tyd in soverre dit goed is. Laat toe dat die postmoderne lewensgevoel jou aptyt wek vir eenvoud.
• Moenie toelaat dat jou rasionele linkerbrein jou kreatiewe regterbrein inhok nie.
• Stel belang in jou kulturele en geestelike wortels, en laat hulle jou help om jouself vryer uit te leef.
Hoofstuk 4
4
God wys die ander pad: Jesus
Dit is duidelik dat ons ’n ander pad moet kry as dié van die rotteresies. God wys dit vir ons, veral deur sy groot “aanskouingsles”: Jesus Christus.
God het dinge geweldig vereenvoudig. Terwyl mense nimmereindigend kan praat oor lewenstyl, het Hy net een Man gestuur, en gesê: Kyk hier, hier is die lewe! Daar kan oneindig geredeneer word oor die pad na God, maar God Self het sy vinger op een Man gedruk, en gesê: Hier is die pad.
Ons maak dinge ingewikkeld. God maak hulle maklik. Hy kies eenvoud.
Jesus was ’n mens. As daar oor sy lewe gepraat word, word daar oor menslike lewe gepraat. Wat Hy geleer het, is die enigste lewenstyl wat regtig vir mense werk.
Ons bely ook dat Jesus God is. Dit beteken onder meer: in Hom sien ons ’n ware mens. Ek verduidelik. Ons mense is na God se beeld geskep, dit wil sê ons is geskep om so te leef dat daar ’n weerkaat-sing van God in ons lewe gesien kan word. Vanweë die sonde is dié weerkaatsing gewoonlik dof. Jesus het gekom om te wys hoe God weerkaats kan word, en om dit vir ons moontlik te maak. Hy is die ware beeld van God. As ons Hom sien, sien ons God. In sy lewe sien ons hoe ons bedoel is om te leef.1 Kom ons vorm dus vir ons ’n beeld van die leefwyse van Jesus.
Vreugde!
In die vier Evangelies kry ons ’n beeld van die lewe van die vromes van Jesus se tyd. Wat ons telkens sien, is dat hul godsdiens met ’n diep vreugdeloosheid gepaardgegaan het. Die vrome skrifgeleerdes brom dat Jesus saam met tollenaars en sondaars eet, en skel Hom uit vir ’n “vraat en ’n wynsuiper” (Matt 11:19; Mark 2:16). Hulle maak beswaar as Hy vir die verlamde man sondevergifnis aanbied (Mark 2:5–7). Die Fariseër dank God, maar waarvoor? Dat hy soveel beter is as ander mense! (Luk 18:9–12).
As beeld vir al dié vreugdelose vromes gebruik Jesus die gelykenis van die ouboet van die verlore seun. Hy kla by sy pa: “Nog nooit het ek ’n opdrag van Pa verontagsaam nie, en vir my het Pa nog nooit eers ’n bokkie gegee sodat ek saam met my vriende kan feesvier nie. Maar nou dat hierdie seun van Pa, wat Pa se goed met prostitute deurgebring het, terugkom, het Pa vir hom die vetgemaakte kalf geslag” (Luk 15:29–30). Hy vier nooit fees nie en van blydskap oor sy verlore broer se terugkeer is daar by hom nie sprake nie. Jesus beeld die vreugdeloses ook uit met die beeld van die arbeiders wat jaloers was omdat ander werkers dieselfde loon as húlle gekry het vir minder werksure (Matt 20:11–12).
In skerp kontras met dié suur lewensuitkyk kom Jesus met die boodskap dat die genade alleen in vreugde ontvang kan word. Daarom het Jesus God geloof en geprys dat Hy God se genade kon bekend maak (Matt 11:25–26). Daarom vertel Jesus ook in die verhaal van die verlore seun dat net een ding van hom verwag is: hy moes hom by sy terugkeer werklik verheug oor sy pa se goedheid.
Jesus het ook nog baie ander beelde gebruik om die vreugde van die Christelike lewe te beklemtoon.
Hy vertel van mense wat sommer sonder rede na ’n bruilofsfees genooi word (Matt 22:9, 25:10).
Hy vergelyk die koninkryk van God met ’n feesmaaltyd (Luk 14:15–16).
Hy sê dit is soos ’n vrou wat haar vriendinne bymekaarroep en sê: “Wees saam met my bly ...” (Luk 15:9).
Hy sê om die koninkryk te vind is soos iemand wat onverwags ’n skat ontdek en so vol vreugde daaroor is dat hy al sy besittings verkoop om dit syne te maak (Matt 13:44).
Hy vergelyk dit met ’n veroordeelde wie se skuld van miljoene rande onverwags en onverdiend vrygeskeld word sodat hy vrykom (Matt 18:27).
Die boodskap is duidelik: die heil word nie met swaar inspanning nagejaag nie, maar is soos saad wat vanself ontkiem terwyl ’n mens slaap (Mark 4:26–29). In dié verhaal noem Jesus nie dat ons verbete moet skoffel of natlei nie; Hy beklemtoon net die goedheid van God.
Die vreugde van Jesus en sy volgelinge word begrond in die vreugde van God. God verbly Hom wanneer ’n mens by Hom tuiskom (Luk 15:5, 9, 23). God se kinders kan saam met Hom bly wees. Die hart van Jesus se boodskap is die rede vir ons vreugde. Om dit goed te verstaan, kan ’n mens dit kontrasteer met die boodskap van sy voorganger, Johannes die Doper.
Absolute eenvoud
Waar Johannes verkondig het dat God mense sal vergewe as hulle hul bekeer (Mark 1:4) – dus éérs bekering, dan vergifnis – het Jesus die orde omgekeer. Hy het kom verkondig dat God klaar besluit het om die mense te vergewe. Die groot besluit is klaar geneem, en die mense kan dit net glo. Jy verbly jou in dié geloof, bely jou sonde en draai weg daarvan. Eers die vreugde van die geloof, en dan volg die res.
God ís dus soos daardie koning van wie Jesus vertel het – hy het ’n ope uitnodiging na sy feesmaal uitgestuur (Matt 22:9). Hy het klaar besluit dis vir almal. En dié wat dit glo, word so bly dat hulle alles verkoop (Matt 13:44, 46); dat hulle selfs die visnette los waarmee hulle hul brood verdien (Mark 1:18) en kom.
Een rede waarom almal nie kom nie, is dat Jesus se boodskap vir hulle te eenvoudig is. Daar is geen voorwaardes nie. Niemand word gevra om eers hul kant te bring nie. Die verlossing is verniet. Vir baie is dit net te eenvoudig. Hulle kan nie aanvaar dat die grootste van alles verniet kan wees nie.
Maar dit is juis waar ware vreugde begin. By die absolute eenvoud van God se aanbod. Jy kan dit net soos ’n kind aanvaar. Daarom is die blye boodskap die moeder van alle eenvoud. Teen hierdie agtergrond kan ons ook Jesus se verhouding met kinders verstaan. In die Joodse samelewing moes kinders uit grootmense se pad bly. Dus was die dissipels se irritasie met die mense wat kindertjies na Jesus wou bring, heel normaal. Maar toe hulle met die moeders en kinders raas, raas Jesus met húlle. Hy het die kleintjies teen Hom vasgedruk en hulle geseën. Sy woorde by dié geleentheid het die Joodse waardes omgekeer: Kinders hoef nie eers grootmense te word nie, maar grootmense moet soos kinders word. Die rede? Mense kan die vriendskap van God net kry as hulle dit ontvang soos kindertjies wat nog niks van hul kant af kan bydra nie (Mark 10:13–16).
Om maklik te kan bid
Ook gebed word in Jesus se teenwoordigheid radikaal vereenvoudig. Soos water baie makliker bekombaar is wanneer dit tot in jou huis aangelê is, so word gebed maklik wanneer Jesus die goedheid van God tot in jou lewenshuis aangelê het.
Die eerste opvallende feit oor die eenvoud van gebed is die bondigheid van die Ons Vader-gebed wat Jesus sy dissipels geleer het.
In Jesus se tyd was lang gebede aan die orde van die dag. Jesus het self lang tye in gebed deurgebring – soms selfs deurnag. Maar toe hulle Hom vra: “Here, leer ons bid”, het Hy hulle ’n baie kort en baie eenvoudige gebed geleer. Net ses versoeke in kort sinnetjies (Matt 6:9–13). Dit is so kort dat ’n mens dit rustig in ’n halfminuut kan voltooi.
As ’n mens die Ons Vader met ander gebede van daardie tyd vergelyk, is die bondigheid daarvan uniek. In die nie-Joodse wêreld was daar byvoorbeeld die idee dat ’n mens God moes sag maak met baie woorde; Jesus noem dit ’n “stortvloed van woorde” (Matt 6:7).
’n Voorbeeld hiervan is die Baälpriesters in Elia se tyd, wat hulle god probeer oorreed het om vuur op die altaar af te stuur. Heeldag deur het hulle hom aangeroep, al harder, al meer fanaties, tot die punt waarop hulle hulself stukkend gekerf het om hom te beïndruk (1 Kon 18:26–29). Dikwels is by so ’n biddery ’n hele klomp godsname aaneengeryg, omdat bidders nie seker was op watter naam hul god sou reageer nie.
Ook die Jode het dikwels eretitels vir God opeengehoop. Hulle gebede was later so lank dat dit in hul geskrifte as ’n probleem genoem word. Van dié tradisie sê Jesus: “Hulle (die skrifgeleerdes) sê vir die skyn lang gebede op” (Mark 12:40).