nie, alhoewel it moontlik is dat die beeld reeds toe al in die park gestaan het vir almal om te sien.
Op ’n dag, egter, het iemand uit pure leedvermaak aan ’n koerant geskryf: Is daar of is daar nie ’n beeld in die park nie? As daar een is, waarom neem niemand daarvan notisie nie? En as daar nie een is nie, vanwaar my illusie dat daar wel een is?
Iemand anders, wyser, het geantwoord: Laat ons versigtig wees.
Die kreet van die eerste skrywer is egter opgeneem, sodat dit nie lank was voordat die beeld stewig in die park gestaan het nie, of liewer voordat almal vas geglo het dat dit van die vroegste begin af daar was en dat hulle nooit aan die feit getwyfel het nie.
Toe die kinders met verbaasde uitroepe voor die nuwigheid kom staan het: Haai! Wat is dit? Waar kom dit vandaan? het die grootmense hulle meerderwaardig betig: Onoplettende kinders!
Die beeld het ’n groot skaduwee gegooi. Dít veral was besonder aangenaam.
In die pouses tussen hulle werkure het die mense gestroom om in die skaduwee te kom. Waarom het ons ons so lank deur die son laat verbrand? Waarom het ons nie vroeër hier kom sit nie, het hulle, tussen die genot van die koelte deur, gewonder.
En as die fluite geblaas het, wat die teken vir hulle was om weer in te val, het hulle traag uit die koelte gekom. Selfs van die drumpels van hulle werksplekke af het hulle teruggekyk na die skaduwee rondom die beeld.
*
Toe het hulle een oggend opgestaan en die katastrofe in die park gesien. Dit het gelyk asof die beeld langs sy voetstuk lê soos ’n gevelde boom.
Die boodskap het rondgegaan: Ons beeld is geskend. God! Die skade moet herstel word voordat die son opkom.
Toe het hulle die groot man in die park gewaar. Hulle het verstom teruggedeins voor die swyende gestalte.
Met kloppende harte vol wrewel en vrees het hulle om sy bene gestaan.
Die son het opgekom en stadig begin styg.
Hulle het begin fluister: Dis hy wat dit gedoen het.
Uiteindelik het ’n paar met meer vermetelheid as die ander die swyende figuur probeer storm. ’n Groot lawaai het losgebars soos almal waansinnig gevolg het. Selfs die kinders het om sy bene begin maal soos op ’n nuwe mallemeule.
Geeneen van hulle het gesien hoe hy buk en die beeld optel nie. Hy het die afgod hoog bokant hulle koppe opgelig, te hoog vir hulle om te sien wat gebeur, selfs al sou hulle opkyk. Toe laat hy dit oor hulle los . . .
12. Die dwaas sê in sy hart
12.
Die dwaas sê in sy hart daar is geen God. En ook: Ek ken myself. En dat dít goed is en dát kwaad. Hy trek alle dinge in sirkels vas en praat van: Ek, die goeie, die kwade, vryheid, reg en menslike waarde. En soms het hy die vermetelheid om te praat van: God.
20. Al sou hierdie land myne wees
20.
Al sou hierdie land myne wees, en al sy rykdom, maar die liefde ontbreek my, dan is hierdie land myne net met sy armoede.
Al sou hierdie land myne wees, en al sy godsdiens, maar die liefde ontbreek my, dan is hierdie land myne sonder God.
En al sou ek hierdie land myne maak deur toegewydheid, maar die liefde ontbreek my, dan is hierdie land myne deur my tevergeefse dade.
Liefde is nie haat nie en haat word nie deur woorde liefde nie.Want die liefde bedek alles behalwe die liefde en die haat.
*
Toe ek ’n kind was het ek gehaat soos ’n kind, maar noudat ek ’n man is het ek lief soos ’n kind.
As daar nou swart en bruin en wit bly, is die grootste hiervan vir my die liefde.
Opdrag
Vir Jannie
wat alreeds lag:
Laat dié vermoë vir jou
’n skild word teen
die bitterheid.
Motto
Die muur sal val.
Sing tot die laaste dag!
Kô, lat ons sing
Vrinne
lat ons die Bybel oepeslaan
en lat ons daaryt lies –
o Allahoegste Gies
lat hierie woorde na onse harte gaan! –
yt die twiere boek van Mosas
yt die Exoras
yt die viere hoefstuk die ee’ste en die twiere verse –
o God
maak vi’ ons lig moet hierie woorde soes moet kerse! –
toe antwoord Mosas en hy sê: ma’ wat
as hulle my nie glo, nie aan my woorde vat
as hulle sê die Here het nie ga-appear aan my?
ma’ die Here sê vi’ hom: djy sal djou mense lei
wat’s in djou hand?
en Mosas sê: ’n staf
nou vrinne
dit was al wat hy gahad het
hierie man van God
’n staf
’n dooie stok
en boenop het hy nog gahakkel ok
ma’ die Here het toe lank moet hom gapraat
oor hoe hy moet daai kierie doodgaslaat
het die Egiptanaar
en Mosas het sy groote kop lat hang
en toe
toe skielak was daai selfde kierie in sy hand ’n slang!
nou vrinne
die Here het gabring
aan my sy wonnerwerke oek so
hy het gavra wat’s in my hand
en vrinne
in my hand was my kitaar
kô, lat ons sing
Broadway
Y-town
bie-town
bie-town
sie-town
sie-town
die-town
hie’ kom ons
hie’ kom ons
hie’ kom ons aan
die Hiemelpad is nou
ma’ dis vir djou, nie vir my
ons pad se naam is Broadway
swaar kry
swaar kry
die wind van voor kry
en boenop hotagter kry?
vagiet dit
vagiet dit
vagiet daarvan
die Hiemelpad is nou
ma’ dis vir djou, nie vir my
ons pad se naam is Broadway
ons bly tien die hange
tien dieselfde hange
tien