op jou pad kuier. Die Amerikaanse doofblinde Helen Keller het gesê: “Blindheid sny ’n mens af van dinge, maar doofheid hou ’n mens weg van mense.” Ons kan mense in die lewe van gehoorgestremdes bring deur met hulle te praat in die taal wat hulle kan hoor.
En ek gaan nog ’n taal leer praat; trouens, het begin. Einde ten laaste ’n Afrika-een van die land wat ek liefhet: Xhosa, wat in my Kaap gepraat word. ’n Meisie met pienk wange het my geïnspireer. Daar sing sy in die Xhosa-skoolkoor, by ’n afskeidsfunksie van my matriekseun. Die enigste witte tussen die swart kinders. Blink-oog klik sy die klanke, golf sy haar lyf ritmies. ’n Kind van Afrika.
WANNEER DIE GROEN BLOED BRUIS
“Hayi, sisi, es verkeerd om,” het ’n man gelag, en beduie na my plakkertjie met die toe nog nuwe Suid-Afrikaanse vlag op. Dit was op my motor se agterruit, naby die Parlementsgebou in Kaapstad. Net weke tevore het Nelson Mandela die president geword, en op daardie dag, in Junie 1994, het ek die voorreg gehad om ’n koerantonderhoud met hom te doen.
In die eerste jare daarna was daar genadetye in ons land. Die opgaar van blikkieskos oor die gerugte en vrese vir ’n burgeroorlog was verniet. In 1995 volg die droomjaar toe Madiba op Ellispark met die nr. 6- Springbok-rugbytrui op sy rug op die veld stap en die Bokke die Wêreldbeker huis toe speel. Ons dans, lag, huil, blaas ons motors se toeters, omhels mekaar en skud sommer blad met vreemdelinge op straat. Al ken ons nie eens die reëls van rugby nie.
Sestien jaar later, nog ’n keer in Junie, skop nog ’n Wêreldbeker-saamtrek in ons land af. Opnuut ’n tyd waarin ons mekaar in die oë kan kyk en sê: Veral die laaste tyd is ons land en baie van sy mense uit vele hoeke in ’n groef van moedeloosheid. Armoede en verlies. Aanhou werk verloor, en werk soek.
Maar hier in 2010 was weer die kans. In Zoeloe sê ons Ke Nako: Dit is tyd. Om soos in 1995 hande te vat. Die Wêreldbekersokkertoernooi was vir ons land en sy mense weer ’n geleentheid: sokker vir hoop.
Al het Bafana Bafana nie (hierdie keer) die beker op die veld gewen nie, kon ons die beker vir saamstaan wen. Ons groen bloed laat bruis en in die stadions en voor die televisie betower toekyk hoe die wêreld se top-spelers doele skop en punte keer. Van ons het selfs ons harte verloor op Zakumi, die kordate luiperd-gelukbringertjie.
Ja, sestien jaar later het ek my Suid-Afrikaanse vlag regte kant na bo geswaai, en was hy lank nie meer nuut nie. Ek sing “Nkosi Sikelel’ iAfrika” luid en trots. En met my hand elke keer op my hart.
FIETS-VASBYTER
Dit is Woensdagoggend halfagt. Stellenbosch se vroeglente hang bloeiselvars teen my valhelm en fietshandvatsels. Ek ry by die standbeeld van Danie Craven en sy hond, Bliksem, verby. Dan Coetzenburg-rugbystadion, en dan al langs die Eersterivier verby. Studente draf, ander stap haastig klas toe.
By die uitdraaipad na die proefplaas kyk ek om. Net toe ’n tingerige meisiekind op pad skool toe van haar fiets af val – reg voor ’n aankomende motor in. Sy lyk nie ouer as tien jaar nie. Die bestuurder rem net betyds, maar die kind met haar inkblou skooljurk en bandjieskoene wawiel oor die teerpad. Tot reg onder die motor se buffer.
Toe ek by haar kom, het sy haar al self opgehelp en haar fiets opgetel. Haar valhelm hang skeef, haar skoolkouse is geskeur, haar kniekoppe bloei. Ek wil nog troos met ’n pakkie vitamien C-lekkers en ’n “dit sal jou beter laat voel”, maar met haar eekhoringoë en witgeskrikte wange snik sy net: “Nee dankie, ek’s oukei.” Sy byt op haar onderlip.
Sekondes later hou ’n bottelgroen kombi aan die oorkant stil. Pa en Ma stap oor, glimlag bedaard en sê: “Kom, ons laai gou jou fiets in, dan is jy nog betyds.” Dit is die heel eerste dag dat sy skool toe ry, verduidelik hulle. Sy wou, al is dit spitsverkeer en die sypaadjie klipperig.
Ek het al baie van my fiets geval, sê ek. Vrek hard daarby. “Maar klim tog gou weer op, nog voor die seer heeltemal uit jou knieë is. Jou instink sal jou sê wanneer die saal weer reg is vir jou.” En die ma en pa en ek knipoog vir mekaar.
Toe ek met ’n straatjie digby die botaniese tuin terugry, verby huise met ruim stoepe en fynkant-relings, vang my oog ’n elektrisiteitsboks van grys staal op die sypaadjie. Strak swart letters waarsku: Gevaar. Ingozi. Danger.
Op ’n ander sy van die boks het iemand kom verf, rissierooi en krullerig: Sonskyn. Drome. Passie. Het ek verf by my gehad, en ’n kwas, selfs ’n eikelat of wilgeloot, sou ek bylas: Ervaringsmoed. Want hiermee pak jy jou droom en dag aan, al is daar die kans dat jy kan struikel. Jou selfs bloedknieë kan val.
Jou uitdaging lê mos in die vooruitsig dat jy met jou volgende probeerslag dit reg kan doen. En jou beloning, saam met die val, is dat jy ’n ent sterker geleef het. Jou balans op die fiets van die lewe verder ontwikkel het, soos ook jou oordeelsvermoë om op die uitkyk te wees vir die klippies wat jou onverwags van jou koers kan afgooi.
Vra maar die fietsmeisiekind.
Visie versus frustrasie
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.