weer Spreuke 3:27–28 en 21:13. Wat is jou houding teenoor diegene in nood? Moet jy altyd uitreik en help of is daar sekere situasies waar dit meer skade as goed kan berokken as jy aanhoudend help?
2 Lees Spreuke 3:5–6 en 21–26. Kan jy dink aan ’n insident waarin jy weet dat God jou met bonatuurlike wysheid gelei het? Lees ook Spreuke 3:15–20. Wat is die waarde van wysheid in jou lewe?
3 In Spreuke 3:7–8 praat die Spreukeskrywer van ’n geneesmiddel vir ons liggaam. Wat is dit?
4 In Spreuke 3:9–10 word ons aangemoedig om aan God sy gedeelte van ons inkomste te gee. Hoekom is dit vir Hom ’n belangrike beginsel?
5 Lees weer Spreuke 3:11–14. Wat is die waarde van teregwysing van God af?
6 In Spreuke 3:33–35 lees ons dat God se vloek op die huis van die goddelose rus en dat Hy die spot dryf met hoogmoedige spotters. Wat is egter die belofte aan diegene wat Hom dien en nederig van hart is?
7 Watter teksverse het vir jou in Hoofstuk 3 uitgestaan? Hoekom?
4 Beskerm jou hart
Spreuke 4
1Kinders, neem die opvoeding wat ’n vader julle gee, ter harte; slaan daarop ag, sodat julle kan leer wat insig is, 2want wat ek julle leer, is goed; moenie die onderrig wat ek gee, versmaai nie. 3Ek was ook eenkeer ’n kind, my moeder se oogappel, haar enigste. 4My vader het my toe ook geleer en vir my gesê: “Wat ek jou sê, moet jy vashou, my voorskrifte moet jy uitvoer, sodat jy werklik kan lewe. 5Sorg dat jy wysheid bekom, en insig! Moenie my woorde vergeet en daarvan afwyk nie; 6maak die wysheid jou metgesel, dit sal jou beskerm; as jy dit liefhet, sal dit jou veilig bewaar. 7Die wysheid kom eerste. Sorg dat jy wysheid bekom, gee alles wat jy het, om insig te kry! 8Slaan dit hoog aan, dan sal dit aan jou aansien gee. Dit sal jou ’n man van betekenis maak as jy dit vasgryp. 9Dit sal jou lewe versier, dit sal vir jou ’n sierlike kroon wees.” 10Luister, my seun, en aanvaar wat ek jou sê; dit sal jou lewensjare baie maak. 11Ek sal jou leer wat die pad van die wysheid is en jou die regte koers laat loop. 12As jy loop, sal daar niks in jou pad wees nie, en as jy hardloop, sal jy nie struikel nie. 13Hou vas aan wat ek jou leer, moet dit nie laat los nie; bly daarby, want dit is jou lewe. 14Moenie agter die goddeloses aanloop nie, vermy die pad van slegte mense. 15Los dit, moenie daarop loop nie, draai weg, vermy die slegte mense; 16hulle kan nie slaap as hulle nie kwaad gedoen het nie; hulle lê wakker as hulle nie iemand se ondergang bewerk het nie. 17Misdaad is hulle kos, geweld hulle drank. 18Die pad van die regverdiges is soos helder oggendlig wat groei en sterker word tot dit heeltemal dag is; 19die pad van die goddeloses is soos die donker: hulle weet nie waaroor hulle sal struikel nie. 20My seun, hoor wat ek vir jou sê, luister goed na my woorde! 21Moet dit nie vergeet nie, hou dit altyd in gedagte, 22want dit beteken lewe vir dié wat daarna luister, ’n volle lewe vir hom wat dit besit. 23Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe. 24Weerhou jou van leuens, moenie mense mislei nie. 25Hou jou oë op die pad vorentoe, kyk reg voor jou uit. 26Baken jou koers af, dan sal jy seker wees van elke tree. 27Moenie links of regs wegdraai nie, weerhou jou van die verkeerde koers.
Dink vir ’n oomblik na oor waaroor jy die meeste dink. Is dit positiewe, opbouende gedagtes? Of betrap jy jouself dat jy onder in die donker, depressiewe hoek boer?
Ek hoor onlangs die storie van ’n inbreker wat in ’n agterplaas deur twee groot waghonde verjaag is. In sy paniek het hy oor die muur geduik en reguit in ’n turksvybos beland. Nadat die polisie die man in hegtenis geneem het, moes hulle eers ’n draai by die dokter maak om die dorings een vir een uit sy lyf te laat trek voordat hy opgesluit kon word.
Ek wil ons gedagtewêreld (veral wanneer ons deur ’n moeilike tyd gaan) met daardie inbreker se lyf vol turksvydorings vergelyk. Wanneer die lewenstorms ons tref, is dit kompleet asof ons in ’n turksvybos beland omdat ons gedagtewêreld deur pyn en negatiewe of depressiewe gedagtes oorheers word. Dit is normaal.
Net soos die dorings uit daardie inbreker se lyf getrek moes word om te verhinder dat dit sweer, moet jy ook die dorings in jou gedagtes identifiseer en uittrek om sodoende te verhoed dat dit ontsteek. Doen jy dit nie, bestaan die gevaar dat dit gaan ontsteek.
In Spreuke 4:23 waarsku Salomo: “Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe.” Salomo het verstaan dat dit waaraan ’n mens die meeste dink, die rigting van jou lewe begin bepaal.
Hier is drie stappe wat jy kan volg om van die “dorings” in jou lewe en gedagtewêreld ontslae te raak:
Stap 1: Identifiseer die dorings
Is daar spesifieke negatiewe gedagtes wat oor en oor deur jou gedagtes maal? As jy onlangs jou werk verloor het, sal ’n tipiese voorbeeld van negatiewe gedagtes iets wees soos: “Ek gaan nooit weer werk kry nie” of: “Ek sal nie my rekeninge kan betaal nie.” As ’n verlowing verbreek is of jy deur ’n egskeiding gaan: “Ek gaan alleen oud word” of: “Ek gaan nooit weer ’n kans op geluk kry nie.” Hierdie gedagtes kom nie van God af nie. Gaan terug na sy Woord en vind beloftes wat van toepassing is op jou situasie – en mediteer daaroor.
Stap 2: Trek die dorings uit en ontsmet die wonde
Wanneer negatiewe gedagtes by jou opkom, moet jy hulle vasvat en met God se beloftes vervang. Byvoorbeeld: As jy voel asof jou huwelik op die rotse is of jy nooit jou verhouding met jou kind sal kan herstel nie, herinner jouself aan die beloftes in Romeine 8:28: “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.” Of in Jeremia 29:11: “Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ’n toekoms gee, ’n verwagting!” Ontsmet die wonde met God se beloftes.
Stap 3: Plak ’n pleister op die wond
Met die wete dat die doring verwyder is en die wond ontsmet is, kan jy rustig terugsit wanneer ’n pleister daaroor geplak is omdat dit onder die pleister genees. Net so, as jy ’n situasie met God bespreek het en jy dit “ontsmet” het, kan jy ook terugsit met die wete dat God in beheer is om jou hart te genees – selfs al voel jy nog soms hartseer. Kies om Hom te loof en te prys te midde van jou storm, met die wete dat Hy die deurbraak in jou lewe kan en wil bewerkstellig.
Is daar “dorings” in jou lewe? Vat hulle vas, trek hulle uit, ontsmet die wond en plak ’n pleister bo-op. Stel God eerste, bó jou seer en negatiewe gedagtes. Jy sal verbaas wees oor hoe Hy, ons Geneser, dinge in jou lewe ten goede sal laat meewerk.
Gebed
Vader God, baie dankie dat ek elke vrees in my hart na U kan bring. Lei my ook om daagliks my gedagtes te vernuwe en in ooreenstemming met u Woord te bring. Ek bid dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
Besprekingsvrae
1 In Spreuke 4:23 en 27:19 word ons gewaarsku om ons harte te beskerm. Hoekom is dit so belangrik? En hoe doen jy dit?
2 Lees Spreuke 4:4–12. Dawid, wat as ’n man na God se hart beskryf word, het sy seun Salomo van jongs af geleer om wysheid na te streef. Watter voordele hou dit in om met wysheid te leef?
3 In Spreuke 4:13–19 word ons gewaarsku om van sonde en goddelose mense weg te bly. Hoekom? Wat is die uiteinde van regverdige en goddelose mense onderskeidelik?
4 In Spreuke 4:24 word ons aangemoedig om weg te bly van leuens. Watter effek het dit op ons lewens? Is ’n witleuentjie ’n leuen?
5 In Spreuke 4:26–27 lees ons: “Baken jou koers af, dan sal jy seker wees van elke tree. Moenie links of regs wegdraai nie.” Wat is moontlike hindernisse wat jou van die regte pad af kan weglok? Hoe lei die wysheid ons verby die hindernisse op ons pad?
6 Watter teksverse het vir jou in Hoofstuk 4 uitgestaan? Hoekom?
5 Soek jy na wysheid?
Spreuke 5
1My seun, slaan ag op die wysheid wat ek jou leer, luister na my goeie raad. 2Dan sal jy self ook met oorleg kan optree en met die nodige kennis praat. 3Die slegte vrou se lippe drup van die heuning, haar tong is gladder as