JEANNE ELS
Samba
REISE MET REËNBOË EN RITMES
LUX VERBI
Vir my suster, Annatjie
VOORWOORD
Die essays in hierdie bundel het oorspronklik in koerante en tydskrifte verskyn: In Insig, Die Burger (in die rubriek Van Alle Kante) en Sarie (in die rubriek My 400 woorde). Dit bevat hoofsaaklik die skrywer se agterbladrubrieke, Laaste Sê, wat in die Christelike gesinstydskrif Lig van September 2010 tot en met Mei 2012 gepubliseer is.
Koerskaart en kompas
MA SE PADKOS
My liewe kind,
Dis binnekort die eindeksamen van jou eerste jaar op universiteit, nog ’n groot tree in jou lewe, nes verlede jaar met jou matriekvraestelle.
Ma skryf vir jou hierdie sinne, miskien bêre jy dit vir nadink.
Nog voordat die ginekoloog dokter Rob jou byna negentien jaar gelede skuins ná agtuur die oggend in die Christiaan Barnard-gedenkhospitaal sagkens uit my baarmoeder gelig het, het ek jou liefgehad. Onvoorwaardelik. Nes vir jou ouer broer.
Toe die suster jou in my arms neerlê, ’n harige rammetjie van 4,04 kg, was ek meteens verlief op jou voelbare passie vir die lewe.
Kan ’n mens vergeet hoe jy op ses jaar met familiesaamtrekke die fokus van vermaak was? Met twee blokfluite blaas jy “Doe a deer” deur jou neusgate. Nootvas nogal, sonder om ’n oogspiertjie of wenkbrou te verroer. En jou groenblou oë glim engeltjies.
Vandat jy Kleinman was, verwonder Ma haar oor hoe jy jou oorgee aan die lewe. Jy klouter en keer al wat ’n klip is om en deurkyk die fynpootgoed wat daar skuil. Jy ry die see se golwe bruismelk. Proe nie net soesji nie, koop ’n bamboesmatjie en omtower salm, seewier en sesamsaad tot ’n verruklike reënboogrol.
Jy’s gemaklik met mense van al wat ’n taal, geloof of kultuur is. Wil begryp hoe elk redeneer sonder om te oordeel omdat hy dalk anders dink. En mens, is jy lojaal teenoor jou vriende, en doelgerig. Het jy gesê jy’s vanaand agtuur by Alon om te help met die chemie-projek, is jy daar.
Ma bewonder jou omdat jy die moed het om verantwoordelike kanse te waag terwyl jy weet jou pogings gaan dalk nie slaag nie. Loop dinge nie elke keer reg nie, ondersoek jy die oorsaak en verwerk jou mislukking. En dan kyk jy vorentoe. Dit maak jou ’n wenner, een wat kans sien vir foute maak, daardeur sterker word en daarop voortbou.
Daardie El Pico de Orizaba-ekspedisie in Mexiko, toe jy en Ma hierdie derde hoogste vulkaan in Noord-Amerika geklim het, en toe jy op sestien as die jongste Suid-Afrikaanse ysklimmer die spits bereik het, kan nog in moeilike tye vir jou ’n kragtige inspirasie word: “Ek het Orizaba se allerhoogste punt bereik, met volle voorbereiding, fiks wees en die regte toerusting. En bowenal deur God se genade; daarom kan ek ook deur hierdie krisis van nou kom. Ek sal.”
’n Mengseltjie ma-goed, ’n bietjie padkos vir jou voetslaan vorentoe:
• Die lewe is nie altyd regverdig nie. Wanneer dinge skeefloop en jy meen dis boonop onverdiend, aanvaar die teleurstelling en pak ’n volgende uitdaging met mening aan.
• Dis slim om fiks en gesond te leef, maar dit bly jou keuse.
• Vertrou jou instink. Dinge werk uit as jy luister na jou innerlike, jou kropgevoel.
Nou ja, my kind, wat bly oor?
Jy weet dit reeds van die moment dat jy binne my begin groei het: Elke sel van Ma het jou lief. Waar jy ook al is, streel my hart jou, met die hoop en wens dat jou pad mooi en geseënd loop.
Mag jy altyd vir God plek hê in jou lewe en Hom raadpleeg in jou besluite. En mag God immer daardie spontane glimlag bewaar. Die lieflike een wat ’n mens nie anders kan nie as om eerste raak te sien wanneer jy van ver af aangestap kom. Lank, en met jou treë ferm.
Jy lag so breed. So maklik, my kind.
Liefde
Ma
HALFWEGHAWE
Kan jy dit glo, oor vyf dae is jy hier. Ek en jy gaan die eerste keer teenoor mekaar staan. Ons gaan mekaar in die oë kyk. Diep, en indringend.
En tog, ek gaan rustig wees. Tevrede. Al het jy vir my so skrikwekkend geklink toe ek jonger was. Ek meen te sê, ’n halfeeu is ’n entjie se leeftyd.
Maar, weet jy, liewe 50, ek gaan jou vertel hoe dankbaar ek is dat jy my met soveel liefde bly inwag het terwyl ek flaters gemaak het tydens my reis na jou. Dit was tog foute waardeur ek al hoe sterker geword het om die latere uitdagings van die lewe te hanteer, selfs uit te daag.
Jou 49 voorgenote het my gebeitel, my mooi voorberei vir jou. Hulle lê my aan jou voor met ’n sakkie leefgoed vir ons pad vorentoe:
• ’n Sagte woord van my kant keer sowaar ’n ander mens se grimmigheid. Altans, die meeste van die tyd.
• ’n Glimlag kos niks nie en 90% van die tyd kry ek boonop een terug.
• Elke mens gedy op liefde, maar het tog ook sy stukkie ruimte nodig.
• Dit bring my nêrens om wakker te lê oor dinge wat ek regtig nie kan verander nie.
• Die woord “jammer”, maar net as dit opreg bedoel word, besit ’n towerkrag.
• Ek sê met oorgawe nee wanneer ek moet en ja wanneer ek wil.
Jy, 50, sal my nou vorentoe vat, verder op die wonderpad van die lewe. Jy sal my verder brei. Saam gaan ons die juwele soek en ontdek wat vir ons uitgesit is, en as ’n span gaan ons die hindernisse wat dalk op ons wag, uitklim en oorklim.
Oor vyf dae, 50, sal my hare los hang. Dit sal gewas wees met waatlemoensjampoe, opgeknap met kiwi-room. My lyf sal gebaai wees in pepermentkruie, ingesmeer met aarbeibotter. Ek sal ’n varswit frangipani agter my oor dra.
Ek sal eers jou hand neem, met grasie. Jou dan omhels, teen my vasdruk. En ek sal kaalvoet wees.
SIT-SIT, SO (OP ’N WALVIS ...)
Slaat my met ’n slap snoek, soos ons in die Kaap sê. Of eerder, raps my met ’n walvisvin. Net anderdag nog, bevrydende 50, het ek die oomblikke ingeleef om jou te ontmoet. Toe tree daardie geseënde Saterdag aan.
Ek het manlief en manseuns en manhond (met moeite) oortuig ek sien so uit na hierdie solo-bestemming van 50 word dat dit die grootste geskenk is wat hulle my, en ek myself, kan gee: Om die hele dag in my eie geselskap te wees. Sodat ek die kleure en geure en geluide van die lewe ongesteurd kan opspons. Dit kan proe en filtreer. Bestek kan opneem van my wonderwerk-halfeeu. Dit kinderlik kan vier.
Toe die son tik-tik aan Tafelberg, klim ek en jy in ons karretjie en ry, van Bakoven met die Atlantiese Oseaan langs. Oor Constantia-nek ruik ons die denne en ons rits die motorruite af. Nou kom bloekom by. Hadidas roep en druiweblare leun roes en pers en borrie teen plaaspriële.
By St. James druk en wikkel ons ons tone in die witsoutsand en ons snuif aan wildedagga en lourier en katplant by die kwekerytjie langs die treinspoor. Daardie restaurantjie by Simonstad se hawe ry ’n mens nie sommer verby nie, en ons bestel skons. Vir twee.
Toe die kelner my skuinserig aankyk, sê ek ek weet ek’s net een en skons vir twee beteken ek gaan vier skons kry en dis groot skons, maar bring maar, broer, ek’s hier vir ’n propperse paartie, want ek’s besig om energie op te bou.
Hemel, 50, hét ons daai skons getakel (ek’t darem net een tee laat kom). Toe ons daai laaste draai by Simonstad uitry en anderkant Millerspunt afdraai … Hieee-haaa!
Ek weet nie wie het die hardste gegiggel nie: ons, of die groot gryse. Toe die skons se koolhidrate eers inskop en ons die walvis bestyg, eers naak, maar naderhand (net vir Simonstad se mense se onthalwe) kuis gedrapeer met bamboes en seewier, spuit die vis 50 soutwaterfonteine.
Later kom tuimel en plons en swiep die dolfyne ook, in ’n