sy en matrone Filander alleen is.
“Jammer, matrone, die klomp het my hier in ’n hoek gehad.”
“Hoe was jou eerste oggend terug in teater?”
“Onder die omstandighede, goed. Ek kon my oë nie glo toe ek die vernuwings sien nie. Dis alles wonderlik.”
Matrone lag opgewek. “Dokter De Beer het ons arme teaters net een kyk gegee en toe seker besluit – hiér werk hy nie. Die raad het hom eenparig bygestaan en siedaar … ons het vandag moderne teaters.”
Engela dink terug aan die twee operasies wat hy die oggend gedoen het, so blitsig vinnig. “Wel, hy ís ’n briljante chirurg.”
“Ek verneem so, ja! Die dorpenaars het baie vinnig vertroue in hom gekry. Dit bring my by my storie. ’n Dame het gebel, baie deurmekaar. Blykbaar het iemand op ’n mes geval … hulle bring hom in. Sal jy seblief gaan help in ongevalle.”
“Ek gaan dadelik. Het hulle gesê hoe ernstig dit is en wanneer hulle hier sal wees?”
“Nee, geen idee nie. Die vroutjie was waarskynlik te geskok.”
Dis drie bebloede mense wat vyf minute later by ongevalle se deur instrompel. Engela neem dadelik die erg geskokte seuntjie by die huilende vrou, haar eie skrik versteek agter ’n gerusstellende glimlag. Dis die kind wat die meswond het. Sy kan maar net stilweg bid dat die ouers nie met die vervoer van die seun nog meer skade aangerig het nie.
“Wie is julle huisdokter, mevrou?” vra sy rustig terwyl sy die kind op die ondersoekbed neerlê en die liggroen steriele verpakking oopskeur. Dis duidelik dat die outjie sukkel met sy asemhaling, daarom koppel sy hom dadelik aan die respirator. Die grysblou kleur van sy gesiggie toon dat daar longskade kan wees. Hy haal baie vlak en vinnig asem en verloor kort-kort sy bewussyn.
“Ons was nog laas by ou dokter De Beer. Nog voordat hy oorlede is. Julle moet hom help! Hy is ons enigste kind. Asseblief, suster, kry tog net ’n dokter.”
Engela gee opdrag dat albei ouers ’n kalmeermiddel gegee word, en vra hulle dan om bietjie eenkant toe te staan sodat die verpleegpersoneel hul werk behoorlik kan doen.
Toe Linda Visagie net toe die saal binnekom, stuur Engela haar om dokter De Beer te kontak. “Vra vir dokter Kotzé en Mulder om te kom assisteer. Laat weet vir mevrou Gouws by X-strale dat ons op pad is en vra dat matrone hulp stuur.”
Met geoefende hande het Engela die bloeding gestop en die outjie gestabiliseer, en sy vee nou sagkens die haartjies van sy voorkop weg terwyl hulle wag vir die dokters.
“Wat is sy naam, mevrou?”
“Dries! Hy is al wat ons ooit sal hê, suster.” Die ma begin opnuut huil.
“Ek belowe dat ons alles in ons vermoë gaan doen om hom veilig te hou, mevrou. Dokter De Beer is ’n wonderlike chirurg en ek weet hy sal alles doen vir klein Dries. Wat het dan gebeur?”
Al vraend kry sy die nodige inligting en toe mevrou Gouws laat weet dat sy gereed is by X-strale, maak sy dadelik die bed se rem los.
“Ek neem hom gou vir X-strale, mevrou. Sal u saamstap of liewer hier wag?”
Dit is weereens die arme Linda wat moet verduidelik.
“Wat sê jy, verpleegster, waar’s my pasiënt?”
“Suster Matthee wou nie verdere tyd verspil nie, dokter. Die mes sit nog in die outjie se bors en dit lyk nie goed nie.”
“Hoe durf sy? Hoe kan sy sommer net … hoe kan sy reëlings tref nog voordat ek die pasiënt gesien het?”
Linda bewe so groot soos wat sy is. So kwaad het sy dokter De Beer nog nooit gesien nie.
“Ek sal haar …” Die res van sy sin bly in die lug hang toe hy met lang treë die gang af stap.
Engela gewaar hom op pad terug van X-strale af. Haar gesig helder op van verligting.
“Dankie tog, dokter is hier. Dinge lyk nie goed nie. Ek is bevrees dat dokter dadelik sal moet opereer. Die lem het sy linkerlong net-net getref en daar is interne bloeding. Hulle stuur die X-strale direk teater toe. Ek het solank bloed getrek, ek glo die outjie sal bloed nodig hê, sy hemoglobien is baie laag. Dokter Kotzé en dokter Mulder is …” Sy hap in die lug toe sy eindelik besef hoe die man voor haar se gesig lyk.
Hy is woedend. Sy neusvleuels tril liggies en daar is ’n spiertjie onder sy oog wat liggies spring.
“Wie het jou gevra om namens my besluite te neem?” Hy spoeg die woorde uit. “Wie de hel dink jy ís jy? As jy ’n dokter wou word, hoekom het jy dan nie vir een gaan leer nie. Ek –”
Engela voel hoe die bloed in haar gesig opstoot, hoe skok en skaamte gelyktydig oor haar neersak. “Maar ek –”
“Nee, laat ons twee mekaar mooi verstaan, suster Matthee. In hierdie hospitaal en veral met my pasiënte gee ék die opdragte en neem ék die besluite. Ek sal my nie deur jou laat voorskryf nie. Die gebruik is, as jy dit nog nie weet nie, dat ’n dokter eers ’n pasiënt ondersoek alvorens daar besluite geneem word. Of het jy dalk ander opleiding as die res van ons gehad?” Sy oë is koud, sy hande gebal.
Dit voel asof sy stem tot in haar diepste wese sny en dit verg al haar wilskrag om staande te bly voor hom. Hy sien hoe sy vir ’n oomblik inmekaarkrimp en dit vul hom met bitter lekkerkry.
“Ek waarsku jou: As jy ooit, maar ooit weer reëlings tref aangaande my pasiënt sonder my opdrag, sal ek nie vir my dade verantwoordelik wees nie.”
Vir ’n oomblik sak haar blik voor syne, oorweeg sy dit om net daar om te draai en weg te stap, maar terselfdertyd besef sy dat daar belangriker dinge as haar ego is wat nou voorkeur moet geniet. Sy kyk hom weer waterpas in die oë.
“As u nie omgee nie, dokter, hier is ’n pasiëntjie wat dokter se hulp nodig het. As dokter dit nodig ag, kan dokter my later verder uitvreet, maar nou moet ons asseblief eers aan die pasiënt aandag gee.”
Vir ’n oomblik is dit stil tussen hulle en toe Gerhard eindelik wel sy oë oor sy pasiënt laat gaan, is dit met skok. Die bruin kykers swiep vir ’n oomblik op na die bloues en dan tree die dokter in Gerhard na vore.
“Kom!”
Hoe gelukkig kan ’n mens soms wees. Dat ’n mes jou bykans kan deurboor en tog kom jy so lig daarvan af. Dit is wat Gerhard aan die twee wagtende ouers verduidelik.
“Baie dankie, dokter! Ons is so bitter dankbaar vir wat julle vandag vir ons gedoen het.” Die pa skud Gerhard se hand en vee met sy linkerhand die trane van sy wange.
Engela sluit stil by hulle aan en neem die ma se hand in hare.
“Vir jou ook, suster. Baie dankie! Kan ons hom nou sien?”
“Suster kan julle gou neem. Ons gaan hom vir eers onder verdowing hou, maar u is welkom om vir ’n rukkie te bly.”
Engela luister verbaas na die sagte stemtoon waarin Gerhard die ouers aanspreek. Sy knik en stap dan voor hulle uit na die hoësorgafdeling waar klein Dries vir ’n paar dae sal bly.
In haar hart is sy dankbaar dat ’n dokter van Gerhard se kaliber hom hier kom vestig het. Hy was vandag absoluut briljant. Was dit ses maande gelede, sou hulle klein Dries per ambulans of helikopter oorgeplaas het na een van die groter hospitale in Kaapstad.
Hoe sy egter so vinnig aan die man se verkeerde kant beland het, slaan haar totaal dronk.
Die Sondagoggend raak sy vroeg wakker en besluit om na die kerk se oggenddiens te gaan. Daar aangekom, ná die eerste kort gebed, herken sy die profiel skuins voor haar. Vir ’n oomblik verstil haar hande waar sy besig was om haar Bybel en gesangeboek in die rakkie van die bank voor haar te skuif. ’n Ligte rilling gaan deur haar.
Vir die eerste keer kry sy die geleentheid om hierdie nuwe dokter van hulle van naderby te bestudeer, sonder sy deurdringende blik op haar. Die wit jas het vanoggend plek gemaak vir ’n netjiese hemp en das, en sowaar …