en Harold se onderskeie besoeke aan die badkamer. “Kry een van jou bewonderaars om jou te vat, toe? Dan wen julle gou-gou die prys, maar dan gaan ek en jy Mauritius toe. Oukei? Dis after all my idee, en mý kaartjie.”
“Nee man, Margaret, jy weet mos ek hou nie van sulke goed nie,” het Bambi gekeer. “Bertus hou elke jaar aan, maar jy kry my nie dood by so ’n ding nie.”
“Ag assegroteblief, my allerliefste beste vriendin,” het Margaret aangeneul.
“Spaar jou asem, Margaret! Ek sit my voet nie by so ’n simpel besigheid nie, en nogal in een van jóú outfits. Kan jy my miskien sien in so ’n drapeersel? En sedige Bertus in ’n pers knickerbocker of ’n ding?” Bambi het gehoor hoe Harold met ’n swakkerige hoonlaggie hierop reageer uit die badkamer.
Margaret wou egter om die dood nie laat los nie. “Jy weet ek sou dieselfde vir jou gedoen het, Bambi. En ek wil soooooo bitter graag Mauritius toe gaan.”
“Dit, my liewe Margaret, is wat hulle noem emosionele afpersing, en dit werk nie met my nie, oukei?” Bambi het na haar motorsleutels begin soek. Margaret het haar met leepogies aangestaar.
“Ai Margaret, ek het werk om te doen. Rondpronk in een van jou fensie skeppings is nou rêrig nie hoog op my lysie van goeters wat ek wil doen voor ek die emmer skop nie. Ek het nie tyd vir speletjies nie. Jy weet mos die kollege begin weer Dinsdag, en ek weet nie van Harold nie, maar ék moet nog al die semesterprogramme vir my lesings opstel en –”
“Maak my kas oop,” het Margaret floutjies dog beslis haar troefkaart gespeel vanaf haar bed. “Die heel regterkantste hanger. Pas aan.”
Die koeël was deur die kerk, of in hierdie geval, deur die hangkas. Toe Bambi die delikate materiaal soos motvlerke oor haar lyf voel afgly, toe dit elke kurwe knus omhels, het sy geweet sy’s vas. Harold kon lag soveel soos hy wou; die rok het haar soos ’n handskoen gepas, al was dit baie kaler en korter as enigiets wat sy normaalweg sou dra.
En nou staan sy hier Margaret se hoed en vashou, en die einste rok waai sag teen haar bene terwyl haar oë hul oor die skare haas op soek na iets in ’n beige pak wat min of meer as ’n man kan deurgaan.
So ’n iemand staan voor teen die afskorting met sy rug na haar en kyk deur ’n verkyker. Hy lyk heel aanskoulik. Sy ligkleurige baadjie span oor sy breë rug. Belangriker nog, hy lyk beskikbaar. Bambi is op die punt om nader te stap toe die man omdraai. Sy kop is skynbaar direk in sy skouers ingeskroef en sy gesig is van die pienk baie-drink-soort. Om alles te kroon het hy niks onder die baadjie aan nie! Deur die gleuf loer sy borskas, bedek met ’n blonde haarvag – veel weliger as die donsies op sy kop. Tussen die borshare bengel goue kettings oor sy bierpensie tot amper by sy natgeswete naeltjie. Bambi draai blitsig weg. Nee vaderland,