kan word. Daarom is dit tragies as ’n ouer die kant van ’n stout kind kies teen die onderwyser, en nie saamwerk om die kind reg te vorm nie.
Ons het almal dissipline nodig. Moses herinner die volk daaraan dat hulle dit ook nodig het. Die swaar tye in die wildernis het hulle sterk gemaak vir die stryd wat voorlê. Dissipline is die geheim vir ’n gelukkige lewe. Dit sluit ook ’n vaste tyd vir die Here in, sodat ons elke dag geestelik kan groei.
GEBED: “Here, dankie dat U ons met dissipline seën sodat ons ook vir mekaar tot seën kan wees.”
Lees vanaand in Deuteronomium 8:10–20 watter gevaar voorspoed en rykdom vir jou kan inhou.
Sondag 15 Januarie
Lees Psalm 34:1–11.
Die doel van swaarkry
Ek sal die roem van die Here sing; dié wat swaar kry, sal dit hoor en daaroor bly wees. Dié wat swaar kry, sien op na Hom en straal van blydskap, hulle word nie teleurgestel in hulle verwagting nie (Ps 34:3, 6).
“Hoekom lewe ek tog?” het Nick Voyecic hom afgevra. Die ander kinders het hom genadeloos gespot, want hy is sonder arms en bene gebore. Sy pa was ’n predikant en sy ma ’n verpleegster, en hulle het alles vermy wat die baba kon skade aandoen, en tog is hy so gebore. Maar hy het sy tekortkominge te bowe gekom, leer tik met die een toon wat hy aan sy lyf gehad het en ’n graad verwerf. Vandag reis hy oor die hele wêreld om mense te bemoedig en te inspireer. Hy het al tot 100 000 mense op ’n slag toegespreek. God gebruik hom kragtig ten spyte van sy gestremdheid.
Dawid het ook moedelose tye geken toe hy vir Saul moes vlug, al het hy hom geen kwaad aangedoen nie. Waarom moes dit met hom gebeur? En toe hy by Abimelek skuiling soek, moes hy hom mal hou om nie dadelik doodgemaak te word nie. En tog het hy juis in so ’n tyd ’n pragtige gedissiplineerde psalm geskryf. In die Ou Vertaling sal jy sien dat dit ’n alfabetiese psalm is, waar elke vers met die volgende letter van die Hebreeuse alfabet begin. Hy het geweet dat hy ander wat ook swaarkry, deur sy eie getuienis kan bemoedig.
Miskien ervaar jy ook tans ’n moeilike tyd. Jy kan nie verstaan waarom dinge met jou gebeur nie. Hou moed. God het ’n plan, en wil jou ook vir ander tot seën maak.
GEBED: “Here, gee my ’n lied in my hart, al gaan dit nie altyd goed nie. Maak my ’n versterker van mense wat swaarkry.”
Lees vanaand in Psalm 34:12–23 van die belangrike lesse wat Dawid vir sy kinders wil leer.
Maandag 16 Januarie
Lees Deuteronomium 9:1–6.
Oppas vir hoogmoed
Wanneer die Here jou God hulle verdryf het, moet jy nie sê: “Die Here het my hierdie land in besit laat neem omdat ek volmaak is” nie, want die Here het hierdie nasies verdryf omdat hulle so goddeloos is (Deut 9:4).
“As ek dink wat vandeesweek vir my wag, wil ek liewer in die bed bly.” Voel jy ook so? Sit die Enakiete daar op kantoor of by die skool vir jou en wag? Ja, daar kom tye dat ’n mens bedreig voel. Jy moet na ’n nuwe skool of universiteit gaan, of selfs net na ’n ander klas. Jy moet van werk verander. Jou eggenoot is siek. Jy moet self hospitaal toe gaan.
Moses is besig met sy tweede groot toespraak op die grens van die beloofde land. Hy waarsku die volk dat daar reuse op hulle wag. Die tien verkenners het ook van hulle gepraat, en die gevolg was dat die volk bang geword het en hulle vertroue in God verloor het. Nou praat Moses self oor die groot uitdagings wat voorlê, maar met die doel om hulle te help om nie bang te wees nie, maar eerder op God te vertrou. Hulle kan seker wees van die oorwinning, maar dit sal nie as gevolg van hulle eie bekwaamheid wees nie. God sal vir hulle stry. Hulle moet net hulle kant ook bring. Hulle verdien nie eintlik om gehelp te word nie, soos ons vanaand sal sien.
Die Here belowe nie dat die reuse nie daar sal wees nie. Maar Hy sal saam met ons daardie reuse tegemoet gaan. Eintlik is ons maar net die instrumente in sy hand, waarmee Hy sy eie doel wil bereik. In Israel se geval wou hy die goddelose volke straf. Miskien wil Hy vir jou en my gebruik om mense na Hom te lei. Is jy tot sy beskikking?
GEBED: “Here, ek verdien nie u hulp nie. Maar ek stel myself tot u beskikking om hierdie week in u diens gebruik te word.”
Lees vanaand in Deuteronomium 9:7–14 hoe Moses die volk herinner aan die vele kere wat hulle ongehoorsaam was.
Dinsdag 17 Januarie
Lees Deuteronomium 9:15–29.
Ware voorbidding
Ek het die veertig dae en veertig nagte voor die Here gelê en gebid, want Hy wou julle vernietig (Deut 9:25).
“Bid asseblief vir my,” is deesdae ’n algemene versoek. Wildvreemdelinge het my al gevra om asseblief vir hulle te bid, en ek het nooit weer van hulle gehoor nie. Meermale het ek een keer vir iemand gebid, en nooit weer nie. Die nood is groot, en daar is so baie mense wat gebed nodig het dat ons nie vir almal kan bid nie. Daar is min kere dat ons so ernstig soos Moses bid.
Moses herinner die volk hoe hulle ongehoorsaam was en hoe hulle teen God in opstand gekom het. God wou hulle vernietig, en Moses, die sagmoedigste mens op die hele aarde, het so kwaad vir hulle geword dat hy die twee kliptafels flenters gegooi het. Maar toe het hy begin om vir sy volk in te tree. Hy het besef dat dit nie eintlik oor hierdie slawevolkie gaan nie, maar oor die eer van die ware God. In vandag se gedeelte het ons gelees hoe hy met God gestoei het – en uiteindelik die hele saak deurgebid het.
Dit is duidelik dat hier ’n groot wonderwerk plaasgevind het, want geen mens kan 40 dae sonder water leef nie. Maar vir Moses was dit ’n ernstige saak. Het jy al ooit die seën ervaar van ’n tyd van vas en gebed? Die eerste Christene het dikwels gevas en gebid, en selfs in die tyd van die groot herlewings in Europa was vas algemeen. Hulle vertel dat die apostel Jakobus die bynaam “Kameelknieë” gehad het – hy het eelte op sy knieë gehad van baie bid. Ek is bevrees die meeste van ons kniel nie eens meer nie. Is gebed nog ons erns?
GEBED: “Here, as ek om my kyk, sien ek so baie nood en so min voorbidders. Maak my iemand wat kan volhard in gebed.”
Lees vanaand in Deuteronomium 10:1–9 hoe die Here weer die wet aan die volk gegee het, en die erediens ingestel is.
Woensdag 18 Januarie
Lees Deuteronomium 10:10–22.
God se wil
En nou, Israel, die Here jou God vra net dat jy Hom moet eer, sy wil moet gehoorsaam, Hom moet liefhê en dien met hart en siel (Deut 10:12).
“Wat op aarde maak ek hier?” staan op die hempies wat ons gemeentelede gedra het tydens die 40 dae van ’n Doelgerigte Lewe. Ons het saam geleer wat die vyf hoofsake in ons lewe moet wees: aanbidding, gemeenskap, dissipelskap, diens en getuienis. En omdat sewe van Wellington se gemeentes die kursus gelyktydig gedoen het, het dit ’n heerlike interkerklike interaksie tot gevolg gehad.
Moses is hier besig om met dieselfde vraag te worstel. Nadat hy sy geskiedenisles afgehandel het, en die Israeliete herinner het aan wat hulle moet doen, kom hy nou in vandag se teks by die hoofsaak uit. Dit gaan nie eintlik oor rituele en aksies nie. Dit gaan eintlik oor ’n lewende verhouding met die lewende God. Hy sê ons moet God eer (die letterlike vertaling is: vrees). God is nie ons speelmaat nie. Ons mag net met die grootste respek aan Hom dink en na Hom verwys. Iemand wat praat van “die oukêrel daar bo” het geen begrip van God se heiligheid en almag nie. Dan noem hy dat ons God moet gehoorsaam. Dit is die toets van ware liefde. Die derde ding is om God lief te hê. Dit is die hoofsaak wat God van ons verlang, omdat Hy liefde is, omdat Hy ons eerste liefgehad het (1 Joh 4:19) en omdat sy liefde maak dat ons ook kan liefhê. Die vierde ding wat Moses hier noem, is dat ons God heelhartig moet dien.
Wie is in die middelpunt van jou dag? Jouself? Jou huis? Jou werk? Jou kinders? Jou geld? Of is dit, soos dit behoort te wees: ’n liefdesverhouding met God?
GEBED: “Here, ek wil U vandag liefhê en dien, U gehoorsaam en eer