Adam Small

Ko lat ons sing


Скачать книгу

      

      Titelblad

      Kô lat ons sing

      ’N KEUR UIT DIE GEDIGTE VAN

      Adam Small

      Saamgestel deur Steward van Wyk

      KWELA BOEKE

      Opdrag

      Vir Rosalie

      die kinders en kleinkinders

      Voorwoord

      Voorwoord

      Hierdie keur uit die gedigte van Adam Small gee ’n beeld van sy onmiskenbare rol in die verruiming van die Afrikaanse letterkunde. Die meerderheid van die gedigte kom uit die bundels Kitaar my kruis en Sê Sjibbolet. Dit toon Small se meelewende kyk in die lotgevalle van die bruin Kaapse werkersklasmense en hul stryd teen rasse-diskriminasie en verontregting onder apartheid. Dit registreer die hartseer van gedwonge verskuiwing onder die Groepsgebiedewet, die vernedering onder die Wet op Aparte Geriewe en die aanslag op die mees persoonlike verhoudings onder die Ontugwet. Hierin resoneer ook sy boodskap van hoop dat sy mense soos die Israeliete uit slawerny bevry sal word. Die keur toon dan ook Small se vernuftige omdigting van die Bybelse gegewe: vanaf die profete en volke in die Ou Testament tot die wederkoms van Christus in die treffende “Second Coming i” en “Second Coming ii”.

      Sy knap beheersing van humor, ironie en satire om gesagsfigure te hekel word in die keur uitgebeeld: soos onder meer die godsdiensleiers se grootheidswaan en verwatering van Christelike waardes en die politieke leiers se immorele en opportunistiese gedrag. Deurgaans skaar die spreker hom aan die kant van die “eenvoudiges wat dink en ook mag praat”, die ware “poets, djulle wat innie straat in loep ennie gladde bek verkoep”, groentesmouse en arbeiders.

      Die gedigte toon Small se kreatiewe ontginning van alledaagse spraakvorme, rympies, liedjies, orale uitdrukkings en veral sy aan-wending van Kaaps waaroor hy in ’n woord vooraf by die heruitgawe van Kitaar my kruis in 1973 gesê het: “Kaaps [is] nie wat sekere Engelse mense Capey . . . noem nie, en ook nie wat sekere Afrikaanse mense Gamat-taal noem nie. Kaaps is ’n taal . . . ’n taal . . . [waarin mense] hul eerste skreeu in die lewe skreeu . . . en hul doodsroggel roggel.”

      Enkele gedigte uit sy ander bundels is opgeneem. Die gedigte uit sy vroeër bundels gee ’n beeld van Small se empatie met sy mede-burgers, die Afrikaners, sy versoeningsgees en die hoë premie wat hy plaas op die liefde en mensliewendheid. Die laaste gedigte in die keur toon die neerslag van die Swart Bewussyn-beweging in sy werk.

      PROFESSOR STEWARD VAN WYK

      Departement Afrikaans en Nederlands

      Universiteit van Wes-Kaapland

      Mei 2011

I Verse van die liefde (1957)

      Opdrag

      Vir my ouers

      Motto

      “En nou bly geloof, hoop, liefde – hierdie drie;

      maar die grootste hiervan is die liefde.”

      (Paulus – 1 Korinthiërs 13:13)

      Aan ’n wysgeer

      Jy het my hart teen hulle van die haat ontdaan

      en al hul bitter strewes het in ons vergaan.

      Geen drif laai meer in my en ek het geen verwyt –

      ons lewe is ’n nag met sterre, stil en wyd.

      Jy is dit wat die engtes uit my lewe skyf,

      ’n rif waarop my denke altyd groter ope dryf.

      O, dís ons troos: God laat in elke tyd

      nóg jare oor wat enkeles tot besinning slyt!

      Sal niemand?

      Moet dan my hoop in yltes blas

      beweeg op ’n verwelkte as?

      Moet ek ook tot ’n dier verbot

      in hierdie neweling van God?

      Vir ewig in die streep in kom

      wat blind loop tussen saad en blom?

      *

      Dié winter keer my in my kamer

      ontnugterend en eensamer . . .

      Sal niemand dan soos ek erken

      dat liefde tóg die stryd kan wen?

      Ismael!

      Ismael, Ismael, God sal jou wilde bors

      laat kwyn in die woestynland tot nog groter dors

      wyl jy terwyl jy swerwe Hagar vloek

      of Abraham. God skrywe in sy boek

      en ons moet hoër as verbittering gaan, my kind, my kind;

      ons moet ons dade elkeen net met liefde bind!

      As ek nie was . . .

      As ek nie was soos waters van die dood

      kon jy jouself nooit oor my werp soos brood;

      en as ’n dooie middeljaar my nooit moes aai,

      kon jy ook nooit soos blare om my waai!

      Soos God in die begin moes vind dat Hy

      sy lig net uit die donker om Hom heen kon kry,

      so keer jy jou nou na my duisternis

      omdat jou lig daarin verborge is!

      Wie?

      Wie het ons lewens uitgemerk in bane

      en toegeskrywe aan geluk of trane?

      Onsself?

      Of is dit so dat God ons paaie vooruit

      gemaak het met ons eie willoosheid?

      Geloof, Hoop, Liefde

      Die Liefde is die wind wat hierdie brik

      laat koershou teen ’n stroom van skrik

      en Hoop is die kraaines waar ons pal

      uittuur om die vreemdes in te val

      om daar die harde grond te kloof

      met die Daad – ploegskaar van ons Geloof!

      II Klein simbool (1958)

      Prosaverse

      Opdrag

      Vir Julia

      1. Ek sit hier half doelloos

      1.

      Ek sit hier half doelloos in ’n park. Die lente is besig om by die bome uit te kom. Die lug skuif in wye halwe kringe blou rond op die punte van kerktorinkies, skoorsteentjies en takke duiwe. God sit op die gras met die boomstamme teen sy rug, maar ek kan Hom nie sien nie.

      Ek wonder wat ek hier maak. Ek kyk weer na die blomme en hulle reuk en na die geboue en die klanke tussen hulle mure, en na die onsigbare God hier, en skielik dink ek: ek weet wat ek hier doen. Ek is besig om bakstene en blou lug, torings en takke en alles wat ek kan sien, en God, in woorde te probeer vertaal.

      Ek gaan nou na my kamer toe terug. Op pad, weet ek, sal ek alreeds twyfel: miskien was ek tog besig om iets anders te doen – om my woorde te probeer vertaal in bakstene en blou lug, torings en takke en God.

      2. In die begin het dit niemand opgeval nie

      2.