het sy daarvan gehou dat ou Bertus maar altyd beskikbaar was. Hy is glad nie te versmaai nie. Daar is baie wat sal sê hy is ’n vangs. Hoewel sy persoonlik dit moeilik vind om romanties te voel teenoor iemand wat in ander se monde rondgrawe vir ’n lewe, word ambisieuse jong losloper-ortodontiste met suksesvolle praktyke nie agter elke bos uitgeskop nie.
Maar daar het sy dit nou. Met James en die vervlakste Derrick ook nou uit die prentjie, toon haar sosiale lewe eensklaps sterk ooreenkomste met ’n broodkorsie wat lank agter die yskas gelê het. Miskien moet sy net gaan slaap, soos wat meneer Potensiële Skobbejak Vlieg-in-die-salf van Breda vroeër voorgestel het. Dinge lyk gewoonlik beter in die oggend.
Bambi ruk soos sy skrik toe haar foon haar wakker lui. Sy was weer in dieselfde onverklaarbare droom besig met die geheimsinnige, onweerstaanbare man wat nes die Van Breda-vent lyk. Die wekker wys kwart oor tien.
“Slaap jy dan al?” vra Margaret.
“Nie meer nie, dankie.”
“Ag jammer, vriendin, slaap maar weer. Baai.”
“Nee, praat, ek is nou wakker.”
“Ek het hom gegoogle.”
“Vir wie?”
“Die mán. Louis van Breda.”
“Het jy niks beters om met jouself aan te vang nie, Margaret? Waar’s Harold?”
“Hy is verskriklik ryk en belangrik!”
“Wie? Harold?!”
“I wish!” lag Margaret stuitig. “Louis van Breda, dommie. Hy besit maatskappye by dosyne en hy dien op hordes rade en het stringe grade en goed.”
“O ja, en?”
“Wat bedoel jy, ‘o ja, en’? Die man is briljant. Hy het by Harvard studeer. I kid you not!”
“En jy dog dit is genoeg rede om my wakker te bel?”
“Wel ek dog jy –”
“Nag, Margaret,” sê Bambi, “anderdag kan jy my als vertel van sy hordes en stringe, oukei? Nou wil ek slaap.”
Bambi hoor hoe Margaret luidkeels by Harold kla oor pêrels voor swyne in die oomblikke voordat sy die selfoon dooddruk. Haar laaste gedagte voordat sy weer insluimer, is dat sy nog nooit tevore patattjips uit die hand van ’n Harvard-genie met moontlike plaaslike mafiakonneksies geëet het nie. Dit amuseer haar so dat sy met ’n verspotte glimlag aan die slaap raak.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.