Attie van Wijk

Uit die Beek 2012


Скачать книгу

by die voorhekkie. Hy is een van duisende wat in hierdie dae hulpeloos en arm voel, terwyl al hoe meer fabrieke moet sluit en plaaswerkers hulle werk verloor as gevolg van die nuwe wetgewing. Wat maak ’n mens in sulke omstandighede?

      Dawid het ook so gevoel, maar hy het geweet van iemand wat aan hom dink: die Here. Die Here sal hom help, het hy geweet. Hy het net nie geweet hoe dit sal gebeur nie. Hy sê ook die Here is sy Redder. Hy het natuurlik nog nie van Jesus geweet nie, en hoe Hy ons wil red nie. Sy gedagte was seker maar net op die tydelike dinge gerig. Ons weet van beter: Jesus red nie net vir hierdie lewe nie, maar ook vir die ewigheid. Ons kan dus ’n veel dieper betekenis in Dawid se woorde sien.

      In die Lydenstyd word ons gereeld herinner aan wat Jesus gewillig was om te doen omdat Hy vir ons omgee. Hy het alles verloor – selfs sy klere – sodat ons alles kan wen. Hy het presies geweet wat die uiterste armoede is. Hy het geen eiendom besit nie, en moes dikwels in die veld slaap. Hy was van die goedheid van ander afhanklik om te oorlewe, al kon hy duisende mense met ’n paar broodjies voed. Hy verstaan elkeen se nood. Ons kan met vrymoedigheid na Hom toe gaan.

      GEBED: “Here, ons bid vir elkeen wat vandag in nood is. Help hulle asseblief. Moet tog nie talm nie!”

      Lees vanaand in Psalm 41:1–5 wat die Here belowe aan elkeen wat omgee vir swakkes en hulle versorg.

      Maandag 19 Maart

      Lees Handelinge 9:17–19a.

      ’n Nuwe begin

      “Saul, broer, die Here Jesus wat aan jou verskyn het toe jy op pad hierheen was, het my na jou toe gestuur sodat jy weer kan sien en met die Heilige Gees vervul kan word” (Hand 9:17).

      “Ag, as ek maar net die horlosie kon terugdraai en oorbegin, sou ek dinge so anders gedoen het,” is menige mens se hartewens. Ons kan wel nie ons verlede verander nie, maar ons kan ons toekoms verander! “Vandag is die eerste dag van die res van jou lewe,” het Billy Graham graag gesê.

      Saulus het ’n kans gekry om weer te begin. Hy het ervaar: “Die Here laat U-draaie toe.” Terwyl hy in sy blindheid gesit en vas en bid het, het die vreemdeling Ananias hom kom besoek en hom “broer” genoem! En vir hom goeie nuus gebring: Hy sou weer kan sien, en hy sou deur die Heilige Gees vervul word as toerusting vir sy werk vir die Here. Toe Ananias hom aanraak, kon hy skielik weer sien. Hy het hom dadelik laat doop as teken dat hy nou die volgeling van Jesus geword het. Ons lees vanaf Handelinge 13 dat hy sy naam ook na Paulus (“klein”) verander het. Baie bekeerlinge verkies vandag nog steeds om by hulle doop Christelike name aan te neem. Ons het in Indië vir Peter-Daniel, ’n leraar, ontmoet wat voor sy bekering na een van die Hindoe-gode vernoem was.

      Hierdie geskiedenis gee ons dus nuwe moed. Alles is nie verlore nie.

       Al het jy die Here hoeveel keer teleurgestel, gee Hy jou ’n tweede kans. Jy kan maar omdraai. Die Vader ontvang graag die verlore seun terug. En dan wil die Here jou in sy koninkryk gebruik, soos Hy vir Saulus sou gebruik. Halleluja!

      GEBED: “Here, ek wil graag my lewe ten volle aan U toewy, sodat U my kan vervul met u Gees en gebruik soos U wil.”

      Lees vanaand in Handelinge 9:19b–25 hoe drasties Saulus se lewe verander het, en van sy eerste avonture as Christen.

      Dinsdag 20 Maart

      Lees Handelinge 9:26–31.

      Die bemoediger

      Barnabas het hom egter oor Saulus ontferm en hom na die apostels toe gebring (Hand 9:27).

      “As ’n baba pas gebore is, word hy nie in ’n yskas gesit nie. Hy word warm toegemaak en liefdevol versorg.” Dieselfde beginsel geld ook vir nuwe bekeerlinge. Dit is baie sleg as iemand na die Here gelei word en dan terstond verlaat word om self te sien kom klaar. ’n Nuwe gelowige het versorging nodig. Die Here Jesus het ons beveel om dissipels – leerlinge – te maak, nie net bekeerlinge nie. Dit kos tyd en persoonlike aandag.

      Toe Saulus in Jerusalem aankom, was die Christene nog steeds vir hom bang. Hulle wou hom nie in hulle geledere toelaat nie, tot Barnabas hom by hulle ingetrek het. Barnabas was die eerste gelowige wat sy eiendom verkoop het en die geld uitgedeel het. Sy naam beteken “iemand wat mense moed inpraat” (Hand 4:36). Dit was Barnabas wat hom veertien jaar later ook in Antiogië in die leierskap van die gemeente ingetrek het (Hand 11:25–26). Barnabas en Saulus was die eerste sendelinge wat deur ’n gemeente uitgestuur is (Hand 13:1–3). Toe Paulus later nie kans gesien het om Markus weer saam te neem nie, omdat hy ’n vorige keer uitgesak het, was dit Barnabas wat vir Markus omgegee het, en met hom saamgeneem het (Hand 15:39). Hy was ’n ware dissipelmaker.

      Ons het almal ’n Barnabas nodig om ons op die pad van die Here te bemoedig. Is jy gewillig om dit vir iemand anders te wees? Hou jou oë oop vir nuwe gelowiges, en stel persoonlik in hulle belang en help hulle groei deur tyd aan hulle te gee.

      GEBED: “Dankie, Here, vir elkeen wat ons op die pad bemoedig. Help ons om ander ook so te bemoedig.”

      Lees vanaand in Handelinge 9:32–35 hoe Eneas se genesing tot baie mense se bekering gelei het.

      Woensdag 21 Maart

      Lees Handelinge 9:36–43.

      Menseregtedag

      Regte mense

      Sy was altyd besig om goed te doen en die armes te help (Hand 9:36).

      “Ek lees in die Bybel baie meer van regte mense as van menseregte,” noem iemand met ’n glimlag. Baie toesprake sal vandag, Menseregtedag, oor menseregte gaan, en die klem sal meestal op selfsugtige oorwegings val. Dit sal gaan oor mý regte. Nie oor ander mense wat in nood is nie. Iemand het eendag die verskil tussen kommuniste en Christene só verduidelik: “Die kommunis sê: ‘Wat joune is, is myne.’ Die Christen sê: ‘Wat myne is, is joune.’” Die een word aangedryf deur selfsug, die ander deur liefde.

      Tabita was ’n pragtige voorbeeld van Christelike omgee. Die liefde van Christus het haar oë oopgemaak vir die nood van die mense om haar, en sy het met al haar kundigheid en talente na ander uitgereik en hulle gehelp. Sy het selfs vir die armes klere gemaak (Hand 9:39). Dit was vir die armes dus ’n groot ramp toe Tabita siek word en sterf, want daar was niemand anders soos sy wat daadwerklik vir hulle omgegee het nie. Hulle het toe vir Petrus laat roep, en die Here het haar op Petrus se gebed weer lewendig gemaak.

      Wat het ons in ons land nodig? Menseregte is belangrik, ja, maar as dit afgedwing moet word, is die probleem nog nie opgelos nie. As mense deur Christus nuut gemaak is, sodat hulle waarlik vir ander begin omgee, dan sou menseregte nie meer afgedwing hoef te word nie – dinge sal self regkom. Hoe wonderlik sou dit nie wees as alle Suid-Afrikaners die regte soort mense kon word nie! Dit sou darem baie probleme oplos!

      GEBED: “Here Jesus, baie dankie vir mense soos Tabita wat hulleself gee om ander te help. Maak my ook so ’n persoon.”

      Lees vanaand in Handelinge 10:1–8 hoe die Here vir Kornelius na Petrus toe gestuur het, sodat nie-Jode ook Christene kon word.

      Donderdag 22 Maart

      Lees Handelinge 10:9–16.

      Kyk anders na mense

      “Wat God rein verklaar het, mag jy nie onrein ag nie” (Hand 10:15).

      “Nou goed, Jesaja, jy kan maar hier op my plaas vir die plaaswerkers kom dienste hou,” sê die knorrige ou boer in die diep apartheidsjare, “maar ek wil darem vir jou sê, as ek eendag in die hemel kom en ek kry swart mense daar, dan vat ek my hoedjie en loop.” (Hy het natuurlik ’n ander woord vir swart mense gebruik!) “Ai Meneer,” was evangelis Jesaja se wyse antwoord, “dan kry ek jou baie jammer, want in die plek waarheen jy dán gaan, is daar éérs swart mense!”

      Petrus moes dieselfde boodskap leer. Vir God gaan dit nie oor kultuur of volk nie. Jesus het gekom sodat alle volke, tale en nasies gered kon word. Petrus het toe nog gedink die evangelie is net vir die Jode. Sy kop moes nog geswaai word sodat hy mense soos God kon