van hulle getuienis” (Op 12:11). Ook vir ons is daar krag in die bloed in die hewige stryd teen die sielevyand. Die krag van die bloed verwys na geloof in die soendood van Christus.
Die hoedanigheid van Christus as die Lam van God wat sy lewe vir sondaars afgelê het, is die grondslag vir al sy ampte. Omdat Hy die losprys betaal het, kan Hy as Hoëpriester, Middelaar en Herder optree, die Hoof van sy vrygekoopte gemeente wees en as Koning oor sy erfdeel regeer. Hy kan die Regter oor sy diensknegte wees, en uiteindelik ook oor almal wat nie sy versoeningswerk wou aanvaar nie.
Dit is juis die Lam, wat in die boek Openbaring 26 keer deur hierdie naam bekend gestel word, wat in die verdrukking die wêreld weens hul rebellie teen Hom sal oordeel. Die konings sal saam met hul onderdane na die berge vlug, in spelonke wegkruip en in hul benoudheid na die rotse en die berge uitroep: “Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit en vir die toorn van die Lam; want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?” (Op 6:16–17).
Aan die ander kant sal daar diegene wees wat aan die Lam gehoorsaam was en in dankbaarheid teenoor Hom sal uitroep: “… U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie, en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers” (Op 5:9–10). Is die evangelie wat jy bely werklik die bloedevangelie van die Lam, of bou jy dalk wat jou saligheid betref op valse fondamente? Maak baie seker dat jy nie jou hoop op een van die volgende drie valse evangelies stel nie, want dan sal die Regter jou weeg en te lig bevind:
1 Sakramentsevangelie. Dit het betrekking op mense wat op die doop vertrou vir redding en op die Nagmaal vir voortgesette reiniging, sonder dat hulle ’n persoonlike ontmoeting met die Here Jesus gehad en ’n oorgawe aan Hom gemaak het. Hulle wandel nie met die Here nie omdat hulle nog net by die kerk uitgekom het, maar nog nie by die Here Jesus nie.
2 Morele evangelie. Dit is die beskouing dat ’n mens op grond van jou goeie lewe gered word. Kerkbesoek verseker voortgesette moralisering om jou te help om op die regte pad te bly. Jy word geleer dat jy jou nie te buite moet gaan nie, en as jy ’n “matige sondaar” is, hoef jy nie te twyfel aan jou redding nie. Die Bybel leer egter dat daar buite Christus nie een mens is wat regverdig is nie, selfs al dink hy of sy so (vgl Ef 2:12–13; 1 Joh 5:12).
3 Werke-evangelie. Die geloof in werkeheiligheid word nie alleen in die Rooms-Katolieke Kerk gehuldig nie, maar ook in vervalle Protestantse Kerke. Lidmate meen hulle kan hul saligheid koop deur groot bydraes aan die kerk te gee en vir die Here te werk. Saligheid kan egter nie deur werke verdien word nie (Ef 2:8–9). Persone wat rééds deur die geloof gered is, werk uit dankbaarheid vir die Here. Hulle weet dat hulle ’n lewende God dien en dat geloof lewendig moet wees en na ’n lewe van toewyding aan die Here móét lei (Ef 2:10). ’n Geloof sonder werke is ’n dooie geloof (Jak 2:14–17), maar so ook is werke sonder geloof nutteloos. Jesus Christus is die fondament van bekering en deur ons werke van toewyding bou ons onder die leiding van die Heilige Gees daarop voort (vgl 1 Kor 3:11–13; Matt 3:8).
Dit is tot eer van die Lam van God as ons aan Hom erkenning gee vir die vergifnis van sondes, en ook ná ons redding die voortgesette reiniging deur sy bloed ervaar.
Profeet
’n Profeet is ’n bekendmaker of aankondiger van die wil en plan van God met die mens, met ander woorde ’n prediker. Dít was Jesus Christus by uitnemendheid. Van sy bekendste preke is die bergpredikasie, die gelykenisse en die profetiese rede. Baie van die waarhede oor God se heilsplan is tydens genesings verkondig, by ete-afsprake, in onderrig aan sy dissipels, en ook in antwoord op vrae wat mense aan Hom gestel het.
Jesus het groot waarhede oor God se raadsplan bekend gemaak, iets wat nog nooit tevore deur profete gedoen is nie. Hy het gesê: “Ek sal my mond open deur gelykenisse; Ek sal uitspreek dinge wat verborge was van die grondlegging van die wêreld af” (Matt 13:35).
’n Ou-Testamentiese reël vir profete was dat hulle nét woorde uit God se mond aan die volk moes verkondig. Hulle mag niks weggelaat of bygevoeg het nie; daarom is Bybelse profesieë 100 persent akkuraat en is valse profete gestenig: “Die profeet wat so vermetel is om ’n woord in my Naam te spreek wat Ek hom nie beveel het om te spreek nie, of wat in die naam van ander gode spreek, dié profeet moet sterwe” (Deut 18:20).
Jesus Christus het in sy hoedanigheid as profeet nét woorde uitgespreek wat van die Vader kom: “Ek het nie uit Myself gespreek nie; maar die Vader wat My gestuur het, Hy het My ’n gebod gegee wat Ek moet sê en wat Ek moet spreek. En Ek weet dat sy gebod die ewige lewe is. Wat Ek dan spreek – net soos die Vader vir My gesê het, so spreek Ek” (Joh. 12:49–50; vgl Joh. 17:8).
Hoëpriester
In die Ou Testament moes die hoëpriester benewens al sy ander funksies een maal per jaar op die Groot Versoendag die Allerheiligste betree om ’n bloedoffer vir die sondes van die volk te bring. Dit was verbode vir ander mense om agter die voorhangsel tot by die verbondsark in te gaan.
Jesus Christus is die Hoëpriester van die Nuwe Testament (Heb 8:1–2). Om hierdie amp te kon beklee moes Hy eers mens word en ook versoek word soos mense, sodat Hy met ons medelye kon hê: “Daarom moes Hy in alle opsigte aan sy broeders gelyk word, sodat Hy ’n barmhartige en getroue hoëpriester kon wees … om die sondes van die volk te versoen. Want deurdat Hy self onder versoeking gely het, kan Hy dié help wat versoek word. … Want ons het nie ’n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde. Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word” (Heb 2:17–18; 4:15–16).
Jesus het nie ’n Levitiese priesterskap beklee nie omdat die Leviete sterflik was, mekaar opgevolg het, self sondig was en eers vir hul eie sondes versoening moes doen en dán vir dié van die volk. Jesus het ’n ewige en volmaakte priesterskap:
Die Here het gesweer en dit sal Hom nie berou nie: U is priester vir ewig volgens die orde van Melgisédek – in sover het Jesus van ’n beter verbond borg geword. En hulle het wel priesters geword in ’n groot aantal, omdat hulle deur die dood verhinder is om aan te bly; maar Hy, omdat Hy vir ewig bly, besit ’n priesterskap wat nie op ander oorgaan nie. Daarom kan Hy ook volkome red die wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree. Want so ’n hoëpriester was vir ons gepas, een wat heilig, onskuldig, onbesmet, afgeskeie van die sondaars is, en wat hoër as die hemele geword het; wat nie elke dag nodig het, soos die hoëpriesters, om eers vir sy eie sondes offers te bring en dan vir dié van die volk nie. Want dit het Hy net een maal gedoen toe Hy Homself geoffer het.
– Hebreërs 7:21–27
Ken jy hierdie getroue Hoëpriester wat medelye met jou swakhede het en altyd sal leef om by God vir jou in te tree? Besef jy jou verantwoordelikheid om in sy voetspore te volg, heilig en afgesonderd te leef en vir ander by die genadetroon in te tree? Tree jy deur die bloed van Jesus toe tot die nuwe en lewende weg wat Hy deur die geskeurde voorhangsel tot by die genadetroon ingewy het? (Heb 10:19–20.) Is jy ’n gereelde besoeker aan die genadetroon?
Ons is tot ’n koninklike priesterdom geroep om die deugde te verkondig van Hom wat ons uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig (1 Pet 2:9). ’n Priester moet namens God met die volk praat (preek) en ook namens die volk met God praat (bid). ’n Priester moet heilig leef omdat God heilig is, en nougeset teen sonde waak. Indien hy tóg sondig, weet hy waar om genade te vind: “My kinders, ek skryf hierdie dinge aan julle, dat julle nie moet sondig nie; en as iemand gesondig het, ons het ’n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus die Regverdige. En Hy is ’n versoening vir ons sondes” (1 Joh 2:1–2).
Middelaar
Jesus Christus tree op as Middelaar tussen die mensdom en God die Vader. Hy is vir hierdie amp gesalf omdat net Hy, op grond van sy kruisdood, verlore mense met God kan versoen. Vergeleke met die Ou-Testamentiese hoëpriesters wat as tussengangers tussen die volk en God opgetree het, het Christus “ ’n voortrefliker bediening verkry vir sover Hy ook Middelaar is van ’n beter verbond wat op beter beloftes wettelik gegrond is” (Heb 8:6).
Die offers