gesien?”
“Ja, ek was baie bevoorreg om saam met ’n groep ander rabbi’s uitgenooi te word om dit van binne te besigtig. Dis werklik ongelooflik mooi. Teen die stuk gedeeltelik gerestoureerde muur is die geweldige Ark van die verbond, waar die Tora-rolle gehou word,” verduidelik hy ter wille van Henok, “Twee verdiepings hoog …”
“Twee verdiepings!”
“Die rabbi knik. “Dis die wêreld se grootste ark het ons daar gehoor. Albei kante en ook die kopstuk is van kransvormige houtwerk, oorgetrek met goud. Die Bimah, waar die Tora gelees word, is in die middel van die vertrek, volgens dieselfde patroon as die ark met ’n chuppah van goud.”
“Ek verstaan daar is ’n muurskildery van Jerusalem, Betlehem, Tiberias en Hevron in elke hoek,” vra Ofer.
“So is dit. Die grootste een omraam die westelike ingang – ’n voorstelling van Tehilim 137 vers 1: ‘By die riviere van Babel, daar het ons gesit, en ons trane het gevloei as ons aan Sion dink.’ Al is die Hurvah herbou, bly ons verlang na die Heilige Tempel.”
“Selfs ons burgemeester, Nir Birkat, het vanmôre uit Jesaja aangehaal: ‘My huis sal genoem word ’n huis van gebed vir al die nasies.’”
“Tot die politici gryp nou die Tanach aan,” skud Re’uven sy kop.
“Wié ook al wát aangryp,” sê die rabbi, “en ten spyte van die politieke spanning, die dreigemente en die geweldige sekuriteit, bly dit ’n profetiese gesig hier voor ons. Die Joodse volk kon nie afgeskrik word om wat hulle glo, uit te leef nie.”
Daar gaan meteens ’n geweldige gejuig op. Oral dans mense, gebede en lofliedere kan gehoor word. Dit blyk te wees ter wille van die optog wat van die Kotel af aankom met die nuwe Tora-rolle en die mezuzot wat op die ingange geplaas gaan word. Dis of die mense se vreugde geen perke ken nie. Van waar hulle staan, kan hulle die hoofrabyn Yoseph Metzger die Hurvah sien binnegaan.
“Die laaste letter van die gemagtigde Tora-rol sal nou amptelik geskryf word en met groot liefde en respek in die pragtige ark geplaas word. Mag die Ewige van Israel, baruch Hu, almal wat daar sal aanbid, seën en die Hurvah behoed en bewaar van nog ’n vernietiging.” Rabbi Chaim se oë is wasig en hy hou sy vrou se arm styf vas.
Marc kyk op na waar sy seuntjies se gesiggies byna teen die ruit van die venster bokant hulle gedruk is. Agter hulle is Rivkah sigbaar. Hy lig sy hand in ’n groet en sy glimlag verleë.
Twee dae later stap Marc met die seuns van die Kotel af oor die plein. Moshe sit in die flou sonnetjie sy koerant en lees by die stoepkafeetjie oorkant sy winkel. Marc gaan by hom sit terwyl Yhoshi saam met maatjies wat daar rond speel trag om ’n vlieër in die lug te kry. Natan vermaak hom met ’n geduldige hond wat uit een van die stegies aangeloop gekom het.
Uit die aard van die saak gaan die gesprek oor die wyding van die Hurvah vroeër in die week.
“Ek sien die PA noem dit provokasie,” sê Marc.
“Ja, en die wêreldmedia rapporteer die Palestynse verklaring pligsgetrou met geen vermelding van die feit dat die werklike provokasie miskien in die eerste plek die verwoesting van die sinagoge was nie.”
Marc skud sy kop. “Waarom sou mens nou so iets verwag?”
“Ja, waarom sou mens. Maar weet jy Maandagaand laat toe ek uiteindelik wou huis se kant toe staan, loop ek my vas in ’n vyf en sewentigjarige bewoner van die Ou Stad, wat nes ek probeer om deur die menigte heen by sy motor uit te kom. Toe ons so saam stap, merk ek sy oë is vol trane. Ek noem toe wat ’n ongelooflike dag ons beleef het. En hy antwoord dat hy nog onthou hoe sy pa hom as vyfjarige elke Shabbat Ou Stad toe gebring het. Hy onthou hoe hulle dan vir die mincha na die Hurvah-sinagoge gekom het.”
“Werklik!”
“Ja. Hy’t onthou hoe hy teen die waterfontein opgeklim het waar die kohanim altyd hulle hande gewas het. Dan het hy die groot bekers met die twee ore geneem en die koel water daaruit gedrink. Omdat die bekers so groot was, kan hy onthou, moes hy sy kop agteroor buig om die laaste bietjie water te drink. As hy dan so opgekyk het, kon hy die pragtige Hurvah-dom sien en hy onthou hoe die duiwe daar omheen gevlieg het. Hy sê hy het toe regtig geglo dat die sinagoge vir altyd daar sou wees. Maar hy was verkeerd, want in 1948 is dit vernietig. Hy het die trane uit sy oë gevee en gesê: ‘Maar kyk nou, hier is ons in Jerusalem en die Hurvah is herbou en net so ongelooflik mooi soos ek dit onthou. Wie sou nou kon dink so iets is moontlik?’”
“Nou, ek is nog maar ag jaar hier en ek moet sê ek het ook nie gedink dit sal ooit gebeur nie.”
Hulle sit albei ’n rukkie in stilte en kyk na die majestueuse sinagoge, sag gebaai in die flou laatmiddagson en luister na die kinders wat die plein vol speel se skril stemmetjies. Op die banke onder die iepe sit oral vergrysde bejaardes rustig en gesels. Baie van hulle met kieries wat langs die banke staan, selfs ’n paar in rystoele.
“Sien jy ook profesie voor jou oë waar word?”
“Wat?” vra Marc wat vir ’n paar oomblikke in gedagte versonke geraak het.
Moshe swiep wyd met sy arms oor Hurvah-plein. Is dit nie wat Sagaria voorspel het nie?”
“Kan nie nou onthou nie …”
“In Sagaria 8 verseker die ou profeet mos dat HaShem na Sion sal terugkom. Hy sê: ‘So sê Adonai die Almagtige: Daar sal weer bejaarde mans en vrouens, ryp in jare, op die pleine van Jerusalem sit, elkeen met ’n kierie in die hand. Die pleine van die stad sal vol seuns en dogters wees wat daar speel.’”
“Ek sien dit,” sê Marc sag.
“En ek hoop jy onthou ook nog wat daarna geskrywe staan?
Marc skud sy kop. “My kop is ’n sif.”
Moshe kyk hom stip aan asof hy bewus raak dat Marc in pyn is en hy praat sagter: “Marc, Sagaria het verder vir die volk gesê: ‘So sê Adonai die Almagtige: As dit vir die oorblyfsel van hierdie volk vandag onmoontlik lyk, moet dit dan ook vir My onmoontlik lyk?’ Vergeet dit nie!”
“Ek is geneig om dit te doen.”
“Die heropbou van die Hurvah was ’n wonder. Dink jy die oorblyfsel van die volk het ooit geglo dat so iets moontlik is?”
Marc skud sy kop. “Ek in elk geval nie.”
“Maar daar was dié week nog ’n tweede wonder …”
“’n Tweede?”
“Sewe en ’n half jaar gelede is Nava Appelbaum en haar pa, Dr Appelbaum, die aand voor haar troue in die selfmoordbomaanval by Café Hillel in Jaffa-straat vermoor.”
“Ek onthou, ek was net ’n paar maande in Israel, toe.”
“Haar verloofde, Chanan, het daarna hier oorkant by die Yeshivat HaKotel kom studeer in ’n poging om sy verpletterde lewe weer rigting te gee. Elke keer dat ek hom gesien het, is ek oorweldig deur die diepte van sy hartseer en pyn. Gisteraand is hy met Peninah getroud. Toe ek die twee pragtige mense onder die chuppah sien, was dit vir my asof nog ’n Hurvah voor my oë herbou word. Ek het die oorlewingsvermoë van die Joodse volk in hom gesien, ons vermoë om staande te bly in die aangesig van verdelging, die krag van ’n jong man wat ons vyand nie toegelaat het om sý siel of die siel van ons volk te vernietig nie.”
“Dankie dat jy my vertel het,” sê Marc sonder om na sy vriend te kyk. Hy streel die krulkoppie van sy jongste wat teen sy knie kom leun het en byt hard op sy lippe om sy emosies te beteuel.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».